Hoofstuk 8
Barkus Hoon kom die volgende dag glad nie huis toe nie  maar hier teen tienuur arriveer konstabel Dorland te perd op Doornrug. Sy gesig dra nog die letsels van die geveg twee dae gelede en die vergeldingswoede wat in hom bruis is duidelik in sy blik te lees. Maar hy probeer saaklik wees. Ek kom haal vir Hoon. Waar kan ek hom kry? wil hy weet.
Ek weet nie. Hys nie hier nie. So ver ek weet, het hy op Driedorings agtergebly. Hy weet mos ek sal hom nie hier toelaat nie, s oom Dolf  en Naas verbaas hom dat sy oom so sonder blik of bloos n leuen vertel.
Die man is n misdadiger, sommer n vuilgoed, s konstabel Dorland. Die gereg soek al lankal na hom. Waars julle dogter? Ek wil met haar ook praat.
Cornelia? Tant Maria sluk aan di naam. Cornelia is baie siek. Ek het haar n pons ingejaag en sy slaap nou. Ek glo nie sy is in n toestand om met enigiemand te praat nie.
Ek moet met haar praat, in naam van die gereg. Mense s syt Hoon aangehits. Ek het haar gehoor skree. As dit so is, is sy aandadig aan die aanranding op Davel en ook op my, hou Dorland voet by stuk.
Nee! Die mense lieg! skree tant Maria. Cornelia sal nooit so iets doen nie. Sys nie so grootgemaak nie. Buitendien  Ek s jou mos sy is siek. Dorland, ek sal haar s jy was hier en jy wou met haar praat. En ek sal werk daarvan maak dat sy Driedorings toe gaan en n verklaring loop afl. Maar nou moet jy ons nie meer pla nie. Hoe gaan dit met Kotie Davel?
Ek weet nie.
Oom Dolf was daar. Oom Dolf het hom huis toe gevat. Sien, tussen ons en die Davels is daar nie kwaaie gevoelens nie.
Ja.
Konstabel Dorland s dit so of hy sy eie opinie daarop nahou, maar vertrek tog onverrigter sake.
Cornelia gaan nie Driedorings toe nie. Sy gaan ry nie meer perd nie. Sy kom haas nooit uit die huis nie en bly pal in haar kamer. Die paar keer dat Naas haar wel sien, is dit of sy n vreemdeling vir hom geword het.
Barkus Hoon is weg asof hy nooit geleef het nie. Nie tant Maria of oom Dolf rep ooit n woord oor hulle voormalige kneg nie. Hulle het stug en in hulleself gekeer geraak. En die huis het geword soos n huis waarin die mense stom geraak het. Net somtyds, wanneer dit saans baie stil is, hoor Naas die ou oom iewers bid, en daarna die bewerige, trekkerige sang van stokou stemme en die ou mense se hartgrondige smeking:  en verlos ons van die Bose 
En op Doornrug gaan geheimsinnige dinge aan. Eers dink Naas dit is bloot sy verbeelding. Maar een aand toe Loper so knaend blaf, hoor hy hoe n gedempte vrouestem die hond stilmaak. En toe hy nuuskierig, bang by die soldervenstertjie uittuur, sien hy die witvaal gedaante agter die granaatlaning verdwyn. En daar by die huisfontein, daar half onder die groot adamsvyeboom  verbeel hy hom dit?  gewaar hy, soos n silhoet, n donker gestalte.
Naas kyk lank. Dit is asof hy gedempte stemme hoor. Hy sien die twee gedaantes, een baie vaag.
Toe verdwyn een. Nog n minuut of twee, toe sien hy die gedaante in wit agter die laning uitkom. Dit is Cornelia. Sy kom onderkant sy venstertjie langs aan die kant van die huis verby. En hoor hy dit, of verbeel hy hom dat sy huil?
Naas is saam met haar ontsteld. Wat gaan tog aan? Wat noop haar, sy wat in die dag nooit uit die huis kom nie, om in die nag n vreemdeling buite te gaan ontmoet? En wie ontmoet sy? En wat gaan aan dat sy so bedroef is?
Die angs en die weemoed is weer oorstelpend in hom.
Laat een nag skrik Naas wakker van die staldeur wat oopgemaak word. Hy hoor hoe n donker manstem Bordeaux gerusstel. Dan kraak die leer se sporte soos die persoon opklim na Naas se kamertjie. Hy gaan sit op die bed; begin sy skoene uittrek. Naas skuif tot vas teen die agtermuur. Die man sit lank so met die lig van n halwe maan wat oor sy kop en skouers val. Toe gaan l hy met n kreun langs Naas op die bed.
Dit is Barkus Hoon. Barkus het teruggekom.
Van di nag af het Naas geen rus vir sy siel nie. Moet hy oom Dolf s? Sou hy en tant Maria weet? Oom Dolf het weer en weer gaan verneem hoe dit met Kotie Davel gaan. Kotie is weer op die been en behartig sy boerdery. Hy het altesaam driehonderd-en-vyftig mudsak koring in Johannesburg teen n baie goeie prys verkoop.n Lelike letsel aan sy gesig is die enigste oorblywende teken van Barkus Hoon se moorddadige aanranding op hom. Mense weet te vertel die tydige tussenkoms van konstabel Dorland di dag het Kotie Davel se lewe gered. Maar Kotie koester glo geen grief teen sy aanvaller nie.
Die koringlande word vir die nuwe seisoen gebraak en hier in Maartmaand saai Stefaans die nuwe saad. Naas en Windvol eg die saad in en vir n paar weke, tot die saad opkom, moet hulle voltyds vols jaag.
Intussen kom slaap Barkus Hoon nag na nag in die solderkamer. Naas dra swaar aan die geheim, veral nadat konstabel Dorland weer kom navraag doen het. Naas weet vir n feit Cornelia en Barkus ontmoet mekaar skelm in die nag. Sy raps twee keer op die staldeur. Dan staan Barkus op en bly hy soms vir die res van die nag weg.
Naas probeer elke sweem van agterdog en jaloesie uit sy hart weer. Sy gevoel vir Cornelia was nog nooit besitlik nie. Maar haar gedrag slaan n droom vir hom aan skerwe. Hy wil haar nie so h nie. Hy wil haar getrou h aan die mooi beeld wat hy van haar in sy hart koester. Sy is vir hom soos sy ma, mooi en onvergelyklik; soos Ousus, bloedwarm van erbarming; en nie mooi, maar koud en vals nie.
Daar gaan weer dinge aan op Mooifontein. Stefaans en Windvol skimp daarvan. Naas het oom Dolf en tant Maria ook al betrap dat hulle praat en dan tjoepstil bly wanneer hulle hom gewaar.
Windvol, wie se suster op Mooifontein werk, kom vertel grootoog van die eienaardighede wat by die Davels afspeel: van n ding wat vir Hannie seergemaak het, tot n gees wat, as n mens die storie kan glo, sy suster se rok sommer so oor haar kop gepluk en haar sonder n draad klere laat staan het.
Toe breek Oemfaan geheimsinnig uit sy kraal. Oom Dolf en tant Maria is inderhaas Mooifontein toe. Die wit bul het daar beland. Hy het Kotie Davel se jong bul vermink en Kotie aangeval.
Dit is n bestiering dat Kotie met sy lewe daarvan afgekom het. Jy moet die bul van kant maak, Dolf, beveel tant Maria.
Nee! Nee, julle doen dit nie. Oemfaan is myne! Hy sal niemand seermaak nie. Dis  Hulle soek hom. Dis hulle! skree Cornelia en is van voor af oorstuur. Oemfaan word weer op hok gesit.
Wat Naas die meeste hinder, is die geheim van Barkus Hoon wat hy nie aan tant Maria en oom Dolf oordra nie. Hulle het n reg om te weet van die man; Naas moet hulle s, maar hy kan nie. Met die dae wat verbygaan, word die las van verswyging al swaarder. Dit knaag onafgebroke in sy binneste. Hy werk harder as enigiemand anders op Doornrug. Oom Dolf-hulle sien dit raak. Tant Maria prys sy vlytigheid. Hy neem baie van oom Dolf se verantwoordelikheid op sy skouers, maar hy het geen rus van die ding wat hom jaag nie.
Ons het so n swarigheid gehad toe ou Klootwyk jou destyds na ons toe gebring het. Die hemel weet ons het groot swarigheid gehad, Naasman, erken tant Maria nou. Ons het toe nie kon droom watter genade jy in di dae van beproewing vir ons sou wees nie. Tant Maria sug dan. Sy dra swaar aan n las waarvan Naas slegs ten dele bewus is.
Cornelia het weer uit haar dop gekruip. Sy ry weer op Bordeaux op die plaas rond en vra Naas selfs van tyd tot tyd om haar op ritte te vergesel. Maar sy gaan kuier nie weer op Kleinwater nie..
Oor Barkus Hoon praat sy glad nie. Sy het nog nie een keer die insident op Driedorings opgehaal wat tog n diep indruk op haar jong gemoed moes gehad het nie. Maar sy is weer opgewek en gesellig, selfs tergerig. Die twee of drie keer dat konstabel Dorland op Doornrug opdaag, ontstig haar egter vir dae. Dan sluit sy haar in haar kamer toe, op om daarna van nuuts af te ontdooi.
Naas ontvang haar geneentheid soos n genade; vergewe en vergeet alles. Tog bly hy homself afvra wat sy met Hoon te doen het en waarom sy so sonderling optree.
Aanvanklik gee Naas voor hy slaap wanneer Barkus Hoon snags inkom, maar gou kom hy agter Hoon neem in elk geval geen notisie van hom nie. Hoon het geheel en al n gedaanteverwisseling ondergaan en Cornelia het daarmee te doen. Wat sou die ruwe man en die mooi Cornelia in die mou voer? En waarom lyk dit of oom Dolf en tant Maria al swaarmoediger raak? Alles is vir Naas duister; n onbegryplike donker geheim.
Stefaans kom baie vroeg die Sondagoggend met die nuus. Hy was by sy suster op Mooifontein. Iemand, n ding, was weer in die nag by Hannie in haar kamer. Kotie het n paar skote met die geweer geskiet en die honde het geblaf en getjank of hulle vermoor word.
Toe hol ek maar so wat my bene kon, ou Seur, want ek het my gorrel afgeskrik. Want wie s baas Kotie dink nie altemitters dis k nie? Sj, was dit n konsternasie!
Stefaans se storie word gou aangevul. Konstabel Dorland kom nog dieselfde oggend. Kotie moes n skoot raakgeskiet het, want Dorland het n bloedspoor vir n ver ent gevolg. Maar toe val n buitjie ren, n ontydige mrerentjie in April  en daarmee het die spoorsnyery doodgeloop. Die nagbesoeker is aanvanklik Bhrmannsdrif se kant toe, het dit gelyk. Dorland het die omgewing rondom Doornrug se opstal deeglik gefynkam en op n duidelike skoenspoor afgekom. Dit was n tamaai groot skoen.
Naas dink dadelik aan die bloedvlek wat hy daardie oggend op die mielieblaarmatras gewaar het. Hy het Barkus Hoon nie die vorige nag hoor inkom nie en het hom ook nie vanoggend gewaar nie  maar as daar bloed op die matras was  Hy probeer vasstel wanneer hy in die nag wakker was; maak homself wys dat hy die vorige kere geweet het wanneer Hoon opdaag. Maar toe is hy nie meer so seker nie. Hy het gewoond geraak aan die sonderlinge Hoon se geheimsinnige kom en gaan.
Naas weet egter Barkus Hoon is hier iewers op Doornrug in die bosse om die huis. Daar skuil hy dag en nag.
Maar ek sal hom kry, vir hom en sy handlanger. Ek het n eed gesweer en al vat dit my n honderd jaar  belowe konstabel Dorland
Tant Maria sug  en haar opregte moedeloosheid gee Naas skoon die bewerasie. Hy weet dan alles wat Dorland wil weet! Hy dink aan Hannie  haar blinde o, haar mooi gesiggie wat sy seunshart so laat roer. Hannie  Is hy hr nie die waarheid verskuldig nie? Maar dan weet hy terselfdertyd dat hy om die dood nie Barkus se geheim kan verklik nie.
Iewers in die huis lag n vrou. Sy lag luid en klokhelder; n uitdagende gelag wat oor die werf weerklink. Naas hoor die uitdaging, die vermaak daarin en hy sien hoe konstabel Dorland se gesig verstrak.
Nee, as ons net suffel geweet het  oom Dolf wys met die punt van sy duim  sou ons jou ges het. Maar ons sal die o oophou en gewaar ons iets, laat ons jou weet.
Dorland neem afskeid. Elkeen op Doornrug gaan voort met wat hy het om te doen.
Di nag wag Naas tevergeefs. Barkus Hoon kom nie, ook nie die volgende nag nie. n Week, drie weke gaan verby. En toe een nag skrik Naas wawyd wakker van iets wat hy gehoor het. Hy kyk deur die venstertjie en gewaar aan die punt van die laning  of verbeel hy hom dit?  n wit gedaante. Dit is Cornelia.
En nou hoor hy haar stem, n bevelende stem wat die staccato woorde soos met hamerslae in iets slaan. Naas kan nie mooi hoor wat ges word nie. Haar stem is so anders as die stem van die Cornelia wat hy ken! Dit is asof n ander mag, n demoon of iets dergeliks met haar stem praat.
Byna sonder om te dink, klouter hy met die leer af, sluip by die staldeur uit en langs die granaatlaning af. Hy sluip tot waar hy die stem kan hoor. Doen soos ek jou beveel, dring die woorde na hom deur. Gaan waarheen ek jou stuur. Gaan doen jou werk. Gaan doen jou werk. Gaan doen jou werk 
Cornelia staan daar in die sagte maanlig aan die onderpunt van die laning. Van waar Naas haar dophou, is sy in wit gets teen die donker agtergrond; onwerklik soos n wese uit n ander wreld. Sy staan daar met haar gebiedende hand omhoog, soos n engel wat n vloek uitspreek, onderwyl sy oor en oor herhaal:Gaan waarheen ek jou stuur. Doen wat ek jou beveel. Gaan doen jou werk. Gaan doen jou werk. Gaan doen jou werk 
En voor haar, half verberg deur die adamsvy  maar dis ook nie hy nie, want die ding wat daar staan, is bloot die uiterlike vorm van n mens  staan Barkus Hoon: groot, sterk en solied soos altyd. En tog ook nie. Want hy is soos n afgerigte hond wat bevele ontvang, soos n siellose ding wat afgerig is om te doen wat hom beveel is om te doen.
Jy moet nou gaan. Jy moet gou maak. Jy moet terug wees voor dit lig word. Loop nou! Ek beveel jou!
Nadat sy dit ges het, laat sak sy haar hand, draai sy om en gaan huis toe. Cornelia wag nie om seker te maak dat Hoon aanstaltes maak om haar bevele te gaan uitvoer nie. Sy stap reguit en fier en tydsaam huis toe; gaan die huis by die kombuisdeur binne. En toe is die nag opeens grafstil.
Barkus Hoon kom onder die vyeboom uit. Hy loop so naby Naas verby dat Naas hom kan aanraak; loop in n oostelike rigting al langs n ploegland , waar hy in n ommesien deur die nag en die bos ingesluk word.
Naas gaan terug na sy solderkamer en sak op sy bed neer. Hy weet nie wat om te dink van wat hy gesien het. Hy weet nie eens of hy kan glo wat hy gesien en gehoor het nie. Maar hy bly Cornelia se gebiedende, vreemde stem hoor; bly Barkus Hoon groot en onderdanig voor haar sien. Dit klink of sy hom met n bevel wat hy moet gaan uitvoer, gendoktrineer het. En toe sy omgedraai en huis toe gestap het, was sy oortuig hy sou gaan doen wat sy hom beveel het. Hy het soos n zombie gegaan om waarmee sy sy brein gelaai het, te gaan uitvoer. Maar wat di opdrag kan wees Naas het nie n vae benul nie.
Wat hy wl weet, is dat die nag hom bangmaak. Hy is bang vir die bose mag wat hy nou oortuig is hier rondsluip. Al kan hy dit nie verstaan nie, voel hy aan hier is iets, n grusame ding uit die duisternis wat mense se verstand beetkry en hulle willose dinge laat doen. En Cornelia span daardie bose magte in om hr wil te doen. Of is dit bloot sy wat deur die bose mag gebruik word?
Toe Naas tot n gevolgtrekking gekom het, talm hy nie. \Stil-stil sit hy vir Kordaat n toom aan, bring hom uit die stal en lei hom tot anderkant die land, weg van die huis. Daar bestyg hy hom bloots en ry so vinnig as wat pad en lig dit toelaat Mooifontein toe.
Naas is in minder as n uur by Mooifontein se opstal. Hy hardloop agterdeur toe met die blaffende honde om hom; hamer aan die deur tot iemand oopmaak. Kotie Davel staan met n kruk in die een hand, n roer in die ander, in die deur.
Wat is dit? Wat wil jy in die middel van die nag h? My magtie, Naas!
Kotie, hy kom. Hy is op pad om vir Hannie  begin Naas.
Wat praat jy, Naas? Wie is op pad? vra Kotie.
Barkus, Kotie. Hy het opdrag gekry. Hy kom om jou en Hannie dood te maak.
Ai, wat praat jy tog, Naas? Waar kom jy daaraan? Kom in, dan vertel jy my stadig wat jy bedoel. Kotie grendel die deur agter Naas. Toe, s my waar hoor jy die dinge?
Ek  ek het dit gehoor.
Maar by wie het jy dit gehoor? Naas, wie het dit vir jou ges?
Kotie beur vorentoe op sy kruk en Naas retireer deur toe. Hy weet hy het al klaar te veel ges.
Naas, kom sit. Ek wil weet waar kom jy aan wat jy ges het! dring Kotie aan.
Ek s mos ek het dit gehoor. Hulle het gepraat en ek het gehoor. Ek weet nie wie dit was nie. Ek weet niks meer nie. Maar hy is op pad na Mooifontein toe. Hy kom nog vannag. Ek het gedink ek moet jou kom waarsku.
Naas staan op. Hy kry die deur oop, vlug na buite. Hy spring op Kordaat en jaag die werf uit, bang Kotie gaan op hom skiet.
Maar niks gebeur nie en later op pad Doornrug toe is alles vir hom onwerklik; weet hy nie of hy alles maar net gedroom het nie. Hy sit Kordaat op stal, vryf hom droog en gee hom voer. Dan klim hy op na sy slaapplek en gaan l op die bed, waar hy lank l en luister na die naggeluide, sy ore tot die uiterste gespits vir n geluid  watter geluid weet hy self nie. Maar hy hoor niks buitengewoon nie en raak mettertyd aan die slaap.
Die volgende dag kom n susterskind van Stefaans vertel. Iemand was die nag by oom Staag Lemier. Hy het probeer om daar by die ou man in te kom, maar oom Staag se hond het hom aan die buitekant gehou. Dorland is laat weet.
