Die goeie ou dae
Waar is die goeie ou dae toe daar onder ons boeremense geen standverskille was nie? hoor ek mense vra. Ek moet lag. Nrens anders is die stand en afstand so deeglik bewaar as juis onder die boeremense nie. Wie het onbeskaamder uitgevra as n boer-pa wanneer n vryer sy ryperd se teuels oor die tuinhekkie kom gooi? Die afkoms, die voorkoms, die heenkoms is eers tot die vaagsels gepluis voor hy kon waag om sy perd af te saal.
Die boeregasvryheid was wel daar, dis waar, maar elke boervrou het geweet vir wie sy dro beskuit en vir wie sy waat-lemoenstukke by sy koffie voorsit. Sy het geweet vir wie om in die stoepkamer bed op te maak en vir wie di in die vrykamer met die gestyfde kussingslope en die bulsak. Trouens, sy het geweet wie net op die voorstoep ontvang word, wie in die eet-kamer en wie in die sitkamer met sy familieportrette, pluim-gras en fluweeloortreksels.
Ek het nog die voorreg of die agterstand gehad om onder die laaste oorblyfsels van die ou feodale stelsel van die platteland groot te word. In daardie dae was n boer nog boer; nie n huur-der, n voorman, n rustende bankbestuurder of n mynmagnaat nie, en as boerderysake onder bespreking gekom het, het hy van laasgenoemdes geen notisie geneem nie. Hulle seuns sou hy nie as geskikte huweliksmaats vir sy dogters beskou het nie.
n Boer was n man met een groot, aanmekaar stuk aarde en n paar los lappe grond wat hom uit aangetroude erfenisse toe-geval het. Dit het hy losweg bestuur deur plaaswerkers en by-
woners. Bywoners was nie plaasbestuurders nie, hulle was mense wat in die uiterste armoede met n waentjie en n paar stukkies los goed kom plek vra het. Naby n spruit of dam is hulle dan toegelaat om n sooihuisie op te rig of n leegstaande een te betrek. Die boer leen hom n spannetjie jong osse wat hy gewoonlik eers moet leer, n paar akker land, n ploeg en moontlik n melkkoei, en daarmee moet hy inval. Van wat hy wen, kry die boer n deel, tot soveel as die helfte. As hy niks wen nie, is dit n haglike toestand, want van n geskrewe oor-eenkoms was daar geen sprake nie, van kontantbetaling nog minder.
Ek het eindelose redenasies op die voorstoep aangehoor tussen my stiefoupa en bywoners wat die jaar onderdeur ge-kom het, soos hulle dit genoem het. Dan moes so n man by my oupa kom geld leen om die res van die jaar mee uit te kom. Op die uiterste sou hy daarvoor twintig pond durf aanvra. Hy sou n roerende pleidooi moes lewer, sy borge moes honderd per-sent wees en sy gesig nog beter, soos n hulpbehoewende by-woner sn behoort te wees, voordat my oupa toestem. Agterna sou hy iesegrimmig aan my ouma s: Ek het die lunsriem maar twintig pond geleen, op lewenslange uitstel, sonder rente. Die oomblik dat hy kan terugbetaal, sal die plek waar die bondel-tjie l, begin te jeuk. Dit was die grondige waarheid en ook die bywoner se enigste wapen. As hy naastenby die geleende geld bymekaar het, ontwikkel hy allerhande griewe, trek hy haastig en skielik na n ander boer. Daar was mense wat sulke bywo-ners laat vang en uitverkoop het om die skuld te vereffen, maar dit, so het my oupa geglo, was om die voorslag te dun uit te haal.
n Bywoner moes nie wou lol om self vooruit te boer en n bietjie aanteelvee bymekaar te kry nie. Ta se some word te breed, hoor ons, en Oupa ontwikkel dan op sy beurt allerhan-de griewe om van hom ontslae te raak. Sy kanse om by iemand anders plek te kry, was dan skraal. Die enigste wat n ryk by-woner sou aanneem, was n skelm boer wat hom gou-gou deur onverhole bedrog van sy suurverdiende opspaarsels beroof het.
n Jaar of wat later kom dieselfde bywoner dikwels weer terug by my oupa, so kaal soos sy hand; griewe is vergeet en hy ewe gewillig om voor te begin. My oupa was deur ryk en arm gere-spekteer omdat hy weet hoe om met bywoners te werk.
Die bywoner en sy gesin het verder van gunste en gawes uit die boer se huis gelewe. Jy moet iets h om aan die armes mee te deel, het die boere volgens Bybel geglo, en daarom was die hand wat kos aanbetref betreklik oop, maar ek dink dit is waarskynlik by die gesindheid waar n bywoner se toekoms beslis is, waar hy sy waardigheid as mens gewen of verloor het.
Die eerste het gebeur by n vrou soos my ouma. Die bywo-nersvroue het partykeer kom help met die perskedrory, die slagtery of die inmaak van vrugte. Met die groot verjaarsdag-vierings van my oupa waar daar maklik tweehonderd mense by die lang dresseltafels aangesit het, het hulle voor die tyd kom hand bysit. Hier het party van hulle vir die eerste keer geleer hoe om fyngebak uit te rol, koeke te versier, wildsboude te lar-deer en slaaie en groente keurig voor te berei, want my ouma was n kok van naam. Die kalkoene is by die dosyn soos duiwe in die groot seeppotte buite gebraai, die speenvarke soos brode in die buiteoond gebak en die melktertvulsels emmergewyse voorberei. Sy het hulle van medisyne en tuisverpleging geleer, want sy het meer as die gewone mens daarvan geweet, maar hulle bowenal soveel respek betoon dat hulle adel ook in ar-moede aangeleer het.
My ouma is l vrou wat ek in daardie jare geken het wat nie n sitkamer gehad het nie. Almal  ryk, arm, goed, sleg  is in die groot eetkamer ontvang. En hoe arm was die armes nie toe nie! Ek sien hulle nou nog voor my: die skeef gewaaide, tande-lose vroue, die klein kindertjies met hulle gebarste, skurwe voetjies, sisrokkies en konsentrasiekampkappietjies wat ver-dwaas om die groot eettafel kom sit en koffie uit die vergulde koppies drink. En tussen hulle my ouma, die rustige vrou wat in almal net die beeld van God kon sien. Toe een van die bywo-ners op n keer aan longontsteking op sterwe l, het sy by hom gaan waak, soos sy by die voorstes van ons kontrei gaan waak
het. My ma was toe n dogtertjie van twaalf jaar oud en moes saam, want, het my ouma ges, alle mense, ook kinders, moet weet wat die dood is, sodat hulle daarna kan lewe.
Daar was, soos op alle groot plase in di tyd, n skool op my oupa se plaas. n Plaasskool was iets wat jy daargestel het, in n groot mate ook om bywoners na jou plaas te trek, en juis in di skole het, sonder dat ons dit besef, die eerste snykant tussen ryk en arm afgestomp geraak, die ou feodale stelsel sy eie on-dergang bewerk. Natuurlik is my broer en suster wat nog daar skoolgegaan het deur die onderwyser voorgetrek. Hy het op slot van sake self in een van my oupa se huise gewoon en by hom geld geleen om n motor te koop. Maar toe reeds kon nie-mand Totius se Blomme, blomme duisendkleurig so mooi ops soos Wylie, die bywonersdogter nie; niemand kon hoof-rekene doen soos Biel, my oupa se hoofbywonerseun nie, en Koekie het toe al op die dorpskool se sports gaan hardloop. Smiddae het Links my broer en suster n ent in hulle donkiekar laat saamry teen betaling van n sny brood met regte botter daarop.
Toe ek vyf jaar oud was, het ek Plankies, n groot puisiege-sigseun, aanbid. Hy het my altyd kom optel as ek in n plaat duwweltjies  vassit.  Want,  s  hy  dan,  nee  wat,  ou  Dtie, duwweltjies maak my niks, ek het my onsigbare newwies aan. En wie weet of Lodewyk nie, as die feodale stelsel hom nie vasgehou het nie, tot een van die grotes in ons digkuns kon ontwikkel het nie. Dit is hy wat vir Bettetjie, n mooi gestoelde dogter,  tot  raserny  kon  dryf  met:  Bette  kertte  kerietstiek
stan, sy het haar ma se bloemer an.
Oor die groot oomblikke van die lewe was die bywonerkin-ders altyd veel beter ingelig as ons. Dit het die groot moles van my broer en Pen bewys. Pen was toe al n man wat sy dons-baard wou skeer en my broer skaars dertien.
Rondom die statige ou tuin met sy lemoen- en granaatbome was daar n gepleisterde klipmuur, en hierop het Pen vir my broer met groen granaatjies gellustreer dit wat ons nou maar die biologiese stappe in die voortplanting van die mens sal
noem. Hy het die plesierigheid met lewensgroot figure afgete-ken en sommer die name van allerhande bekende grootmense op die plaas onder die figure neergeskryf. Pen het eerlik ge-meen dat hy die strepe sal kan doodvryf wanneer die granaat-sap droog is, maar so het dit nie gebeur nie. Twee dae later, toe my oupa in sy Hupmobile van die dorp af terugkom, kry hy by-na n toeval toe hy die liederlikhede in helder bruin strepe op sy vaal tuinmuur sien, nogal so reg in die gesig as mens om die draai by die werfhek kom. Die twee het elkeen n verskriklike pak slae van hulle onderskeie ouers gekry, maar geen geskrop van watter aard ook al kon die mure skoon kry nie. Tot ek, wat nog nie kon lees of skryf nie, het veel meer van die aanduidings verstaan as wat vermoed is. Die muur moes inderdaad spierwit afgekalk word om die onreinhede te bedek.
Die Depressie wat soveel Afrikaners ondergeploeg het, het juis aan hierdie bywonergesinne die uitkoms besorg. Baie van hulle het in daardie tyd dorp toe getrek en, gewoond aan ar-moede en onreg, daar n beter bedeling gevind. In later jare het ek baie van ons plaasskoolleerlinge raakgeloop  ordelike, voorstedelike Afrikaners. Dit ontroer my altyd diep dat ook hulle van die ou bywonerdae aangename herinneringe oorge-hou het: Ja, jou ouma en oupa  hulle soort sien n mens van-dag nie meer nie  ware ou aristokrate. Iets positiefs was daar dan tog in die hele ou stelsel.
Ek weet nie of ek my stiefoupa streng gesproke n aristo-kraat kan noem nie. Daarvoor het sy o alte onheilig geglinster wanneer hy die konsertina so laat bibber op n walsdraai, daar-voor kon hy n pruimpie te sekuur wegspoeg met n l daar, jou galpil, en het hy sy rieme te breed uit andermansvel kon sny. Met sy vinnige bruin ogies, bokramkuif en Jopie Fourie-snor het hy in sy regop leunstoel op die bre voorstoep gesit. Die swartes moes met klippies verslag doen van koeie en kal-wers in die vele kampe van n uitgestrekte koninkryk. Langs hom op die stoeptafel staan sy twaksak, die kleipot met fon-teinwater, die Boerealmanak en Die Kerkbode, en tussen hierdie vier hoekstene van die beskawing kon hy van die nederigste tot die vernaamste besoeker hanteer.
As ons vir hom genoeg hoendervere bring om sy pyp mee skoon te maak, speel hy vir ons op die konsertina of vra hy vir ons raaisels: Keiser Karolus had een hond, Also heet die hond. Ik geef jou die raaisel in die mond, hoe heet die hond? En ek kon nooit verstaan waarom hy di een: Om het nekje ge-grepen, oor het pensje gestrepen, o, my liewe heugie, uit die gaatjie kom die vreugie, met so n onfatsoenlike grinnik in sy baard kon vra nie, terwyl die antwoord tog maar net n viool was.
Voor hy saans inkom binnetoe, was dit ons voorreg om sy voete vir hom in die voetbadjie te was. Smiddae aan tafel, nadat hy vir almal ingeskep het, neem hy n bordjie, skep n groot skep mielierys en pampoen daarop, meng dit, druk n holte met die lepel bo-op, drup dit vol sous en sit dit langs sy stoel neer vir Swartland, die tamaai ou swart kat. As hy dit klaar geet het, is ou Swartland te dik om hom uit te rek en sit hy n lang tyd met giftige groen o onder die tafel sy kos en verteer, ter-wyl sy oubaas onder ligte middagsnorkies op die springbok-leersofa in die donkergemaakte eetkamer dieselfde doen.
Ek het my oupa nooit harde werk sien doen nie, nooit son-der sy onderbaadjie gesien nie. Een van die bywoners moes sy hare en snor vir hom top en sy toonnaels vir hom regsny  alles dinge wat nogal handvaardigheid vereis het. Maar hy was soos die boer van sy tyd oppassend tot in die geringste. Vuurhou-tjies het hy nooit weggegee nie en dit was n groot present vir n werker om twee vuurhoutjies en n stukkie swael so groot soos sy duimnael van die oubaas te kry. Hy het niks groter as n sjieling in sy beursie gedra nie en ons skoene versool met klinknaels en ysterprotektors om dit langer te laat hou.
Beeste brand, skaap skeer, rieme brei, water lei, dit het hy alles van die sykant af met sy bywoners en swartes bestuur. Be-langrik was die dag wat hy ingaan dorp toe om sy mielies of wol by Cohen te gaan verkoop. Hulle beraadslaag n hele dag lank oor die prys, en ek dink my oupa sou bitter ongelukkig ge-wees het as hy moes dink mense soos genl. Hertzog en dr. Malan steek hulle neuse in die saak wanneer hy en Cohen oor
sy mielies of wolprys besluit. Hy het altyd n die transaksie n present van Cohen verwag en dit gekry: n nuwe paar skoene, n leertas of n glasinkpot. So n inkpot was iets besonders vir n man wat sy ink vir hom van nastergal en asyn laat kook het. Aan n ding soos n vulpen sou hy nooit geraak het nie.
Ja, hy was n boer. Hy sou hom nooit verwerdig het om meer as dit te probeer wees nie.
