Hoofstuk 10
Naas bly in n toestand van verdwasing staan. Die bome rondom hom vorm plek-plek n byna ondeursigbare blarekroon en gooi donker skadus teen die helder maanlig.
Dis of hy hom in n grieselige spookwreld bevind. Alles is onwerklik. Wat hy voor hom sien afspeel het, is n droom. Hy het dit nie gesien nie. Hy het dit nie beleef nie. Dit is n droom, n skrikwekkende droom waarvan hy sal ontwaak; sal wakker skrik in sy bed in die solderkamer bokant die stal.
Maar dit is nie n droom nie. Hy loop in die maanlig in die bekende bos en die ryp van die winternag kraak onder sy voete. En hy is yskoud, verkluim. Destyds het hy nog Abel Klootwyk se osse hier kom haal. Hier  Hy kyk onwillekeurig om hom, agter hom en is plotseling weer bang. Hy besef hy is alleen, weerloos teen die geheime van die bos, van die nag, van die duisternis, die Duiwel en sy trawante.
. Hy onderdruk die drang om te gil en weg te hardloop vir iets wat hy nie kan sien nie; oorweldig te word deur n vrees waaraan hy geen gestalte kan gee nie en dwing homself tot bedaring. Tog klink die geluid van sy eie voetstappe soos hamerslae in die nagstilte, en kyk Naas kort-kort oor sy skouer om te sien of iets, iemand, hom nie volg nie. Dit is al of hy iets hoor, gewaar, loerende o op hom voel. Maar daar is niks, net die maanlignag, die misterie van die bos in die nag.
Selfs wanneer hy die pad bereik en die bome yler word verbeel hy hom nog dat n versteekte bedreiging in elke donker skaduwee skuil en probeer hy om so gefokus moontlik op die uitgestrekte grondpad voor hom te bly kyk. Toe l die lang kliphuis voor hom, vreemd, dreigend hier voor hom, anders as wat hy dit gister en eergister gesien het. n Laaste blik agtertoe. Het hy iets daar in die skaduwees skielik sien wegkoes? Hy sluip self so stil soos n skaduwee voort al langs die huis af, buk soms laag, kruip byna tot hy die staldeur bereik. Bordeaux en Kordaat l op hulle strooimatrasse; proes as hulle sy beweging hoor. Naas fluister gerusstellend, klouter met die leertjie op.
Dit is stil en donker in die solderkamer. Net n skrefie maanlig val op Barkus Hoon se slapende figuur. Naas draai om om sy skoene uit te trek en skrik hom vir die soveelste keer sinneloos. Want hy kyk meteens vas in n wit gedaante, n vrouefiguur wat plotseling hier reg voor hom staan. Kan dit ...? Waar was jy al die tyd, Naas? vra Cornelia. Dit s sy.
Ek  ek het n draai gaan loop, hakkel hy.
Maar jyt lank weggebly?
Dis  my maag. My maag keil my op. Ek moes iets geet het. Ek  ek sukkel al die hele nag, verbaas hy hom oor sy sluheid.
Dalk het jy blaargif ingekry, raai Cornelia. Jy moet kom dat ek vir jou entresdruppels op melk gee om te drink. Toe, kom.
Naas kyk haar woordeloos aan. Alles het opeens so prosaes geword. Naas moet aan sy ore vat, hom vergewis dit is werklik hy en dat hy wawyd wakker is. Dan volg hy Cornelia met die leer af na buite.
By die lig van n kers meng sy versigtig die entresdruppels op melk en Naas drink dit sonder protes. Cornelia is lewensgroot en op haar gemak, asembenemend mooi soos altyd vir hom. In haar lang, wit rok lyk sy byna soos n priesteres  Priesteres van wat?
Jy moet nou gaan probeer slaap. Vra vir Mamma mre vroeg om weer vir jou medisyne te gee en moenie goed eet wat jy nie ken nie, vermaan sy moederlik.
Goed, ek maak so. Nag, Cornelia. Hy wil omdraai en na sy kamer toe gaan.
Naas? Wag, kom hier. Sy kry hom aan n arm beet. Jys my nefie. Ons 
Sy trek hom na haar toe, omhels en soen hom innig.
Lekker slaap, hoor.
Naas struikel na buite, halfblind van verwarrende emosie, vertwyfeling en blydskap twee vegtendes in sy hart. Hy raak ook nie gou aan die slaap nie; slaap daardie nag eintlik baie min; leef tussen angs en verrukking en weet nie of hy bang of bly moet wees nie.
Cornelia is n jaar of twee ouer as hy. Hy is n blote kind teenoor haar, n volwasse vrou. Tog! Dis soos n ma-kindverhouding. Gevaarlik? Hoe moet hy dit weet?
Van di nag af gee Cornelia hom weer die aandag soos in die tyd voor Barkus Hoon op Doornrug opgedaag het. Naas vergeet oom Staag Lemier se waarskuwing.
Somtyds moet hy Cornelia te perd vergesel, sommer net vir n rit na nrens. Dan verken hulle wyd op die plaas en verder, bring sy hom by plekke waar hy voorheen nog nie was nie. Dit word lente en die wreld word mooi. Daar is die bome, die kliprif wat aan die westekant byna n rantjie word. Dan is daar na die suide die boomlose vlakte wat uit die geboomte wegbreek en wyd sprei, myle ver oor bulte en vlaktes tot in die verskiet.
Op n dag besoek hulle die ou staning aan die westelike punt van die rif. Die klipmurasie staan nog halflyf, soek net n dak, en word omring deur n kweper- en granaatlaning, n vyeboom wat steeds somers dra, garingbome. Cornelia lei hom met n toegegroeide paadjie tussen die digte bome deur  en daar, verskuil tussen katbos en biesies, borrel n miniatuurfontein. Cornelia sak op haar hurke, skep en drink van die water.
Ook dors? vra sy uitnodigend. Drink, Naas  dis van die lekkerste water op aarde.
Haar o is vriendelik en glimlag met hom en hy drink van die fontein se water, nie slegs oor hy dors is nie, maar ook omdat sy dit wil h.
Sy vly haar neer op die kweek in die skaduwee van n boom. Kom sit hier by my, dit is lekker, nooi sy en trek hom langs haar neer. Sy l op haar rug, kyk tussen die blare deur na die blou lug. Hy sit hier langs haar, effens weg, effens ongemaklik.
Ai, moenie so kriewel nie, kla sy een keer. Ontspan. Of is jy nes Mamma?
Vols kom sit in die bome om hulle, skynbaar onbewus van hulle teenwoordigheid. Tog is hulle onrustig. Hulle wip rond, kwetter, vertoef n oomblik en vlieg dan weg.. Dit word vir Naas n speletjie om te sien wie volgende in die boom kom sit: mossies, n janfrederikie, muisvols, weer vinke, twee tiptolle 
Naas ontspan nou. Want hy sluimer in en hy droom. Iets kielie oor sy lippe. Toe hy wakker word, leun Cornelia oor hom. Sy kyk met terg in haar groot o af na hom. Toe, ou slaapkous. Jy het nou lank genoeg vir vandag geslaap, berispe sy spelerig.
En nou sien Naas die son sit glad nie meer waar hy was voor hy weggeraak het nie. Toe hy opstaan, is hy dronk in sy kop en van balans af. Cornelia lag vir hom, vat hom aan n skouer en stuur hom na Kordaat toe. Sy help hom selfs in die saal. Sy lag hom uit, maar op so n manier dat hy nie aanstoot kan neem nie.
Toe hulle vertrek, dwing hy al in die verkeerde koers. Nee, diekant toe. Ons gaan huis toe en die huis is diekant toe. Laat ou Kordaat vir jou besluit waarheen ons wil gaan, spot Cornelia. Hy weet van beter.
Hulle ry voort. Naas bly snaaks voel, so asof n deel van sy verstand nog aan die slaap is.
Dit lyk my die son het jou gevang, s Cornelia een keer.
Dit het al vantevore met hom gebeur wanneer hy so ontydig aan die slaap geraak het. Maar nou is dit baie erger. Hy is dof in sy kop en sy lyf voel seer en lam. Hy moet al sy wilskrag inspan om op Kordaat se rug te bly.
Opeens is dit n ver ent pad terug huis toe. Cornelia, wat met die koms so lekker gesels het, ry effens voor hom uit en praat nie. Hulle ry en ry en dit is al vir hom of hulle nooit die einde gaan bereik nie. Die grondpad, die landerye, die troppe loeiende beeste  alles bly onwerklik, asof net n deel van sy brein wakker is. Toe skielik is die lang huis hier reg voor hulle. Naas seil van Kordaat se rug af, vat Bordeaux se teuels by Cornelia en sleep sy lam voete voor die perde uit stal toe. Die perde is nie warm gery nie. Hy laat hulle eers water suip, gee hulle voer en klouter met sy laaste kragte die leer uit en val op sy bed neer.
Naas voel nou of die wreld maar kan vergaan solank hy net kan l en l. Die vaak kry so te s die oorhand oor hom  tot hy meteens helder wakker skrik. Iets onverklaarbaar, iets soos n roofdier wat bekruip en spring het hom skielik helder uit sy lomerigheid geruk.
Toe weet hy!
Toe weet hy wat daar onder die boom, by die murasie, naby die fonteintjie gebeur het. Hy het nie gedroom nie! Hy sien weer die krom ou man met die hanglip, die vermetele uitdrukking op die gesig en die o wat so in mens boor.
Dit het werklik gebeur. Die inyanga was daar. Hulle het gepraat. Hy en Cornelia het in die ou man se taal gepraat. En somtyds was dit of die inyanga bevele gee, bevele wat sy aanvaar het om uit te voer. Dit het oor hom gegaan. Hulle hom wat Naas is bespreek en gepraat van n fontein en van n verwagting wat vervul sal word as iets gebring en die medisyne gemaak is.
Alles is vaag. Naas begryp nie. Hy het en hy het dit ook nie ervaar nie. Hy kan sweer die wit bul was ook daar, die dreigende, dominerende wit bul wat sy paaiboelie geword het. Hy was daar, al weet Naas Oemfaan is pal in sy klipkraal.
Die moegheid verlaat hom na n uur of wat. Hy staan op, versorg eers die perde en gaan dan lande toe. Stefaans en n paar vroue plant aartappels. Dis duidelik dat Stefaans weer dagga gerook het, want hy praat met die aartappelmoere asof hulle stout kinders is. Hy werk met n graaf wat konsuis baie lui is en die vroue lag. Stefaans se dinge laat selfs harde werk aangenaam word en hulle maak in n ommesien kleingeld van die sak moere.
Van die Davels verneem Naas slegs wanneer n terloopse opmerking deur oom Dolf of tant Maria laat val word. Volgens oom Dolf plant Kotie baie aartappels en pampoene, weer met die oog op die mark aan die Witwatersrand.
Ons moet n groter lap pampoene inkry. Hulle vra nie so baie water nie, besluit oom Dolf naganig; sug dan moedeloos. Tant Maria luister in stilte, die somberheid duidelik op haar gesig.Met so n water kan n boer iets doen, meesmuil oom Dolf en steek sy pyp op. Ag ja, mens moenie begeer nie.
Wat hoor jy van die golery daar? vra tant Maria.
Golery? Oom Dolf se o weerlig na Naas se kant toe, terug na sy vrou. Dit is asof hulle iets aan mekaar s. Albei swyg. Tant Maria sug.
Daar drup gedurig nuus van Mooifontein se kant af  nuus oor dinge wat niemand verstaan nie en nog altyd aanhou gebeur.
Ja, van Kotie se baie aartappels sal ook niks kom nie. Roes! s oom Dolf toe hy van Driedorings af kom.
Ounooi Lenie, sy huil. Die hoenners gaan ammal dood, kom s Stefaans. Toe breek bek-en-klouseer onder Kotie Davel se beeste uit, n verskriklike siekte waarvoor niemand raad weet nie.
Davel het glo brand in sy koring. Amper nie n stoel wat nie besmet is nie. S glo hy verwag vanjaar glad nie n oes nie. Oom Dolf sug dankbaar.
Naas loop Doornrug se koringlande deur. Hy soek na tekens van brand. Maar hulle koring staan gesond en lowergroen op die land, kom plek-plek in die aar.
Toe word Hannie siek. Tant Lenie dokter met boererate, maar sonder veel sukses. Santie Riekert is reeds daar om te help  en dan neem oom Dolf vir tant Maria ook om hand by te sit.
Gekom kyk om te help, Lenie, s tant Maria. Ons is tog familie en bloed kruip mos waar hy nie kan loop nie.
Tant Lenie dokter met elke raat wat sy kry; pas al haar kennis toe. Hannie word sieker. Sy is lusteloos, sonder eetlus, teer uit en kry n hoesie. Tering! Die Here moet tog nie dat dit tering is nie. Hulle waak later pal by haar. Oom Staag Lemier kom neem oor. Hy bly dag en nag by Hannie, behandel haar met sy veldmedisyne.
Sys getoor, s die ou man. Maar Hannie se toestand verbeter tog onder sy toesig.
Barkus Hoon is die laaste tyd soek. Naas het nog geglo die reus kom elke nag stalkamer toe. Maar saans wanneer Naas se o toeval, is hy nie daar nie; ook nie soggens wanneer Naas moet opstaan nie. Toe hoor Naas een nag n onrusbarende gestoei en geroggel in die stal. Bordeaux proes en runnik paniekerig. Barkus l agter die perd in die stal. Hy het siek geword; is nog in die greep van die aanval. Die ou vrees pak Naas weer. Dit is so of die groot man met n onsigbare monster worstel. Hy klouter dadelik af met die leertjie, draai die stuiptrekkende Barkus op sy sy soos hy reeds geleer doen het. Lank l die groot man so op die stalvloer en ruk, terwyl Naas magteloos toekyk.
Later word dit stil, doodstil. Naas, wat steeds langs Barkus waak, dommel in; word later wakker as hy die hewige, diep asemhaling van Barkus Hoon steurend, dog gerusstellend naas hom hoor.
Wanneer Naas die volgende oggend wakker word, is hy alleen in die stal; die effense holte in die hooi op die vloer voor hom die enigste teken van Barkus se nagtelike teenwoordigheid. Naas is meteens ook seker dat Barkus een keer rens in die nag op sy gulle, grootpraterige manier met hom gepraat het oor sy liefde en sy erotiese planne met n sekere stukkie meisiemensvleis wat dink sy is te goed vir hom.
Die hele dag tob hy daaroor, probeer vasstel wanneer in die nag Barkus Hoon met hom gepraat het. Barkus praat vir baie maande al met niemand n woord nie. Vir oom Dolf en tant Maria bestaan hy glad nie meer nie. Maar hy is tog nog hier op Doornrug en sluip die solderkamertjie snags soos n dief binne.
Wanneer Naas aan Barkus Hoon dink, dink hy onwillekeurig aan Cornelia. Daar is n geheim tussen die twee en dit verontrus hom. Moet hy glo wat hy vermoed? Hy voel sommer siek en ellendig. Die blote gedagte laat hom in die steek gelaat voel en laat die lewe vir hom sin verloor.
Hy probeer vergeet hoe n ontsettende houvas Cornelia oor die reus het. Hy dwing dit uit hom en glo vasberade dat haar skoonheid n waarborg van goedheid is. Sy is aanbiddelik en vir hom is dit die heuglikste wanneer sy s: Kom saam, ou Naas.
Gewoonlik is s n uitstappie n vinnige rit na nrens in besonder nie. Maar n paar keer ry hy saam met haar na die gesoleerde bos n ent wes van die klipaar. Daar in die bos vra sy hom om die perde vas te hou. Dan verdwyn sy tussen die bome en wag hy lank vir haar.
Een keer maak hy die perde aan n jong boom vas en volg haar nuuskierig tot seker in die middel van die bos. Maar hy vorder nie verder nie, want n kierie kom rakelings verby hom gewoer. n Tweede vat reg voor hom grond  so asof hy gewaarsku word om dit nie n aks nader te waag nie. Hy weet nie wat gaan aan nie. Hy weet nie wat Cornelia so geheimsinnig in die bos soek nie. Dit ontstel hom geweldig  en die beeld van die onheilige inyanga met die gloeiende o en die onderlip wat hang skiet hom kort-kort in die verbeelding.
Wat is Cornelia se donker geheim tog?
Sy is soms bars en kortaf, hooghartig  maar daarna weer is sy so helder, so vol lewenslus, so lief en dierbaar. Terwyl hy by haar is, dwing hy homself om alles wat pla, te vergeet; tob eers daarna en neem homself voor om haar te konfronteer en uit te vra oor die dinge wat hom so ontstel  maar hy kan nie. Hy kan om die dood nie.
Toe Cornelia weer een oggend wil ry, is dit met die bokkiekar. Kom, jy gaan saam, ou Naas, beveel sy hom onskynlik op die laaste oomblik, so asof sy saamgaan haar toe net byval.
Vandag kies sy n koers wat Naas nog nie vantevore verken het nie. Hulle draai suid van die geheimsinnige bos verby, kry dan n byna onsigbare veldpaadjie, ry kronkels om vleie te vermy, ry vir n uur of langer voordat hy die plaat op plaat primitiewe huisies versprei op die horison gewaar, en ook die baie beeste en bokke wat oral wei en die talle rokies wat oral opstyg en n plat wolkie bokant die dorpie vorm.
Cornelia ry tussen die huisies deur, verby n groot pan wat diep onderkant hulle l met n tamaai biesie-eiland reg in die middel.
n Swetterjoel swart kindertjies met min of byna niks aan nie luier oral tussen die huisies en onderbreek hulle gespeel om die perdekar met groot, nuuskierige o te volg. Ook uit die huisies kom mans en vroue en kyk die mooi vrou en die wanstaltige jong seun op die perdekar agterna. By sommige bly dit nie net by kyk nie. Hulle skree oor en weer vir mekaar en babbel opgewonde. En toe lyk dit werklik of hulle n optog vorm in die rigting waarin Cornelia ook gaan.
Dan hoor Naas n tamboer. Die tamboerslae klink ver en dof; tog ook naby. Dit klink so dringend, so met n element van voorkennis en noodlottigheid daarin dat Naas daarvan ril. n Beklemmende voorgevoel van naderende onheil kom sit in sy hart en meteens is hy werklik bang. Hy skuif op die bankie rond en bestudeer die profiel van Cornelia hier langs hom. Haar gesig verraai geen emosie nie. Sy konsentreer op die smal paadjie, die leisels stewig in haar een hand; haar swepie lossies in die ander. Haar mooi gesig lyk vir Naas nou hard en onbetrokke  mooi in sy egaligheid, maar koud en ver. Hy herleef weer die nag in die bos toe die jong meisie geoffer en die haan in die bok se buik toegewerk is. Die inyanga en sy volgelinge was soos opgesweepte, gevoellose duiwels daardie aand, met nie n druppel gevoel vir die gegil en gekerm van hulle arme, oorgelewerde slagoffer nie.
Die tamboer slaan afgemete slag na afgemete slag, byna soos n kerkklok. Noodlotshoue. Naas se hart klop op die maat van die tamboer, bang, afwagtend, onafwendbaar 
Hulle ry die stat steeds dieper binne, tot waar die huisies later wyd versprei l.. Die tamboer se slae styg in tempo, word al hoe dringender. Dis of die ritmiese dreuning almal roep, almal daarheen dwing, n magnetiese krag het, besig is om gemoedere tot bomenslikheid op te sweep en iets duiwels, iets soos daardie nag aan te hits.
Waarom bly hy die makabere gebeure so pal voor hom sien? En wat het oom Staag Lemier die aand ges? Sy dra die dood in haar, vir jou en vir almal. Sys n heks. Ja, vir jou dra sy die dood.
Naas onthou nou oom Staag se ernstige waarskuwingswoorde. Hy het nie geluister nie. En nou is hy hier saam met Cornelia in Mtwetwe se vesting! Naas soek weer op Cornelia se gesig. Hy het nog altyd alle vertroue gehad in haar wat hy verafgod. Ten spyte van wat sy o waargeneem het, het sy vir hom bo alle boosheid verhewe gebly. Maar nou kom hy agter die onrus bou ook in haar op. Want die gehandskoende hand wat die leisels hou, klem styf. En in haar gesig, haar bleek gesig wat so klassiek en ferm is, ruk n spiertjie onwillekeurig, gespanne. Haar mond bly oopgaan. Dan lek haar tong oor haar fyn lippe  en dit is asof haar asem liggies jaag. Is dit vrees wat haar so skigtig laat rondkyk?
Die tekens van Cornelia se spanning maak Naas nog onrustiger. Sy is nie so sterk as wat hy geglo het sy is nie. Wat kom soek sy tog hier as sy bang is?
Toe kyk Cornelia om. Dis n bang omkyk, glo Naas. Sy piets Nobel en Nelson, die twee karperde; dwing hulle om nog vinniger te draf. Met n draai in die vorm van n wye perdeskoen jaag hulle onder die omringende massa uit. Naas kyk om. Die stat se inwoners stroom steeds in bondels agter hulle aan. Duidelik probeer hulle nie om die kar te jaag nie, maar volg hulle eerder opgewonde en entoesiasties die spoor
Hulle gaan n afgeslote kraal binne, omring deur talle huise en hutte wat dig op mekaar staan. Die trom slaan nou sagter, skaars n hartklop. Maar dit is nog net so dringend, net so noodlottig. En Naas se hart klop pynlik in sy keel.
Cornelia ry so tussen die huise in dat hulle heeltemal afgesluit word van die menigte daarbuite. Hier, in n soort binnehof, n wye lapa netjies en afgerond, hou sy die perde in. Sy druk die leisels in Naas se hande.
Wag hier, Naas, beveel sy en klim van die kar af.
Iemand verskyn in die smal deur van een van die hutte. Naas krimp ineen van skielike skrik. Dis Mtwetwe  dieselfde inyanga wat hy die dag op pad van die Riekerts af gesien het; wat die nag by die geheimsinnige graf en in sy droom by die soet fonteintjie teenwoordig was! Naas kyk weer ylings in die onheilige o, sien die lang hanglip, die trek van wreedheid soos in n venster uitgestal. Hy ruk sy kop in afsku weg  en wanneer hy weer kyk, merk hy geskok dat die ou man weer so skielik soos hy verskyn het, verdwyn het. Ook Cornelia bly weg. Die tamboer het opgehou slaan. Dit het stil geword, grafstil. Die enigste geluid wat hy nou kan hoor, is sy hart wat so pynlik in sy bors klop. Waar bly Cornelia?
Naas wag en wag op die perdekar. Die minute tik verby. Waarheen het Cornelia gegaan? Wat het sy hier kom soek? Hy oorweeg dit om die kar om te draai, sodat die perde reg staan vir gou padgee. Maar hy doen dit nie. Hy wag en hy wag en die spanning in hom word soos n snaar wat kan breek.
Toe vermoed, eerder as hoor, hy n geritsel agter hom. Nog voor hy kan omkyk, voordat hy kan skree of hom kan verset, word n kombers of karos oor sy kop gegooi. n Swaar hand sluit hard oor sy mond. Nog hande lig hom van die karbankie af. Naas spartel futiel. Hulle is te veel vir hom. Sy pogings om te skree, om om hulp te roep, Cornelia te waarsku, is skaars n geluidlose piep. Naas word spartelend weggedra, waarheen weet hy nie.
In sy ore is weer die gedoef van die tamboer; of hoor hy sy eie hart? Om hom, ver en naby, is n gezoem van baie stemme, van mense wat oral praat, skree en gil. Maar hier by hom is net die harde asemhaling van inspanning soos sy ontvoerders hom stil en snel na n onbekende bestemming toedra.
Eindelik word hy op die grond neergegooi. Die karos word afgepluk. Om hom is dit donkerder as die donkerste nag en n bedompige, muwwe doodsreuk hang in die lug. Daar is nrens lig nie, nie een lugluik nie. En hy is alleen  of is hy? Naas hou sy asem in, luister. Maar hy hoor net sy hartklop; sy asemhaling. Tog is hy daarvan oortuig dat hy nie alleen in hierdie stikdonker plek is nie.
