Liewe Kittie
Dussel het verjaar. Voor die tyd het hy gemaak of hy niks daar-van wou weet nie, maar toe Miep opdaag met n groot inko-piesak wat oorloop van pakkies, was hy so opgewonde soos n kind. Sy Lottie het vir hom eiers, botter, koekies, limonade, brood, kruiekoek, blomme, lemoene, sjokolade, boeke en skryfpapier gestuur. Hy het n verjaarsdagtafel gedek wat vir drie dae ten toon gestel is, die dwase ou gek!
Jy moenie dink dat hy honger ly nie. Ons het in sy kas brood, kaas, konfyt en eiers gekry. Dit is meer as skandalig dat hy wat ons so liefdevol en slegs om hom van ondergang te red, opgeneem het, agter ons rug sy maag volstop en niks vir ons gee nie. Ons het tog alles met hom gedeel! Ons vind dit egter nog erger dat hy ook teenoor Kleiman, Voskuijl en Bep so kleingeestig is; van hom kry hulle niks nie. Die lemoene wat Kleiman so nodig het vir sy ongesonde maag, vind Dussel vir sy maag nog gesonder.
Vannag moes ek vier keer al my besittings inpak, so hard het hulle geskiet. Vandag het ek n koffertjie gepak waarin ek die nodigste vlugbenodigdhede gestop het. Maar Moeder s tereg: Waarnatoe wil jy vlug?
Die hele Nederland word gestraf vir die staking van die ar-beiders. Daarom is n staat van beleg afgekondig en kry elkeen n botterkoepon minder. Hoe stout is die kindertjies tog nie!
Ek het Moeder se hare vanaand gewas, wat in di tyd ook nie so eenvoudig is nie. Ons moet met taaierige groen seep klaarkom, omdat die sjampoe op is en tweedens kan Mans haar hare nie goed uitkam nie, omdat daar nie meer as tien tande aan die gesinskam is nie.
Anne
Sondag, 2 Mei 1943
As ek soms nadink oor hoe ons hier leef, kom ek meesal tot die slotsom dat in verhouding tot ander Jode wat nie ondergeduik het nie, ons hier asof in n paradys lewe, maar dat ek later, as alles weer gewoon is, tog verwonderd sal wees oor hoe ons wat tuis tog baie netjies was, hier, kan n mens maar s, laag ge-daal het. Gedaal wat betref ons maniere. Ons het byvoorbeeld sedert ons hier is altyd n seildoek op ons tafel, wat deur baie gebruik nie meer van die skoonste is nie. Ek probeer wel dik-wels om dit n bietjie op te knap, maar met n vadoek wat meer gat as doek is en ook reeds lank voordat ons ondergeduik het, nuut was, kan ek, al skrop ek ook hoe hard, nie veel sukses be-haal nie. Die Van Daans slaap nou al die hele winter op n flanellaken wat n mens nie kan was nie, omdat die seeppoeier wat per koepon gekry kan word veels te skaars en bowendien veels te sleg is. Vader loop met n gerafelde broek en ook sy das vertoon slytasie. Mamma se korset het vandag losgespring van ouderdom en kan nie weer herstel word nie, terwyl Margot met n bra loop wat twee mate te klein is. Moeder en Margot het met drie gesamentlike frokkies die winter oorleef en myne is so klein dat dit nie eens tot by my maag kom nie. Dit is nou wel alles dinge waarteen jy nie hoef vas te kyk nie, maar tog vra ek myself soms verskrik af: Hoe gaan ons, wat vanaf my broe-kie tot Vader se skeerkwas met verslete dinge rondloop, later weer tot ons vooroorlogse stand terugkeer?
Sondag, 2 Mei 1943
Die stemminge oor die oorlog in die Agterhuis
Meneer Van Daan: Hierdie eerwaarde heer het volgens ons al-mal baie insig in die politiek, maar voorspel tog dat ons tot aan die einde van 1943 nog hier sal moet vertoef. Dit is wel baie lank, maar dit sal tog uitgehou kan word. Maar wie gee ons die versekering dat hierdie oorlog wat aan niemand iets anders as skade en verdriet berokken nie, dan verby sal wees? En wie kan ons die versekering gee dat daar met ons en ons onderduikme-depligtiges intussen nie al lankal iets gebeur het nie? Immers niemand nie! En daarom leef ons ook elke dag in spanning. Sowel in spanning van afwagting en hoop as van angs wanneer n mens geluide in of buite die huis hoor, as daar erg geskiet word of as daar nuwe bekendmakings in die koerant vermeld word waardeur dit elke dag kan gebeur dat enkele van ons on-derduikmedepligtiges self hier sal moet kom onderduik. On-derduik het n heel gewone woord geword. Hoeveel mense bevind hulle nie in skuilplekke nie; in verhouding miskien nie so baie nie, maar tog sal ons seker later verbaas staan oor hoe-veel goeie mense daar in Nederland is wat Jode en ook vlug-tende Christene met of sonder geld by hulle ingeneem het. En dis ook ongelooflik van hoeveel mense jy hoor wat vals identi-teitsbewyse het.
Mevrou Van Daan: Toe hierdie skone dame (slegs volgens haar-self) gehoor het dat dit nie so moeilik as vroer is om n vals identiteitsbewys te kry nie, het sy onmiddellik voorgestel om vir ons almal een te laat maak. Asof dit niks is nie en die geld op Vader en meneer Van Daan se rug groei. As mevrou Van Daan die grootste nonsens praat, kry Putti dikwels die stuipe. Maar dit kan maklik gebeur, want die een dag s Kerli: Ek gaan my later laat doop en op n ander keer: Ek wou nog altyd na Jerusalem gegaan het, want ek voel my slegs onder Jode tuis.
Pim is n groot optimis, maar hy het altyd n rede daarvoor.
Meneer Dussel versin alles en as iemand Sy Hoogheid durf te-spreek oor sy wilde gissings, dan sit hy die verkeerde voetjie voor. By meneer Alfred Dussel tuis is die rel, glo ek, dat wat hy s die laaste woord is, maar dit pas Anne Frank glad nie.
Wat die ander lede van die Agterhuis oor die oorlog dink, is nie interessant nie. Slegs hierdie vier tel in die politiek, eint-lik net twee, maar madam Van Daan en Dussel reken hulle daarby in.
Dinsdag, 18 Mei 1943
