Hoofstuk 11
Naas luister aandagtig. Aanvanklik hoor hy net sy eie asemhaling en sy hartklop wat in sy ore weergalm. Dan, onmiskenbaar, hoor hy n geskuifel iewers in die donker  n sporadiese, onsekere geskuifel, soos van n ding wat soek en nie seker is wat of waar hy soek nie 
Die geluid nader Naas langsaam. Dit klink of iemand sy lyf met sy hande voortsleep. Nou hoor hy ook n vae gehyg wanneer die geskuifel ophou en is daar opeens n nuwe reuk in di plek: bedompig soos voorheen, maar nou ook swaar en muf, soos van ontbinding.
Naas se hart klop hewiger, harder as al die ander geluide wat hy mag hoor. Hier is n ding wat hom soek, wat hom bedreig en hom van sy laaste bietjie lug beroof. Dit is besig om hom te versmoor, want die lug is nou so dik van n stank dat hy nie asem kan kry nie.
Meteens is die ding hier by hom, bevoel dit hom, klam, slymerig. Naas deins terug. Hy wil skree. Hy staal hom teen sy angs, voel hoe iets  klam hande?  oor sy lyf verken, voel-voel, versigtig identifiseer. Dit kom hor op oor sy lyf, op tot by sy skouers. Dan verken dit oor sy gesig, sy ore, sy neus, aan die ander kant van sy lyf af.
Die ding hyg onderwyl hy so verken. Naas verswelg byna in die affre se ongure reuk. Hy sit in die pikdonker. Hy weet nie wat dit hier by hom is nie; weet net hy moet doodstil sit en nie n geluid maak nie.
Die ding verken nog, nou sporadies, so asof hy dt wat hy verken het, eers wil ontleed. Dan roer vir lang oomblikke niks. Die geskuifel volg weer, moeisaam, tydsaam, maar beweeg dan al verder en verder weg. Die stank hang nog n lang ruk om Naas, oorstelpend in sy neus, soos n smaak in sy mond. Maar algaande veryl dit totdat hy weer kan asemhaal.
Naas het geen benul waar hy hom bevind nie. En wat sou van Cornelia geword het? Is sy ook nou hierdie aaklige Mtwetwe se gevangene?
Maar Cornelia het tog uit eie wil hierheen gekom. Sy het op die laaste nippertjie ges hy moet saamkom. Sy het tog bang gelyk. Sy was stiller as ander dae. Noudat hy perspektief kry, onthou hy sy was bleker, gespanne, en haar o  Daar was n onpeilbare iets in haar o. Nie vrees nie. Tog 
Cornelia is dalk in net so n kerker soos hy. Die duiwels het haar waarskynlik eerste oorrompel en weggeneem voor hulle hom kom gryp het, probeer Naas dit uitredeneer. Miskien wil Mtwetwe Cornelia ook offer. Hulle sal tog seker nie iets met hm wil doen nie? Bes moontlik wil hulle net verhoed dat hy gaan verklik hoe sy verdwyn het. Die blote gedagte dat hy Cornelia dalk nooit weer gaan sien nie; dat sy dalk dood is, bring n groot verdriet oor Naas. Die beeld van haar in haar volledige, vroulike prag bly voor sy geestesoog staan  maar dis of daardie iets in haar wat soos n lamp brand en haar vir hom meer as n mens maak, vaag en dof is. Oom Dolf en tant Maria sal nie weet waarheen hulle is nie. Hulle sal nooit weet nie, nie as hy nie hier kan wegkom en hulle kan gaan s nie. Dit is wat hy moet doen. Daar moet n pad na buite wees. Hy moet uit di donker plek kom. Hy moet op Doornrug kom; oom Dolf-hulle gaan s. Hulle sal konstabel Dorland ontbied. Hulle sal  Die President sal sommer al Transvaal se burgers opkommandeer en hulle sal Cornelia kom soek tot hulle haar kry!
Hy moet sy pad uit di plek kry. Maar hy is te bang om te roer, te bang om asem te haal. Want hierdie ding wat flus by hom was, is hier rond. Hy voel dit aan; weet instinktief dat gevaar naby is. Benewens die vrees wat sy ledemate soos lood laat voel, is Naas ook bewus daarvan dat sy energie onverklaarbaar uit hom wegdein. Hy voel futloos en kragteloos, sonder wil byna. Hy trag nog n keer om so ver te kom om iets te doen, maar die tamheid oorweldig hom s dat hy willoos in n bondel bly sit. Hy swymel sommer weg 
Skielik kom hy met skok tot homself. Hy hoor harde stemme en hy ervaar pyn, asof iemand hom met n klap uit sy beswyming wakker geruk het. Moeitevol maak hy sy o oop  en kyk hy vierkantig in sy folteraar se genadelose gesig.
Dit is n kolossale swart man wat voor hom hurk, sy gespierde bolyf kaal. Om hulle is dit nou helder lig, byna te lig. Naas sien talle littekens op die man se lyf, ook op sy gesig. Die merke op sy wange, langs sy mond af, besorg aan hom n meedonlose hooghartigheid.
Die man praat met iemand anders. Naas sien nou die gesette vrou. Benewens die halssnoer van bene, tande en houtbeeldjies om haar vet nek, is haar bolyf ook kaal, en haar gesig is met klei besmeer. Daar is ander ook, die vroue almal met kaal bolywe en met goed in hul hare, aan hulle ore en om hulle nekke.
En een van die talle is Mtwetwe, die ou man met die giftige o en die liederlike hanglip.
Toe sien Naas vir Cornelia. Die skok tref hom soos n vuishou: Sy is soos een van hulle! Sy sit ook daar met gekruiste bene. Sy dra ook n halssnoer van bene, roofvolvere en haaspote om haar nek. Haar gesig is betakel met klei en haar bolyf is sonder klere. Hy kyk beskroomd, ontsteld weg.
Een van die vroue kom nou na hom toe. Sy is oud en lelik met verrotte, swart stompiestande, haar vel verkreukel en haar borste twee verdorde repe voor haar lyf af. Sy het n kalbas met n sapperige bestanddeel daarin en hou dit uit na hom onderwyl sy hom dwingend in haar taal beveel om dit te eet. Hy kyk haar en die aangebode kalbas verslae aan.
Naas is honger. Hy is sommer baie honger. Hy het die oggend voor hulle van die huis af is, min geet, en sedertdien het hy nie kos of water oor sy lippe gehad nie. Maar die inhoud van die kalbas laat sy maag draai.. Dit lyk bloederig, modderig, n aaklige konkoksie wat hy nooit in sy liggaam sal kry nie. Hy onthou die nag by die graf en n rilling krul deur hom.
Die maer ou vrou praat hom aan in n skel, ho stem. Sy maak gebare; wys hy moet sy hand in die brousel steek en eet. Puza! Puza! gebied sy skerp.
Naas weet puza is eet. Maar aan hierdie brousel sal hy nie sy mond kan sit nie! Hy staan daar verslae en magteloos, dwing om na Cornelia te kyk vir hulp, maar is te beskroomd. Die ander inyangas, want dit is al wat hulle kan wees, sit gehurk in n kring. Nie een uiter n woord nie, wys nie met die uitdrukking in hul afwykende o of met n gebaar of hulle wil h hy moet doen soos die ou vrou hom beveel nie.
Die ou vrou word nou kwaad. Sy praat woes met hom en haar o skiet vuur. Haar kloue gryp na hom en hy vrees sy gaan hom verskeur. Toe gaan sy aan die bewe. Haar maer ou lyf ruk. Dit lyk of sy n dans met haar bolyf uitvoer. Hy kan nie glo so n afgeleefde ou mens het die krag en die soepelheid vir al die manewales nie. Sy hou vol tot sy neerslaan. Toe sy, steeds aan die ruk, op die grond l, kyk sy op na hom, byna smekend. Sy hou die bakkie uit na hom, smeek met haar o hy moet eet wat sy hom aanbied.
Toe nou, Naas! Eet die goed! skree Cornelia opeens heftig.
Naas ruk om toe hy haar helder stem hoor en kyk sku in haar rigting.
Seblief, Naas, eet van die goed, smeek Cornelia nou.
Vir Cornelia sal hy enigiets doen. As sy s hy moet? Hulle het haar seker ook gevange geneem. Miskien sal hulle haar laat gaan as hy doen wat hulle beveel. Kom wat wil, besluit hy. Ter wille van Cornelia sal hy probeer. Naas neem die bakkie by die ou vrou. Hy betrag die sirkel inyangas. Hulle hou hom met versluierde o dop. Dit lyk asof almal die asem ophou dat hy doen soos hom beveel is. Hy druk n vinger in die brousel, maak sy o toe en proe.
Die goed het n brak, wrang smaak, maar dit is nie oneetbaar nie. Dit laat hom bloot naar voel.. Hy druk weer n vinger daarin, proe-proe. So en s alleen sal hy daarvan inkry, glo hy. Hy druk weer n vinger in, lek af. Dit gaan al makliker. Dis byna 
Naas kyk weer na Cornelia, snaaks nou nie meer so skroomvallig nie. Sy sit daar tussen die ander met haar naakte bolyf. Die halssnoer van beentjies bedek in n mate haar melkwit borste.
Toe druk Naas sy mond teen die kalbas se rand, begin drink, keer die kalbas om, drink die laaste druppel.
Dit klink of daar n sug van verligting deur die sirkel inyangas gaan. n Oomblik later begin Naas lomerig, eienaardig voel. Dit is of die gesigte om hom breek; daar n afstand tussen hom en hulle kom. Nou kom hy agter dit is net hy. Hy sweef. Naas sien die inyangas nog vaag hier voor hom. En alles vervaag, kring uit. Alles wyk weg van hom, word onwerklik. Hy kan dinge nie meer in perspektief waarneem nie. Dit kom voor hy sweef in die lug en hulle sweef om hom en hulle  Dit klink kompleet of hulle mekaar toesing. En iewers lui klokke en n tamboer slaan  slaan  slaan 
Dan sien hy hoe die lelike ou inyanga Mtwetwe met sy giftige o en hanglip vir Cornelia n pop gee, n pop wat lyk of dit uit hout gekerf is. Die pop is soos n boer aangetrek, met n hoed op en n baard en ... Dis die laaste wat Naas sien: die pop se gesonde vol gesig. Die gesig van Kotie Davel. En dit is of die pop lewendig word, die pop Kotie Davel in lewende lywe word.
Toe Naas weer weet waar hy is, het Cornelia verdwyn. Dit is nog dieselfde situasie, met die gesette vrou en die maer gele en al die inyangas rondom hom, maar Cornelia is soek. Hy kyk oor hulle, soek angstig. Maar sy is skoonveld.
Naas bly die snaakse gevoel ervaar, so asof hy in die lug hang. Hy is nie meer honger nie. Hy voel niks nie. Dit is of hy geskei is van sy liggaam; asof hy net wanneer hy so voel, kan vlieg. En die plek waarin hulle is, is ruim. Dit is asof daar nie grense aan die plek is nie. Dit is snaaks. Hy kan enigiets sien. Hy kan wees net waar hy wil wees. Hy sien die beeste en Oemfaan op Doornrug; beweeg tussen hulle. Hy is glad nie bang vir Oemfaan nie. Hy kry hom aan n horing beet, krink sy lyf en dwing hom op sy knie. Dan gesels tant Maria en oom Dolf en tant Maria s: Maak jou prys, Dolf. Drie pond stuk en nie n pennie onder die drie pond nie.
Ja, hulle stuur osse Johannesburg toe om daar te verkoop.
En Naas sien vir Kotie Davel, Kotie met n bekommerde gesig in sy koringland vol swart brandkolle. Kotie is by n siek bees. By die beeskraal kyk hy moedeloos na verkrimpte, verlepte siek beeste. Santie bring vir hom koffie in die bekende blou hingselkannetjie. Hy sien Hannie wat altyd lag; hoor haar s: Di keer bring jy vir my n bangle, Kotie.
En Naas sien ook vir Cornelia in haar kamer op Doornrug. Sy haal die houtpop uit haar klerekas. Hy sien sy werskaf met die pop wat soos Kotie lyk. Dan sien hy sy het n haakspeld. En sy boor met die haakspeld in die pop se sy.
Kotie! Wat makeer jou, Kotie! O, Kotie, praat met my? Wat makeer jou! hoor hy Santie verskrik skree. En Naas sien haar by Kotie kniel. Kotie wie se gesig van pyn vertrek is, wat na sy sy gryp en nou op die grond l en krul van die pyn.
Tant Lenie! Tant Lenie, kom help my, Kotie gaan dood! hoor hy Santie roep. Want Kotie kreun en krul van pyn en praat nie. Toe kry hy tog uit: Stuur  Stuur vir oom Staag. Gou!
En in haar kamer op Doornrug werskaf Cornelia nog met haar pop voor haar klerekas. Sy boor steeds met die speld in die pop se sy. En wanneer sy met die speld so steek en draai in die pop, kreun en kerm n natgeswete Kotie Davel op Mooifontein, vier myl daarvandaan.
Daar is n trek van genoegdoening op Cornelia se gesig, n trek van haatvervuldheid; byna ekstase. So ja, nou sal ek met jou maak soos jy met my maak, Kotie Davel, mompel sy venynig.
En op Mooifontein hardloop Santie om tant Lenie te roep, want Kotie l oopgespalk en hyg van pyn, onderwyl sweet op sy voorkop prel.
Cornelia druk die pop met die speld nog in sy sy, terug in die kis. Toe sy daar opstaan, is dit of sy vir n oomblik verskrompel. Sy knyp haar o toe, wring haar hande, fluister: Kotie. O, Kotie wat doen jy tog aan my!
Die ou vrou breek haar blik weg van Naas en dit is asof hy soos n stuk lood terugval op die aarde. Hy kyk verbaas om hom, na die halwe sirkel inyangas wat hom soos valke dophou.
Toe praat die inyanga wat die meeste en liederlikste bene, valkkloue en bangmaakgoed  selfs n krullende slangetjie  om sy nek het: Jyt nou gesien. Gee nou jou o vir ons. Want jys vir ons. Hy praat hulle taal, maar Naas kom dit nie eens agter nie, want hy verstaan dit of dit sy moedertaal is.
Kind van die uitverkorenes, jy was niks. Jy was niks. Jy was sommer niks. Maar nou is jy vir ons, vir ons almal  Nou moet jy jou ore vir ons gee en vir ons luister, want jy is sterk medisyne wat nog baie sterker gemaak kan word, sodat ons kan kry wat vir ons bedoel is, se die ou vrou.
Naas begryp nie. Tog verstaan hy. In sy benewelde toestand is dit of hy met voorwetendheid bedeel is. Oom Staag Lemier het een keer aan hom ges. Jys groot mirsyne, Naasman, of jy dit wil weet of nie wil weet nie. Jy moet oopo loop. Jy moet wyd loop vir die inyangas. Vir jou sal hulle nie sommer uitlos nie. En jy moet vir Cornelia uitlos. Sy sal jou verkoop om te kry wat sy wil h.
En nou praat die hoofinyanga van sterk medisyne wat nog sterker gemaak moet word.
Wat wil hulle van hom h? Van sy vroegste dag af was hy bewus van n naamlose, onpeilbare bedreiging wat om hom draal. Sy ma en Ousus het kleintyd tussen hom en die gevare gestaan. Later Vir baie jare het dit heeltemal van hom gewyk. Maar hy sien nog soos gister die kaptein en die inyanga; hoor hoe hulle praat met sy pa. Hy sien hoe hulle hardloop, sien hoe die aarde breek onderwyl oom Willestefaans skoot na skoot lopers op hulle los.
Naas se ma was te verontwaardig di dag. Jou vloek! Jy wil jou kind verkoop! het sy op sy pa gegil. Joop Ferreira moes dadelik inspan, deur die nag ry en wagstaan wanneer hulle nie ry nie. Naas kon nie verstaan nie. Hy het toe nog nie geweet hy is n boggelrug nie; was nie daarvan bewus dat iemand soos hy in die inheemse gelowe iets bonatuurliks, bowrelds simboliseer nie. Di besef het nou eers behoorlik tot hom deurgedring, soos die stukkies van n raaisel wat meteens in plek val. 
En dis Cornelia wat hom hierheen gebring en aan hierdie mense oorgegee het. Die prys wat sy vir hom gekry het, is n houtpop. En met die pop martel sy Kotie Davel omdat sy hom liefhet en hom haat. Sy het met hom gemaak soos sy met Barkus Hoon gemaak het: hom in haar mag gekry, haar sin gekry  en hom aan die inyangas uitgelewer. Sou dit wees waarom Barkus Hoon nou is soos hy is? Cornelia is n heks.
Die toordokters staan op. Hulle gesels met mekaar; die lywige ou vrou die spraaksamigste. Dan verdwyn een na die ander deur n smal deurtjie. Net die ou vrou en nog een van die inyangas bly agter.
Di kom nou na Naas aangestap, praat Boerehollands en s: Kom, jy moet nou gaan waar jy sterk gemaak kan word.
Hulle kruip by die deurtjie uit. Die fel lig buite verblind Naas. Die inyanga het hom aan n arm en stuur hom voort, halfweg uit die stat na n reusekameeldoringboom waaronder twee mans aan die rieme brei is. Hulle het n sopnat beesvel in een aaneenlopende riem gesny en toe oor n sytak van die boom en deur die hingsel van die breiklip geryg, sodat die lang riem seker twintig keer deur die hingsel geryg is en die breiklip omtrent borshoogte van die grond af hang. Die inyanga, wat Naas nog al die tyd stewig in sy greep het, beveel die breiers om hul breiery te staak. Hy praat met hulle en beduie met sy los hand. Dit lyk of hulle skrik en hulle kyk skerp na Naas.
J! s die een.
Hai! blaf die ander en hulle o weerlig wit.
Die inyanga spreek hulle skerper aan. Een kyk nou rond tot sy oog op n stuk nat rouriem val. Die ander een loop ongerg agterom Naas. Toe vat hy die seun van agter af dood. Bpa! skree hy vir sy maat. Die inyanga help en hulle bind Naas se hande stewig agter sy rug vas.
En nou wil hulle Naas onder die breiklip vas maak.
Toe Naas agterkom wat hulle planne is, verset hy hom hewig. Hy veg verbete, maar hulle is drie teen een. Naas word oorweldig en moet hom oorgee aan die drie mans se wil. Die een breier steek die breipaal deur die hingsel, wen die rieme tot bo teen die breitak op met Naas hulpeloos vas onder aan die klip. Hoog bokant sy kop ruk die breier die paal uit die hingsel. Die klip begin terugwentel, aanvanklik stadig, maar toe al vinniger. Die riem wen af en toe weer op. Naas verloor sy bewussyn in die proses; kom tog by wanneer die breier weer die rieme begin opwen. Die proses word herhaal. Alles draai en wentel nou om Naas. Die huise in die verte, die wolke in die lug, n paar donkies wat daar staan, wentel om en om en om, dan hoog, dan laag en onder hom beweeg die aarde.
Naas word weer hoog opgewen. Di keer word hy siek toe die klip so wild afwen. Hy weet dit nie, maar die inyanga maak die ontlasting uit sy buik bymekaar. Vir hom en sy mede-inyangas is dit hoogs eksklusiewe medisyne. Arme Naas het sy bewussyn nou heeltemal verloor. Hy weet van niks, weet nie hoeveel keer hy weer saam met die klip opgewen word nie en kom eers weer in die stikdonkerte van sy stinkende, luglose sel by. Daar l hy siek soos n hond met die wreld wat nog steeds om en om en om hom draai.
Hy is naar en sy ingewande het niks meer om af te staan nie. Hy is ontsaglik dors en raak kort-kort weg. Dan is dit vir hom of hy soos n tol in n diep gat aftregter. Hy droom van water. Hy waad deur water. Water maal om hom, breek oor hom, maar hy kry nie n druppel op sy tong nie.
Naas dool so vir ewighede tussen slaap en wakker en is een keer weer bewus van iets wat aaklig ruik, iets wat oor sy gesig en lyf verken en hom selfs liefkoos. Maar ook dt gaan verby en hy is eindelik net bewus van sy dors en die rouriem wat dieper om sy polse kerf soos wat dit gaandeweg droog word en krimp.
Die jong inyanga kom haal hom weer. Hy moet weer n bak brousel eet. Toe kyk hy weer in die hipnotiese o van die ou vrou; kyk hoe sy gees van sy liggaam skei, tot hy gewigloos word, in n dimensie beland waar hy oor ruimte en tyd kyk.
Naas raak ylhoofdig. Hy sien dinge wat nie bestaan nie, sien homself daar sit onderwyl die ander deel van hom hoog bokant die wolke uitstyg, ver weg dryf, op die gedagte gedra word na net waarheen hy dink en hy vreemde, onwerklike wesens ontmoet, mense van gister en van mre, alles deurmekaar. Naas sien weer sy ma en vir Ousus. Hulle staan aan die oorkantste oewer van n rivier en wink hom om na hulle toe te kom.
Dan hoor hy weer die inyangas praat. Iemand praat met hom, praat lankal met hom, s een ding oor en oor en oor, hamer dit soos n refrein in hom, tot dit al is wat hy nog waarneem; dit die klank sy totale bestaan word.
Toe word n wit os tussen hulle ingebring, platgetrek en keelaf gesny. Onderwyl die dier nog stuiptrek, word stukke uit die lyf gesny, oor n vuur gehou en halfgaar verorber. Hulle gee rou dele van die bees vir hom om te eet. Hy is honger en sien hoe gulsig hulle eet  maar kan homself nogtans nie so ver bring om die grillerige rou vleis oor sy lippe te bring nie. Hulle praat nie meer met hom nie, steur hulle nie aan sy teenwoordigheid nie. En toe is hy en die jong inyanga weer alleen. Kort daarna is hy weer by die twee riembreiers onder die breiboom, hy magteloos, sy hande doodgebind met die wrede rouriem.
Die inyanga praat weer bars, beveel, beduie. Die breiers j! en hai!. En toe die een om hom loop om hom van agter beet te kry, loop Naas die inyanga onverwags uit die grond en begin hy hardloop. Hy hardloop met sy hande voor hom vasgebind, hardloop blindelings tussen die bome in.
Agter hom hoor Naas die inyanga skree, hoor hy die harde voetslae van die twee breiers, hoor hy gaandeweg die geroesemoes van baie opgewonde stemme wat sien wat gaan aan en in meerdere of mindere mate daaroor op hol is.
Naas is van alles bewus  maar hy is nog in so n toestand dat hy dt wat met hom gebeur, soos n toeskouer van die kantlyn af beleef, asof dit iemand anders is wat vir sy lewe vlug. Maar dit is s o wat sy vlugroete kies en s bors wat brand en hyg. Dit is s bene wat aanstons struikel van uitputting, s hart wat klop en dreig om by sy mond uit te spring. Die volgende oomblik sak hy weg in bodemlose diep water.
Met di dat sy hande nog vasgebind is, sink Naas onmiddellik; kry van die koel water lawend in sy keel, voordat hy daarvan stik en al stikkende begin spartel. Sy agtervolgers kom tot op die rand van die groot fontein met die ho skierwalle  maar steek dan viervoet vas. Verslae en dom staan hulle en kyk die spartelende kind agterna. Naas besef dit nie, maar hy is in hulle heilige fontein. Dit is die fontein met die eiland in die middel waarlangs hy en Cornelia hierheen gekom het.
Onderwyl die spul toeskouers op die ho wal van die fontein saamdrom, spartel-swem Naas tot by die eiland. Hy klou aan die lang gras vas en klouter uit. En daar in die biesies, vir die oomblik veilig weg van sy bedreigers, val hy die rouriem om sy polse met sy tande aan. Die riem het weer goed nat geword, begin rek. Hy slaan sy tande in die taai riem, ruk en pluk. Dit vat lang minute, maar hy kry sy hande los.
Naas voel, meer as hoor, hoe daar op die wal kajuitraad gehou word. Dit praat en babbel. Maar nie een waag dit die wal af die diep water in nie. Hulle het n groot ontsag en n doodse vrees vir hierdie fontein, wat vir hulle n heilige bron van lewe is. Naas sit verskuil in die biesies en weet nie wat hy nou moet doen nie. Hy weet net hy is deurdrenk en kry bitter koud. Vanuit sy skuilplek tussen die ho biesies loer hy na die samedromming. Al wat leef het fontein toe gekom, die inyangas op die voorpunt. Hulle beduie aan mekaar waar hy in die kol biesies moet wees.
Hulle kan hom met kieries; met klippe gooi, want hulle kan raai waar hy is. Hy vrees daarvoor. Maar niemand gooi na hom nie. Hulle wend ook geen poging aan om in te spring en hom te kom haal nie. Hulle bepraat die gebeure luidrugtig en wys aan mekaar waar hy laas gesien is en waar hy hom tans moet bevind. Hulle skud die koppe oor hierdie katastrofe en raas luidrugtig . Dit lyk of hulle mekaar vir die ontsnapping van hulle gevangene verwyt, maar niks word gedoen om die situasie te beredder nie.
Naas verwag elke oomblik optrede. In n sin sal hy dit verwelkom, want hy bibber van die koue. Die lug bokant hom is toegetrek. Wolke swaar gelaai met vog rol laag oor die aarde en n koue oostewind sny deur hom en martel hom tot n stadium waar lewe nie meer mooi is nie en die dood welkom.
Die lang dag gaan so verby. n Ysig koue ren begin val. Naas voel of dit steeds kouer en kouer word. Hy weet nie hoe laat dit is nie; het geen benul van hoe lank hy reeds hier skuil nie. Daar is steeds die oproerige samedromming om die fontein. Vroer, toe hy nog energie gehad het, het hy van die inyangas tussen die ander probeer uitmaak. Hy kon hulle uitken aan hulle drag en versiersels en aan hulle konstante teenwoordigheid in die voorgrond, maar nou is dit net vae gestaltes oral op die rand van die fontein. En toe dit skemer word, sien hy niks nie; hoor hy later selfs geen stemme nie. Net die tamboere kondig ritmies, dreigend, n komende oordeel aan.
Waar die eerste huise l, sien hy lig en beweging in die lapas; waar die vuur vir die nag in konkas uitbrand, sien hy skigtige, spokerige gestaltes heen en weer beweeg. Nog later verdwyn di lig ook.
Waar Naas halfverkluim en weerloos in die biesies l, wonder hy of hulle wagte om die fontein opgestel het. Hy is seker die inyangas het. Om een of ander rede is hy vir hulle belangrik, al kan hy nie presies verstaan hoekom nie. Hy glo nie, na wat hy gesien het en na wat hulle aan hom probeer doen het, dat hulle hom uit hulle kloue gaan laat ontsnap nie. Maar dit is stil, doodstil, om die fontein.
En mettertyd word die gedagte aan wegkom, ontsnap weg van hierdie plek, vir hom oorheersend. Naas weet hy moet wegkom, nie na Doornrug en die Bodemers nie, nooit weer na hulle toe nie, maar iewers heen waar daar mense soos Abel Klootwyk, tant Soufie en warmte is. Hy moet wegkom van hierdie verterende koue.
Onderwyl hy bibber, sy lyf ruk, hy klappertand, prakseer hy. Mooifontein, daar waar hy nog mense ken, is anderkant Doornrug, ver. Hy is halfverkluim en swak. Sal hy in hierdie toestand so ver kan vlug? Naas gewaar nou iets in die water: beweging wat ten spyte van die duisternis om hom in die water blink. n Vis, dalk? Toe sien hy die ding. Dis iets baie groter as n vis en daar is meer as een. Hy skrik groot. Maar dit lyk of die goed n speletjie in die water speel; rats deur die water klief terwyl hulle opgewonde geluide maak en met pote soos honde deur die oppervlak breek. Otters!
Daar is minstens twee otters wat te lekker in die water baljaar en glad niks omgee vir die reent of die nagkoue nie. Hulle speel heen en weer soos twee robuuste, uitgelate kinders. Onderwyl hy kyk, sien hoe hulle in die nagdonker, blink water dan hier, dan daar opduik, is dit of daar vir hom n lig opgaan.
Teen die ho wande van die fontein sal hy nie sonder hulp kan uitkom nie. Maar n otter het n nes in die grond bokant en buitekant die water, hor as die waterlyn, reg onderkant die grondoppervlakte. En die bek van sy tonnel is aan die waterkant in die wal onderkant die waterlyn. Die tonnel lei na daardie nes. As hy die bek van daardie tonnel kan kry en dit is groot genoeg, kan hy uit die fontein kom.
Die uitgelate otters ken geen einde nie. Naas hou hulle dop, nie omdat hul spel hom betower nie, maar omdat hy weet dat hulle een of ander tyd sal moeg word. En hy moet seker maak presies waar in die groot fontein verdwyn hulle, want, glo hy, daar sal die bek van hul tonnel wees.
Die otters speel onverpoosd. Dit word later en steeds later in die nag. Nrens brand meer n vuurtjie nie. By tye dommel Naas in. Wanneer hy orent ruk en rondsoek, kry hy weer die otters wat aan speel nie genoeg kan kry nie.
En toe Naas weer een keer wakker ruk en rondkyk, is dit stil op die water. Die otters het verdwyn soos hulle gekom het en hy  Maar toe gewaar Naas daar is nog een wat geruisloos stil rondswem. Hy sien die water net roer en wanneer hy mooi kyk, die blinknat lyf. Naas probeer hom nog volg, toe di otter ook skielik skoonveld weg is. Maar hy het gesien waar was die otter voor hy geduik het. Dit is daar. Net daar, praat hy hardop met homself en merk die plek in sy geheue. Dan gly hy van die pol af in die koue water in. Geruisloos soos die otter swem hy na die plek naby die ho wal. Daar duik hy, soek hy. Die water is helder, maar die nag is swart. Dit reent nog onafgebroke, sag. Hy soek teen die wal onder die water. Die water lewe van die rimpels wat hy onder die water veroorsaak. Naas sink etlike kere diep af. Hy swem met oop o rond. Die nes se ingang moet net hier rond wees. Die otter het presies hier verdwyn. Hy dink: n Otter het n smal, soepel lyf. Sal die ingang, die tonnel groot genoeg vir sy lyf wees?
Toe sien hy die donkerder kol teen die donker fonteinwand. Hy swem nader, voel-voel. Ja, dit is n ingang, maar tog so nou! Sal hy met sy boggel  As hy nie n boggel gehad het nie, kon hy dalk  Naas probeer nietemin. Hy trek sy longe vol lug. Toe beur hy roekeloos met sy hande en kom in die smal gat in. Die tonnel se wande is sag. Hy sit vas en toe hy wil retireer, kan hy nie. Naas bevind hom halfpad in die nou tonnel nog onder die watervlak. Paniek gryp hom aan die strot. Hy beur en spartel, soek futiel vasskopplek vir sy voete, maar vorder, vorder tog.
Dit duur n ewigheid. Sy longe wil bars. Dit sing in sy kop en hy voel hoe hy wegsweef. Toe is sy kop, dankie tog, bokant die water. Hy hap groot happe lug en moet eers rus. Dit is nog klam om hom. Die tonnel is hier wyer. Hy hoor geluide, n dier se paniekgeluide. Die otters is hier iewers, bang, aggressief.
Sal hulle in hulle angs aanval? Hy moenie nou daaraan dink nie. Hy kruip vorentoe, kom agter hy het nou beweegruimte. Die otters, gesinsdiertjies, sal meer as een vertrek in hierdie ondergrondse nes h. Maar as hulle kleintjies het en hy beland daar? Hoe diep onder die grond is hy nou?
Naas hoor n otter grom en voel-voel in n ander rigting. Toe begin hy met kaal hande aan die dak bokant sy kop grawe. Die grond is droog en hard. Hy werk toe-o. Wat hy loskry, val op hom. Hy maak sy vingers seer, breek sy naels. Maar hy grawe besete, grawe minute lank, ure lank, eeue lank, glo hy.
Toe kry hy die eerste biesiewortels. Nou gaan dit eers stadig. Die biesies is taai, ineengekoek. Hy byt op sy tande. Help my! Here, help my! bid hy. Die koue is lankal uit hom uit. Hy sweet.
En toe skielik is dit klam bokant hom, is dit of daar vog op sy gesig beland. En toe sien hy  glo hy dit nog nie  ho wolke oopmaak en n ster in die naghemel verskyn. Hy is bo! Hy is uit! Hy  Nee, hy is nog nie vry nie.
Naas staan buite. Die lug is koud, maar sy enigste gedagte is aan vlug. Hy moet weg hier. Hy moet by mense kom. Oom Staag! Hy sien oom Staag in sy geestesoog. Die sonderlinge ou mens woon alleen. Hy sal Naas in sy huisie toelaat. Hy sal begrip toon. Hy het reeds gewys, op sy ongekunstelde manier gewys, hy verstaan; is besorg. En oom Staag weet van die inyangas en hulle duistere magte, meer as enigiemand anders.
Dit is pikdonker en die windjie waai nog knaend geniepsig van dieselfde kant af. Wyd om Naas l die huisies. Elkeen herberg n vyand. Hy moet gou hier wegkom. Hy moet kom waar warmte is en veiligheid, soos dit by sy ma en by Ousus was.
Naas voel die rigting van die wind. Die wind moet uit die suide kom. Hulle het vanoggend van die huis af min of meer wes gery. As hy hiervandaan met die windjie op sy regterskouer padgee, sal hy die pad iewers tussen Kleinwater en Doornrug kruis. Eers in die pad sal hy presies weet waarheen hy gaan. Al is dit hoe donker  sy voete sal die pad hou verby Doornrug, deur die bos en voort tot by oom Staag Lemier se staning.
Naas maak sy lyf skraal en begin draf.
Dit bly voelbaar donker. Die ligte ren, byna soos mis, bly op sy koue lyf val, alles van die een kant af, van die kant waar die wind waai. Sy o kyk skaars n meter voor hom teen die vaal muur van die duisternis vas. Hier moet oral huisies wees, honde wat hom sal gewaar, sal blaf; alarm maak. O, hy moet tog net nie op n huis, op n hond afkom nie!
Hy kan niks uitmaak nie. Een of meer keer loop hy hom vas teen n lapa se muur, moet hy voel-voel verby so n huis kom, ys hy hy beland in n huis vol vyandige mense. Maar toe voel sy voete n oopgetrapte paadjie. Daarna beland hy nie weer teen n huis nie; kom van geen kant af die geblaf van n hond nie. Later voel sy voete die oop veld. Hy moet knaend oos hou. Hy het geruime tyd al oorgeslaan op n jakkalsdraffie wat die myle kleingeld maak, liggaamshitte genereer wat die koue in n mate neutraliseer.
So draf Naas die een uur na die ander om. Soms gewaar hy vir n kort oomblik n ster. Die koue gee hom energie, maak hy homself wys. Hy glo hy kan so aanhou. En toe die aarde skielik onder hom swik en kliphard teen sy voetsole stamp, weet hy hy het die pad gevind.
Van hier af het hy die koue windjie in sy rug. Die windjie waai hom voort. Weer verteer sy bewegende voete die myle. Vir oomblikke dink hy aan waar hy slegs n paar uur gelede was  hoe sonder hoop al sy vooruitsigte terwyl hy n magtelose gevangene van die Satan se hopriesters was. En nou is hy vry. Hy moet net uithou, uithou. Nog n myl of drie. Nog net 
Lank voordat hy die kliprif bereik, voel hy hoe sy kragte uitrafel. Sy knie swik. Hy kry die bewerasie oor sy hele lyf; voel hoe die energie soos water uit hom drup. En nou gryp die koue hom met albei hande. Die koue kruip langs sy rugstring af en dring sy ingewande binne. Sy tande begin klapper. Sy bene en arms word speldeprikke. Toe kry hy n kramp. Hy ploeter kruppel voort. Hy huil.
