Die ryke dwaas
Die hedendaagse boer is nie n oom wat vreedsaam op sy stoep sit en pyp rook en jou van die Rebellie vertel nie. Hy skeur nie meer die bewyse van die geld wat jy hom skuld voor jou o op nie en sy vrou is nie meer n goedige tante wat haar seun by die stasie met slopies dro beskuit en biltong kom groet nie.
Die boer van vandag woon dikwels glad nie meer op die plaas nie, hy doen net sy sake daar. Hy klim soggens self in Jo-hannesburg af as sy lammers geslag word, gaan soek sy stoet-bul in Switserland uit en ry bees toe met n ligte vliegtuig  in Botswana. Sy vrou gee lesings voor stadsgehore oor Skandina-wiese naaldwerk. Hulle laat hul hare na die nuutste mode kap en ry die duurste motors, want dit is vir hulle belangrik om boere te wees en dit nie te lyk nie. Die man wat vandag n boer is en dit lyk, het dadelik probleme waarvan sy pyprokende oupa nooit sou droom nie.
Maar in ons kontrei is ons gereeld n bietjie agter met alles en hier kry n mens waarlik nog boere wat op die stoep sit en pyp rook en hulle baard vir die Nasionale Party se kongres laat groei. Gevolglik staan die boerderyprobleme by ons kniediep in die blom. Die grondbewaring, die Departement, die jakkals-jagter, die sensusopnemer, die oliekompenie, die windpomp-man  almal het probleme met ons boere. Hulle kry niks uit ons nie, s hulle, en n ernstiger klagte kan nouliks teen n boer in-gebring word.
Die voorligtingsbeampte is die man wat ten nouste by hier-die probleme betrek is. Die voorligtingsbeampte is die ouder-
ling van die Departement van Landbou en hy moet die boer op die pad van boerderysaligheid voorgaan en gereeld van die geestelike en praktiese vordering aan sy Departement verslag doen. Daar word verder beslis van hom verwag om iets in te kry. Daarom is die voorligtingsbeampte van ons streek ge-woonlik n ontnugterde mens en as hy nog n nuwe voorligter is, het hy, soos oom Koot dit stel, n propperse lyding.
Kyk, s oom Koot verder, n nuwe voorligtingsbeampte is soos n jong bruid. Eers as hy sy beperkings leer aanvaar het, word hy regtig bruikbaar. Hy moet besef dat ons nie toevallig agter met alles is nie, ons is agter uit oortuiging.
Hoe ook al, uit oortuiging of nie, ons bly agter met alles. Stel ons n studiekring aan om die bewerking van grondboontjies te bestudeer, val die prys daarvan. Voer ons beeste, styg die ver-koopprys van varke, begin ons met varke, styg die prys van voer, plant ons voer, reent dit en het ons dit nie meer nodig nie. Nes ons uitgevind het wat ons moet doen, moet ons dit lankal nie meer doen nie.
Op n dag kry ons toe weer n nuwe voorligtingsbeampte: baie besiel, baie beslis en met n pamflet oor alles onder die son. Sal hierdie distrik se boere nou opskud met hulle grondbe-waring, sal hulle nou asseblief water bewaar en wisselbewei en wet gehoorsaam, s hy. Wil hulle h die litjieskaktus en die jakkals en die stamboorder moet die platteland ontvolk? Die opbrengs per morg in Europa styg en styg nog altyd en die mie-lieprys in Amerika val en val nog altyd en wat gaan ons daar-omtrent doen? Quo vadis? Afrikaner, gaan red jou bodem, krel.
Die mans van ons omgewing raak nie bietjie genspireerd nie. Hulle ontwurm, ontklos, ontluis en onthoring. Hulle sleep ou ysters weg, verf naamborde en stel mosies van wantroue op Partyvergaderings voor. Die hoop brand hoog dat die Liewe Heer hierdie kinderlike gewillighede met reent sal beloon.
Die enigste man in ons kontrei wat nie met die nuwe voor-ligtingsbeampte wil saamwerk nie, is Jan Oelofse. Jan sit op sy klein lappie grond soos n bloubosluis in n laatkalf se oor en hy wil nie sy lande kontoer nie, hy wil nie boor vir water nie, hy is
so teen die nuwe kampstelsels dat hy nie eens vir sy vrou n hoenderkampie wil span nie. Hy haak sy mielietjies in met n ou Olivier-trekker en n Dutchman Chief-ploeg, hy skoffel sy mielies met twee mofosse en maak dit af met n handmasjien-tjie. Sy melkkoeie wei in die grootpad, hy stel strikke vir sy bure se springbokke en stook skelm witblits vir die swartes. Hy is kwaaivriende met die ouderling en gee nie sy dankoffer nie en hy ja die Party se kollekteerder soos n hond van sy werf af weg.
Ek s nie maklik n man is n swak buurman nie, het my pa altyd van hom ges, maar ek sal sonder tespraak s Jan Oelof-se is n swak buurman.
Ons Boerevereniging laat dit toe nie daar nie, want waarna lyk dit nou: Jou persentasies en opgawes en subsidies kry alles n knou met n klad soos Jan daar tussenin. Hulle stuur briewe en sirkulres uit, praat mooi en dreig, maar Jan steur hom aan niks daarvan nie. Buite raad daag hulle hom amptelik om voor die Boerevereniging met regeringsamptenare in rade te ver-skyn.
En Jan kom toe die dag, maer en seningrig in n grys en wit gestreepte pak klere, wit boordjiehemp en studs en swart nik-neusskoene. Sy ligte voshare staan orent van moerigheid, sy lippe is afgedop van die son en sy groen o so giftig soos n geel-slang sn. Hy het na Klein Koot, die voorsitter, se lang lys be-skuldigings geluister, toe opgestaan, sy voorvinger onder Koot se neus ingewyster en ges: Ek gaan nie en ek sal nie en ek wil nie. Dis my grond en ek boer daarop soos ek wil en ek wil haa-ee-l graag sien wat jy en jou gespuis daarmee te doen het, en by die deur uitgestap.
Hulle was diep geskok. Dis die klas man wat die boer se aansien in die land so laat daal. Hy is n regte ou betoger, s hulle en Klein Koot beweer selfs dat sy houding op minagting van die hof neerkom en dat die vereniging nie sal rus voordat stappe teen Jan gedoen word nie.
Juis toe die stappe gedoen moet word, raak die kontrei eg-ter oudergewoonte weer op n ander terrein agter. Ons kry die
tyding van die voorligtingsbeampte dat weidings en kontoere alles goed en wel is, maar dat die boer se grootste probleem vandag die onekonomiese grondeenhede is, en wat het ons al daaraan probeer doen? Stel ons nog altyd testamente op om grond te onderverdeel tot dit so groot soos n possel is, kapi-taliseer ons nog steeds tot die grond per hektaar so duur soos in Eloffstraat is? Ons skrik, want aangesien meeste van ons nog nie eens weet wat n hektaar is nie, moet ons baie verder as ge-woonlik agter geraak het. Ons stel n studiegroep aan om inlig-ting oor hierdie listige vyand van ons bedryf in te samel en ons vergeet n bietjie van Jan.
Die studiegroep sit tot laat snags om grondgroottes en loon-state en landbanklenings te notuleer, te tabuleer en in sesvoud op te stuur. Toe alles by die hoofkantore gesorteer, geprogram-meer en gekarteer is, het die antwoord in sesvoud teruggekom dat daar n sekere meneer Jan Oelofse in ons omgewing is met geld in die bank. Op honderd-en-vyftig morg grond  en as ons weet hoeveel hektaar dit is, sal ons weet dat dit n onekono-miese grondeenheid is  voer hy n selfstandige bestaan sonder om lening of bystand of onderstand te ontvang. Dit bring mee dat daar n legger met n ander kode spesiaal vir ons kontrei op-gestel moet word, en dit maak nou eers n gemors van ons per-sentasies en ons subsidies en nou is die Boerevereniging eers die josie in vir Jan.
Maar aangesien Jan Oelofse nou wetlik en amptelik die ryk-ste man in ons kontrei is, sou ons ook nou self haa-ee-l graag wil sien wat iemand anders met sy boerdery uit te waai het.
