Liewe Kittie
Jy weet nou, nadat ons vir ruim n jaar Agterhuisers is, wel iets van ons lewens af, maar volledig kan ek jou tog nie inlig nie. Dit is alles so omvattend anders as in gewone tye en by ge-wone mense. Om jou tog n bietjie n ander blik op ons lewe te gun, sal ek in die vervolg af en toe n stuk van n gewone dag beskryf. Vandag begin ek met die aand en die nag.
Saans om en by negeuur begin die drukte van bed toe gaan in die Agterhuis, en dit is altyd n hele gewoel en gewerskaf. Stoele word verskuif, beddens word uitgetrek, komberse oop-gevou en niks bly waar dit bedags moet wees nie. Ek slaap op die klein divan wat nie eens 1,5 meter lank is nie. Hier moet stoele dus as verlengstuk dien. Verekombers, lakens, kussings, komberse, alles word van Dussel se bed af gehaal, waar dit be-dags bly.
Binne hoor mens n vreeslike gekraak; die oopvoubed  la n mondharmonika van Margot. Weer divankomberse en kus-sings om die houtplankies n bietjie gemakliker te maak. Bo klink dit of n storm losbars, maar dit is slegs Mevrou se bed. Dit word naamlik tot by die venster geskuif om Haar Hoog-heid met die pienk bedjakkie iets prikkelends in die klein neus-gaatjies te gee.
Negeuur: Na Peter tree ek die badkamer binne waar dan n grondige wasbehandeling volg, en dit gebeur nie selde nie (slegs in die warm maande, weke of dae) dat daar n klein vlooitjie in die waswater dryf. Dan tande borsel, hare krul, naels behandel, bleikwattetjies dep (dien om swart snorhare wit te maak) en dit alles in n halfuurtjie.
Halftien: Gou my kamerjas aan. Seep in die een hand, pot, haarknippies, broek, krulpenne en watte in die ander hand, vlieg ek die badkamer uit om meesal nog n keer teruggeroep
te word omrede van die sierlike  maar vir die volgende Agter-huiser wat wil was nie al te aangename nie  swart haarbo wat die wastafel ontsier.
Tienuur: Aan die voorkant verduistering. Goeienag. In die huis n gekraak van beddens en n gesug van uitgewerkte vere, dan is alles stil, as die boonste bure ten minste nie bedrusie het nie.
Halftwaalf: Die badkamerdeur kraak. n Dun streep lig val die kamer binne. Gekraak van skoene, n groot jas, nog groter as die man daarin  Dussel kom van sy nagwerk in Kugler se kantoor terug. Tien minute lank n geskuifel oor die grond, ge-ritsel van papier (dit is die eetgoed wat gebre moet word) en n bed word opgemaak. Dan verdwyn die gestalte weer en hoor n mens net van tyd tot tyd uit die toilet n verdagte ge-luidjie kom.
Ongeveer drieuur: Ek moet opstaan vir n klein boodskappie in die metaalblikkie onder my bed waaronder versigtigheidshalwe n rubbermatjie gesit is vir moontlike lekplekke. As dit moet gebeur, hou ek altyd my asem in, want dit klater in die blikkie soos n bergstroompie. Dan gaan die blikkie weer onder die bed in en die gestalte in die wit nagrok wat elke aand aan Mar-got weer die uitroep ontlok: O, die onsedelike nagrok, klim weer in die bed. Vir n kwartiertjie l n sekere iemand dan en luister na die nagtelike geluide. Eerstens of daar miskien n dief onder kan wees, dan na die verskillende beddens bo, langs en in die kamer, waaruit n mens meesal kan aflei hoe die verskil-lende huisgenote slaap of halfwakker die nag deurbring. Laas-genoemde is seker en beslis nie aangenaam nie, veral wat die een lid van die familie met die naam dokter Dussel betref. Eers hoor ek n geluidjie asof n vis na lug hap; dit herhaal hom n stuk of tien keer, dan word met veel omhaal die lippe nat ge-lek, afgewissel met klein smakgeluidjies, gevolg deur n aan-
houdende heen-en-weer-omdraai in die bed en n herskikking van kussings. Vyf minute volkome rus en dan herhaal hierdie verloop van gebeurtenisse hulle nog drie keer, waarna die dok-ter homself seker weer vir n rukkie aan die slaap gesus het.
Snags kan dit ook gebeur dat daar afwisselend tussen een-en vieruur geskiet word. Dit besef ek nooit heeltemal voordat ek uit gewoonte langs my bed staan nie. Soms is ek so aan die droom dat ek dink aan onrelmatige Franse werkwoorde of aan n rusietjie hier bo. Wanneer dit dan verby is, merk ek eers dat daar geskiet is en ek doodstil in die kamer gebly het. Maar meesal gebeur dit soos ek ges het. Haastig word n kussing en sakdoek beetgepak, kamerjas en pantoffels aan en dan op n drafstappie na Vader toe, net soos Margot in die verjaarsdag-gedig geskryf het:
s Nachts bij het allereerst geschiet Daar kraakt een deur en men ziet,
Een zakdoek, een kussen en een kleine meid *
Eenmaal by die groot bed aangeland, is die ergste skrik al oor, behalwe as die geskiet baie hard is.
Kwart voor sewe: Trrrr  die wekkertjie wat op enige uur van die dag (as iemand dit verlang) sy stem kan verhef. Krak  pang  Mevrou het dit afgesit. Knak  Meneer het opge-staan. Water opsit en dan fluks na die badkamer.
Kwart oor sewe: Die deur kraak weer. Dussel kan na die bad-kamer gaan.
Uiteindelik alleen, neem ek die verduisteringskerm weg  en n nuwe dag in die Agterhuis het begin.
Anne
Meid beteken in Nederlands meisie en word in di verband vertede-rend  soos dikwels die geval is  gebruik. 
Donderdag, 5 Augustus 1943
