Liewe Kittie
Meneer en mevrou Van Daan het vreeslik rusie gemaak. Ek het so iets nog nooit beleef nie, omdat Vader en Moeder nie daar-aan sal dink om so op mekaar te skreeu nie. Die aanleiding daartoe was iets so onbenulligs dat dit nie die moeite werd was om n enkele woord daaraan te bestee het nie. Maar nou ja, elke diertjie het sy maniertjie.
Dit is natuurlik vir Peter erg onaangenaam, want hy staan in die middel, maar niemand neem Peter meer ernstig op nie, omdat hy vreeslik kleinserig en lui is. Gister was hy baie be-kommerd omdat hy n blou in plaas van n rooi tong gehad het. Maar di seldsame verskynsel het net so gou verdwyn as wat dit verskyn het. Vandag loop hy met n dik serp om sy nek, omdat dit styf is en verder kla Meneer oor pyn in die rug. Pyn tussen hart, niere en longe is ook nie aan hom onbekend nie. Hy is n egte ipekondriak (n Mens noem dit tog so, n?)
Moeder en mevrou Van Daan kom ook nie goed met me-kaar oor die weg nie. Aanleiding tot onaangenaamhede is daar genoeg; om een klein voorbeeldjie te gee, moet ek jou vertel dat mevrou Van Daan op drie na al haar lakens uit die gemeen-skaplike linnekas gehaal het. Sy neem natuurlik aan dat Moe-der se goed vir die hele familie gebruik kan word. Dit sal haar ongetwyfeld dwars in die krop steek as sy ontdek dat Moeder haar goeie voorbeeld gevolg het.
Verder is Mevrou erg in die gesig gevat omdat nie ons ser-vies nie, maar hare gebruik word. Sy probeer steeds te wete kom wat ons met ons borde gedoen het; hulle is nader as wat sy dink, want hulle staan op die solder in kartondose, agter n hele pak advertensiemateriaal van Opekta. Gedurende ons on-derduiktyd is hulle onbereikbaar. Dit is ook maar goed! Met my gebeur daar altyd ongelukke; gister het ek n sopbord van Mevrou aan stukke laat val.
O, het sy woedend uitgeroep, wees tog versigtig, dit is die enigste wat ek nog het.
Hou tog asseblief in gedagte, Kittie, dat die twee dames hier skandalige Nederlands praat (van die here durf ek niks s nie; hulle sou diep beledig wees). As jy di geradbraakte taal n keer sou hoor, sal jy skaterlag. Ons let nie meer daarop nie, ver-beter help tog nie. Ek sal as ek oor Moeder of mevrou Van Daan skryf maar nie die oorspronklike taaltjie weergee nie, maar behoorlike Nederlands skryf.
Verlede week het ons n klein onderbrekinkie in ons eento-nige lewe gehad. Dit is veroorsaak deur n boek oor vroue en Peter. Jy moet weet dat Margot en Peter omtrent alle boeke wat meneer Kleiman aan ons leen, mag lees, maar di beson-dere boek oor n vroueonderwerp het die volwassenes tog maar liewer van ons weggehou. Dit het dadelik Peter se belangstel-ling geprikkel. Watter verbode dinge sou daar tog in di boek staan? Toe sy moeder onder aan die gesels was, het hy dit stille-tjies gegaps en met sy buit na die bosolder vertrek. Dit het twee dae lank goed gegaan; mevrou Van Daan het al lankal geweet wat hy gedoen het, maar het niks verklap nie totdat meneer Van Daan dit agtergekom het. Di het kwaad geword, die boek van Peter afgeneem en gedink dat die saak daarmee afge-handel was. Hy het hom egter met die nuuskierigheid van sy seun misreken, wat deur Pappa se kordate optrede geensins van stryk gebring is nie. Peter het moontlikhede bedink om di meer as interessante boek tog deur te lees.
Mevrou Van Daan het intussen by Moeder probeer vasstel wat sy van die kwessie dink. Moeder het di boek nie goed ge-vind vir Margot nie, maar in die meeste ander geen kwaad vir haar sien steek nie.
Daar is n groot verskil, mevrou Van Daan, het Moeder ges, tussen Margot en Peter, ten eerste is Margot n meisie en meisies is altyd gouer ryp as seuns, ten tweede het Margot al meer ernstige boeke gelees en soek sy nie na dinge wat vir haar nie meer verbode is nie en ten derde is Margot veel meer ontwik-keld en verstandiger, danksy haar vier jaar op horskool.
Mevrou Van Daan het daarmee saamgestem, maar dit tog
in beginsel verkeerd gevind om jong kinders volwasse boeke te laat lees.
Intussen het Peter n geskikte tyd gekry toe hy seker was dat niemand aan hom of aan die boek gedink het nie. Die aand om halfagt toe die hele familie onder in die privaat kantoor na die radio geluister het, is hy weer met sy skat boontoe. Om half-nege moes hy weer onder gewees het, maar aangesien die boek so boeiend was, het hy van die tyd vergeet en met die solder-trap afgekom net toe sy vader die kamer binnegekom het. Wat gevolg het, is begryplik: n Tik, n klap, n ruk  die boek l op die tafel en Peter sit op die bosolder. So het sake gestaan toe die familie gaan eet het. Peter het bo gebly, niemand was oor hom bekommerd nie; hy moes sonder kos bed toe. Vrolik pra-tend het ons verder geet, toe n deurdringende gefluit tot ons deurgedring het, almal het hulle messe en vurke neergesit en mekaar met bleek, verskrikte gesigte aangekyk.
Toe hoor ons Peter deur die kaggelpyp roep: Ek gaan tog nie onder toe kom nie, hoor. Meneer Van Daan spring op, sy servet val op die grond en met n vuurrooi gesig skreeu hy: Nou is dit genoeg! Vader het hom aan sy arm beetgepak om-dat hy bang was dat iets ergs sou gebeur, en saam is die twee here na bo. Na baie teenstribbeling en geskop het Peter in sy kamer beland, die deur het toegegaan en ons het voortgegaan met ons ete. Mevrou Van Daan wou n toebroodjie vir seunlief laat staan, maar Meneer was onverbiddelik: As hy nie dadelik ekskuus vra nie, moet hy op die bosolder slaap. Ons het ge-protesteer en gedink dat om sonder ete te bly n groot genoeg straf is. Peter kon verkoue kry en dan kon geen dokter inge-roep word nie.
Peter het nie om verskoning gevra nie, hy het reeds weer op die bosolder gesit. Meneer Van Daan het hom nie verder met die saak bemoei nie, maar het die oggend vasgestel dat daar wel in Peter se bed geslaap is. Om seweuur het hy al weer op die solder gesit, maar is tog deur Vader se vriendelike woorde oorreed om ondertoe te kom. Drie dae nors gesigte, hardnek-kige stilswyes en alles gaan weer hulle normale gang.
Anne
Maandag, 21 September 1942
