Hoofstuk 7
Ek hoor by Driesman Lotz di Kotie Davel het so n groot koringoes gemaak  glo driehonderd mud! Oom Dolf Bodemer vee sy lippe aan sy mou af en sit sy koffiekoppie op die kombuistafel neer.
Daar is opeens n gespanne atmosfeer aan tafel. Naas sien hoe Cornelia orent ruk. Ja, die Satang sorg vir syne, kry tant Maria eindelik ges. Wat gaat hy met al die koring maak? Ons sou net suffel kon gewen het. Ons sou 
Oom, ons gaan nog. Gee my net n halwe kans, praat Barkus oom Dolf dood.
Man, jy praat deur jou nek. Hoe dink jy kan ons meer wen sonder water? berispe oom Dolf gerger.
O, dis die waterplaas hier anderkant. Barkus kyk na Cornelia se kant. Ek het al gehoor van die fontein.
Moes myne gewees het. Tant Maria het eerste reg gehad, stik oom Dolf. Hy gaan aan die hoes. Tant Maria moet hom van die tafel af wegkry. Hy is daarna siek  en vir n paar dae bly hy pal in die kamer.
Met verloop van tyd hoor Naas al hoe meer van die verwysings na n onreg. Hy weet dit het te doen met die blinde Hannie en haar broer Kotie. Hy weet goed van die gespanne atmosfeer tussen die twee bure. En hy weet dit het te doen met die plaas Mooifontein.
Barkus Hoon weet reeds meer as hy. Want terwyl hulle mis op die lande ry, vertel hy hoe sake tussen Doornrug en Mooifontein se mense inmekaar steek. Glo by die boedelverdeling gekom. Het jy geweet die spul daar en die spul hier is familie?
So gehoor, s Naas.
Die vloeke het daardie plaas glo met n slenter bekom. Na regte is dit ou Marja se grond. Ek sal ook soos sy die roode hel in wees, s Barkus.
Die beeld wat Naas van Hannie en Kotie en ook tant Lenie het, het al vervaag. Maar hulle was goed vir hom en wat hy van hulle kan onthou, is mooi. Hy kan nie glo hulle is gemene mense nie.
Die vloeke sit nou op n goudmyn, gee Barkus sy opinie. As ek daardie fontein se water het, sal ek van hier af tot ek weet nie waar nie lande onder water sit. Ek sal n duiskoringoes h. Ek sal die spul uitlanders in Johannesburg hulle laat deurvreet aan brood. Ek sal  O, as ek my hande aan daardie Kotie Davel moet kry!
Barkus Hoon raak opgewonde. Naas hou hom met angs dop. Hy voel soms daardie groot hande om sy eie keel. Kotie Davel is seker ook sterk. Maar Barkus het tien man se krag.
Barkus Hoon het nog net een keer na daardie eerste keer n aanval gekry. Di keer was dit in die nag. Naas het wakker geskrik van n aaklige klaaggeluid. Hy het half deur die slaap opgevlieg, oor Barkus geklouter en is met die leer af. Daar het hy gewag en geluister, maar niks gehoor nie. Hy het onthou wat tant Maria ges het en is weer met die leer op.
Barkus was weerloos in die greep van die vreemde mag wat sy liggaam skud. Sou hy sy tong weer raakgebyt het? het Naas gewonder. Hy kon sy tong ingesluk het. Naas het ook gewonder of die reus nie versmoor nie. Barkus het juis toe opgehou met ruk en hewig deur sy neus asemgehaal.
Was hy aan die versmoor? Aan die doodgaan? Versmoor hy aan sy tong wat hy ingesluk het? Naas het minute lank op die leer gestaan en geluister, bang, onseker. Toe het hy genoeg moed bymekaar geskraap. Hy het die kort kersie opgesteek, die vlammetjie oor die stil liggaam gehou en besluit Barkus slaap. Hy was nie aan die verwurg nie. Hy was nie aan die doodgaan nie.
Nog later het Naas oor die slapende Barkus geklouter. Want dit was nag  en waar anders moes hy slaap? Hy het daarna lank met kloppende hart geluister na die diep asemhaling van die reus langs hom, en kon nie slaap nie.
Hy moes iets gedoen het. Hy moes tant Maria geroep het. Maar hy het nie geweet hoe om haar te roep nie. Hy kon nie in die huis kom nie en om buite in die nag te staan en skree tot sy hoor  dit kon hy om die dood nie doen nie. Dit sou te na, glad te na aan oneerbiedigheid wees. Eers toe die eerste mrelig deur die venstertjie loer, het Naas weer oor die slapende Barkus geklouter, bly dat dit eindelik dag geword het.
Later die dag kla Barkus oor n swaar hoofpyn en van sy tong wat seer is. Maar dit het glad nie gelyk of hy weet van sy worsteling met daardie onbekende ding wat in hom vaar en hom skud en verbrysel nie. Inteendeel. Die ou bravade was terug, en het Barkus hardop laat bespiegel: Jong, ek wil hierdie plaas nog vir my h. Maar dan moet ek eers hierdie wilde stukkie meisiemensvleis uit my hand leer eet. En ek weet net hoe! Ek gaan haar paljas. Stefaans sal vir my paljas of doepa in die hande kry.
Sulke bespiegelings skok Naas, ontstel hom verskriklik. Dit is vir hom nog erger as die aanvalle wat Barkus kry. Cornelia 
Maar Barkus Hoon lag gul en selftevrede, lek sy lippe af. Jy sal nog sien, ou Naas. Sy gaat nog uit my hand uit eet. Wag maar.
Naas loop dae daarna met di tweespalt in sy hart. Hy moet Cornelia waarsku. Maar wat moet hy s en hoe gaan sy reageer? Vir hom het dit juis algaande begin lyk asof sy die ruwe Barkus Hoon aanmoedig. Sy gesels graag met Hoon. Dan korswil en praat hulle bedekte onsinnighede. Maar Cornelia se wange gloei en haar o dans. Dit is asof die aandag wat sy van Barkus kry vir haar lekker is.
Maar Cornelia beveel Naas weer en weer om saam met haar na die Riekerts toe te gaan. Daarna wil Barkus weet: Wat gesels sy? S sy iets van my?
Sy praat nie. Nee, ek weet nie. Vir Naas is die saamgaan met Cornelia n groot genade. Dit is n lekkerte te groot om in woorde uit te druk; wat sy hart laat gloei van warmte..
Hulle verhouding is byna di van slaaf en meesteres. Hy praat nie met haar as sy nie met hom praat nie. Maar elke woordjie wat sy s, bly hom by, word heilig. Dit is n kosbaarheid om saam met haar te wees, iets soos die binnegaan van die hemel self wanneer sy vir hom glimlag, as sy iets s of gewaar en dan haar vrolikheid soos n kleed om hom sprei. Want haar blydskap word sy vreugde.
Dit ontgaan Naas nie hoe byna ontsteld tant Maria en oom Dolf is wanneer Cornelia hom met haar saamneem nie. Hy verstaan glad nie hulle ontsteltenis nie. Ook Barkus is dan ontsteld. Sy ontsteltenis, weet Naas, het glad n ander rede.
Waar gaat jy so baie saam met haar? Waarom moet jy saam met haar gaan? wil die reus naganig weet.
Sy vat my saam om haar perd op te pas. Ek moet na die perde kyk, verduidelik Naas en dit stel ten dele tevrede.
Daardie stukkie meisiemensvleis soek my. Sy terg my. Sy sal my nog kry. Dan sal sy weet wat sy gesoek het, beloof Barkus Hoon duister en dit maak Naas vreemd onrustig.
Elke dag lewer sy porsie arbeid op en daar is min tyd vir praat. Maar saans speel Barkus Hoon droewige wysies op sy mondfluitjie. Dan wy hy uit oor sy liefde vir al wat nog jonk en in n rok is. Hy praat; spog met oorvloedige selfvertroue. Soms is hy tog onseker.
Naas, dink jy n ou soos ek wat niks het nie, dink jy sy sal tog vir my val? Maar meestal is hy die selfversekerde rammetjie-uitnek; bespiegel hy grof en onsmaaklik.
Naas dwaal dan sommer die nag in tot waar hy iewers alleen is om ongesiens te bid. Daar vra hy die God wat sy ma hom geleer ken het, om Cornelia van alle gevaar en versoekinge te bewaar. Aan God erken hy hy het haar lief, n liefde wat haar goedheid, haar reinheid, haar onbesprokenheid wil h.
Naas glo sy gebede sal Cornelia bewaar. Hy glo sy gebede stel n laer wagte om haar op. En Barkus Hoon word die verpersoonliking van alles wat boos en uit die duisternis is en waarteen sy bewaar en gevrywaar moet word.
Maar dit bewaar haar nie. Want op n dag sien hy Cornelia en Barkus tussen die bome verdwyn. Sy loop en omkyk soos iemand wat skuldig voel. Naas wag lank dat hulle weer te voorskyn sal kom. Maar hulle kom nie gou uit die geboomte terug nie.
Eindelik sien hy vir Barkus alleen aankom  en nog voor di by hom kom, weet hy. Sommer aan sy kordate stap, nog voordat hy sy gulle lag uitskater, wt Naas, al wil hy nie glo nie.
Die pyn sink soos n swaar klip af in sy hart. Dit voel vir hom asof hy sommer verlore gegaan het en die Here teen die Bose die onderspit gedelf het. Of is God self die Bose wat so n gruwel kan toelaat?
Die aand is Barkus steeds vol van homself. Naas wil niks hoor nie. Maar hy hoor alles en alles wat hy hoor, stort hom n diep afgrond in.
Pas n week later vra Cornelia hom wat Naas is om haar na die Riekerts te vergesel, en twee dae later na die handelspos op Driedorings.
Cornelia is stralend opgewek, dierbaar, kameraadskaplik. Naas se aanvanklike stugheid verdwyn. Na n ruk is hy oortuig dat al wat Barkus kwytraak, stories vir die vaak is. Cornelia word weer alles wat hy op die hande wil dra.
By die handelspos aangekom, loop hulle Kotie en Hannie Davel raak. Dis of Cornelia skrik toe sy Kotie sien. Haar asem kom opeens gejaagd en onrelmatig. Naas merk dadelik haar veranderde gemoedstemming. Sy kyk stip voor haar en gee voor sy weet nie van Kotie en Hannie nie. Kotie kom groet haar. Sy antwoord skaars en mompel iets toe hy na haar welstand verneem. Sy is skoon oorstuur.
Gelukkig is Kotie op die punt om te vertrek. Cornelia begin inkopies doen en soos sy koop, dra Naas dit bokkiekar toe. Onderwyl hy daarmee besig is, gewaar hy die lelike ou man wat hy destyds na hulle eerste kuier by die Riekerts op Polfontein gesien het. Di keer word hy bewus van die ou man nog voordat hy van hom weet. Iets s vir hom: Kyk om. En toe hy omkyk, kyk hy in die ou man se gesig, in sy bose o, o wat onmiddellik versluier word en van Naas se blik af wegskram.
Dit is of die oumens hom hipnotiseer. Hy voel soos n muis voor n slang. n Koue rilling gaan deur hom en hy is bly toe Cornelia eindelik opdaag en hulle kan ry.
Cornelia is nou baie stil. Sy kom nietemin agter iets pla vir Naas. Dit lyk of jy vir iets geskrik het, Naas, s sy.
Wie is daardie ou swart man? vra hy op sy beurt.
Cornelia kyk rond. Watter ou swart man? Ek sien dan niemand nie? vra sy gemaak verwonderd.
Die een daar by die winkel. Hy het my dopgehou.
Nee, ek weet nie. Ek het nie so opgelet nie.
Naas beskryf die ou aan haar. Maar sy kan haar glad nie so iemand voorstel nie. O, ou Mtwetwe? onthou sy toe.
Hy het my dopgehou, hou Naas vol. Toe hy sien ek kyk vir hom, kyk hy anderpad.
Miskien verbeel jy jou dit maar, ou Naas. Cornelia plaas haar hand kameraadskaplik op sy skouer. Sy sug en is opeens stil. Te stil.
Die perde weet hulle gaan huis toe, draf te lekker. Toe  Hy glo aanvanklik hy verbeel hom dit maar, want Cornelia huil. Sy huil geluidloos sag, maar onmiskenbaar.
Ai, Cornelia, hoekom huil jy? Jy moenie huil nie, probeer hy troos.
Ek huil nie en laat my alleen! wip sy haar. Maar nou kan sy die rou snikke nie beteuel nie. Sy huil onkeerbaar onderwyl die perde flink voortdraf. Hy sit hier langs haar, lomp en beteuterd, sonder een enkele woord of gebaar waarmee hy haar kan troos.
Cornelia bedaar tog lank voor hulle die huis haal, vee haar trane af. By die huis gekom, verklik nog net haar rooi o haar. Sy is selfs gemaak opgewek. Net Naas weet hoe vlak haar verdriet l. En daardie nag droom hy weer van die wit bul, Oemfaan. En die bul het die bose gesig en die koue o van ou Mtwetwe.
Sedert die eerste rens het hulle die dro lande geploeg; mielies geplant. Daardie mielies kom nou in die saad. Hulle kan hulle eerste pampoene eet. Die dro lande het voorlopig nie baie werk nie, mits dit elke keer betyds kom ren. Dan verneem oom Dolf van boere wat hul oorskotkoring Johannesburg toe karwei en wat ongekende pryse daar kry.
Hoe lyk dit, Oom, moet Naas en ek nie n vrag of twee vat nie? vra Barkus.
Oom Dolf moet eers daaroor besin. Hulle het goed n vyftig mudsak meer as vir die jaar se gebruik. Weet jy hoe om in Johannesburg te kom? vra oom Dolf eindelik.
Barkus lag. Weet ek nie? Ek ken Johannesburg soos die oopte van my hand. Naas en ek kan gaan. Al wat ek nodig het, is n goeie touleier.
Ja, ek sal my gedagte laat gaan. Oom Dolf bly in n tweespalt.
n Paar dae later kom oom Dolf te hore dat Kotie Davel n paar waens gehuur het om sy oorskotkoring in Johannesburg te gaan verkwansel. Het Oom gehoor? vra Barkus.
Oom Dolf is sommer kwaad; s tog: Dan maak ons maar so. Ek wil darem eers met die tante oorleg pleeg.
Naas hoor tant Maria en oom Dolf redeneer Ken die man van gn kant nie. Wie s hy loop nie met jou wa en jou koring weg nie? opper tant Maria.
Maar, Vrou, Naas gaan saam. Naas, weet ek, sal nooit 
Ai, hys n kjind. Hoe dink jy as Hoon n wegloopnuk kry, wat sal Naas dan kan doen?
Dan sal ek maar moet gaan. Ja, dan sal ek maar moet saamgaan. Ai, jy weet wat kry ons by ou Slomski  en dit vir ruil. Ons gee ons goed hier verniet weg. Dan gaan ek.
Nee, Dolf, ons vertrou Hoon of ons vertrou hom nie. Laat hy en Naas dan gaan. Ai, ons het al genoeg swaar gehad. Moenie ons nog groter swaar op die hals laai nie. Laat hulle twee gaan en vertrou dan op die Here.
Nee, Ma, Naas kan nie gaan nie! s Cornelia ontsteld toe sy van die plan hoor. Naas kan nie gaan nie. Sy s dit asof die seun aan haar toevertrou is.
Ons het gn niemand anders nie.
Nie Naas nie. Hoekom kan Stefaans of Windvol nie saam met Barkus gaan nie?
Dit tref oom Dolf ook nou as n beter oplossing. Ou Stefaans het vrou en kinders hier; beeste. Hy het iets om hom terug te bring. Stefaans sal sorg dat Barkus Hoon met die wa en osse, ook met die geld, terugkom.
Dis n stil tyd van die jaar. Soms wanneer Naas die bosse invaar, neem hy vir Loper, een van die werfhonde, saam vir geselskap. Loper geniet di uitstappies terde; snuffel rond, verken, jaag hier n fisant, daar n korhaan op.
Telkens eindig hy by die graf in die bos, en loop hy wye, versigtige draaie daarom. Hy sien weer die skedel hoog in die mik van die buffeldoring; kom weer onder die invloed van die hol, starende oogkasse wat al hoe meer vir hom die hipnotiese o van ou Mtwetwe aanneem. Dan maak hy dat hy gou daar wegkom. Die plek hou vir hom n boosheid in; laat hom voel asof hy op grondgebied van magte uit die duisternis is. Tog is die graf soos n magneet; trek dit hom onweerstaanbaar aan.
S dwaal hy op n dag daar weg, luister na die lied van die vols, probeer elke spesie aan sy sang uitken en verstom hom soos vorige kere aan alles wat die bos oplewer; verberg. Hy gee hom so oor aan die lekkerkry van vols beluister dat alle ander dinge by hom verbygaan. Hy is in n wreld van sy eie; weet mettertyd nie waar hy hom bevind nie.
Naas word bewus van die werklikheid toe Loper se gewone jaggeluide opeens deur n heel vreemde blaf vervang word. Eers wil dit klink soos n opgewonde gekef van verwagting  maar toe skielik is Loper op sy hoede, tjankblaf selfs voordat hy rats tussen die rosyntjiebosse verdwyn.
Slang! is Naas se eerste gedagte.
Onderwyl Naas soek na waar die hond moet wees, sien hy vir n oomblik die wit gefladder. Hy kyk goed. Dis n vrou. Dis Cornelia wat ylings deur die bosse huis toe vlug!
Maar daar was nog iemand. Naas het net rakelings die gestalte gesien. Hy beweeg nou verkennend tussen die bome na waar hy hom verbeel hy die skigtige figuur gesien het. Hy maak hom wys sy o het hom parte gespeel, maar toe gewaar hy die vlugtende skim waar die bome yler begin word. Daardie skim met sy komieklike galopgang kyk een keer om en dadelik herken Naas hom.
Dit is Mtwetwe, die afgeleefde ou man wie se pad Naas al n paar keer gekruis het. Iemand vir wie die jong seun n onverklaarbare vrees koester.
Watse afspraak kon Cornelia met di ou karakter gehad het? En hoekom het sy gevlug asof sewe duiwels haar wou vang?
Naas soek nog antwoorde op di vrae toe Cornelia hom n paar dae later opsoek waar hy n landjie aartappels operd. Nasie, ek soek na Barkus, s sy. Weet jy waar ek hom kan kry?
Hor op. Net onderkant die fontein. Hy lei die pampoene nat, dink ek, s Naas en kyk haar agterna. Cornelia kyk een keer om, waai vir hom en hy waai terug.
Dan gee hy hom weer oor aan sy werk en vergeet tydelik van haar onverwagse besoek. Hy werk hom oor n boeg en die son steek geniepsig. Later gaan drink hy water by n verskuilde fonteintjie bokant die perskeboord waar die water die koelste is. Onderwyl hy op sy maag l en drink, hoor hy gedempte stemme. Die volgende oomblik gewaar hy die geselsers: Cornelia en Barkus.
Naas maak hom stilweg uit die voete. Iets so oud soos instink s aan hom hier moet hy liewer nie gewaar word nie. Die twee moenie weet van nog n mens daar naby nie, veral nie van hom nie. Hy seil die eerste ent soos n slang deur die lang gras. Die ruigheid van die bos omsluit hom in n ommesien. Toe versit hy met n wye draai tot hy terug in die aartappelland by sy skoffelpik is.
Niemand weet van sy oomblik in die bos nie, glo hy. Hy skoffel vlytig voort, keer die onkruid een vir een om en werk voort asof hy al die ure net daarmee besig was.
Maar nou maal sy gedagte en is daar droogte in sy hart, n verwildering, n ontsettende armoede. Helaas het mense wat hy sy vriende waan, voete van klei. Of moet hy aanvaar hulle was, soos hy, om n voor die hand liggende, onskuldige rede daar? Hy wil dit aanvaar. Dan sien hy weer die ontsteltenis op haar gesig, hoor hy weer Barkus Hoon se gerusstellings.
Hy wil nie glo wat hy vermoed nie. Hy kan dit nie begryp nie  nie van iemand so mooi en so goed en verhewe vir hom soos Cornelia nie. Hy wat haar so graag op n troon wil hou, bly haar nou in die modder sien. Hy moet erken: Die mooie Cornelia het twee persoonlikhede. Sy is twee mense. Die een Cornelia het hy lief. Die ander een  Ja, die ander Cornelia maak hom bedroef en hy is bang vir haar en kry haar jammer.
Daarna bly die ongeluk en die gevoel van verlies in sy hart. Hy gaan bid nog in die rietbos. Nou bid hy God om sy eindelose vergiffenis, want in die een Cornelia sien hy sy ma, Ousus, die verpersoonliking van die vrou wat goed en onkreukbaar moet wees. Maar die ander Cornelia 
Barkus Hoon, wat eens die verlangens van sy hart met Naas bespreek het en die verowering van Cornelia so in vooruitsig gestel het, lug nie meer sy gemoed nie. Die man se swye s vir Naas baie meer as woorde. Waar hy Barkus aanvanklik met vrees bejen het, begin hy hom nou haat. Dit is n emosie wat hy nie verstaan nie. Maar dit is daar; vorm n kors om sy hart en vul hom met vergeldingsgedagtes. Hy vermy Hoon. Hy vlug vir hom. Hy wens hy het die krag van tien Simsons gehad. Dan sou hy Barkus Hoon  O, hy sou elke beentjie in sy groot liggaam breek.
Maar Barkus Hoon is sterk. En n voorval n paar weke later bewys hoe sterk hy is  gebeure wat Naas se o vir ander dinge oopmaak.
Di oggend moet Cornelia handelspos toe gaan. Een van Stefaans se kinders kom roep Barkus waar hy en Naas riete vir die rankboontjies in die rietbos sny.
En hier teen tienuur word Naas deur dieselfde klong ontbied. Ou seur Dolf seg jy moet daarso kom, Naas, s hy.
Staag Lemier is daar en dit lyk of hy en oom Dolf en tant Maria rusie gehad het. Die kapkar is reeds ingespan en Naas moet saam. Hulle is n minuut later op pad. Wees versigtig! roep tant Maria hulle agterna en oom Dolf grom sy ergernis binnensmonds.
Oom Dolf ry of die Duiwel op sy nek sit. Hulle bereik die handelspos anderhalfuur later. Toe hulle nog n hele ent tussen die bome aankom, hoor hulle reeds die lawaai en gewaar hulle die samedrommende mense. Oom Dolf ry tot teenaan die buitekring teenstanders, druk die leisels in Naas se hande en klouter rats vir sy jare en bekwaaldhede van die kar af.
Naas het reeds gesien wat hom hier afspeel. Die mense staan n kring om twee mans: een in n polisie-uniform  die ander een Barkus Hoon. Die forse konstabel probeer om Hoon in n greep te kry om hom te boei, maar Barkus Hoon ontkom elke greep en slaan hou op hou wat soos klappers op die konstabel se lyf en gesig ontplof. Die omstanders skree en moedig aan. Naas kan nie sien wie hier die oorhand het nie, ook nie aan wie se kant die omstanders is nie. En Cornelia staan eenkant, lakenwit en toekyk.
Ten spyte van die gejil en geraas, val n ander geluid op Naas se ore. Iemand huil. Toe hy rondkyk, sien hy sommer hier by hom, half onder n doringboom, kniel n meisie by n man wat op die grond l. Sy buk laag oor hom. Haar hande streel oor sy verflenterde gesig en sy praat huilend met hom. Sy lig een keer haar kop op en kyk luisterend in die rigting van die twee bakleiers. Sy kyk hulpsoekend in sy rigting, verby hom. Dis of sy haar mond oopmaak om iets te s.
Maar blinde Hannie  want dit is sy  s nie n woord nie. Net die vrees en ontsteltenis op haar gesig skree vir Naas haar bang verslaenheid uit. Hy herken ook nou die man met die stukkende gesig aan wie sy so klou. Dit is Kotie Davel wie se gesig so verflenter is. Hy is van die bloed betakel. Dit lyk asof iemand hom herhaaldelik met n mes in die gesig gesteek het. Sy gebreekte gesig is vol bulte, rooi van die bloed, ten spyte van Hannie se blinde pogings om die bloed met n sakdoekie te stol.
Naas sit vasgevang op die kapkar. Benewens die feit dat hy oorstelp is deur die gebeure en voel of sy bene nie kan roer nie, moet hy met die perde bly praat, want die lawaai ontstel hulle. Hy kan hulle nie los en Hannie gaan help nie. Wat is hier aan die gang? Hy begryp dit nie, maar kry die gevoel iets boos en onheiligs is aan die uitbroei. Die tweespalt is weer in hom, erger as voorheen. Hy is tog in staat om twee en twee bymekaar te sit. Hy weet van oom Dolf, maar veral tant Maria, se venyn teenoor Kotie Davel. Dus  Barkus Hoon het Kotie so geslaan op aanhitsing van Cornelia. Die groot konstabel het op die ding afgekom; dalk Kotie Davel se lewe gered. En nou baklei Hoon en die konstabel om lewe en dood en Kotie  Kotie 
Naas soek rond na waar oom Dolf is, gewaar hom in die middelkring van die omstanders. Twee mans hou oom Dolf vas. Hy beur om by die stoeiendes te kom. Ek wil hulle uitmekaar kry. Maak hulle uitmekaar! bly hy skree. Maar die twee mans verhoed hom, want daar by die vegtende reuse soek n ou man soos oom Dolf sy dood.
Die konstabel doen sy bes. Hy is selfs nog groter as Hoon, maar die bonkige Barkus Hoon kry die oorhand. Hy slaan hou op hou en die konstabel het geen verweer nie. Dan steier die geregsman voor nog n moordende hou en slaan neer soos n buffel wat in die hart getref is.
Barkus Hoon kyk verslae om hom. Toe breek hy tussen die omstanders deur en verdwyn tussen die bome. Cornelia is nou by Kotie, wat nog bewusteloos moet wees, en Hannie. Hannie kyk op, haar o nikssiende. Tog moet sy weet wie voor haar staan.
S jy vir jou broer ek sal hom kry. Dis maar die begin. S jy vir hom ek sal hom ry tot in die hel, s Cornelia met haat in haar stem. Sy draai om na haar perd wat eenkant vasgemaak staan. Die mense maak pad vir haar. Sy stap fier; woedend en verwerdig niemand met n blik nie.
Naas, hol jong. Loop ry saam met haar, beveel oom Dolf, wat die leisels uit Naas se hande gevat het.
Cornelia ry al. Sy raps haar perd venynig. Maar toe pluk sy die perd hardhandig in. Naas glo sy hou stil vir hom om op te klim, maar sien nou haar o is op Kotie Davel. Hy klouter egter rats op Bordeaux se rug en kry sy sit agter Cornelia, waar hy met een hand die agterkant van die saal kan vashou.
Dit lyk of Kotie bygekom het. Hy sit nou orent, kyk verdwaas na die mense om hom. Dan is oom Dolf by hom. Hy praat met Kotie, wat lyk of hy niks inneem nie.
Help hom op my kar, seblief iemand? vra oom Dolf.
Etlike mans help eers vir Kotie; toe vir Hannie op oom Dolf se kapkar. Hulle vertrek op die Mooifontein-pad.
Cornelia praat met haarself. Vir Naas klink dit of sy vloek. Toe ruk sy die perd om. Sy hits die gewillige dier aggressief aan, jaag soos n besetene oor die oneffe pad Doornrug toe.
Cornelia ry slegs een keer n kort entjie stadiger. Dit is toe sy Barkus Hoon n ent vorentoe in die pad gewaar. Hy het haar hoor aankom, wag nou vir haar. Naas glo sy gaan stilhou en hom oplaai. Maar byna regoor hom gee sy haar perd n geniepsige raps.
Loop met jou pote, jou armsalige idioot! snou sy hom toe. En toe bars sy in trane uit. Naas vat die leisels by haar.
Vir die res van die pad praat Cornelia nie n woord nie. Naas gee die perd die leisels. Die natgeswete dier hyg na sy asem toe hulle die opstal bereik. Naas span hom uit en lei hom deeglik koud.
Toe hy in die kombuis kom, is dit grafstil. Hy kry tant Maria in die kombuis. Sy vra nie uit nie en hy s net: Oom Dolf het Kotie Mooifontein toe gevat.
Ek weet, my kjind, en dit is goed, antwoord sy.
Cornelia kom glad nie te voorskyn nie. Naas gaan weer riete sny en maak stellasies vir die boontjies. Van Barkus Hoon is daar geen teken nie en Naas swoeg alleen. Oom Dolf kom eers teen die aand se kant huis toe. Daarna lyk dit nie of hy en tant Maria die dag se gebeure met mekaar bespreek nie. Tant Maria sug net en lyk bedruk.
Laat die nag verbeel Naas hom hy hoor die hartroerende gesnik van n vrou iewers in die groot ou huis. Die swaar, ongelukkige gevoel is eens so hewig in sy hart. Hy treur oor Cornelia wat so n ander mens geword het. Die haatlike Barkus Hoon! Naas hoop hy sien die man nooit weer nie.
Maar Barkus daag tog baie laat die nag op. Sy gesig en klere dra die volgende oggend die letsels van die vreeslike geveg met die konstabel. Oom Dolf en tant Maria verwelkom hom nie. Hulle vra hom nie uit nie en probeer nie sy kneusplekke behandel nie. Tant Maria sorg darem dat hy kos kry.
Onderwyl Barkus eet, s oom Dolf kugtend. Ek sal jou nog vandag na die landdros toe moet vat, Hoon. Jy sal moet s hoekom jy vir Koot Davel en konstabel Dorland aangerand het. Ons moet self gaan voor hulle jou hier kom soek.
Hoekom het jy dit gedoen? herhaal oom Dolf toe Barkus nie reageer nie.
Barkus hou op met eet, kyk oom Dolf hulpsoekend aan. Ek weet nie, Oom. Die Here weet, ek weet nie, Oom, s hy verslae.
Barkus Hoon laat sy kop hang. Hy sit lank so. Toe hy opkyk, l die verwildering in sy o. Ek kan nie na die landdros toe gaan nie, Oom. Ek kan so wragtig nie. Soos dit is, soek hulle my. Die vloeke sal my die keer al my hel gee.
Soek die polisie jou? Het jy dan 
Ja, Oom, hulle soek my  en dis al lank dat ek vlug. Maar eks onskuldig  eks onskuldig, al lyk dit of ek dinge wegsteek!
Jong, dan moet jy loop. Ek sal jou jou geld gee en die tante sal vir jou padkos maak. Ja, dan moet jy nou, voor dit mre is, sorg dat jy ver weg kom.
Barkus Hoon het weer sy kop laat sak. Die sterk man is so pateties soos n baba. Dit lyk of hy huil. Sy skouers ruk. Toe s hy: Ek wil vannag nog hier slaap, Oom. Seblief, Oom? En ek moet met Cornelia praat. Ek moet met haar praat, seblief, Oom?
Hy klink desperaat.
Tant Maria staan op. Sy kom minute later terug. Cornelia is nie vanaand in n toestand om met enigiemand te praat nie, kom s sy.
Di nag kry Barkus Hoon sy hewigste aanval nog. Naas maak dwarsdeur die nag nie n oog toe nie.
Die oom het mos ges jy moet loop. Toe, Dorland sal jou kom vang, verstaan jy dan nie? dreig-vra tant Maria ergerlik toe Barkus Hoon die volgende oggend nog op Doornrug is.
Ek moet met Cornelia praat, Tante. Die Here weet, ek moet.
Ma, s vir die boemelaar ek wil nie met hom praat nie. Nie nou of ooit nie, kom Cornelia se stem deur die kombuisdeur na hulle toe.
Maar, Cornelia, dis mos nie reg nie. Jy het dan  protesteer Hoon.
Ma, jaag hom van die plaas af. S vir hom hy moet in sy hel vlieg! gil Cornelia en hulle hoor n binnedeur hard toeslaan.
Toe Naas opstaan om te gaan werk, bly Barkus nog by die kombuistafel sit. Hy lyk so bedremmeld dat Naas die ou reus nou selfs jammer kry. Hy het hom gister nog met wrewel gehaat. Nou  Sy gemoed is in uiterste verwarring, met angs, onrus en jammerte wat in hom worstel. Sy angs is oor Cornelia. Sy onrus ook. Sy jammerte  Hy weet nie of dit vir Kotie Davel, vir oom Dolf en tant Maria, vir Barkus Hoon, of tog maar vir Cornelia is nie. Alles is voel verkeerd en deurmekaar.
Dis vir Cornelia wat hy onafgebroke voor hom sien. Dit is asof sy haar hande na hom uithou  en hy weet nie hoe om haar te help nie. Wat is tog verkeerd met sy mooi niggie?. Sy het dan alles. Waarom is sy ongelukkig?
Tot Naas se verbasing kom Barkus Hoon daardie nag wr na die solderkamertjie. Naas, wat reeds ingesluimer het, word wakker as Hoon se groot lyf langs hom op die matrassie neerplof en hy kan daarna nie weer slaap nie. En Barkus Hoon slaap ook nie. Die geringste geluidjie wat hy hoor, dryf hom na die soldervenstertjie. Hy is bang en weet nou nie waarheen nie. Naas, sy maak nie reg met my nie, s hy oor en oor. En Naas kry die naewe man jammer. Hy is tog net n groot kind.
Toe Naas met die eerste lig van n nuwe dag wakker word, dring dit tot hom deur dat hy tog aan die slaap geraak het. Want Barkus Hoon is skoonveld weg. Hy moes een of ander tyd opgestaan en weggesluip het  net so spoorloos soos wat hy hier aangekom het.
