Liewe Kittie
Vader het op 20 Mei n weddenskap met mevrou Van Daan verloor en moes vyf flessies jogurt aan haar afstaan. Die Geal-lieerde inval het sowaar nog nie plaasgevind nie en ek kan ge-rus maar s dat die hele Amsterdam, die hele Nederland en die hele weskus van Europa tot by Spanje dag en nag oor die inval praat, debatteer, wed en  hoop.
Die spanning styg hemelhoog. Nie naastenby alle mense wat ons as die goeie Nederlanders beskou, het hulle vertroue in die Engelse behou nie; verreweg nie almal vind die Engelse bluf n meesterlike strategie nie, o nee, die mense wil nou uit-eindelik n keer dade sien, groot en heldhaftige dade.
Niemand dink verder as sy neus lank is nie, niemand dink daaraan dat die Engelse vir hulleself en hulle land stry nie; elk-een dink dat hulle verplig is om Holland so gou en so goed as moontlik te red. Watter verpligtinge het die Engelse teenoor ons? Waarmee het die Hollanders die edelmoedige hulp wat hulle so as vanselfsprekend verwag, verdien? O nee, die Neder-landers sal hulle nog kwaai vergis; die Engelse is ondanks hulle bluf nie meer te blameer as al die ander landjies en lande wat nou beset is nie. Die Engelse kan hulleself nie verontskuldig nie; hulle het geslaap in die jare toe Duitsland hom bewapen het, maar al die ander lande wat aan Duitsland grens, het ook geslaap. Met volstruispolitiek kom jy nrens nie; dit het Enge-land en dit het die hele wreld gesien en hulle moet elkeen nou een vir een, en Engeland nie die minste nie, swaar boet.
Geen land sal vir niks sy manne opoffer nie en veral nie vir die belange van n ander nie, ook Engeland sal dit nie doen nie. Die inval, die bevryding en die vryheid sal kom; maar Enge-land sal besluit op watter tydstip en nie al die besette gebiede tegelykertyd nie.
Tot ons groot leedwese en groot ontsetting het ons gehoor dat die houding teenoor ons Jode by baie mense verander het. Ons het gehoor dat anti-Semitisme ontstaan het in kringe waarin dit vroer ondenkbaar was. Al agt van ons is diep, baie diep deur die feit geraak. Die oorsaak van di Jodehaat is be-gryplik, soms selfs menslik, maar nie goed nie. Die Christene verwyt die Jode dat hulle by die Duitsers hulle mond verby-praat, dat hulle hul helpers verraai, dat dit die Jode se skuld is dat baie Christene die vreeslike lot en die vreeslike straf van so baie ondergaan. Dit is alles waar. Maar hulle moet soos by alle dinge ook die keersy van die munt bekyk: Sou die Christene in ons plek anders optree? Kan n mens, afgesien daarvan of hy Jood of Christen is, swyg as Duitse metodes gebruik word om hom te laat praat? Elkeen weet dat dit haas onmoontlik is, waarom eis mense dan van Jode die onmoontlike?
Daar word in ondergrondse kringe gefluister dat Duitse Jode wat na Nederland gemmigreer het en nou in Pole is, nie meer na Nederland mag terugkom nie. Hulle het in Nederland asielreg gehad, maar moet as Hitler weg is, weer na Duitsland teruggaan. As n mens dit hoor, vra jy jouself af waarom hier-die lang en moeilike oorlog gevoer word. Ons hoor tog altyd dat ons almal saam veg vir vryheid, waarheid en reg! En ont-staan daar nou al tydens die geveg tweedrag; is die Jood weer minder as die ander? O, dit is treurig, baie treurig dat vir die soveelste maal die ou waarheid weer bevestig is: Wat een Christen doen, is hyself voor verantwoordelik, vir wat een Jood doen, word alle Jode verantwoordelik gehou.
Eerlik ges, kan ek dit nie verdra dat Nederlanders, mense van hierdie goeie, eerlike en regskape volk, so oor ons oordeel nie; so oordeel oor miskien die mees verdrukte, die ongeluk-
kigste en mees bejammerenswaardige van alle volkere van die hele wreld. Ek hoop maar n ding: dat hierdie Jodehaat van verbygaande aard sal wees, dat die Nederlanders tog sal laat blyk wat hulle is, dat hulle nie nou en nooit sal wankel in hul regsgevoel nie, want dit is onregverdig!
En as die vreeslike inderdaad waarheid word, dan sal die armsalige oorblyfseltjie Jode uit Nederland weggaan. Ons ook, ons sal weer verder trek met ons bondeltjies, uit die mooi land wat ons so hartlik onderdak aangebied het en ons nou die rug toekeer. Ek hou van Nederland; ek het eenmaal gehoop dat dit vir my, vaderlandlose, as vaderland mag dien, ek hoop dit nog!
Anne M. Frank
Donderdag, 25 Mei 1944
