Liewe Kittie
Vandag neem ons die etensuurtjie n keer in onskou.
Dit is halfeen. Die hele kaboedel skep weer asem. Nou is Van Maaren, die man met die duister verlede, en De Kock ten min-ste huis toe. Bo hoor n mens die gestamp van die stofsuier oor Mevrou se mooi en enigste matjie. Margot gaan met n paar boeke onder haar arm na die onderrig vir kinders wat nie vor-der nie, want dit is waarna Dussel lyk. Pim gaan met sy onaf-skeidelike Dickens in n hoekie sit om rens rus te vind. Moe-der haas haar n verdieping hor op om die ywerige huisvrou te help en ek gaan na die badkamer om dit en myself n bietjie op te knap.
Kwart voor een: Die ark word vol. Eers meneer Gies, dan Klei-man of Kugler, Bep en soms ook Miep.
Eenuur: Gespanne sit almal na die BBC en luister. Geskaar om die babaradiotjie sit hulle. Dit is die enigste minute waarin die lede van die Agterhuis mekaar nie in die rede val of tespreek nie, want daar is iemand aan die woord wat selfs meneer Van Daan nie kan opstry nie.
Kwart oor een: Die groot uitdeling. Elkeen van die grondver-dieping kry n koppie sop en as daar soms n nagereggie is, ook iets daarvan. Meneer Gies gaan sit tevrede op die divan of gaan leun teen die skryftafel. Die koerant, die koppie en meesal die kat langs hom. As een van die drie ontbreek, sal hy nie nalaat om te protesteer nie. Kleiman vertel die jongste nuusbrokkies uit die stad; hy is daarvoor inderdaad n uitstekende bron. Kugler kom holderstebolder die trap op, n kort en stewige tik op die deur en hy kom handevrywend binne, al na gelang van die stemming: in n goeie bui en besig soos n by of in n slegte bui en stil.
Kwart voor twee: Die eters staan op en elkeen keer weer terug na sy eie taak: Margot en Moeder na die skottelgoed, Meneer
en Mevrou op die divan, Peter op die solder, Vader op die divan, Dussel ook en Anne aan die werk.
Nou volg die rustige uurtjie; as almal slaap, word niemand ge-steur nie. Dussel droom van lekker eet; dit staan regtig op sy gesig geskryf, maar ek kyk nie lank na hom nie, want die tyd vlieg verby en om vieruur staan die pedantiese dokter al met die horlosie in die hand, omdat ek een minuut oor die vasge-stelde tyd die tafeltjie vir hom leegmaak.
Anne
Saterdag, 7 Augustus 1943
