Vakbonde
Die eerste Saterdag in April versit ons kontrei se mense almal hier teen die middag oor na Finnie en Casper  of ou Jm, soos ons hom van skooldae af noem  om hulle troudag te gedenk. Ons ry almal sommer nes ons is oor en niemand is ooit van plan om lank te bly nie, maar nou is Aprilmaand so n lekker gesels-maand. Met die mielieoes se beperkings is dan al op die knie en voor die bankbestuurder afgemaak. Die kuilvoer is inge-maak en die wintergraan is aan die opkom. Die landbouskou met sy posisiesoekers en slegte beoordelaars en nog slegter verloorders is vrugbare geselsstof. By die vrouens is die teiste-ring van nuwe onderwyseresse en voorstelklere daar. Die win-terkuikens is bestel en die bees en vark vir die winterslag is aan die krip.
Sononder kom die jong klomp wat by Naas-hulle tennis ge-speel het, ook oor en jy kan uitken watter dogters oor die on-derdeur begin loer, watter seuns se hakskene begin rooi word. Ook wie se tuig haar hier op die stil plaas begin skawe. Dis nou sy wat kom lol hier by ons oueres se mans.
Buks, ons ouderling, stel die heildronk in en doen n kort ge-bed en as ons ons kom kry, laat Finnie die ysterpotte met die braaivleis en wors indra en die aand kry sy loop.
N ete speel Finnie vir ons op die klavier, die deuntjies van ons jong dae; Jim Muller, Die ossewa, In the mood, en so aan, en ons skoffel so n bietjie op die bre stoep. Die jonges kom inval en Piet, wat ten spyte van sy vyftig somers nog een
van die aantreklikste mans van ons kontrei is, leer ons dogters die behoorlike wals en die bevatlike two-step.
Ons ander sit en gesels. Jm skink so effens, net vir die na-jaarsluggie, weer die glasies vol. Nou nie boosaardig nie, want die opgeskote kinders is daar rond en Jm se eie pa, oom Tol en sy skoonvader, oom Sarel, en tant Felie is ook daar en ons weet om die respekte nooit verlore te laat gaan nie. Ons bly ook weg van politiek en plaaspaaie deur ander se lande. n Mens het al vergeet hoe snaaks Tollie se grappe is en hoe oulik hy ons Engelse onderwyser van destyds kan napraat: If I were you Id throw myself out of the window and say hurrah, here goes nothing. Of: You are the type of idiot that must be kept in a glass case in fear that your species will be lost  Vir sommige van ons is dit l stukkies Engelse aanhalings wat ons uit ons skooljare bygebly het, ons wat maar almal hier skoolgegaan het, by dieselfde prile druiwe gesteel het en op dieselfde skoolpartytjies op dieselfde nooiens en krels verlief geraak het en by dieselfde onderwysers dinge op dieselfde manier ge-leer het; onderwysers wat as jong sterk mans hier aangekom het, hier skoolgehou het lank n hulle kinds geword het, son-der dat iemand die verskil agtergekom het en later by die sipresse gebre is. Ons is helaas ook nie meer almal hier nie. Ons kyk maar by Janneman en Ferdie en Doep se leegoog-opstalle verby  grond verhuur, woon in die dorp, weet ook nie juis wat om daar te doen en wat om te laat nie.
Dis in hierdie stemming wat Dries ons op n aand van sy drie trekkers, Sefobu, die een wat hoes, Seruta en Sepinya (na aan-leiding van sekere ander onsosiale eienskappe van hulle) vertel het. Baas op sy plaas? vra hy. Dink ons hy is baas op sy plaas! Kom net een Maandagoggend en kom loer in sy stoor waar Se-fobu, Seruta en Sepinya met hulle waterige ogies en gefronste voorkoppe hom staan en inwag en ons sal anders praat.
Ek moet Sefobu se rug vir hom n volle halfuur krap voor hy loop. Dan ruk ons die ander twee aan die brand met hom voor-aan en dan gaan hulle met my lande toe en hulle s vir my waar hulle wil ploeg. Sowaar, ek sweer vir jou, as die grond te veel
stof maak, as die ploeg te diep gesteek is, as die wenakker te smal is  vergeet dit, hulle werk nie daar nie.
Hulle werk net vasgestelde ure, want hulle en die trekker-drywer werk vir dieselfde vakunie, en ek s vir jou hy is rooi, daardie vakunie, hy is so rooi soos die josie. Hulle breek net wanneer hulle wil, en veral as daar n bruilof of n mieliekwe-kerskongres in Bloemfontein is, en so n trekker soos Sepinya kan breek net waar hy lus het. Hy kan breek by die stuk katel-poot wat ek aan sy ratkas gesweis het, dit kan die onderbroek-repe wees waarmee ek sy batterydrade isoleer, dit kan die da-dels wees waarmee ek sy tenk gesoldeer het of die bloudraad om sy vooras kan gebreek het of dit kan die duik in sy waaier wees waar ek hom met die skroefsleutel gemoker het toe hy so teen my betoog het een oggend.
Nou goed, hy breek nou, en of ek onder die stort is, of bo-op die windpomp, ek gn, want ek s jou hierdie Sefobu voel dit vreeslik as jy hom te lank laat ly. As hy loop, ly hy, maar as hy staan, ly hy nog erger.
Nou ja goed, ek kry die plek: n gebarste pypie, so groot soos n baba se nierpyp wat vasgedraai word met n skroefie wat jy met n naelvyl kan losdraai. Ek s Meksim moet hom losdraai, want dis n fout om n werker soos Meksim net die skroewe te laat losdraai wat met n bobbejaanspenner losge-draai moet word. Hy verloor sy respekte heeltemal. Dan klim ek in my bakkie en ek l op die lepel dorp toe. By die huis keer hulle my voor en gooi die kas eiers, die stukkende grassnyer, die aanskrywing van die petrolmaatskappy, die siek huishulp en die le paraffienblik agterop en ons jaag.
By die koperasie s hulle die onderdeel moet bestel word, en as hy kom, sal dit eers volgende week wees, en weet ek daar-die pypie sit vas aan drie tandratte, twee koperpype en n hing-sel en ek sal dit alles moet bykoop as ek die pypie wil h en dis dan baie meer ekonomies en koop n hele nuwe trekker en hou die ander een vir ekstra onderdele, want afgesien van die pypie het hy nou al die onderdele wat aan n nuwe trekker kan breek. Ek steur my nie daaraan nie, want ons weet almal hulle werk ook vir Sefobu se vakbond.
Nou gaan ek op na Barny se scrapjaart en Barny, wat eint-lik my ou skoolmaat Steintjie Willemse is, help my deur sy ou trekkers soek en ons kry so n pypie, maar hy het ook n bars in, maar Steintjie s dis darem n kleiner barsie en hy maak so n pypie net warm onder n blaasvlam en druk hom met n knyp-tang teenmekaar en die bietjie wat hy dan nog sal lek, is so min, jy sit net n blikkie onder hom met n stuk pleisterband vas en maak die blikkie by elke wenakkerdraai leeg, en hy kan my nou al s, n bierblikkie werk die beste. Veral as jy vir die ou wat jou die pypie present gee, ook n blikkie, n vol een, present gee.
Ek is baie verlig oor die goeie raad en ek jaag terug. Ek hoop maar net Sefobu hou van die soort bier wat ek gekoop het en ek is half jammer dat ek nie eerder daaraan gedink het om die blikkie vir hom vol bier aan te sit en by elke wenakker n paar slukke te neem nie. Ongelukkig het ek hom by die werf-hek leeggedrink. Om die een of ander rede is die pypie se gaatjies nou nie meer regoor die gaatjies van die hingsel nie. Dit kan die warm maak van die pypie wees, dit kan my naelvyltjie se skuld wees en as ek dit nou self vasgedraai het, kon dit die bier gewees het.
Nou moet ek weer teruggaan dorp toe om nuwe gaatjies te laat inboor, maar dit is ook nie die ergste skade nie, want ek het buitendien die huishulp by die dokter vergeet. En ek s jou as ek by die dokter aankom, moet ek ses rand betaal en n aan-skrywing kry van die magistraat oor ek nie my swartes by die werkversekering ingeskryf het nie en n opdrag om haar elke Maandagoggend tien voor nege terug te bring vir n inspuiting vier weke lank, want ek gee jou drie raaie vir watter vakbond werk die dokter.
En as ek by die huis kom, het ek die paraffien vergeet, en dan is die kuikens se verwarmer en die yskas dood en ek kry nie kos daardie middag nie en ek moet die gras met die skaap-skr sny, want ek gee jou drie raaie vir wie se vakbond werk die vrou waarmee ek getroud is.
Miskien is dit nie n baie snaakse storie nie en dit is onge-twyfeld nie waar nie, maar ons lag ons byna stukkend daaroor,
want die man wat dit vertel, is Dries, ons jong buurman wat n paar jaar gelede in die stroper geval en afgryslik vermink en verlam anderkant uitgekom het. Hy sit in n rystoel. As een van die mans haastig iewers moet heen, kom laai hulle hom op om die dae vir hom te probeer korter maak. S het Dries leer sto-ries vertel. Op n aand soos vanaand, met die wyn van die na-jaar in die lug, die jong klanke van die klavier in die agtergrond, lag ons nou eers hard vir elke storie wat hy vertel.
Maar ons weet dat Dries weet aan watter vakbond ons be-hoort wanneer ons so lekker lag.
