Liewe Kittie
n Daaglikse huiswerkie in ons klein gemeenskappie: aartappels skil!*
Die eerste gaan haal die koerante, die tweede die messies (hou natuurlik die beste vir homself), die derde die aartappels, die vierde die water.
Meneer Dussel begin, krap nie altyd goed nie, maar krap sonder ophou, kyk vlugtig links en regs of elkeen dit op die-selfde manier doen as hy. Nee!
Anne, kaaik maar, iek neem die messie so in mein hand, krap van bo af ondertoe! Nein, so nicht  maar so!
Ek vind my manier makliker, meneer Dussel, merk ek skugter op.
Maar diet is tog die beste manier. Du kannst dies doch von my annehmen. Es kan my natuurlik nieks skeel nie, aber du musst es selbst weten.
Anne het in haar Verhaaltjesboek hierdie dagboekinskrywing ook as selfstan-dige teks opgeneem. 
Ons krap weer verder. Ek kyk onderlangs na my buurman. Di skud ingedagte nog een maal sy kop (seker oor my), maar swyg.
Ek krap verder. Kyk dan weer vir n oomblik na die ander kant: Vir Vader is aartappels krap nie n sleurwerk nie, maar n takie om nougeset te verrig. Wanneer hy lees, sien n mens hom in sy gedagtes frons, maar as hy aartappels, bone of ander groente help voorberei, lyk dit of niks tot hom deurdring nie. Dan het hy sy aartappelgesig en nooit sal hy n minder goed gekrapte aartappel aflewer nie; dit bestaan eenvoudig nie as hy so n gesig trek nie.
Ek werk weer verder en kyk dan gou weer op, betyds om te sien wat aan die gang is. Mevrou kyk of sy nie Dussel se aan-dag kan trek nie. Eers kyk sy stilletjies na hom en Dussel maak of hy niks merk nie. Dan lag sy. Dussel kyk nie op nie. Dan lag Moeder ook. Dussel steur hom nie daaraan nie. Mevrou het niks bereik nie, dus moet sy dit nou anders aanpak. n Rukkie stilte, dan: Putti, trek tog n voorskoot aan! Mre moet ek weer die vlekke uit jou pak haal!
Ek mors nie op my nie.
Weer n oomblik stilte, dan: Putti, hoekom gaan jy nie sit nie?
Ek staan goed s; ek staan liewer. Pouse.
Putti, kyk du spatst schon!* Ja, Mammie, ek pas tog op!
Mevrou soek n ander onderwerp. Luister, Putti, waarom bombardeer die Engelse nie nou nie?
Omdat die weer te sleg is, Kerli!
Maar gister was die weer tog mooi en toe het hulle ook nie gevlieg nie.
Putti, kyk jy spat reeds! Anne gee die mengtaal van mevrou Van Daan weer. 
Laat ons tog nie daaroor praat nie.
Waarom nie, n mens kan tog wel daaroor praat en jou me-ning daaroor gee?
Nee!
Nou waarom nie?
Bly nou stil, Mammichen!*
Meneer Frank gee sy vrou tog altyd n antwoord. Meneer worstel; dit is sy teer plek waarteen hy weerloos is
en Mevrou begin altyd weer: Die inval gaan nooit plaasvind nie!
Meneer word wit. As Mevrou dit merk, word sy rooi, maar sy hou tog aan: Die Engelse behaal geen sukses nie!
Die bom bars. En nou hou jy jou mond. Donnerwetter nogmaals!
Moeder kan haar lag skaars hou. Ek kyk strak voor my uit. So iets herhaal hom byna elke dag, ten minste as hulle nie so pas n kwaai rusie gehad het nie, want dan hou sowel Meneer as Mevrou hul monde.
Ek moet na die solder gaan om nog aartappels te gaan haal. Daar is Peter besig om die kat te ontvlooi. Hy kyk op, die kat merk dit, woeps  weg is hy, deur die oop venster in die geut.
Peter vloek, ek lag en verdwyn.
Vrydag, 20 Augustus 1943
