Hoofstuk 6
Oemfaan, die wit bul, wei nie meer saam met die beeste nie, maar is nou pal in n hok langs die kraal. Daar hoor Naas hom soms bulk, so al of hy sy tweevoetteenstander aan sy teenwoordigheid wil herinner. Naas werk nou saam met Stefaans en Windvol op die landerye aan die oostekant van die opstal, onderkant die grootste fontein. Die koring staan groen op die land en die akkertjie groenmielies begin opkom. n Deel van die land moet voorberei word vir aartappels, pampoene en ander tuingroente  n werk wat hulle dae lank besighou. Eers ry hulle mis in, dan word die stuk grond met n eenskaarploeg en vier osse omgeploeg en dan kan hulle vore trek en gate maak vir die plant.
Daar word nie groot gesaai nie. Dit is bloot net vir huisgebruik en om die diere deur harde winters van kos te voorsien. Veral die natleilande moet hulle nie groter aanvoor as wat hulle kan behartig nie.
Nee wat, om jouself ryk te wil boer is hier buite die kwessie. Daarvoor is ons water te min en sit ons sonder n mark. As ons ook soos sommige mense water het om te mors  gesels oom Dolf soms skimpend wanneer hy op die land kom. Maar hy noem nie Kotie Davel se naam nie.
Oom Dolf vra tog soms verlangs uit na die boerdery op Mooifontein. Naas vertel gedienstig.
Duiskoring, ja. Met duiskoring kan n man boer. Daarvoor is daar n mark in Johannesburg al is die ry soontoe n ver ent. Ja, die uitlanders daar sal alles opvreet wat ons kan lewer. Ag ja, had ek nog die krag en gesondheid en die water! bekla oom Dolf sy lot.
Naas betrag oom Dolf tersluiks. Hy weet nie hoe oud sy oom is nie. Maar oom Dolf lyk soos n ou man en dit kom voor of dit vir hom n inspanning en n straf is om net n wyle hier op die land te staan.
Stefaans behartig die boerdery en voer bevele na sy vermo uit. Naas is aanges om hom aan Stefaans se gesag te onderwerp. Hy hou van ploeg en plant. Hy sien sommer vergesigte wanneer hy die krummelrige, ryk grond voor die ploegskaar sien omtuimel. Wat hulle geplant of gesaai het, kom so mooi op; staan binne n paar weke blougroen op die land.
Weet jy, Stefaans, ons kan baie meer lande aanl. Mens kan nog daar en daar en daar ploe, stel Naas na n goeie reent in vooruitsig.
Daarvan wil Stefaans egter nie hoor nie. Nee, ou Naas, laat daar halt geroep worre. Ons plant om te eet en te h vir die winter. Ja-nee, genog is genog. Dit sal ouseur Dolf ok vir jou s. Nout ons allie saadgoete in. So sal ons een van die dage moet kom skoffel. Dan roep die koring al klaar weer om gesny te word. Dan is dit katstaan op die dorsvloer, are trap en wan en al die dinge. En dan skrou die ounooi nous dit perskedrotyd. Nee gaats, sos dit is, is dit net werk vir die pens van sonop tot sononder, sonder ophou. Nee, gaats!
En dit is soos Stefaans s. So gou as wat die eerste grondboontjie of pampoen sy groen blare wys, staan die onkruid om hom: uintjie, suring, klitsgras, hondebossie, misbredie, kakiebos, knapsekrel 
Al ou Daantjie Knakstert se gesaaides, kla ou Stefaans.
Soms daag Cornelia by die land op, waar ook al hulle doenig is. Hoe lyk dit, Stefaans? Ma vra of julle die onkruid wen? sal sy vra.
Wen, sal ons hom nie wen nie, Nonnie. Die goete wat ou Daantjie saai, is gesaai om te bly. Maar ons wikkel hom, s vir die Ounooi. Die skoffelpik wikkel hom; dis by die beddings waar dit rugbreek gaat, lewer Stefaans verslag en kry n hand vol twak.
En jy, Naas? Is hy darem fluks, Stefaans?
Nee, hy kan pass. Hys darem n voorslag, prys Stefaans.
Cornelia vertrek te gou. Want dit is vir Naas lekker om haar daar te h. Hy sien haar min. Tog is sy altyd vriendelik, so of sy ook bly is om hom te sien. Hy vergeet hy is jonger as sy, vergeet hy is wanstaltig. Sy geneentheid vir Cornelia laat n gevoel van manlikheid in hom opwel; laat hom fors en aantreklik voel. Saans alleen in sy solderkamertjie dink hy onwillekeurig aan sy mooi niggie en spoel daar n teer vreugde deur hom.
Noudat hy nie meer beeste oppas nie, is Sondae besonders. Dan word nie op die landerye gewerk nie. Naas stap rond in die bos. Hy gaan lande toe, loop elke fontein na, verken na die weste, waar die sonderlinge klipaar kilometers ver na weerskante strek en na die noordekant byna n rantjie maak. Daar, min of meer, is n niemandsland, en daarvandaan strek die Tswana-gebied, Polfontein.
Een Sondagoggend kondig Cornelia aan: Ek gaan vir vriende kuier. Ry saam met my, Naas. Toe, jy kan Kordaat ry.
Naas huiwer, vir die oomblik lugtig vir die perd. Hy het nog nie van tevore
perdgery nie. Willem Bessemer het n ryperd gehad en Basie ook. Freek het met enigeen van die perde gery, maar Naas is nooit toegelaat nie. Jong, n perd skaam hom vrek met jou op sy rug, het Basie graag gekwets.
Op pad is Cornelia strelend gesellig. Sy gesels oor haar twee perde. Vir Bordeaux moet n man jou sit ken. Hy is maar vol dinge. Maar ou Kordaat is dierbaar. Ek het op hom geleer perdry en ek het gou agtergekom hy was banger as ek dat ek sou afval, stel sy Naas ook gerus.
Hulle ry myle ver sonder om n opstal raak te loop. Op n stadium gaan hulle by n plaat bome links van die pad verby en sien Naas, in n oopte omring met n sirkel wag-n-bietjietakke, n enkele grasdakpondok langs n garingboom staan. Oom Staag Lemier bly hier, vertel Cornelia. O, vir hom moet jy ligloop. Ek het gehoor hy toor mens as hy nie van jou hou nie. Sy lag te lekker en s so sy glo dit nie. Tog is daar iets in haar lag wat n onrustigheid in Naas laat opwel.
Na goed meer as n uur se ry, hou die bosse skielik op en kom hulle op n plaaswoning af. Beeste bulk iewers en hulle hoor af en toe klokke tussen die bosse lui. Toe kom honde hulle blaffend, stertkwispelend tegemoet, bly om kuiermense te ontvang.
Pa, Ma, Santie, hiers Cornelia; syt vir ons kom kuier! skree n kinderstem. Toe peul die hele gesin by die agterdeur uit. Naas skrik hom koud. Behalwe vir Santie, wat hy op Mooifontein leer ken het, is daar n hele swetterjoel jonger broers en susters, die jongste n waggelende, laggende kleuter so pas uit sy doeke. Dit kom voor Cornelia is hier baie gewild.
Hulle bly tot laat die middag. Cornelia kuier te lekker. Almal is altyd om haar. Almal wil naby haar wees, met haar gesels en Naas kom agter hoe gelukkig dit haar maak. Sy is spraaksaam, vol lag en skerts, gevat soos hy haar, of geen vrou, nog gesien het nie.
Hulle sit die middag aan vir n egte boeremaaltyd  skaapkotelette en vars klein aartappeltjies, die soetste pampoen; vir n nagereg die heerlikste souskluitjies  lekker soos Naas se ma dit nog gemaak het toe hy baie klein was.
Die middag speel hulle speletjies. Naas is deel van alles, tog nie deel nie. Hy probeer, maar kan met die beste wil in die wreld tog nie inpas nie. Hy is so bewus van sy andersheid, dat dit steurend is. En hy merk dit in die dogtertjies se huiwerigheid. Cornelia stel egter die voorbeeld. Toe hy haar een keer moet soen en hy haar skugter, byna bang nader, trek sy hom nader en gee hom n klapsoen onderwyl haar o vir hom s om uit sy dop te kruip.
Toe een van die seuns voorstel die seuns moet in n kuil daar naby gaan swem, is hy verskrik. Cornelia s egter: Gaan swem jy ook, Naas. Toe, jy sal dit baie geniet. Vir n oomblik huiwer hy, maar sy sit haar voet neer: Jy gaan swem omdat ek so s. Toe, luister nou vir my! Haar stem is kamma kwaai, maar vol deernis.
Hoe nader hulle aan die kuil kom, hoe groter word Naas se huiwering. Hy sal sy klere moet uittrek. Naas onthou wat Basie destyds ges het toe hy die eerste keer sy hemp voor sy stiefbroers uitgetrek het. Basie het hom grootoog aangekyk en uitgeroep: Magtig, jong, jy lyk soos n koringkriek wat net klaar gevervel het!
Naas vrees Basie se afknouende kritiek nou weer. Sy klere steek sy wanstaltigheid in n geringe mate weg. Maar wanneer hy naak is en mense sy boggel en die snaakse vorm van sy bors kan sien, volg uitroepe en aanmerkings gewoonlik spontaan.
Hulle bereik die water. Van die seuns is al halfpad uitgetrek, gooi klere weg en plons in die kuil. Dit gee Naas ook geleentheid om sy hemp en broek vinnig uit te pluk voordat een nog mooi genoeg kon kyk om n aanmerking te maak. Toe swem hulle, ravot hulle in die water.
Die seuns baljaar te lekker. Ook Naas plons rond, lag en geniet  maar sorg deurgaans dat net sy kop bokant die water uitsteek; altyd met die vrees vir die oomblik wanneer hy noodgedwonge uit die kuil moet kom en daar n oog op hom val. Dan sal hul vriendelikheid oombliklik oorslaan in afkeur, verbasing en verkleinering, weet hy.
Die eerste seun klim eindelik uit. Daarna volg een na die ander. Hulle staan by hulle klere, trek aan, gesels en skerts baldadig soos net seuns kan. Naas huiwer in die water. Die vrees stapel in hom op. Hy is soos iemand wat die brandstapel moet bestyg. Giep, een van die ouer seuns, skree n paar keer: Naas, wanneer klim jy uit? Die aandag word so op hom gevestig; juis iets wat hy wou vermy.
Dan skraap Naas genoeg moed bymekaar om uit die water te kom.
Haai, kyk sy rug, skree een van die kleineres verwonderd. Kyk net die 
Hou jou bek, Braam, ek moker jou! dreig Tol, die oudste, woedend.
Maar kyk! Hyt n yslike 
Tol klap klein Braam dat hy hik. Toe, ons is nie niksgewend nie. Sy o gluur woes oor sy broertjies. Toe, die een wat weer sy bek oopmaak, moker ek!
Naas het intussen die hemp oor sy kop gekry; pluk sy broek aan, sy o afgewend. Hy is opeens weer afgeslote, eensaam, n voorwerp van smaad en afkeer, jammerte, spot 
Die seuns gaan terug huis toe. Tol, wat waarskynlik bevele gekry het om Naas te beskerm, stap langs hom. Die jonger seuns is agter hulle. Naas voel hulle o op sy mismaakte rug. Hy hoor hulle sagte gebabbel; hulle geskater. Hulle bespiegel oor sy misvorming, glo hy. Dit gebeur altyd en hy sal dit nooit gewoond raak nie.
Toe hulle tuiskom, is Bordeaux en Kordaat reeds opgesaal; wag Cornelia net dat hy moet kom. Haar o glimlag in syne. Lekker geswem? vra sy.
Ja, baie, jok hy ten dele. Hulle groet en vertrek.
Cornelia, nou met n ander pad as met die komslag, ry n groot draai, rakelings verby n tamaai groot swart stat, waar die huisies sonder plan wyd om n groot pan met n eilandjie reg in die middel hurk. By een s n hut met n groot lapa daarnaas, gaan sy aan.
n Ou, ou man kom op n geraamte van n perd verbygery. Hy groet en hy en Cornelia wissel n paar woorde in sy taal onderwyl hy Naas onderlangs uit halfversluierde o betrag. Naas gril onwillekeurig. Die oumens is lelik met sy sku, onderduimse o en sy onderlip wat hang asof dit n vis aan die hoek het.
Vir Naas wil dit voorkom of die ou man hom spekulerend en vermetel aankyk. Hy merk hoe die ou man se rooideuraarde, leperige o sku wegbeur; sy vallende ooglede subtiel, skuldig, sy allig duistere motiewe versluier. Hy verbeel hom dit dalk, maar vir n oomblik is Naas oortuig dat hy in die onheilige dieptes van boosheid gestaar het, boosheid wat sy verstand te bowe gaan. Naas ril sigbaar en is opeens bang.
Cornelia uiter n kort senuweelag. Die ou Mtwetwe verbeel hom mos ek is sy peetkind, s sy byna verskonend.
Op pad huis toe is Cornelia buitengewoon stil en in haarself gekeer. Sy hoor selfs nie toe Naas een of twee keer oor Santie uitvra nie. By oom Staag Lemier se plek verby, kry hulle die ou man in sy hek van kromhoutpale staan. Hy lig n hand in groet. Hulle ry voort. Naas kyk onwillekeurig terug; sien oom Staag kyk hulle agterna.
Oom Dolf Bodemer bring twee dae later die blok van n man by die huis aan. Barkus Hoon, bly te kenne, stel di hom aan Naas voor en gee hand in n greep wat die seun byna laat gil van pyn.
Kom help jou en Stefaans boer, s oom Dolf. Nout jy n maat. Hy slaap ok in die solderkamer. Hm-m  Hys nou julle voorman. Luister vir hom, hoor. Jy ok, Stefaans.
Barkus Hoon glimlag, grinnik goedig, beamend. Hy is die grootste man wat Naas nog gesien het. Sy hare het die kleur van ryp koring; sy baard is n skakering of wat donkerder. Baard en hare krul welig, wat, gepaard met sy groot blou o, hom n voortreflike voorkoms gee ten spyte van sy gehawende klere en die verslete velskoene aan sy kouslose voete.
Hulle werk die dag saam op die land. Naas ken geen rus of duurte nie. Hoe gaan hulle in die solderkamertjie bokant die stal ingepas kom? Moet hulle albei op die smallerige matras slaap, of sal tant Maria sorg vir nog n matras? Die blote gedagte dat hy sy dae en nagte met die vreemde man moet slyt, maak Naas ongedurig. Hy kan nie. Hy voel al klaar ingekerker, in n hoek vasgekeer. Hy wil die veld, die vlakte in waar daar ruimte is.
Toe hy heel klein was het hy en Ousus saam in een bedjie geslaap. Maar hy was n seuntjie en Ousus het hom beskerm teen alle gevare, het hy geglo. Toe Ousus weg is  Dit was van toe af dat hy die vreeslike vrees ontwikkel het. Hy, Freek en Basie moes saam onder een velkombers slaap. Naas moes in die middel l. Toe die ander twee sy doodsvrees vir versmoring eers agterkom, het veral Basie n punt daarvan gemaak om hom te treiter deur die kombers te hoog op te trek. Die hel van daardie vrees, daardie nie asem kry nie, wil hy nie weer beleef nie.
Hy dreig om sy nood by Cornelia te gaan bekla, maar kry haar nrens te sien nie. Die aand boer hy tot laat buite. Hy is gedurig naby die stal, hou die staldeur pal dop. Eers hier naby middernag waag hy dit die stal binne  en tref hy die solderkamertjie verlate aan.. Naas slaak n sug van verligting. Hoon is nie hier nie. Tant Maria het ander slaapplek vir hom, glo Naas.
Maar toe hoor hy Barkus Hoon luidrugtig by die perde. Toe kraak die leertjie. Hy fluit vals, maar hard, lag dan sy gul, selfversekerde lag.
Hoes dit, buurman? vra hy. Maak tog plek vir n moe man. Hy voel-voel na die bedjie.
Naas beur weg tot teen die muur. Daar haal hy skaars asem. Die groot man gaan sit op die bed, trek sy skoene uit, kruip in en kriewel n gerieflike lplek met sy groot liggaam.
Is jy wakker? wil hy weet. Maar Naas, allermins in die stemming vir geselsies maak, gee voor om reeds diep te slaap.
Barkus Hoon vra gaandeweg uit oor die ou Lospers, oor Doornrug. Naas antwoord die noodsaaklike, maar is beskroomd om te vriendelik met die groot man te word. Iets in Hoon se houding maak hom lugtig vir di vreemdeling.
Toe sien Barkus vir Cornelia. Sy kom op n dag met n boodskap vir oom Dolf op die lande aan; vra dan oudergewoonte uit oor die gesaaides en die vooruitsig van die oes.
En di stuk, wies sy? vra Barkus, en Naas kan die attensie in sy stem hoor.
Van di dag af het hy baie te bespiegel oor Cornelia en word die onrus in Naas soos n immer teenwoordige koue vuis op die krop van sy maag.
Oom Dolf maak weer en weer n draai op die land. Hy bespreek die werk met Barkus. Die koring word kol-kol geel. Die weer hou ook nog, maar vir hoe lank dit s gaan bly, kan n mens nie s nie. Hulle moet, waar dit ryp word, die koring begin sny, gerwe pak.
Jy s jy ken die werk, Hoon? konstateer oom Dolf. Kan jy mied pak?
Kan ek mied pak, Oom! Hoe dan? Barkus lag.
Hulle vaar die land in met sekels. Saam met Stefaans en Windvol is hulle vier. Toe! Toe  julle is mos nie ouvrouens wat op julle hurke sit en werk nie, daag Barkus hulle van meet af aan.
Barkus Hoon wei behoorlik in sy vak. Hy voor brer as die ander aan, sny dan nog onder hulle uit. Naas doen sy bes om by te bly. Dis nuwe werk vir hom en sy rug dreig om in sy kruis af te knak. Sy knie vou van die krom staan. Hy kry n pyn in die kuiltjie agter sy kop en sy o raak stram in hul kaste. Die hitte wurg in sy keel en by tye word hy so duiselig dat hy vrees die aarde gaan op hom val. Maar hy doen sy bes om by te bly.
A nee a, my tattas, moet ek die vrouens loop roep? Toe, ek wil die sekels hoor sing, moedig Barkus die agterblyers aan.
Teen eenuur rus hulle. Hulle l onder n appelkoosboom op die maanhaar  die riffie tussen twee aangrensende lande. Barkus lyk nog net so vars soos vanoggend. Naas voel hy sal nie hier kan opstaan nie. Stefaans en Windvol l daar eenkant stom. Barkus gaffel n pruimpie uit n snuifblik.
Hoe lyk dit, ou Stefaans, gesels jy nie met n pypie nie? Het jy dan nie jul soort twak nie? vra Barkus gul.
Boom, Seur? Nee  dis neukery soek. Nee, sjuts, ons wil nie vol malligheid rondloop nie. Ons peusel maar aan die Boertwak.
Maar dan kom ou Stefaans tog met n hand vol van die groen blaartjies. Net n ou opteltrekseltjie, maak hy verskoning.
Barkus Hoon stop sy pyp. Die soet stank van die dagga vul die lug onderwyl Barkus diep skuiwe trek, dit behaaglik uitblaas. Daarna is hy nog meer op sy stukke, vol praat en kwinkslae.
Daardie mooi stukkie meisiemensvleis, s hy oor en oor. Met haar wil ek nog n ding h; sy loop glad te los.
En nog later word hy stil, stil soos n onweer wat opsteek.
Laat die middag begin hulle die koring in gerwe bind; pak Barkus dit in miedens op die maanhare. Hulle moet gedurig bedag wees op die stand van die weer.
Barkus wys Naas hoe om n gerf te bind en hoe om n mied s te pak dat die koringare aan die binnekant teen n helling l en so  selfs al kom n kwaai reent  teen klammigheid beskerm word. En dan natuurlik moet die mied op n knop kom, nooit in n duik nie.
Oom Dolf is baie in sy skik met sy nuwe kneg. Die man kan alles doen. Selfs toe die bulkalwers reggemaak moet word, weet hy net hoe.
Nee, hy is n voorslag, s oom Dolf aan tant Maria. Ons moes al lankal so n hulp gehad het.
Maar wanneer Cornelia in die omtrek is, loer Barkus byna onafgebroke in haar rigting. Naas merk dit en dit ontstel hom. Cornelia het vir hom soos Ousus geword. Hy sal Piet Gunter nie vergeet en ook nie vergewe nie. Hy het aanvanklik so vir Ousus geloer, destyds 
Sys n mooi ding. Sys n dm mooi ding vir so n lelike ma. Ja, met haar wil ek nog n potjie loop, skimp Barkus kru, en lag sy kort, inskiklike laggie. Of wat s jy, ou grote?
Naas het niks om te s nie. Daar kom n kommertrek op sy skerp gesig. Saans voor Barkus kom inkruip in hul solderkamertjie, broei Naas oor di bedreiging. Hy klem sy hande in vuiste. Ek vermoor hom. Ek sal hom wragtig vermoor! s hy aan homself. Cornelia is sy onbesproke blydskap, verhef bo die alledaagse  en die gedagte aan Hoon se hardhandige kruheid laat hom sidder. Barkus Hoon word n steeds donkerder onweerswolk op sy lewenspad.
Maar op n dag in die koringland, onder n bloedwarm middagson, toe nog net die laaste koring n yl strepie op die lande staan, word Barkus siek. Hy het die oggend al gekla van hoofpyn, al meer in homself gekeer geraak, stadiger geword in sy bewegings, so asof sy gees nie altyd is waar sy liggaam is nie.
Naas skrik hom boeglam vir die ontstellende brulgeluid hier langs hom. Toe sien hy hoe slaan Barkus neer. Sy hele lyf, maar veral sy arms en bene, ruk en sy o keer wild om. Dit is asof Barkus in die greep van n duiwel is en Naas is te verskrik om te help, of hulp te gaan soek.. Hy sien hoe skuim om Barkus se mond vorm. Die man gaan dood!
Christenmens, die man kry ritteltits! ontplof Stefaans. Hol  Maar toe besluit hy om self te hardloop.
Toe tant Maria uitasem opdaag, het die rukkings reeds bedaar. Maar die bloederige skuim staan nog om Barkus se halfoop mond. En hy verkeer in n diep slaap, kom dit voor.
Kry hom in die koelte, beveel tant Maria en dop sy ooglede om. Stefaans, Windvol, sleep hom tot onder die appelkoosboom. Mensig, die arme sot het sy tong vol gate gebyt!
Tant Maria vee die skuim om Barkus se mond af. Dis wat julle moet doen. Sy praat met Naas. As julle gewaar hy kry n aanval, kry sy tong onder sy tande uit. Kry n ding, net nie julle vingers nie, tussen sy tande en kry sy tong uit sy mond uit. Dan draai julle hom so dat hy nie sy tong insluk nie. Ek het al gesien hoe so n mens doodversmoor van sy tong in sy keel as hy siek word.
Barkus haal nog swaar asem. Na nog n ruk maak hy sy o oop. Maar sy o is slap en dit lyk of hulle nie fokus nie. Die groot man is soos n weerlose kind.
Barkus? Barkus? praat tant Maria met hom, maar hy hoor haar nie; l net daar met o wat sonder begrip staar. Eindelik is hy weer by sy volle positiewe. Hy kom halforent en betrag die mense om hom asof hy hulle van geen kant ken nie.
Hoe voel jy nou, Barkus? vra tant Maria.
Sjoe, my kop! kla Barkus. My kop wil bars so seer is hy.
Naas, bly hier by hom tot hy heeltemal reg is, beveel tant Maria. Dan kom julle huis toe.
Naas sluk. Hy s nie ja of nee nie. Hy is opeens doodsbang vir hierdie Barkus Hoon  die eens gemoedelike man wat, soos dit nou vir Naas lyk, die Duiwel met hom saamdra. Barkus kom eindelik orent en staan dan dronkerig rond.
Voel jy nou beter? vra Naas. Tant Maria het ges jy moet kom medisyne drink by die huis.
Seblief nie weer hoendermis op bokmelk nie. Daarvan het ek al oorgenoeg gehad. Ek kan al kekkel, s Barkus, skielik n nederige mens.
Hulle stap huis toe. Naas hou n veilige afstand tussen hom en Barkus. Hy hou Barkus goed dop, gereed om gou en ver te spring as die Duiwel die man weer pak. O, hy wil nie in daardie groot, klemmende hande beland nie!
Die aand toe Naas in sy solderkamertjie kom, kry hy Barkus daar. Ek moet in die kooi bly. Ou ta Marja se orders. Sy s dis goed ons slaap saam, want dan is hier dadelik iemand as ek die ritteltits kry. Ek het gevra of ek nie my eie lplek kan kry nie. Maar sy s nee, jy moet altyd naby my wees. Hel, ek wens jy was daardie Cornelia-meisiekind van haar.
Naas verbleek. Hy s voorlopig niks. Hy voel nou eers vasgekeer. Die bed is so skraps. Ek sal op die vloer slaap, besluit hy.
Maar daar is net een kombers en een matras. En as Barkus n aanval kry en vir hom, Naas, vasdruk, sal niemand hom hoor roep nie. Hy het hoegenaamd nie raad vir homself nie.
