Liewe Kittie
Vanoggend is ek weer in alles gesteur en kon as gevolg daarvan niks behoorlik klaarmaak nie.
Ons het n nuwe taak, naamlik om pakkies met braaisous (in poeiervorm) te vul. Hierdie braaisous is n fabrikaat van Gies en Kie. Meneer Kugler kon niemand anders vind om die pakkies te vul nie en as ons dit doen, is dit ook veel goedkoper. Dit is die soort werk wat hier ook in gevangenisse gedoen word. Dis buitegewoon vervelig en n mens se kop begin daar-van te draai en jy word ook giggelrig daarvan.
Buite is dit verskriklik. Dag en nag word mense weggesleep met niks anders as n rugsak en n bietjie geld by hulle nie. Hierdie besittings word ook nog op pad van hulle weggeneem. Gesinne word uitmekaar geruk, mans, vrouens en kinders word geskei. Kinders wat van die skool af tuiskom, kry hulle ouers nie meer daar nie. Vrouens wat gaan inkope doen, vind by hulle tuiskoms hul huis versel en hul gesin weg. Die Neder-landse Christene ervaar ook al angs; hul kinders word na Duits-land gestuur. Almal is bang. Elke nag gaan daar honderde vlieg-tuie oor Nederland, vlieg na die Duitse stede en ploeg daar die aarde met hulle bomme om, en elke uur val daar in Rusland en Afrika honderde, selfs duisende mense. Niemand kan los van die oorlog staan nie. Die hele aardbol voer oorlog en al gaan dit beter met die Geallieerdes, is die einde nog nie in sig nie.
En ons, met ons gaan dit goed, ja, beter as met miljoene ander. Ons sit nog veilig en rustig en eet sogenaamd ons geld op. Ons is so egosties dat ons oor na die oorlog praat, ons verheug oor nuwe klere en skoene, terwyl ons eintlik elke sent moet spaar om na die oorlog ander mense te help, te red wat daar nog te redde is.
Die kinders loop hier rond met n dun hempie en met klompe aan die voete, geen jas, geen mus, geen kouse en nie-mand wat hulle help nie. Hulle het niks in die maag nie, maar
kou aan n wortel, gaan van hul koue woning weg na die koue straat en kom op skool in n nog kouer klaskamer aan. Ja, hier in Holland is dit nou al so ver dat tallose kinders verbygangers voorkeer en om n stukkie brood vra. Ek sou jou ure lank kan vertel van die ellende wat die oorlog meebring, maar dit maak my net nog mismoediger. Daar bly vir ons niks anders oor nie as om so rustig as wat dit kan die einde van di misre af te wag. Sowel die Jode as die Christene wag, die hele aardbol wag, en baie wag op hulle dood.
Anne
Saterdag, 30 Januarie 1943
