Hoofstuk 3
Abel Klootwyk staan die volgende oggend ligdag op en stook die vuur tot hy weer vlam. Dit is nog nie mooi lig nie, toe hy vir Naas n beker koffie bring. Drink, ou Naasman en dan loop haal jy die osse vir ons. Ons wil maar vroeg wegkom hier, s hy.
Naas wil net so graag wegkom van di onheilspellende plek. Daarom drink hy die swart koffie haastig en wriemel uit sy bedjie. Hy loop n ent met die pad langs en sorg dat hy n wye draai om die graf in die bos loop. Die son is al uit toe hy die osse gewaar. Toe Naas met die osse terug by die wa kom, wag die ouerige bruin man van gisteraand reeds daar. Oom Abel Klootwyk loop hom tegemoet. Tant Soufie gewaar hy nrens nie  maar hy hoor wel hoe iemand in die watent huil. Jou tante-hulle het toe sommer vroeg gestuur vir jou, Naasman. Ja, jy moet saam met die oudste daar na die opstal toe gaan. Vat  Aag, jyt mos gn los goedjies nie, n? Oom Abel blaflag pateties en dit is asof sy gesig verknyp. Ai, ou Naasmantjie, dan groet ons maar. Onthou, dit was jou ma se sterwenswens en syt geweet wat beste is. Ja, syt geweet wat beste vir jou is. Ai, jirre tog!
Oom Abel Klootwyk ruk om en stap haastig weg. Hy skree n oomblik later op Hartland, die een vooros. Dan is dit weer: Hou tog op grens, Vrou en kom help my die osse hoi jaag en geriem kry. Ons moet inspan en wegkom hier.
Naas stap swyend en verdrietig langs die ouerige man. Hy loop met n stokkerige langbeenpas, met sy arms wat passief regaf van sy ho skouers hang, asof dit nie deel van sy liggaam is nie en sommer terloops agterna aangesit is. Hy hou sy kop baie regop, sy o waterpas  maar dis net omdat hy nie genoeg nek het om sy kop te laat hang nie. Dit pyn in sy bors, want hartseer en angs is nou soos tweelingbroers in sy hart. Hy moet na vreemdelinge gaan, mense wat hy gisteraand ontmoet het, familie van hom vir wie hy hoegenaamd geen trek het nie en wat al gewys het hy is onwelkom.
Maar nou het hulle gestuur vir hom. Oom Abel het dit nie ges nie, maar aan sy optrede kon Naas sien dit is vir goed. Agter hom kan hy hoor hoe oom Abel Klootwyk die een os na die ander sy jukplek gee, haastig om in te span, hier weg te kom.
Naas wou tog so graag saam met oom Abel en tant Soufie hier padgegee het! Die maand of wat saam met hulle met die tog hierheen, is opeens die uitnemendste tyd van sy lewe.
Dan is hulle by die plaashuis. Naas volg die bruin man huiwerig by die kombuisdeur in. Seurtjie, haal af jou hoedgoed, s die ou man en haal sy eie hoed van sy kop af. In die kombuis s hy vir n bediende: Loop gaan s vir nooi Marja die duusmantjie, hyt gekom.
Hulle wag geruime tyd. Dit is haas die eerste keer in sy bewuste lewe dat Naas hom in n huis bevind. Sedert hy homself maar ken, het hy op die wapad geboer, soms wel vir maande op een plek  maar dan net met n kookskerm en miskien n skuiling van takke of tamboekiegras. Hy vergaap hom nou aan die massiewe klipmure en aan die dik houtbalke in die dak wat net hier en daar met n dissel bygekom is. Teen die een muur is n bre es met n swart ketel wat aan n ketting uit die skoorsteen hang, etlike driepote en dan n tamaai driebeenpot, n pap- en n vleispot, soos wat sy ma en ook tant Elsie Bessemer gehad het.
Naas verwonder hom aan die es. So iets het hy nog nooit gesien nie. Die bediende sit juis weer hout onder die een platboompot waarin iets uitnodigend sis en braai. Die res van die kombuis bestaan uit n reusekas, n rak waarop etlike emmers water staan, n rak met hake vir die melkkanne, n tafel in die middel van die vloer en n agtal swaar, sterk kombuisstoele.
Dan kom tant Maria Bodemer van binne af in. Die ou man wil nog storie. Trap, Stefaans. Toe, gaan help by die melkery, beveel sy. Mina, wat staan jy? Stook die vuur. Ons wil nie weer halfgaar kos eet nie, raas sy met die bediende.
Nou eers wend sy haar tot Naas. Seun, ons het toe besluit om jou te hou. Nie dat ek weet of jy iets werd gaan wees nie. Jy lyk so of jy net bene en arms is en verder van geen nut kan wees nie. Maar jy sal darem seker jou kos kan verdien. Kan ons jou vertrou om met die bees te loop wei?
Ek het al beeste opgepas, Tante, s Naas.
Ja, hoe goed, sal ons nog moet sien. Mina, skep vir hom pap in. Toe, dis aanstons klaar gemelk. Dan moet jy met die beeste veld toe. Wats jou naam?
Naas  Ingenaas, Tante.
Gmf, dis nie n noemnaam van die Lospers nie. Ingenaas? Mos n Ferreira-gespuis. Waars jou goed? Laat ek jou gaan wys waar jy slaap.
Ek het nie goed nie, Tante.
Ander klere? Jou kooigoed? Jyt tog n kombers?
Ek het niks.
Nie eers nog n broek of hemp nie? Gn wonder jy stink op n afstand nie. Kom saam.
Tant Maria lei hom by die agterdeur uit en al met die lang muur voort. Op die verste punt van die lang huis gaan hulle by n dubbeldeur in. Dit is n perdestal met n perd aan die krip en plek vir nog twee. In die verste hoek is n leer teen die muur. Klim op met die leer. Dis nou jou plek daar bo. Toe, klim op en loop kyk.
Naas klim met die leer op. Dit is donker, met net een smal venster in die verste muur, maar hy sien die bre houtbed wat met kettings aan die dak hang, die veel smaller mielieblaarmatras en die velkombers
Toe, kom af, beveel tant Maria. Nou weet jy waar jy slaap. Tant Maria sug. Mens moet die sterwende se wens respekteer. Maar waar Cornelia aan jou gekom het en waarom sy jou aan my afsmeer  Toe, kom kombuis toe vir jou vreetsel. Die beeste moet in die veld kom.
Naas eet ongemaklik aan die groot tafel in die kombuis: pap en melk. Toe gaan hy krale toe.
Oom Dolf is daar en ook die meisie wat hy gisteraand te perd by die suiping gesien het. Oom Dolf beduie hom waar hy met die beeste moet wei. Die wreld is wyd en weiding volop. Laat die beeste vry loop en moet hulle nie op n kol vaskeer nie. Ja, en oppas vir die bul. Hou hom dop, onthou! Jy moet vir jou kieries kry. n Wagter moet gewapen wees.
Oom Dolf is baie buigsamer as tant Maria, kom Naas gou agter. Hy vra nou: Het jy water by jou? Die dag is lank en dit word warm in die veld.
Die meisie is weer te perd. Naas kom agter sy kyk gedurig in sy rigting, maar hy kyk weg sodra sy sy blik vang. Dit tref hom weer hoe volmaak mooi sy is. Sy laat hom bly, maar ook skaam en ongemaklik voel.
Wanneer die laaste koei gemelk is, word die kalwers in die kalwerhok en die beeste by die kraalhek uitgejaag. Oom Dolf gee hom n kannetjie water. So ja, nous hulle joue, Naas. Mooi loop en lig loop vir ou Oemfaan, waarsku oom Dolf weer.
Die beeste tou al met die pad langs tot waar die bome anderkant die kliprif veryl. Oemfaan, die spierwit bul met die nors gevreet en kort fris horings, is onder die agterstes. Hy kyk elke kort-kort om en stap tydsaam, n astrante trots in elke tree. Dan begin die voorste beeste sprei en wei. Naas laat hulle hul neuse volg. Beeste oppas hier waar weiding volop is, is n grap, glo hy. Hy bly nietemin gedurig op die hakke van die agterstes en loop soms n wye draai om die voorstes, sodat hulle moet weet daar is n wagter.
Met een van di draaie kom Naas n slag te naby Oemfaan. Die bul weet hy is vreemd, kyk hom lank agterna en val toe n miershoop aan. Hy grawe met sy horings, skop stof op met sy pote en bulk onheilspellend. Hy kyk kort-kort op; soek tot hy Naas weer in die oog kry. Dan lyk dit vir die seun of die bul hom daag. Dis vir Naas so al of Oemfaan n grief het en duistere planne smee.
Teen die middag kom Naas agter die beeste het skielik met n punt in n rigting begin tou. Hy hardloop hulle agterna. Toe sien hy die landerye waarheen die uitgelate voorlopers pyl. Naas skree verwoed en hardloop so al wat hy kan, maar die beeste bly hom vooruit; bulkend, bokspringend, uittartend. Die belhamels is al in die lande en Naas pootuit toe hy die perderuiter sien. Dis die meisiekind. Sy jaag met haar perd tussen die beeste in en begin hulle behendig uit die land dryf. Naas probeer vervaard hand bysit, maar dis gou duidelik dat sy hulp oorbodig is. Wanneer die spul eindelik verdryf is, hoes en hyg Naas na asem. Sy bors brand en sy keel is kurkdroog.
Ek het vir jou water gebring, s die meisie nou. Jy is seker goed dors na di moles, ou nefie.
Naas drink dankbaar uit die waterfles. Hy betrag haar met skugter o. Sy is mooi: swart o, golwende donker hare en n klein, dog stewige postuur. Sy praat nie weer met hom nie, maar haar houding is tog vriendelik en toegene. En syt hom nefie genoem.
Pas maar op vir die landerye. Die vabonde sal soontoe bly neig waarsku sy voor sy wegry.
Naas dryf die beeste ver in n ander rigting. Hy voel sleg oor die skade in die land, maar vreemd bly oor die mooi dogter wat hom gehelp het en vriendelik met hom was. Die beeste besef nou hy laat hom nie deur hulle nukke van stryk bring nie. Net die wit bul kyk lank in sy rigting. Naas soek onwillekeurig en maak seker waar die naaste groot boom is.
Laat die middag dwing veral die koeie in melk huis toe. Die osse en los beeste volg in n lang tou op hul hakke. Net Oemfaan talm, gaan kort-kort staan, kyk om waar Naas is. Dit kom voor of hy voel sy leierskap oor die kudde word bedreig en dat hy di bedreiging uit die weg wil ruim.
Naas hoor aanvanklik die koeie bulk. Toe antwoord kalwers. Pas daarna dawer stemme wat alarm maak, roep en skree. Hy besef te laat wat aan t gebeur is en begin hardloop, maar die suipkalwers is al tussen die koeie. Oom Dolf, ou Stefaans en nog n werker, keer, skree en swets tot die kalwers eindelik in die kalwerhok is.
Jou ellendige boggelrug, nout jy die koeie laat uitsuip, beskuldig oom Dolf toornig. Jy weet mos jy moet die beeste in die veld los en eers die kalwers in die hok besorg. Dis deel van jou bietjie werk.
Ek het nie geweet nie. Ek is jammer, Oom, vra Naas verskoning
Maar nou weet jy. Nou sorg jy. En jy oom my nie weer nie. Ek is nie jou oom nie!
Goed, Oom. Naas besef te laat hy het weer die verbode woord gebruik. Maar hoe moet hy dan s?
Die koeie het vanaand glad nie die melk wat hulle moet h nie, kla tant Maria.
Uitgesuip, die laaste een, verklik oom Dolf.
En jy slag die slegte vloek nie af nie? gaan tant Maria gal af. Toe een van die werkers berig van die beeste wat in die land was, is dit eers n kabaal.
Jou ges dit sal nie werk nie. Ons moes die lelike klein misbaksel aan sy ellende oorgelaat het. Maar jy en Cornelia is mos altyd slim, weet altyd van beter, verwyt tant Maria.
Naas is diep ongelukkig. Almal raas en verwyt en hy is honger. Dit lyk egter nie of hy kos gaan kry nie. Dit is al donker, al laat. Hy het vanoggend laas n bord pap en melk geet. Sy le maag maak sy moed min; laat die ongeluk en trane vlak l.
Die ding dat sy tante-hulle hom n gedrog en n boggelrug noem, is al erg genoeg. Dt is hy egter sy lewe lank al gewoond. Maar om hom kos te onts! Hy glo hulle wil hom s straf.
Toe wag voor die kombuisdeur niks oplewer nie, sit hy af na sy solderkamertjie. Vanaand staan twee perde voor die krip. Hy klim met die leertjie op en gaan l op die hobbelrige bed.
Naas l op sy sy en tuur in die donker na die smal venstertjie. Hy het jare gelede al geleer om nie te huil nie. Maar dit maak die pyn in hom groter, want sy hart is seer en hy verlang na sy ma en na Ousus. En hy wens hy is waar hulle nou is.
Later hoor hy tant Maria tier: Cornelia, as hy sy vreetsel wil h, moet hy sy vreetsel kom kry. Dink jy ek sal dit agter die gebreklike aapgesig aandra?
Naas moet opstaan en sy kos gaan haal. Maar hy kan nie. Daar is n trots en n verset in hom. Hy sien kans om van die honger dood te gaan, net om hulle te wys.
Maar toe praat n sagte vrouestem opeens in die stal. Naas? Ou Naasman, wil jy dan nie eet vanaand nie?
Dis Cornelia, die mooi dogter. En sy pleit nou: Kom, Naas, jou kos is lankal ingeskep. Toe, koud sal dit nie lekker wees nie.
Hy aarsel nog koppig. Toe sug hy diep en kom orent. Hy soek sy pad na die leer toe. Onder in die stal gewaar hy Cornelia se wit gesig, die glans van haar donker o. Dit lyk of sy glimlag.
Kom jy? vra Cornelia en nou lag haar o. Toe voeg sy kameraadskaplik by: Aag, jy moet jou tog nie aan my ma steur nie, haar blaf is erger as haar byt.
Cornelia, wat glimlaggend in die deur staan en wag, is vir hom selfs nog mooier as toe hy haar vir die eerste keer gesien het. Hy klouter met die leertjie na benede, waar en volg haar kombuis toe, waar n bord kos op die tafel staan: skenkel met heelwat sous, kaboekoring en n dik sny gebotterde brood.
Naas is nou oor sy ergste honger. Maar sy eetlus kom gaandeweg terug. Hy eet sy bord leeg, drink water en gaan terug na sy solderkamertjie. Dit val hom nou by hy wou nog vanaand vir hom n paar fris kieries gesny het.
Hy hoor Cornelia met die perde in die stal praat, haar donker stem so sag soos fluweel.
Di nag droom Naas van Oemfaan, die wit bul. Vir hom voel dit hy worstel die hele nag met die gedierte  wat soms tant Maria en soms Cornelia se gesig het.
