Oe! s Elke. Stunning! So jy kan Frans ook praat? Oui, je parle franais.
Sy kan ook Venda, Shona, Engels en Duits praat, vertel Baku.
Tinus verstaan dit glad nie: n meisie van Venda-afkoms wat foutlose Afrikaans praat, Franse klere dra en boonop baie goed tennis kan speel. So iemand het hy nog nooit ontmoet nie. Terwyl die twee meisies oor Franse modes praat, merk hy verbaas op dat een van die steentjies in Gigi se armband elke paar sekondes van kleur verander.
Intussen is Chris besig om haastig te word. Hy moet eenvoudig vir D3 in die hande kry. Daar is soveel om te rel. En die tyd raak min. Mense begin al huis toe gaan. Hy besluit om na die
uitsaailokaal te gaan. n Arcadia-juffrou is aan diens, ten minste hy vermoed dis wat sy is. Hy groet skaam-skaam. Juffrou, jammer om te pla, maar ek soek al die hele oggend na n pl van my. n Arcadia-ou. Kan Juffrou dalk ?
Seker, s sy vriendelik, hier is die mikrofoon. Saai self uit. Weet jy hoe?
Hy knik en neem die mikrofoon. D3  D3 ...? Is jy dalk nog hier? Chris Vermeulen soek jou. Dis dringend, man! Ek is hier by die uitsaailokaal. D3, D3, hoor jy my, D3?
Chris gee die mikrofoon terug. Baie dankie, Juffrou. Kos dit iets? vra hy terwyl hy ongemaklik in sy le broeksak vroetel.
Nee, loop maar, glimlag die juffrou. Hy pyl deur toe. Buite staan hy en wag, kyk rond, maar niks gebeur nie.
Net toe hy wil begin moed verloor, kom iemand aange-slenter. n Meisiekind. Daardie donkerkop. n Nare voorgevoel trek soos honderde perdebysteke teen sy ruggraat op.
Hei, Chris, s sy terwyl sy aangestap kom. Ek is Deirdr de Villiers.
Chris lyk so uit die veld geslaan, dat sy dit herhaal. Eks Deirdr de Villiers, of dalk ken jy my beter as D3?
Huh? Ek  ek bedoel Maar jys dan n meisiekind! Nou ja? Wat is verkeerd daarmee?
Dis  dis  Man, jy kan mos nie saamkom Makwena toe as jy n meisiekind is nie.
Deirdr bekyk die aantreklike ou hier voor haar  intelligente gesig, donker hare wat wil-wil krul, bre skouers. Eintlik, dink sy, n chick magnet soos min! Hm  hy moet net nie idees kry nie, sy gaan haarself beslis aloof hou. Kyk, Chris, s sy uit die hoogte, jy vertel my nou eers in ordentlike Afrikaans wat aan die gang is. Jyt ges daars iets wat ek vir jou moet doen, en nou staan jy hier en bubbles hap. Wat op aarde is daar wat n ou beter kan doen as wat ek kan?
Dmmit! Dat n meisiemens hom nou moet staan en ore aansit! Maar nou moet hy seker deurdruk. Waar kan ons chat? vra hy met aangesitte aggressie. Dis konfidensile sake en hiers nrens 
Deirdr wys na n verlate bankie waar niemand hulle kan sien nie. Hulle gaan sit. Dis nou of nooit, besluit Chris en kners op sy tande. Tesinnig vertel hy van die rekenaar, van King Solo-mons Mines en van die storie agter die storie. En toet ek gedink jys mos mal oor lees en boeke. Jy sal die ding moet skryf, want my opstelle is goor. En nous jy n meisie!
Deirdr verwerdig haar om te glimlag. Wel, dink jy meisies kan nie opstelle skryf nie, h? n Hele ent beter as wat enige ou dit kan doen, as jy my vra!
Ja, maar  Maar wat?
Flippit!  Om te weet wat in die opstel moet staan, moet jy saamkom na oom Martin se plaas. Ons kamp daar uit en jy kan mos nie 
Gaan daar nie meisies saam nie?
Nee  e  wel  Elke kom saam en dan  Enemix en haar vervlakste brak sal natuurlik ook moet saamkom.
En slaap hulle ook saam met julle in dieselfde tent? En wie of wat is Enemix? Klink soos n mengsel van vyande?
Dis presies wat sy is, sy en haar simpel brak! Wel, ek behoort seker nie so te s nie, want sys ons hoof se dogter. Maar sy is nou eenmaal my niggie Annemie. Sys nog in die laerskool, graad twee en n regte terroris. En Herrie, haar hond, is nog erger! Ek en sy is geliefde aartsvyande, kan jy maar s. En, nee die meisies slaap in Elke se tent.
Great! Dans die probleem mos opgelos, lag sy, ek wil hoeka al lankal jou sus ontmoet. Daardie kishou van haar was awesome! Kom, neem my nou na Elke toe en dan kan ons die hele saak bespreek. Anyway, meisies los probleme baie beter op as wat ouens dit doen.
O, so? Chris begin nou al amper kans sien vir hierdie meisie. En wat van daardie wiskundeprobleme waarmee jy so ge-sukkel het, h?
Man, chill! Natuurlik praat ek nou nie van wiskunde-probleme nie. Daars jy great! Ek praat van slaapplek en sulke praktiese goed. Tussen hakies, weet Elke van die rekenaar en die kompetisie?
Nee, nog nie. Mens sal haar en Tiens moet vertel. Wel, komaan, dis presies wat ons nou gaan doen.
Net ses weke, en najaar het in winter verander. Dis geniepsig koud, maar die wintervakansie l voor! Soos Deirdr voorspel het, kon sy en Elke alle probleme uit die weg ruim. Die De Villierse en die Vermeulens het mekaar ontmoet en natuurlik was Chris se oom Martin en sy tannie Vera, die eienaars van die plaas, ook daar. Toe die De Villierse bekommerd vra of daar ooit plek vir Deirdr sal wees, het tannie Vera laggend ges: Natuurlik. Een tiener meer of minder sal beslis nie n verskil maak nie. Ons het in elk geval onlangs die ou skoolbussie by die skool gekoop. My man is mos nie verniet Pretoria-Suid Seuns se skoolhoof nie.
En nou, douvoordag op die heel eerste dag van die vakansie, begin die pret. Eintlik het dit gisteraand al begin. Deirdr het sommer toe al na Chris-hulle se huis gekom, sodat hulle sonder oponthoud vroeg-vroeg vanoggend kon ry. Die reis na Makwe-na duur normaalweg nie langer as vyf of ses ure nie, maar met die bussie sal dit stadiger gaan. En n mens moet betyds op die plaas opdaag. Tente moet opgeslaan word en baie ander dinge moet klaar wees voordat dit begin skemer word.
Hulle sit egter tot laat en kaart speel en gesels, in plaas daar-van om vroeg te gaan slaap. En toe oom Martin klokslag om sesuur die volgende dag voor Chris-hulle se huis stilhou, is die klompie nog lekker deur die slaap.
Ek moet om verskoning vra, s oom Martin terwyl hulle vaak-vaak nader staan, dat ons met hierdie ou rammelkas moet ry, maar 
Haai nee, glad nie! val Tinus sy oom in die rede. Jislaaik! Ons is net te bly om te mag saamkom. En hierdie ou bussie maak dit net nog groter sports. Om met n Rolls-Royce Bosveld toe te gaan, sal boring wees.
Kom tannie Vera nie saam nie? vra Elke.
Die skoolhoof skud sy kop. Nee, sy s die bussie ry te stamperig en boonop wil sy nog n klompie eetgoed koop. Sy en Selina kom mre met die BMW.
Ma Lulu word liefdevol gegroet. Elke se keel wil-wil toetrek, maar die feit dat haar ma in die bekwame sorg van n lewens-lange vriendin agterbly, maak die afskeid draaglik.
Jy verdien n blaaskans, my liefling! fluister Lulu in haar dogter se oor, want wie weet beter as s wat Elke elke dag uit louter liefde vir haar doen.
Chris wat skielik n onbeheerbare drang het om langs sy oom te sit, klouter vinnig voor in. Great! Hy het dit reggekry om nie langs daardie meisiekind te moet sit nie.
Tinus gaan sit op die middelste bank langs Elke en Deirdr. Op die agterste bank, omring met stapels teddiebere en ander opgestopte gediertes, l Annemie met haar hondjie Herrie op-gekrul in haar arms. Op die oomblik is sy te aan die slaap om soos gewoonlik luidkeels op alles en almal kommentaar te
lewer. Die oop bagasieruim van die bussie is volgeprop met al die goed wat nie in die sleepwa kon inkom nie.
Met die nog slaperige strate van Pretoria agter die rug, wink die blou pad voor. In die ooste het die dagbreek reeds die don-kerte verdryf. Die bussie dreun heerlik voort. Almal raak stil en lomerig 
Skielik verbreek Tinus die stilte. Chris, s hy terwyl hy vooroor buig om sy broer wakker te maak, het jy onthou om n permit te kry vir Mapungubwe?
Chris sit regop. O vrek, nee! Ek het skoon vergeet! Flippit! Dit sal ghastly wees as ons nie op Mapungubwe kan kom nie! O gorrel! Annemie wat wakker geskrik het, sit penregop. Maar  mens  kan  mos  net  in  Pretoria  n  permit  kry,  want Mapungubwe is mos die Universiteit se koppie, en net hulle, en niemand anders nie, kan permitte uitreik, en Chris, as jy so
onnosel was om van n permit te vergeet, dan verdien jy  Chris grom gevaarlik.
Nee, Annemie-skat, paai Elke, altyd die een om vrede te maak. Sy leun agteroor om haar jong niggie agter die oor te kielie.
Sal ons nog die storie kan skryf? vra Deirdr bekommerd. Sy weet dat hul besoek aan Mapungubwe noodsaaklik is vir die storie agter die storie wat hulle wil skryf.
Natuurlik man s Chris vererg. Was dit nou nodig dat hy n gek van homself voor hierdie simpel meisiekind moet staan en maak?
O! Deirdr is bietjie afgehaal omdat Chris so kortaf is, maar die bussie se geraas maak dit nie maklik om te gesels nie. Sy sal maar later verder uitvra 
Chris, ou krel, s sy oom, dis jou geluk dat ek Rudi Steyn se nommer op my foon het. Tinus kan hom by De Beers skakel. Rudi was n rukkie gelede in Pretoria en hyt my kom s dat ons die wild op Makwena sal moet tel. Toe hy my PDA sien, het hy ges dit sal baie met die telling help. Hy het toe sy selfoon-nommer ingesleutel.
Chris haal die PDA uit die paneelkassie en toe bewe hy van opwinding: Wow! Oom Martin, maar dis mos fantasties! Die
allernuutste! Jislaaik, met volkleur touch screen, GPS, beeld- en radio-opvangs, toegang tot die internet, bluetooth en duisend-en-een ander funksies, ek kan nie eens raai waarvoor nie! Su-per!
Oom Martin glimlag. Ja, ek was gelukkig om so een te kry. Ek het dit as toekenning ontvang tydens ons laaste onderwys-kongres. Maar wat al die knoppies beteken sal jy en Tinus maar self moet uitvind, ek verstaan niks van hierdie nuwe tegnologie nie  Ek gebruik dit maar net as n selfoon.
Oom gaan wild tel. Tinus is verras en baie opgewonde terwyl hy na die toestel kyk wat Chris nou aangee. Maar mens sal mos n rekenaar ook nodig h, Oom?
Oom Martin knik. Ja, Rudi het ook so ges. Daarom moes ek n bluetooth-koppelstuk vir my skootrekenaar koop. N elke dag se telling kan ons dan die data in die Dongola-databasis stoor en met spesiale sagteware die nodige statistieke en gra-fieke genereer. Ek wonder of Rudi al die sagteware in die hande kon kry.
Great! Chris is die ene ore. Hierdie dinge laat hom tiek. Tinus skakel Rudi se nommer. Hy moet konsentreer, want
die bussie is oud en dit maak n vreeslike lawaai.
