Le Bonheur
In die landskappe van my lewe staan die Oos-Vrystaat as die landskap van my liefde; die man wat met my getrou het, kom daarvandaan. Wanneer n mens deur die groot eensame vlaktes waar ek gebore is na die Oos-Vrystaat aankom, begin die land hier en daar rimpel soos n stoethings se vel, totdat die eerste rante van Senekal en Winburg uit die gelykte verrys: Doorn-berg, Biddulphsberg, Zuringkrans, Tafelkop  sagte, oondge-rysde koppe wat bo warm-warm afgesny is, soos met n mes. Soms sien jy n bultjie aan die een kant staan, slordig afgelig, met rotse soos krummels teen die hellings; soms het die koppe agterna weer bo-op rond geswel, soms net rosyntjieskotse uit-gepars. Hier en daar het n klein miershoopkoppie met sy tuit-punt heel bly staan.
Eindelik, duskant Paul Roux en af na Rosendal, l die eerste ketting van die Rooi- en Witteberge, n ligblou valletjie op die horison. Al klink hulle name onheilspellend  Visierskerf, Swartpunt en Sekonyelashoed  is dit vriendelike berge, met vroulike handigheid gepunt, soos die doilies wat my skoon-moeder hekel, n reeks wat soos n bakhand met sy vingers teen die Drakensberge en sy oop kant na Ficksburg se kant toe l.
Maar agter hulle is dit meteens anders, en die eerste waar-aan jy dit merk, is die lug. Dit is sterk, olierig, branderig. Dit slaan by die geringste in misvlae uit, dit druip in taai slierte teen die klipwande af, dit skroei in wit flikkerings teen die horison  dit is n lug wat bo geweldige diep vure telkens be-
roer word. Daar trek die Oos-Vrystaatse grond krampagtig saam in wat in die ou dae die Brandwaterkom genoem is.
Ravyne splyt die kroesbossievlakte tot diep in die aarde oop en smal valleie sloep soos gletsers by die hoog uitgeswelde kape en uitlopers verby. Fors, goue sandklipkrone wat gloei en asemhaal en in hulle diepte nog die dik vog van lawa dra, breek teen bergskouers uit; room en pers en oranje stol in lae deur die klip en herhaal hulle blos in die sagte leemgrond van die val-leie, sodat die sonsondergang vir jou hier kom asof jy in n skulp van suiwer perlemoen staan. Dit is n streek van smal, vrugbare terrasse, plase wat in glasgroen populiersplinters teen die hange vasgespeld hang, van stil wilgerriviere, van haringdun bergpaadjies, wolhaarponies en nagvuurtjies teen die hellings. En teen die einders, oral en altyd, droom die Dra-kensberg homself tot engelklip.
Di deel van die Vrystaat is nog lank voor die Groot Trek vir die eerste keer deur die wit man beset. Aanvanklik was dit in-sypelaars en spekulante van wie die ou Boere ges het dat hulle met net n blesmerrie en n bottel brandewyn onder die arm daar aangekom het, n plaas by Mosjesj geruil en dit weer uit-gesuip het, tot hulle op die ou end net n blesmerrie en n bot-tel brandewyn oorgehou het. Maar later aan het goeie Engelse boere, meestal van die Kaapse oosgrens, wat in die mistige bergstreke iets van hul vorige vaderland herken het, daar inge-trek. Vandag woon daar nog van hulle afstammelinge op plase met name soos Watermeet, Glen Almond en Morning Glory. Hulle hou volbloedperde en boelhonde aan en bewaar hulle Engelse manier van doen. Hulle speel polo, hulle clubs  die eerste van die Vrystaatse platteland  floreer vandag nog, en plaasvroue gaan vir aandete met hulle juwele en in hulle beste klere aansit.
N die Groot Trek se afloop in Natal het die Voortrekkers eers op groot skaal teruggekom Vrystaat toe om die hele oos-grens met sy goeie landbougrond reeds beset te vind. Baie jare daarna nog sou die oosgrens altyd vir n Britse dwarsstroom in die Vrystaatse politiek sorg. Dit was eers toe Jan Brand n die
tweede Basotho-oorlog n dubbele ry plase op n stuk verower-de oostelike grondgebied laat uitmeet en aan Boere toegeken het, dat die Afrikaners tussen die Engelse en Basothos kon begin deurvleg. Sommige van hulle het Engels-georinteerde, deftige Afrikaners geword; ander het daar tot n duidelik her-kenbare soort Afrikaner ontwikkel, die Oos-Vrystater, wat nooit met sy gevoelens te koop loop nie, hom nooit laat oprui nie, maar as hy besluit om te veg, dan veg hy tot hy val.
Hy leef sy eienaardighede met koninklike waardigheid op sy plaas uit. In sy pragtige ou sandklipvesting bo teen n berg-rant waar die wind altyd die reuk van stronkvuur en nat bloe-kombas dra, vind jy hom volkome in beheer van sake. Hy kan jou presies aftree waar die koue Malutiwind sy plaas raak en waar nie, en elke boom en draadheining is hiervolgens inge-plant, elke wal en sloot na die helling van die rante gestrek. Hulle het die eerste kontoerwalle in ons land gegooi om berg-landboerdery vir altyd sy bestek te gee; hulle het die eerste mieliestropers gebou en boerenywerhede soos kaas-, botter-en poeiermelkfabrieke begin, koringmeulens, kombersfabrie-ke, saagmeulens en boerekoperasies opgerig.
In my kinderdae kon n mens hulle op Vrystaatse samekom-ste altyd duidelik onderskei, hierdie here wat in hulle effens oudmodiese, maar blink gepoetste motors opdaag, met stof-jasse oor hulle netjiese pakke aan. Volkome drietalig, belese in albei landstale en op hoogte van landsake, was hulle die mense wat met uitgewerkte memorandums en besliste menings na kongresse kom. Hulle vrouens was goed en met smaak geklee, mense wat vertroetel en met liefdestug op hulle plek gehou is. Hulle dogters dra hoede en hulle seuns groet jou met die hand.
Die Oos-Vrystater is kinderlik trots op sy kontrei se aan-deel in die landsgeskiedenis, en nrens in ons land is die mon-delinge oorlewering daarvan so lewendig nie, nrens onthou hulle die warse ou persoonlikhede uit die verlede met groter verering nie.
Elke Odendaal, Uys, Wessels en De Jager was n mens na sy eie patroon geknip. Daar was die oorspronklike ou Thai-Thai,
die eintlike ontwikkelaar, so vertel party Uyse, van die Uys-bees; daar was Thys Goedgenoeg; Swart Dirk, die broer van Piet Uys wat van Panda n reuseolifantstand present gekry het, omdat dit hy was wat Dingaan op sy vlug ingehaal en doodge-maak het  vertel die Uyse. Daar was veldkornet Uys wat op Ceylon vir Neethling Brink sy manuskrip Recollections of a Boer Prisoner met die hand oorgeskrywe het, so netjies dat geen set-tersmasjien daarop kon verbeter nie, daarna geweier het om die eed van getrouheid af te l en n magistraat op Java geword het. Dit is maar n paar voorbeelde uit een slim, iesegrimmige, hardkoppige Oos-Vrystaatse familie.
Daar was die Odendaals wat wilde perde maklik ingebreek en met gemak voor hulle karre ingespan het; daar was die De Villierss wat in die eerste jare van die Vrystaatse Republiek met die Basotho-oorlo die onvergeetlike kmdt. Masottojan  di klein bruinetjie  opgelewer het. Hy het op kommando altyd met n das en n baadjie aan by n tafel met mes en vurk geet, sy tent met klam sand laat strooi en nooit tot die geveg toegetree as hy nie eers deur sy agterryers geskeer en gekam is nie. Hy was die enigste aanvoerder in die eerste twee oorlo wat van groot suksesse kon praat. Die Slag van Bethlehem in 1866 is een hiervan. Mosjesj het tevore sestig van sy perde ge-steel. Masottojan is alleen na Thaba Bosiu om die perde te gaan terughaal. Hy was onder die Basothos toe reeds gevrees en ge-respekteer as n groot renmaker.
Mosjesj het hom ges dat dit agt dae sou duur om die perde in die berge bymekaar te maak. Masottojan kon intussen by die vrouens op die lande gaan skoffel. As hy n sewe dae nog daar was, sou Mosjesj hom die perde teruggee. Vloekend en swetsend het Masottojan de Villiers sewe dae lank lande ge-skoffel, want hy was, net soos die Odendaals en Wesselse, hartstogtelik lief vir sy perde, en daar was deurentyd n perd wat hy saam met hom die huis ingebring het wanneer hy gaan eet. Mosjesj het tien van die perde vir homself gehou en die res aan De Villiers teruggegee. Met die Slag van Bethlehem, toe vierduisend Basothos op die klein sooilaertjie van die hon-
derd-vyf-en-twintig wit mans en honderd-en-vyftig Batlokoa by Bethlehem toesak, het Masottojan net geskreeu: Kom, krels, dit is m dag! en gestorm. Hulle het tweehonderd Ba-sothos gedood, die aanvallers oor die Caledonrivier gedryf, oor die tweehonderd perde en n menigte vee gebuit.
Op n keer het hy n kommando van die swartes op sy uitge-strekte plase versamel en Harrismith en Warden vir homself geannekseer en dit het die Vrystaatse regering n hele paar jaar gekos om hierdie stuk Vrystaat onder die kommandant uit te kry.
Laat ons van al die dosyne interessante Uys-legendes tog net  hierdie  een  noem,  veral  vanwe  die  Oos-Vrystaatse  gees waarin dit vertel word. Thys Goedgenoeg, wat n paar jaar ge-lede dood is  daar was nou n man wat sy medemens liefgehad het. Nie lief met n gewone liefde nie. Dit was n liefde wat hom nie met toue laat span het nie, n groot liefde, n groot liefde  Toe Thys Goedgenoeg die tyding van sy neef Poenjan van Dyk se dood kry, het hy die hele nag deur in die Harrismithse hotel oor hom rou bedryf. Woeste tonele van smart het hulle afgespeel waarin mense beseer en meubels beskadig is en ou wonde vir hom weer oopgegaan het. Hy het dit vir die soveel-ste keer bely dat hy wat Thys Goedgenoeg is, net drie groot foute in sy lewe gemaak het. Die eerste fout was sy eerste vrou, die tweede fout was sy tweede vrou, maar die grootste fout was sy derde vrou. En nou verloor hy die man wat vir hom soos n broer was, maar goddank dit was nie Thys Goedgenoeg se fout nie. Hy het nie geskroom om die Naam van die skuldige te noem nie. Niemand moet hieruit aflei dat Thys Goedgenoeg n dronklap en n Godlonaar was nie; die man se emosies was net
so verskriklik heftig.
Toe die sonnetjie net mooi sy l oor Rooihoogte se nek kry, het die familie op die voorstoep van die sterfhuis op die plaas vir Thys Goedgenoeg met sy groot Mercury oor die plaaspad gebokspring sien kom. Hy kom nie by die smal motorhek in nie, maar regsom deur die hek vir die dorsmasjien, oor n hoop bousand tot voor die melkkamer se deur. Die mansmense op
die stoep het geweet dat Thys sy neef se dood diep sal voel en haastig omgestap om hom van die bedroefde weduwee en kin-ders af weg te keer. Dit was makliker ges as gedaan, want Thys wou ten ene male simpatiseer.
Dirk, Dirk, wil jy my keer as ek in ligtelaaie staan oor die dood van ons neef? het hy met n rou stem uitgeroep. In ligte-laaie was glo by hom n bekende uitdrukking wat baie dinge kon beteken.
Die weduwee, wat desgelyks die hele nag op meer beskeie wyse rou bedryf het, het juis n bietjie gaan rus. Die mans was almal aan die oorstap na die kerkhof om te kyk hoe die werkers vorder met die grawe van die graf, vertel hulle hom.
He is gone, beduie hy nog so onder die wegstap met swaaiende arms, he is gone to yonder shore, from whence no traveller hath returned.
By die kerkhof aangekom, was hy geskok om te sien dat on-gekerstendes gebruik word om die graf te maak. Hy jaag hulle by die hekkie uit en neem self die pik op.
Nou vertel Japie van Niekerk, n Oos-Vrystater, presies hoe Thys Goedgenoeg daardie dag gepik het. Wanneer hy die pik bo sy skouers lig, roep hy in n ho stem: Ghuso duma? (Hoe dreun die kanon?) en wanneer die pik in die grond vasslaan, in n diep basstem: I baye, baye. (So dreun hy.)
Wonderlik aangrypend was dit om die groot fris man te sien pikslaan vir sy ontslape vriend en geen oog kon droog bly nie. Ongelukkig dat die klipbank daar net n voet of so onder die bogrond begin en met die son op sy blaaie en die sweet en trane aanhoudend oor sy gesig en die swarte nag wat hy deur-worstel het, was hy later genoodsaak om die werk deur onge-kerstendes te laat klaarmaak. Maar so het Thys Goedgenoeg medelye betuig: voluit.
Na Ficksburg se kant was die groot grondbesitters ou Ryk Dial Jordaan, oom Krulbaard Smit en die Du Preezs, mense wat nie twee keer daaroor gedink het om n venster in n huis te laat inbou nie. Voor die Anglo-Boereoorlog, so vertel hulle, moes boere belasting betaal op die aantal ruite op hulle werf en
die gemiddelde mens was baie verantwoordelik met vensters wanneer hy huisbou.
Oos-Vrystaat is Bender-wreld. Saam met die Vrystaat het hulle mak geword. Ek wonder of daar deurlopend nog so n in-telligente, belese en, ja, beduiwelde familie soos die Benders op die Vrystaatse platteland rond is. Of dit nou gaan oor die ou Egiptiese opgrawings, die filosofie van genl. Smuts of die nuutste ontwikkelings op die gebied van Boerekoperasies of die oorsprong van haas elke plaasnaam in die Oos-Vrystaat, moet jy jou knie rek om by te bly by die lewende ou grootkop van die Benders: oom Chris van die plaas Nebo in die Clocolan-distrik  kersieboer, kenner van elke blom en boomsoort en klipformasie van sy kontrei.
Hoekom is die Benders so slim? vra ek eendag aan sy broer, oom Giel Bender, en wanneer jy oom Giel Bender iets vra, beantwoord hy dit met n storie.
Die Benders is slim oor hulle sterk is, s hy. Sterk na lig-gaam en gees. Dan vertel hy van die verskriklike sterk Bender-voorsate: Jan Ramatga, en stil Andries, en hulle moeder, die onverwoesbare tant Mieta wat vanmelewe se dae daar gewoon het.
Wanneer tant Mieta haar groot potte boerseep skei, het sy nooit die vuur onder hulle uitgekrap nie, maar die kokende pot aan sy hingsel opgelig en van die vuur afgetel. Elke boervrou wat seep kook, weet wat dit beteken!
Op n dag, so vertel oom Giel, het groot fris Hans Ferreira na een van die Bender-dogters kom vry. Aan tafel begin hy praat oor hedendaagse vrouens wat mos aanspraak daarop maak dat hulle mans slaan. Kan jy jou n sotliker bewering voorstel!
Hansie, wat s jy tog, merk tant Mieta op en gaan bedaard aan met eet. Toe Hans van die tafel af opstaan, vat tant Mieta hom daar waar sy op die stoel sit, aan die rug van sy baadjie, trek hom oor haar skoot en slaan hom dat die merke van haar plathand veertien dae lank oor sy boude gel het. Daarna nog steeds sonder om op te staan, vat sy hom aan sy kraag en sy broek se sit en smyt hom by die kombuisdeur uit met die woorde: So maak ek met n klein st soos jy.
By n ander geleentheid het n groot boelhond een van haar kinders gebyt. Sy het die kind binnetoe geneem, getroos en ge-dokter, daarna kalm na buite gestap, die hond aan sy agterbene gevat en hom teen die huismuur doodgeslaan.
Ontydig is tant Mieta op vier-en-tagtig jaar oorlede, nadat sy bo uit n vyeboom geval het, maar daar was nog haar seun, die sagsinnige Andries, wat ses voet sewe duim in sy sokkies gestaan het. Wanneer Andries saamgaan, was dit nooit nodig om n domkrag vir die transportwa saam te neem nie. Andries lig die wa en hou hom geduldig vas tot die wiel gesmeer en teruggesit is.
Vanmelewe  het  in  daardie  kontrei  Theuns  Handjies  ge-woon, wat die manier gehad het om sy skape onder in die rivier te skeer. Hy ja die skape eers deur die water en dan deur die los sand, alles nou net om gewig in sy wol te kry. Op n keer kom Andries daar aan, en Theuns s vir hom: Andries, ek gee jou tien sjielings as jy n baal wol op jou rug die rivierwal uitdra. Andries het die hake in een van die bale geslaan wat helfte wol en helfte riviersand was, dit op n ander baal gelig om be-hoorlik onder hom in te kom en die baal toe die wal uitgedra. Sewe man het op n dag gespook om n kliplatei van agt voet bo in n muur te kry. Terwyl hulle staan en beraadslaag oor ka-trolle en kettings, roep die vrou hulle in vir ete. Andries het toevallig  ook  daar  geet.  Onder  die  ete  het  hy  beskeie  ges: Ekskuus  my  net  n  oomblik,  Antie,  buitentoe  gegaan,  kort daarna teruggekom en die ete hervat. Toe hulle buite kom, l
die latei sekuur op sy plek bo in die muur vasgemessel.
Later het Andries sy distrik verlaat en spoorwegkonstabel geword. Hy was by tye uitsmyter by n Johannesburgse hotel, waar dit vir hom niks was om twee woelige Walliese mynwer-kers soos twee brode onder elke arm vas te knyp, hulle wind uit te druk en hulle flou buite op die sypaadjies te laat val nie.
My groot vertelleroom, oom Frans Bekker uit Paul Roux se wreld, kan met n stemmige gesig en paslike gebare van sy netjiese hand met die krom vierde vinger (wat destyds in die boormasjien gekom het) van die onmoontlike oom Theuns van Andel vertel.
Oom Theuns van Andel was n Hollander-onderwyser wat met oom Frans se tante getroud was. Hy was oor die hele Oos-Vrystaat bekend om sy buierigheid en befoeterdheid. Hy het silwereetgerei en kosbare Hollandse porselein in sy huis ge-had. Sy agt kinders het klere gedra wat in kiste van Holland af gekom het, maar dit het die lewe nie makliker vir hulle gemaak nie. Theuns van Andel het homself baie vernaam as boer uitge-gee. Hy is die eerste wat koekoek- en wit leghornhoenders en wit varke in daardie wreld ingebring het, en hy was van die eerstes wat die Australiese bloekom geplant het. Hy het sy hand nie aan werk gesit nie, deftig in sy spaaider gery met n wit broek, rooi skoene en n syhemp aan. Wanneer hy by die werf inry, moes die werkers hom inhardloop om hom en die perde tot stilstand te sleep.
Hy het die eerste Ford-kar in daardie geweste gekoop en pas daarna vir oom Frans opgelaai Bethlehem toe, of soos die Oos-Vrystaters dit noem: Btlim toe om te wys hoe die motor ry. Toe hulle terugkom, wis die swartes nie mooi hoe om raak te vat nie en toe ry hy met oom Frans en al dwarsdeur die waenhuis, dwarsdeur die agterste misgeplakte agtermuur dat hulle vol stof en toe onder die roustene teen die bokwa agter die waenhuis tot stilstand kom. Oom Theuns vee baie vererg die stof van hom af en s: Nu, wat de bluddie donder is nu pas-seert?
Later het die oom so haaks met sy Afrikanervrou geraak dat niemand dit kon uithou nie. Hy sal by die huis inkom en son-der verdere omslag die tafeldoek met borde en skottels vol kos bymekaar vat en teen die muur stukkend gooi, hy sal dae lank wegbly en dan die deur stukkend slaan om in te kom. Eindelik het hy uit die huis uitgetrek en John Andrews, die bekende klipbouer van daardie wreld, vir hom n ander huis laat bou, n myl van sy vrou af, en of n mens dit nou wil glo of nie, daar het hy met n golery teen sy vrou begin. Klippe het snags op haar huis se dak gereent, het die ou mense vertel. Die bankbestuur-der en die prokureur het op n aand daarheen gegaan om die bedrog aan die kaak te stel, en daar het die golaar die bankbe-stuurder se stywe boordjie van sy nek af gegooi met n klip.
Oom Theuns se vrou het haar op twee maniere verweer. Sy het eers ou Steenberg en ou Pama, die vermaarde geestesbe-sweerders, van Clarens af laat kom. So dig teen die Malutis met sy toordokters was daardie dae nog heelwat onortodokse hulp wanneer mens in die knyp raak. Hulle het hulle toorgoed daar begrawe en toe het die tante ds. Charl Retief van Paul Roux laat kom. Die dominee het n rooi flennielappie gevat, dit om n spyker gedraai en die spyker voor die voordeur in die kosyn vasgeslaan. Daarna het hulle na binne gegaan en n gebed gedoen. Theuns van Andel het kort daarna sy goed gevat en Ladismith toe getrek. Di wat meen dat dit Steenberg of Pama se toorgoed is wat die deurslag gegee het, het nooit ds. Retief van Paul Roux geken nie.
Di klein Nederduitse Gereformeerde predikantjie het in die eerste gedeelte van die twintigste eeu tussen die jare van Rebellie, griep, Depressie en samesmelting soos n Elisa tussen my mense beweeg. Hy was n vuurvreter-Afrikaner, n toege-wyde teoloog wat Sondae so ingewikkeld gepreek het dat min lidmate sy preke kon volg; desnieteenstaande het hulle sy kerk volgesit, want dit was vir hulle heeltemal voldoende dat Domi-nee self weet waarvan hy praat. Hy het die gawe van handop-legging en heling gehad, was n lekedokter wat in die swart griep mense met koue waterdompelings deurgehaal het. In die Paul Rouxse rante het hy klei uitgegrawe en verswerings en in-flammasie daarmee gedokter en verbasende operasies met sy knipmes uitgevoer. Hy het n baie goeie kennis van vee- en pluimveesiektes gehad. n Mens kan dink dat hy Theuns van Andel en sy golery met gemak onder die knie gekry het.
In die veertigerjare van ons eeu wou die Vrystaatse Univer-siteitsraad die universiteit tot n voertaalbeleid van vyftig-vyf-tig dwing. Die Oos-Vrystaters en spesifiek ds. Charl Retief het toe besluit dat hulle hulle nie van die inrigting sou laat ver-maak nie en onder leiding van die Vrystaatse NG Kerk oorge-gaan tot die stigting van n nuwe universiteit in eie geweste. Die plek vir die universiteit was reeds op Zastron aangewys en die onderhandelinge vir die oprigting daarvan in n gevorderde
stadium, toe sake dermate afgekoel het dat die bestaande uni-versiteit kon besluit om Afrikaans te bly.
Die Oos-Vrystaters het baie dapperder as die res geveg ge-durende die Anglo-Boereoorlog, het my man my eenkeer vertel. Ten spyte van die romantiese verering wat ek vir die betrokke landstreek het, het ek by so n krasse veralgemening nie berus nie. Daar word darem per slot van sake ook hier en daar n Ser-fontein, baie kennelik van die weste af in die oorlogsoorlewe-ring genoem.
Maar wie sal beter weet as die vyand teen wie hulle geveg het? Hy het vir my die volgende stuk uit die Times History of the South African War, wat n paar jaar n die oorlog verskyn het, ge-lees waar L.M. Amery s:
The east (van die Vrystaat) was very different; it contained some of the richest land south of the Zambesi; all along the Basuto border between Ladybrand and Ficksburg, and further up around Fouriesburg in the Brandwater basin stretched what has always been considered the granary of South Africa, and outside of this the comparatively import-ant towns of Winburg, Senekal, Lindley Bethlehem, Heil-bron, Vrede and Harrismith were all centres of prosperous farming districts. Moreover the men of this part, besides having most at stake, were the staunchest fighters in the Free State armies. Those of Ficksburg, and Ladybrand re-membered that their granary was still called the conquered territory and that they themselves belonged to the picked families settled there to hold fast what had been so hardly won from the Basuto 
And the mountainous country they had to defend and to fight in lent itself admirably to their ancestral habits as stalkers of men and beasts  North of Thaba Nchu it pre-sented step by step, as it were, defensive positions from which an army would often take weeks to dislodge a few men; behind it was the Baviaansberg, where Hamilton was delayed on his way to Winburg; to the east the Platberg
made a formidable barrier to Ladybrand, while north-east the Korannaberg blocked the way to Ficksburg. Further north again, Senekal was flanked on the west by the Doorn-berg, in the intricate kloofs and valleys of which the Boers outwitted many British columns, while on the east the Bid-dulphsberg helped the Boers to at least one triumph over the English and the Zuringkranz ridge long afforded them a retreat. Lindleys circle of hills became the battleground for fights too numerous to count and at Vechtkop, midway between Lindley and Heilbron where in years gone by a few heroic Boer men and women had withstood Mosilikatzes hordes their descendants loved to waylay the British columns on their way north as Hamilton, Colvile, Methuen and Hunter each in turn found to their cost.
Indrukwekkende getuienis hierdie! En nou moes jy die uit-drukking van heilsgenot op die gesig van die lesende Oos-Vry-stater gesien het, om te glo. Dit staan soos n paal bo water: Die oorwinnings wat sy Wes-Vrystaatse vrou so elkers oor hom behaal as daar rusie gemaak word, is blote toeval. In kern en wese bly die Oos-Vrystater die man wat wen.
Afrikaanse predikante in die Vrystaat het gedurende die Anglo-Boereoorlog dikwels hulle werksaamhede haastig opge-skort en terug Kaap toe gegaan, maar die Oos-Vrystaat het n skitterende rekord opgestel, deurdat een van sy predikante n generaal geword het  ds. Paul Roux wat, hoewel hy nooit n geweer in sy hande geneem het nie, sy burgers in die gevegte gelei het. Daar was die onvergeetlike ds. J.D. Kestell, toe van Harrismith, wat as veldprediker saam op kommando was, die Vrede van Vereeniging moes bywoon as sekretaris en daarna die NG Kerk op Ficksburg  een van die mooiste klipkerke in die land  ontwerp en laat bou het ter gedagtenis aan die dis-trik se gesneuweldes.
Ds. A.L. Albertyn het die Rouxvillese kommando vergesel en n die oorlog met die CNO-skole begin. Ds. J.J.T. Marquard, die Vrystaatse moderator, was met die Winburgers in die veld;
ds. G. Thom van Frankfort is na Ceylon verban, terwyl ds. H.C.J. Becker van Bethulie dwarsdeur die oorlog in die konsen-trasiekamp behulpsaam was. Ook ds. C.D. Bam van Smithfield het dwarsdeur die oorlog opgetree. Ds. C.P. Theron van Beth-lehem en ds. P.S. van Heerden van Ladybrand het n die oorlog weeshuise vir kampkinders begin.
Die Rebellie van 1914 bly egter die geskiedkundige triomf van die Oos-Vrystaat. Meer as elfduisend mense het daaraan deelgeneem. Hiervan was 7 123 Vrystaters, 2 998 Transvalers en 1 251 Kaaplanders. Die Vrystaatse opstand was beperk tot die noorde en noordooste en het in Memel begin, toe genl. Christiaan de Wet, sy agt seuns en skoonseuns en sewentig burgers vertrek het om pres. Steyn in Bloemfontein te gaan raadpleeg, daarvandaan na Kaapland te reis om by Maritz wa-pens te kry en van daar saam Pretoria toe te gaan om die repu-bliek te gaan uitroep. Die trek het van Memel na Vrede, na Reitz, na Lindley en toe na Winburg gegaan, en in elke distrik het honderde bygekom. Die dorpe is vermy, daar is nie gevegte uitgelok nie en baie van die Rebelle het net swepe en padkos gehad.
Ons ouma Krog vertel hoe my skoonvader, n baie netjiese en op sy persoon gestelde jong man, vertrek het met n waarde-volle klein leertassie van haar. Daarin het hy net twee gestyfde wit boordjies gehad  om aan te sit die dag wanneer hulle Pre-toria met die Vierkleur binnery. Die tassie het nie verder as Mushroom Valley saamgery nie!
Die laaste groepe Rebelle is uiteindelik in die berge om Bethlehem gevang en na die Kimberleyse tronk geneem. Oom Toby van Schalkwyk van Paul Roux, vegter uit die dae van Ma-gersfontein en adjudant van genl. Lykes Rautenbach in die Rebellie, vertel hoe Rautenbach hom en sy maat Jannie Jacobs gestuur het om vas te stel of n klomp burgers n ent van hulle af Regeringsmense was. Hulle het op sestig tree, toe die koels hulle tot by n draadheining gedra het, eers uitgevind dat dit wl Regeringsmense was. Van die mooiste stukkies gespande draad wat hy ooit in sy lewe gesien het, s hy: sestienpond-
ysterpale, tien tree van mekaar, gespan met honderdpond-Johnsondraad, sewe drade. Desnieteenstaande is Toby van Schalkwyk en Jannie Jacobs ongedeerd daardeur en terug na hul kommando, vertel hy met n flonkering in die o.
Nie ver van Paul Roux nie, by Vogelstruisfontein, kom hy en n sestigtal manne uit Paul Roux op n plat koppie uit en be-sluit om op hul eie in alle erns weerstand te bied. Die Wit-bande bestorm die koppie, die ander skiet die oomblik wan-neer n kop bo die kruin uitkom. Later is dit n versigtige be-kruipery totdat die Paul Rouxers tot hulle ontsteltenis merk dat die Regeringsmense n koppie links van hulle bestyg het en van di kant af begin vuur. Hulle steek toe die wit vlag aan n geweerkolf op, maar die Regeringsmense is so kwaad, hulle skiet die geweerkolf af. Naderhand skree iemand van onder af: Wie is julle daarbo?
Ons is van genl. Lykes Rautenbach se kommando. Laat julle aanvoerder sy geweer neerl en uitkom.
Oom Toby staan toe op en kom tydsaam na die rant aange-stap.
Wie de duiwel is jy? vra die aanvoerder, n man op n blou skimmelperd, vererg.
Oom Toby is n man wat nie eens vyf voet lank is nie en die skaal seker nie ver oor die honderd-en-tien pond sal trek nie, maar hy is taai. Hy was n gereelde bloedskenker tot op nege-en-tagtig jaar. Toe s die Paul Rouxse doktertjie vir hom: Nee, oom Toby, die bloedjies wat jy nou nog het, het jy vir jouself nodig. Hy het hom verskriklik vir die man versondig: Wie sal nou beter weet wat om met sy bloed te doen, hy of n ander een? Dit is nou oom Toby, en daardie dag op die koppie het hy hom ook nie laat beledig nie. Hy trek hom waardig op: Ek, s hy, is genl. Lykes Rautenbach se adjudant en ek is in bevel van hierdie koppie.
O so, en wat probeer jy doen?
Toe skree een van die ander Regeringsmense: Maar my magtig, Toby, dis mos jy! en oom Toby herken sy swaer Von Maltitz en n klomp ander Ficksburgers.
Wat doen julle, man? vra sy swaer verder, julle het al sewe van ons mense doodgeskiet en n spul gekwes. Kan julle nie nou end kry nie!
So het een van die minder geroemde slae van die Rebellie geindig. Oom Toby moes saam met die Rebelle voetslaan, myle ver terug na Senekal toe. Hulle is vier-vier deur die strate geja en onder gejou en gelag na die tronk geneem. Toe bring n swarte vir hom n pakkie met toebroodjies, ses gekookte hoen-dereiers, n paar sokkies en n halfkroon. Daar was n naamlose briefie by: Ek wil net s dankie. Snaaks, maar hy het daardie briefie dwarsdeur sy lewe onthou, s hy.
Toe die Rebelle eindelik n hulle verhore terugkom, was hulle vee en losgoed gekonfiskeer en is hulle aanspreeklik ge-hou vir alle skade wat gedurende die opmarse gepleeg is. Dit het 300 000 beloop.
Daar is met n landwye beweging begin om hierdie skuld vir die Rebelle te betaal. Hulle het dit die Helpmekaar genoem, en die eerste drie takke van die beweging is in Bethlehem, Reitz en Lindley gestig. Bethlehem en Smithfield het die groot-ste bedrae in die Vrystaat byeengebring. (Die pasgestigte Nasionale Party was die grootste enkele bydraer.) Die sentrale bestuur van die Rebellefonds in die Vrystaat het bestaan uit mnre. P. Fourie van Bethlehem, wat ook die voorsitter van die landsbestuur geword het, prok. M. Vermeulen (Lindley), dr. C.P. van der Merwe (Bethlehem) en mnr. R.T. van der Merwe (Bethlehem)  almal van die Oos-Vrystaat.
Die Burgermonument op die hoofplein van Harrismith is n sprekende voorbeeld van hoe deurdag en langdurig strydpunte hier hanteer word. Toe die Afrikaansgesindes van Harrismith in die dertigerjare n monument ter gedagtenis aan die gesneu-welde burgers in die Anglo-Boereoorlog oprig, het hulle, heel toevallig, so beweer hulle, die monument s opgestel dat die mauser van die knielende burger reguit korrel op die Engels-man op n monument skuins oorkant die straat, wat die ge-sneuwelde Engelse van die Eerste Wreldoorlog gedenk. Met die uitbreek van die 1939-oorlog, toe gemoedere tussen Smel-
ter, Gesuiwerde en Ossewabrandwag weer hoog loop, het die Engelse  wie sal weet wie  op n nag die Burgermonument besmeer en verniel en, onder meer, die aanstootlike mauser se loop afgebreek. Die Afrikaners het nie die monument herstel nie. Vandag, twee-en-veertig jaar later, staan die geskende mo-nument nog net so. In sy voetstuk is n granietopskrif gemes-sel: Hierdie monument is op die nag van 4 Maart 1940 deur die vyand van die Boerevolk geskend.
Aan my man kan n mens net tik om jou ritse name van Oos-Vrystaters op te noem wat in die Suid-Afrikaanse openbare lewe gepresteer het. In landsvraagstukke, in elke verantwoor-delike pos in die samelewing, by elke belangrike navorsings-projek sal jy n koel, doeltreffende Oos-Vrystater in beheer kry, s hy  en dan noem hy as eerste voorbeeld die maatskaplik en staatkundig gespesialiseerde huisgesin waarin hy en ek besig is om oud te word.
Selde het ek die gees en gesteldheid van die Oos-Vrystater so duidelik weerspiel gesien as toe ek op n dag langs die hoof-straat van n Oos-Vrystaatse dorpie afstap en die klein winkel-venstertjies beskou. Ja, daar kan sus Hettie of miss Lorna nog haar eie sakie winsgewend bestuur. In n beknopte venster was n Noritakie-eetstel uitgestal, bord vir bord en skottel vir skot-tel, die hele stel, en jy begryp dat dit vir miss Lorna baie, baie mooi is. In die middel daarvan het sy drie vars roosknoppe in n Coca-Cola-bottel gerangskik. Daarvoor staan haar hoogs sub-tiele en enigste verkoopsadvertensie, n handbeskrewe plak-kaat wat haar ure gekos het om te maak. A thing of beauty, herinner dit n mens, is a joy for ever.
Maar n mens neem van die Oos-Vrystaat afskeid onder sy kersiebome, soos bruidsgroepe wit in die lente, vol vlammende robyn spatsels in die voorsomer, vol geel vaagsels in die herfs. Cecil John Rhodes was onregstreeks die vader van die kersie-bedryf in die land, want hy het Pickstone uit Engeland laat kom om n boomkwekery by die Kaap te begin, en Pickstone het die vriend van die Van Rensburgs van Ficksburg geword en hulle oorreed om kersiebome hoog teen n berghang  want
in die Oos-Vrystaat is dit hoe hor hoe warmer  te plant. Van Rensburg het die kersiebedryf in die land gevestig en was die eerste mens wat n weeshuis vir swart kinders op sy plaas begin en daarna duisende rande aan welsynsprojekte onder die swart mense bestee het.
Maar as ek alles van die Oos-Vrystaat vertel het, dan bly by my nog altyd een beeld daarvan helderder as alle ander. Ek moes as jong nooi saam met my aanstaande by sy oom Frans in Harri-smith gaan kuier. Dit was n kuier waarvan baie dinge afgehang het. My aanstaande het sy vader jonk verloor en hierdie oom se goedkeuring was vir hom belangrik in al sy doen en late.
Ons het die middag laat by Harrismith aangekom en van daar af het die plaaspad bergop ingekronkel. Die swaar wolke het partykeer ver onder ons verbygetrek, en toe ons pikdonker op die plaas aankom, was alles nat en koud, maar in die vreem-de voorhuis het n groot vuur gebrand, en toe ek later gaan slaap, was daar n warmwatersak in my bed. Die volgende og-gend was alles nog toe onder die mis en ons moes kers opsteek by ontbyt. Ek was maar gespanne en oorgretig om in die o van die vreemde gesin n waardige metgesel vir hulle neef te wees. Die oom het geduldig geluister na wat ges word, maar self min bygevoeg. N hy gedank het, staan hy op, kyk my reguit aan en s: Kom, ek wil nou vir jou iets gaan wys.
Toe ons buite kom, begin die mis net wegtrek. Ek onthou nog hoe die reuk van looibas en perdestal in my neus gebrand het en ek sien nog hoe die mislandskap soos rotse met laag-water deur die skuim sigbaar word. Ons was hoog teen n gras-rant op n werf met n kliphuis en bloekombome. Langs die drade bergaf het lang lanings sipresse en sering gestrek en on-der het die spiespunte van herfsgeel populiere deur die mis in die vallei gesteek.
Hy neem my na n lang klipgebou met baie deure en n groot grasperk daarvoor. Hy roep welluidend na iemand en sy stem slaan teen die groen rant agter ons vas. Een van die deure gaan oop, n groot bruin hings steier uit met twee jong swartes soos
flenterkomberse weerskante aan die halter. Die hings sleep hulle met hom saam in wye sirkels oor die gras, hy sien ons en spits sy ore, hy kantel oor en kom vanself na ons toe aangedraf. Die man langs my reik n rustige hand uit en die perd krom vanself sy nek sodat hy sy halter kan vasvat.
S staan hulle toe voor my, die groot bruin volbloedperd en die man in die fleur van sy jare, met sy o n vriendelike blou teen n panorama van groen en berghang en knoetsige ou bas-bome en n wit son agter mis. Hy druk die perd se maanhaar-kruin oor soos jy n jong meisie se haarvag terugstoot. Met sy oop hand maak hy n lang strelende gebaar langs die dier se nek af sodat net sy middelvinger se punt die blinkbruin hare raak.
Kyk net, s hy, hoe mooi is hy hier gemaak  hy klap met sy hand oor die perd se bors  en hier, en ek kyk vanself na die skoon hale van die perd se voorbene op hulle fyn gebalan-seerde kote. Hy sprei sy hande agtertoe in n woordelose ge-baar na die dier se diep kruis en hy lag: Wat s jy?
Ek steek my hand versigtig na die fyn oopgesperde neusgate van die perd uit, hou dit n entjie voor hom en haal diep en hoorbaar deur my neus asem, want s groet jy n perd en nie anders nie, het die ou handlangers van my pa my geleer.
As n mens n perd verstaan, verstaan jy amper alles in die wreld, s hy toe hier langs my.
Sal ek ooit vergeet die onregeerbare geluk wat di paar woorde in my gebring het? Ek het besef dat ek op een of ander manier geweeg en swaar genoeg bevind is deur n mens wat sy skatting op min dinge waag. Maar hy en sy perd was vir my on-verklaarbaar ook die sinnebeeld van n hele landskap waarvoor ek smagtend op goedkeuring staan en wag het. Die sponta-neteit en algehele besitname het toe en oor die jare van my vol-wasse bestaan gebly  n breed gestrekte landskap van sagte berge, geboetseer deur die jong vrou wat potte maak, oorspoel met blou en die goud van diep vure.
Die plaas se naam, het ek daarna gehoor, is Le Bonheur, di geluk.
