Liewe Kittie
Met die politiek gaan dit voortreflik. In Itali is die Fascistiese party verbied. Op baie plekke veg die volk teen die Fasciste. Enkele militre neem aan die stryd deel. Hoe kan so n land nog met Engeland oorlog bly voer?
Ons mooi radio is verlede week weggeneem. Dussel was baie kwaad dat Kugler dit op die vasgestelde datum ingelewer het. Dussel daal steeds laer in my agting; hy sit al ongeveer onder nul. Wat hy ook al s oor politiek, geskiedenis, aardryks-kunde of ander dinge is sulke onsin dat ek dit byna nie durf herhaal nie. Hitler sal verdwyn in die geskiedenis. Die hawe van Rotterdam is groter as di van Hamburg. Die Engelse is idiote omdat hulle Itali nie op die oomblik pimpel en pers bombardeer nie, ensovoorts, ensovoorts.
n Derde bombardement het plaasgevind. Ek het op my tande gebyt en geoefen om moedig te wees.
Mevrou Van Daan wat altyd ges het: Laat hulle maar kom, en: Liewer n einde met angs as geen einde nie, is nou die lafhartigste van ons almal. Vanoggend het sy soos n riet gebewe en in trane uitgebars. Haar man met wie sy na n week se rusie so pas vrede gemaak het, het haar getroos. Ek het byna sentimenteel geword net by die sien daarvan.
Dat om katte aan te hou nie net voordele het nie, het Mouschi ondubbelsinnig bewys. Die hele huis is oortrek met vlooie en die plaag neem by die dag toe. Meneer Kleiman het alle hoekies met geel poeier volgestrooi, maar dit kan die vlooie nie skeel nie. Ons word almal senuweeagtig daarvan; dink voortdurend dat iets op die arm, been of ander liggaams-dele jeuk, vandaar dat baie gesinslede liggaamsoefeninge doen deur staande agter op n been of nek te kyk. Nou haal dit ons in dat ons so min beweeg; ons is veels te styf om ons nekke behoorlik te draai. Van regte liggaamsoefeninge kom daar al lankal niks meer nie.
Anne
Woensdag, 4 Augustus 1943
