Liewe Kittie
Gister het ek ellendig gevoel, opgegooi (Anne van alle mense!), hoofpyn, maagpyn, alles waaraan jy kan dink. Vandag gaan dit weer beter; ek is baie honger, maar van die bruinbone wat ons vandag kry, wil ek afbly.
Met Peter en my gaan dit goed. Die arme seun het nog meer behoefte aan teerheid as ek; hy bloos nog elke aand met sy nagsoen en bedel vir nog een. Het ek Moffie vervang en is ek as sodanig n verbetering? Dit is nie vir my erg nie; hy is so gelukkig vandat hy weet dat daar iemand is wat van hom hou.
Ek staan na my moeisame verowering n bietjie bo die situa-sie, maar jy mag nie dink dat my liefde verflou het nie. Hy is n skat, maar ek het my innerlike gou weer toegesluit; as hy nog n keer die slot wil oopbreek, moet die breekyster beslis harder wees!
Anne M. Frank
Saterdag, 20 Mei 1944
