Hoofstuk 4
Cornelia. Naas se ma se naam n Ousus se naam  n naam wat hom bly maak. Hy assosieer daarom spontaan sy niggie Cornelia met die twee mense wat werklik vir hom omgegee het. Hy sien haar nou dikwels en sy is altyd vriendelik, hoewel dit soms lyk of sy in haarself gekeer en treurig is.
Oom Willem Bessemer, maar veral Naas se ma, het gepraat van n oupa en n ouma. En nou besef hy al meer en meer daar is werklik n ou man en n ou vrou in die groot huis iewers. Maar hy kry hulle nie met n oog te sien nie  seker ook omdat hy nooit bedags tuis is nie.
Maar saans hoor hy soms iemand uit die Bybel lees, swaar en moeisaam, n ou, bewerige stem wat meer die woorde uitspel as lees. En soms hoor hy n vrou se stem, iemand wat hartroerend bid. Die gebed word byna in huilende verootmoediging gedoen. Hy hoor dikwels die sinsnede: Red ons van die Bose! En soms sing die krakerige ou vrouestem: Hygend hert der jagt ontkomen, skreeut nie sterker naart genot 
Dit is al wat Naas van hulle hoor. Maar hy hoor hulle dikwels saans wanneer die res van die huis in stilte gehul is; tant Maria en oom Dolf seker al in die bed is. Die twee oumense se optrede kom soos n vermaning. Dit moet sy ouma en oupa Losper wees. Sou hulle van hom weet? Hy glo nie. Nie tant Maria, oom Dolf f Cornelia het al n woord oor sy grootouers aan hom gerep nie.
Die name van ander mense, sover Naas kan aflei buite Doornrug se familiekring, duik ook in gesprekke op. Een oggend op pad kombuis toe, hoor Naas tant Maria en Cornelia hewig rusie maak. Tant Maria, snaaks genoeg, is die een wat gedemp praat; paai. Hy hoor telkens die naam Kotie. Naas hoor Cornelia se heftige woorde, proe die gif van haar ongebreidelde woede en talm lank voordat hy die moed het om die kombuis binne te gaan. Hy hoor Cornelia daarna hartverskeurend iewers huil. Toe is dit opeens stil. Toe hy in die kombuis kom, is net tant Maria daar. Oom Dolf kom van binne af in. Ai, is sy al weer s? vra hy en sug.
Ja, dis ons kruis, s tant Maria. Sy sug herhaaldelik swaarmoedig. Oom Dolf is daarna stug en in homself gekeer.
Naas verwonder hom lank oor di insident; ook oor Cornelia se heftige uitbarsting, en by sy adorasie vir die mooie meisiekind kom nou ook ontsag.
Die naam Kotie hoor hy nou meer dikwels; ook die name Santie, Lenie en Hannie  en Mooifontein. Wanneer oom Dolf-hulle iets oor Mooifontein ophaal, praat hulle so of hulle veronreg is. Hy verstaan nie. Maar daar is iets uit die verlede, n grief. Eenkeer s tant Maria heftig en wrewelig, swaar van emosie: Toe maar. God se meule maal langsaam. Maar hy maal fyn  fyn 
Oemfaan, die wit bul, laat nie toe dat Naas hom vir n oomblik vergeet nie. Hy neem steeds n aanmatigende, dreigende houding in, maar Naas het nou n fris kareekierie en laat hom nie meer so knaend imponeer deur die gramstorige bul nie.
Naas maak ook met ander mense kennis. Sommer die eerste week al raak die plaaswerkers se bont mengelmoes beeste een oggend met hewige geloei met sy trop deurmekaar  en kort daarna daag die wagtertjies op, n sestal, sommige kleiner, ander groter as hy. Hulle praat hulle taal, beduie, wil weet van sy boggel. Nadat hy na die beste van sy vermo verduidelik het, s een: Dis die inyanga. Hyt jou getoor. Sies, jys lelik. En hy spuug op die grond.
Hulle praat onder mekaar, beloer hom en lag dan. Dit is weer die ou probleem. Nuwe kennisse neem altyd n konfronterende, lelike houding in. Dis weer soos Basie en Freek Bessemer, weer soos byna met elke nuwe mens wat sy pad kruis.
Naas is spyt die seuns het hulle opwagting gemaak. Hy wens hulle wil hul beeste uitkeer en loop. Maar toe hy sy eie beeste aan die uitkeer is, kom hulle agterna met hulle honde en ry sy pogings in die wiele. Toe daag een hom uit om teen hom te stoei.
Naas skud sy kop, weier botweg. Dit is nie die grootste knaap wat hom uitdaag nie, maar nietemin n fris vabond  en Naas wil nie stoei nie. Hy wil met rus gelaat word. Hy wil wegkom van hierdie seuns wat nou, soos elke ander kind op sy lewenspad, sy treiteraars en bedreigers geword het. Maar die kreltjie wil nie uitskei nie; gryp Naas en wil hom ondergooi. Naas versit hom. Hy moet. Sy teenstander is hom egter een oor en voor Naas hom kan kry, word sy voete rats onder hom uitgepluk. Gou word dit n gestoei om lewe en dood. Die swart seun wil sy baasskap vir eens en altyd bewys; sit op Naas en karnuffel hom. Naas spartel woes om uit die greep te kom. Hulle stoei byna n kwartier lank op die grond, met Naas se elmbo deurgeskuur en sy lyf besmeer van grond en van sy eie bloed en sweet.
Toe kry Naas tog die greep gebreek. Hy is self sterk, sterker as wat sy skraal lyf laat vermoed. Sy lang arms is gespierd en toe hy sy teenstander eers onder het, kan di nie uitkom of loskom nie. Hy moet bes gee, tjankend bes gee.
Ook nie n oomblik te gou nie, want die beeste het die kans benut om lande toe te tou. Naas dryf hulle met mening terug. Die wagtertjies se beeste het hul eie koers gevat en verdwyn nou met hul oppassers oor die bult. Naas slaak n sug van verligting. Wat vanoggend gebeur het, voorspel vir hom niks goed nie.
En soos wat Naas verwag het, kom die wagtertjies die volgende dag terug. Di keer wil n ander seun met Naas stoei, n groter seun, maar nie so kompak soos die vorige een nie. Naas is voorberei en sit die seun uit die staanspoor onder; hou hom daar tot hy pootuit gespartel is.
Naas is skaars op die been of nog een, die grootste van die groep, wil kragte met hom meet. Naas word bang. Hy is een teen ses  en hy besef dit gaan nie by een ophou nie. Hy sal sy staal teen elkeen van hulle moet meet.
Die knaap waarteen hy nou te staan kom is fris, met dik, krom bene en lang arms soos di van n sjimpansee. En hy pak Naas uit die staanspoor. Hy kry sy lang arms om Naas se dun lyf; begin druk, druk om dood te druk. Hy is te fris. Naas besef dat hy nie opgewasse is teen sy opponent nie  maar hy weet ook: Hier mag hy nie verloor nie. Hy mt wen.
Naas probeer sy arms tussen hom en die seun inkry; probeer in die greep afsak, sodat hy sy boggel regoor die greep van sy teenstander se hande kan kry. Hy gaan stadig, maar klinies te werk. Sy opponent laat skiet nie sy greep nie. Sy asem is in Naas se gesig, bedompig en versmorend. Eindelik slaag Naas daarin om sy skerp elmbo in die seun se bors te druk. Dit is n kragtoertjie om die ystergreep s te probeer breek en die spiere span bultend in Naas se kort nek. Hy sien deur n waas hoe vaal kolle op sy opponent se gesig uitslaan en beur nog heftiger. Dan breek hy los, buk vinnig af, kry die seun aan n been beet en stamp hom met die kop van balans af. Hy los die been, gryp n arm vas, en skop dan rats met sy voet na sy teenstander se keel. Naas verwurg die seun en hy weet dit. Maar hier gaan dit nie nou volgens rels nie. Met s n sterk opponent kan n halwe kans Naas se einde beteken. Hy mt wen, sy vyand hondmak maak; vernietig.
Dan skop die seun Naas met onverwagse krag van hom af. Toe Naas val, vlieg hy op, duik op Naas en probeer hom op die grond vaspen. Naas kry sy voete net betyds tussen hom en die seun in en kry sy houvas s vir n oomblik gestuit. Soos n paling glip hy uit sy teenstander se greep en tref hom hard met n knie in die maag.
Die seun val krullend van pyn op die grond neer  en Naas gryp sy kans om nie vuis in te l. Die ander wagtertjies vorm n kring om hulle, skree, beduie, wil hul makker help, maar terselfdertyd nie betrokke raak by die woeste bakleiery nie. Hulle lawaai is n vae gedreun in Naas se ore. Hy sien hulle, onwerklik soos deur n waas. Die seun slaan nie terug nie. Hy probeer Naas in die omhelsing van sy lang arms kry, en slaag daarin om Naas op sy hurke af te trek. Naas hou egter kop, skop met sy voete in die seun se maag sodat hy opnuut die greep breek. Vir n oomblik dink Naas hyt die swart seun oorwin  maar dan vlieg di orent met n groot klip in sy hande. Nou wil hy doodmaak. Sy maats moedig hom luidkeels aan. Hulle is opgesweep; soek nou Naas se dood.
Dan gooi die seun die klip. Naas koes weg  en in sy momentum om voor die klip weg te kom, tref hy sy teenstander met die kop in die ribbes. Die seun steier en val. Naas, nou besete van woede en gereed om tot die dood te baklei, sien die klip tussen die grasse l en kry dit beet. Die vyf toeskouers skree angstig en vlug dan halsoorkop.
Ook die halfbewustelose seun op die grond sien wat gaan kom. Dierlike vreesgeluide ontsnap uit sy keel en hy probeer paniekerig orent kom. Op die laaste oomblik bedink Naas hom en smyt die klip weg. Haastig kom die seun op sy voete en vlug dan val-val, omkyk-omkyk. Ook hy het die skrik van sy lewe weg. So skielik soos hulle gekom het, verdwyn die wagtertjies en hul basterkudde oor die bult en Naas draf om sy beeste weer onder sy beheer te kry.
Van toe af gewaar hy die wagtertjies slegs in die verte. Hy vermy hulle en weet hulle vermy hom.
Een aand hoor Naas n hewige woordewisseling. Dit is veral die krakerige stem van n ou man  seker sy oupa Losper  wat hy hoor. Maria, julle moet vrede maak. Ek smeek julle, julle moet vrede maak. Hierdie ding wat julle wil aanvang, betaam julle nie. En om die Duiwel te kry om julle in julle wraak te help  glo my, dit sal net die toorn van die Here op julle koppe bring.
Pa, wat praat Pa tog? skerm tant Maria. En Naas hoor die skril stem van die ou tante wat s: My kjind, ons weet ok wat op Mooifontein aangaan. En hy was mos hier, daardie gruwelike ou satangsgesant was mos hier.
Naas kan wat hy hoor, nie begryp nie. Maar dit het hom al getref: sy oom, maar veral sy tante, dra iets in die gemoed wat ongelukkige mense van hulle maak.
Hy moet dag na dag met die beeste gaan wei, ook Sondae. Nie dat sy lewe tot dusver juis anders was nie. Vir swerwers soos hulle, mense soos sy pa en daarna oom Willem Bessemer, was een dag presies soos die ander; moes mens die dae afmerk en in groeperings van sewe opdeel om te weet watter dag van watter maand dit is.
Tog het sy ma daarvoor gesorg dat Sondag n dag apart gebly het. Op di dag het hy n skoon broek en hemp aangetrek en het hy sy gesig gewas en soms sy voete. En sy ma het die Boeke gebring. Daar is uit die Bybel gelees, n lied is gesing en n geradbraakte gebed is gebid.
Maar die dae gaan nou vir hom verby sonder rimpeling. Hy weet net die wit bul hou hom nog gedurig in die oog. Soms vergeet hy van Oemfaan. Maar dan herinner iets, miskien n effense astrantheid van die bul, hom daaraan dat Oemfaan nog steeds n bedreiging vir hom is.
Laat een middag daag Cornelia by hom in die veld op. Sy is op Bordeaux, haar lewendige sweetvos. Ek het vir jou koek gebring. Ek verjaar vandag, s sy as groet en haar mooi o lag. Gaan dit goed?
Dit gaan goed, dankie, s Naas selfbewus.
Ek wou n bietjie uitry. Toe dink ek ek kom n slaggie vir jou kuier. Sy het die koek uitgehaal en gee dit vir hom.
Maar hy eet dit nie. Hy wag gespanne, wag dat sy moet groet en ry. Dit is nietemin aangenaam om haar te sien. Dat sy aan hom dink, maak hom bly. Sy sit so fier in die saal. Sy ontsag vir haar grens aan vrees; tog waardeer hy haar geweldig.
Cornelia swaai opeens uit die saal en kom staan langs hom. Ou Naas, ons weet nog so min van mekaar, s sy kameraadskaplik. Weet jy ons is niggie en neef? Jou ma en my ma is susters.
My ma is ook Cornelia. Maar nou is sy dood, bely Naas.
Ja, foei tog. Ek kry jou tog so jammer. Dit is seker nie lekker om nie meer n ma of n pa te h nie.
Naas s niks daarop nie. Die beeld van sy pa is so vaag, skaars n skim. Maar hy onthou sy ma nog baie goed, onthou haar jammerte, haar liefde, ook haar verraad toe sy met Willem Bessemer getrou en Ousus, hy en Kerneels gevoel het hulle word verwerp. Tog, wanneer hy alles in sy gemoed opweeg, bly net haar liefde, mateloos en onbegrens, oor. Hy is opeens hartseer, vereensaam, in die steek gelaat.
Ek het vir my pa gevra hy moet iemand anders kry om die beeste op te pas. Hy kan jou dan die boerdery leer. O, daar is baie werk op die lande, weet jy? Dan sien ons mekaar baie en kan ons mekaar goed leer ken. Dit sal lekker wees as ons soms te perd saam iewers heen kan gaan.
Naas verkies nogal die lewe hier in die veld. Hier by die beeste voel hy tuis. Dis wanneer hy saans in sy solderkamer l dat hy bedreig voel. Tog laat Cornelia se geselskap hom om n onverklaarbare rede op hierdie oomblik bedreig voel; is daar n vreemde gevoel van onheil in sy gemoed. Waarom weet hy nie. Dit is tog lekker as iemand so mooi soos Cornelia vriendelik met hom is?
Cornelia het geselsend begin stap en Naas loop saam met haar. Toe hulle by n boom kom, gaan sit sy in die koelte. Kom sit ook hier. Toe, kom sit hier langs my. Sy beduie met haar hand langs haar op die gras.
Naas kyk eers hoe die beeste hulle gedra; gewaar Oemfaan sommer hier naby hulle. Die bul is al weer hier, grom hy en gaan sit huiwerig n entjie weg van haar en half uit die boom se skaduwee.
O hy? Dis oor ek hier is. Ek het Oemfaan hans grootgemaak en hy onthou my nog, s sy en vra dan: Vertel my meer van jou ma, van tant Nelie, my tante.
Wat moet ek vertel? Daar is opeens so min wat saak maak.
Hoe het sy gelyk? Was sy mooi? Was sy baie lief vir jou pa?
Naas weet net van die swaar: die dors en die honger, koue nagte, vrees, hulle trekdiere wat vrek en hulle radeloosheid, die besoek van die Tswana-stropers  die keer toe hulle so gevlug het, twee dae en twee nagte onverpoos, totdat die osse in die juk neergeslaan het  Sy ma was vir hom mooi, n ander mooiheid, al was daar altyd die lyne van kommer en swaarkry om haar mond. Sy het dikwels gehuil. Hy probeer haar vergeefs onthou waar sy gelag het. Maar hy weet nie van lag nie. Hy hoor haar klaende stem, die afgematte stem van n versukkelde vrou wat geen moed of vooruitsig meer het nie en net tot haar kruis en haar juk gedoem is.
My ma het baie swaargekry, s hy nou. Ek weet nie of sy mooi was nie. Vir my was sy mooi. Sy het my geleer bid.
Het sy? Ag, maar dit is mooi. Daar is nou n frons tussen Cornelia se o. Hy kan dit nie verstaan nie. Jy kan my maar ook Cornelia noem, Naas, s sy en staan op. Nou moet ek weer ry.
Dit gebeur nou meer dat Cornelia vir hom kom kuier waar hy by die beeste is. Sy wil steeds meer weet omtrent Naas se ma en is s vriendelik dat hy haar op haar naam noem. En sy bring gereeld iets vir hom  biltong, dro perskes en een keer twee snye heerlike varsgebakte brood, dik beplak met vars botter.
Maar hy sien haar selde saans by die huis. Dit is net oom Dolf by die kraal en tant Maria saans in die kombuis.
Naas bly lugtig vir tant Maria. Hy kry geen vriendelikheid van haar nie. Wanneer sy in die kombuis is, verkies hy om pad te gee. Dit lyk so of sy blote aanwesigheid haar ontstem. Oom Dolf is vriendeliker, maar ook vol kritiek. Hoe is die gras, jong? Ai, die diere lyk dan nog dun. A nee a, jy moet wyd wei, verwyt hy soms.
En daardie jong os, Naas, wat makeer hom? vra oom Dolf toe die beeste op n aand in die lente by die kraal aankom. Oom Dolf is op die plek kwaad  waarom, kan Naas nie dadelik peil nie. Hou jy dan nie jou o oop nie? A nee a, jy moet kyk waar jy wei. Bly weg van die klipveld. Bly weg van die verdomde aar. Stefaans, kry sout en lampolie. Toe, jong, hiers n os wat slangkop gevreet het.
Ken jy slangkop? vra oom Dolf aan Naas en besluit dan self. Jy sal hom tog nie ken nie. Daarvoor is jy te domonnosel.
Di aand trap tant Maria Naas ook uit: Mens kan nou sien hoekom was julle sulke kaal rotte. Magtig, ons wil nie al ons bees uitgevrek h deur jou slegtigheid nie, raas sy onredelik.
Tant Maria vertel hom egter meer van slangkop, hoe dit lyk en waar dit voorkom. Dis nou hulle tyd daar by die aar tussen die klippe. Bly weg daar as jy nie die drag slae van jou lewe wil h nie.
Die veld word n lushof nadat die eerste lenterens geval het en die beeste groei weer na die winter se langbekmaande. Hulle is soms uitgelate en gaan aan die hardloop, bokspring en bulk hulle uitbundigheid.
Veral Oemfaan pronk tussen sy koeie, loop elke jong miershoop by, bulk en dreig, slyp horings en skop stof op. En almaar soek hy rond na die wagter om aan hom te s hy weet van hom. Maar die wit bul domineer lank nie meer Naas se gedagtes nie. Oemfaan is bloot vol wind, n stofopskopper; sy heeldag se gesoek na die wagter bloot n truuk waarmee hy homself om die bos lei. Naas bejen die wit bul soos elke ander bees. Hulle moet voor hom padgee. Hulle moet gehoorsaam, en flink ook.
Op n dag tref n gooikierie wat vir n ander bees bedoel was die wit bul. Oemfaan skrik groot, hol n ent weg en vlieg toe om, om Naas daarna op n afstand aan te gluur. Die bul het soos die beeswagtertjies geword; aanvaar wie baas op die plaas is, glo Naas.
Daar is onafgebroke vog in die lug. Menige dag bou die wolke op tot n plotselinge donderstorm. Dan dreun die weer, giet die rendruppels skielik emmersvol uit n wolk wat in n oogwenk swart en onheilspellend, swaardragtig van water geword het. Die dae is loom en warm; broei. Naas knip dikwels n haastige uiltjie in die skaduwee van n boom. Sy lewe het uiters gelykmatig geword, elke dag soos die vorige en hoewel daar soms vaag n onrus knaag, het hy niks om oor te kla nie.
Hy het dit voorheen nie beter gehad nie. Hy weet nie van vooruitsigte wat hom aspirasies kan laat koester nie. Hy ontmoet geen ander mense nie. Hy weet glad nie wat in die land, in die wreld aangaan nie en skenk geen gedagte daaraan om dalk iets meer as n beeswagter te wees nie. Die vae onrus wat soms in sy binneste knaag, n onvergenoegdheid bring, maak hy af as bloot deel van sy misvormde samestelling.
Naas is in die veld by sy beeste wat hy leer ken en liefkry het. Elke bees het sy eie persoonlikheid. Hulle is sy vriende, selfs vertrouelinge, want met hulle gesels hy. Sy oom en tante grom al minder. As hy soggens en saans sy maag vol kry, is hy gelukkig. Tant Maria het vir hom van duiwelsterk en sout en peper n broek en n hemp gemaak, wat, hoewel dit potsierlik aan sy misvormde lyf sit, toemaak waar dit moet. Hy is tevrede.
Waarvan Naas onbewus bly, is dat Oemfaan met verloop van tyd al hoe nader aan sy wagter wei; dat wanneer hy wat Naas is in die skaduwee van n boom gaan l, Oemfaan almaar in die omtrek is en hom gedurig, nuuskierig, argwanend betrag. Hy kom nie agter nie hoe die dier een of meer keer tot naby hom sluip, sy groot liggaam sag en muisstil oor die klam grond dra, lank na die stil figuur van die seun kyk, om na oorweging die kop te skud en verder weg te wei.
Oemfaan is besig om moed bymekaar te skraap. Om n rede wat net in sy primitiewe beeskop uitgeredeneer kan word, beskou hy hierdie koddige tweebeending wat oor sy trop die heerskappy voer en sy leierskap die loef afsteek as n bedreiging wat hy, kom wat wil, moet likwideer. En algaande word die oerinstink om op te tree en sy baasskap te hervestig, , allesoorheersend.
Naas dink dikwels onwillekeurig aan Cornelia, herskep haar beeld in sy geestesoog en besef met al groter welgevalle hoe volmaak mooi sy is. Sy bewondering vir Cornelia is aanbiddelik. Vir hom is sy boaards,n wese verhewe bo die drange en drifte wat hy eie aan hom waan; n koningin op haar troon, ver buite sy bereik, maar n sielsgeluk bloot omdat sy daar is. Cornelia is meer nog as net n plaasvervanger vir Ousus en sy ma. Hulle het hy liefgehad omdat hulle beskerming en veiligheid vir hom verpersoonlik het. Sy is veel meer. Cornelia se blote bestaan vul hom met blydskap en verwondering. Wat hy vir haar voel, is suiwer hartstog, ofskoon hy hartstog nie kan definieer nie.
By die bruisende vreugde wat die gedagte aan Cornelia in hom laat opwel, is daar egter ook n titseltjie onrus, want hy het agtergekom sy kry dikwels besoek. Oom Dolf en tant Maria bespiegel soms oor die besoekers waar hy ook kan hoor  almal van hulle voortreflike Boerseuns op spogryperde wat al te graag in Cornelia se geselskap pronk en die indruk laat dat die aarde en wat daarop is, aan hulle behoort. Dt is wanneer die naam Kotie ook ter sprake kom. Naas weet nou dit is Kotie van Mooifontein. Maar die name Kotie en Mooifontein bring duidelik wrewel in die harte van oom Dolf en tant Maria.
Cornelia het lanklaas vir Naas in die veld kom kuier. Hy ontbeer haar so. Waarom bly sy so weg? Dit is mos sy wat ges het hy is haar nefie en sy is sy niggie. n Niggie is byna soos n sussie, maak hy homself wys en in sy onskuld is hy baie ingenome met di gedagte. Met Cornelia in sy gedagtes begin Naas, wat op die koel gras onder n boom n wakende oog oor sy kudde probeer hou, langsaam indommel.
n Tor of n brommer zoem iewers en die eentonige geskree van sonbesies suis in sy ore. In die verte hoor hy n tortelduif koer en iewers kweel en kwetter n aantal vols lustig om n betrapte, uitgevangde janfiskaal  geluide wat hom sag en gedagteloos laat indommel. Tog gewaar hy deur sy lomerigheid die plotselinge tot stilstand kom van die natuur, so asof vols, duif, tor, sonbesie, almal ineens asem ophou, wag  wag 
Naas beur orent, reik na sy kierie, vat hom raak die oomblik toe die dowwe dreuning van n swaar voetval, die vibrasie van die aarde, skielik oorweldigend tot sy sinne deurdring. Hy beur om orent te kom, maar die wit bul is alreeds op hom, skep hom met sy skerp horings skrams by sy borskas verby. Naas word soos n vrot vel n hele paar tree ver geslinger.
Wonderbaarlik beland hy op sy voete, maar die bul is oombliklik weer op hom. Hy slaan met sy kort kierie na die bul se neus, slaan hou op hou. Die bul brul van pyn en woede. Hy kry seer. Maar hy ruik ook bloed en dink nou net aan doodmaak.
Naas slaan en slaan. Hy hou die bose dier van sy lyf, maar moet bly terugval, sy vlugvoetigheid tot die uiterste inspan om nie weer deur daardie dodelike horings geskep te word nie.
Sy kareehoutkierie, die sterkste wat hy kon bekom, begin al splinter. Oemfaan is rats vir sy bonkige lyf, maar Naas is ratser. Die bul bly vorentoe beur, maar gaffel keer op keer in wind. Dit maak die gefrustreerde bul rasend. Hy bulk en brul, huil loeiend omdat hy sy vyand nie op die grond, onder sy pote, voor sy swaar kop kan kry nie.
Die ander beeste het die gebrul gehoor en ook hulle loei en bulk nou. Hulle kom nader, kom kyk, word aggressief en wil deel h in die geveg. Naas, wat tot dusver nog nie tyd gekry het om bang te wees nie, begin nou paniek voel. Onder gewone omstandighede is n bees n besonder flegmatiese dier  maar as hy bloed ruik, keer die wilde kuddedrif van sy ongetemde voorvaders instinktief terug. Nou word di instink tot n raserny aangehits deur Oemfaan se wraakgebulk.
Al terugvallende bereik Naas die pad waarlangs hy en oom Abel Klootwyk en tant Soufie die dag gekom het. Hier is die bome groter, hor, ruier  en kry hy dit reg om sy aanvaller koud te sit: Met n ratse sprong is hy op die stam van n skewe boom, en dan, voor die bul hom bykom, klouter hy na n hor tak, sodat sy voete net buite Oemfaan se bereik bly hang.
Daar sit hy  met die bulkende bul en die beeste al loeiende onder hom .
Oemfaan is skynbaar onder die indruk dat hy tog die oorwinning behaal het. Hy bulk aggressief en grawe sy horings rooi in die grond, skop stof op, pronk en paradeer, daag en basuin sy heerskappy wyd om die boom. Maar hy kom telkens terug, tuur dan na sy prooi met bloedhonger o.
Naas glo aanvanklik hy is veilig. Maar toe hy effens tot verhaal kom, kry hy koud en besef hy dat hy nie n draad klere aan sy lyf het nie. Hy het sowaar net een velskoen aan! Sy ander voet is blou en geswel en klop van die pyn.
Nou eers sien hy hoe erg Oemfaan hom verniel het. Sy arms, lyf en bene is oortrek van lang, bre hale; bloedrooi skrape waar die bul se horings hom rakelings bygekom het. En in die waai van sy linkerarm, tot diep in sy borskas, daar waar die bul hom die eerste keer getref het, is n wond wat steeds bloei. Die bloed sypel langs sy sy af, oor sy heupe, met sy linkerbeen langs en vorm dan n dik, druppende tou grond toe.
Naas se kop draai en hy begin sy houvas in die boom verloor. Hy moet verbete keer om nie uit die boom op die wit bul onder hom tuimel nie; klou met albei hande aan die boomstam waarin hy sit, maar die aarde wieg om hom, dan hoog en dan laag. Dit word eers swart, dan rooi voor hom. Oemfaan, wat van onder af na hom opkyk, word twee, drie, sommer n trop wit bulle. Dit is n see van wit bulle. Hulle horings 
In die agtergrond, byna in sy onderbewussyn, soos deel van n koorsdroom, hoor hy n ander geluid: klik-klak, klik-klak. Dis die geluid van karperde se hoewe, die geklop van kar- of wawiele. Dit klop soos bloed in sy hart, doef-doef-doef in sy ore. Om hom word die see van bulhorings n see van malende swart water.
Toe hoor Naas uit die verte, ver soos uit n vreemde land, die ontstelde alarmkreet van n man; daarna n vrouestem wat vra: Wat is dit, Kotie? Wat sien jy?
Toe kan Naas nie meer nie. Hy tuimel af in die swart see en weet opeens van niks meer nie.
