Liewe Kittie!
Ek begin sommer dadelik; dis nou so lekker stil, Vader en Moeder is uit en Margot het met n paar jongmense by haar vriendin Trees gaan tafeltennis speel. Deesdae speel ek ook baie tafeltennis, so baie dat vyf van ons meisies n klub gestig het. Die naam daarvan is Die Klein Beer minus twee. Dis n ver-spotte naam, maar dit berus op n vergissing. Ons wou ons klub n spesiale naam gee en het toe, om ooreen te kom met ons vyf lede, aan die sterreteken van die Klein Beer gedink. Ons het gedink dat dit uit vyf sterre bestaan, maar dit was n fout, want dit het net soos die Groot Beer sewe sterre. Vandaar minus twee. Ilse Wagner het n tafeltennisstel en die groot eet-kamer van die Wagners is altyd vir ons beskikbaar. Aangesien ons vyf tennisspeelsters baie van roomys hou en tafeltennis n mens warm laat word, loop so n spel meesal uit op n uitstap-pie na die naaste roomyswinkel waar Jode toegelaat word, die Oase van Delphi. Oor beursies of geld bekommer ons ons lankal nie meer nie, want die Oase is altyd so vol dat daar onder al die mense altyd vrygewige ooms uit ons kenniskring of een of ander bewonderaar te vinde is, wat ons meer roomys aanbied as wat ons in n week kan opeet.
Ek dink dat jy wel n bietjie verbaas sal wees dat ek, so jonk as wat ek is, van bewonderaars praat. Helaas, of in sommige opsigte ook nie helaas nie, dit lyk of die euwel by ons op skool nie meer vermy kan word nie. Sodra n seun my vra of hy saam met my kan fietsry huis toe en n gesprek ontstaan, kan ek nege uit die tien keer daarvan seker wees dat die betrokke jongeling vuur en vlam gaan raak en my nie meer uit die oog gaan ver-
loor nie. Na n rukkie neem die verliefdheid ongetwyfeld weer af, veral omdat ek my nie veel aan verliefde blikke steur nie en rustig voorttrap. As dit te erg word en hulle onsin begin praat oor jou pa vra, swaai ek n bietjie met my fiets, my tas val, die jongman moet fatsoenlikheidshalwe afklim en as hy my tas weer opgetel het, het ek die gesprek al lankal in n ander rig-ting gestuur. Dit is nog maar die onskuldige attensies. Jy kry ook diegene wat soentjies stuur of jou aan die arm probeer vat, maar dan is hulle beslis by die verkeerde adres: Ek klim van my fiets af en weier om verder van sy geselskap gebruik te maak, of ek is gemaak beledig en deel hom sonder om doekies om te draai mee dat hy maar huis toe kan gaan.
So ja, die grondslag vir ons vriendskap is gel. Tot mre!
Sondag, 21 Junie 1942
