Bul van Afrika
Wie was Bart Krog? Oos-Vrystaters krap die kop as jy hulle dit vra en weet haas nie waar om te begin as hulle hom vir jou wil opsom nie. Dis die man wat nie gehou het van die manier waar-op die Vrystaatse Administrasie die grootpad tussen Senekal en Ficksburg gemaak het nie, dit afgespan en toe verl het soos hy gemeen het dat dit wenslik en prakties was. Die pad loop vandag nog so. Dit is Bart Krog wat die Rebellie in Senekal begin het; Bart Krog wat toe hulle hom op n formele geleent-heid voorstel by die heer Beest van Andel, toentertyd Wees-heer in Bloemfontein, die hakke teenmekaar geslaan, geknik en koel ges het: U is Beest van Andel. Ek is Baasbul van Afrika! Ek het niks van hierdie dinge geweet toe ek in die familie in-getrou het nie. Hoewel Senekal en Kroonstad net sestig myl van mekaar l, verbaas n mens jou oor hoe ver die twee distrik-te in samelewing en lewensbeskouing van mekaar verwyder is. My pa het my altyd gewys hoe die pad van Kroonstad na Ven-tersburg heeltyd opdraand tot by die groot ou kareeboom net buite Ventersburg loop. Hiervandaan begin die ho tafellande wat oos- en suidooswaarts op die Drakensberge uitloop. Van hier af ooswaarts aard n Afrikanerbees nie meer so goed nie, is dit kouer, is die gras anders en, so het hy geglo, is die mense ook anders. Dit het altyd ewe seer  om die waarheid te s baie meer  van Senekal se kant af gegeld. Hulle het op hulle beurt geglo dat mense wat laer af as die kareeboom by Ventersburg woon,  slordige  boere  is,  opruiers,  moeilikheidmakers  sonder vastigheid of ankers. Hulle het gelag vir ons treurige perde, ons
werkers se swak maniere en ons ongeletterde uitspraak van die Basothotaal. Kortom, as n gemiddelde Vrystater in een van die ander provinsies kom, sal hy homself voorstel as n Vrysta-ter en dan die naam van sy tuisdorp noem; die Senekaller sal met die allerdiepste waardigheid s hy kom van Senekal en dit tien teen een nie nodig vind om aan te dui in watter provinsie die dorp l nie. Dit sou my nie verbaas as die laaste tolhekke in die Unie di was wat Senekal van die res van die Vrystaat ge-skei het nie.
Ek noem die dinge nie om die ongelykheid in my huwelik te beklaag nie, maar n mens moet iets van die Oos-Vrystater en die Krogs weet om die oproerige rol van ons veraf oom Bart ten volle te waardeer. Dan verstaan jy ook hoekom almal hom altyd soos n kruitvaatjie hanteer het, die nek in, die hoed oor die o getrek wanneer hulle hom tekom, nooit wetende van watter kant sy aanslag hulle gaan tref nie. As Bart Krog n grap ten koste van jou maak, het hy dit in n stampvol kafee gedoen in n stem wat teen die rant vasslaan. Rusietjies waarvan selfs die wyksouderling nie weet nie, sal hy op die vendusiebankies ten aanhore van almal op die lappe bring, albei standpunte uiteen-sit en persoonlik die handdruk van versoening versel  waar-uit afgelei kan word dat hy nie n gebore Senekaller was nie.
Die Krogs het maar eers in die negentiende eeu uit Skandi-nawi na Swellendam gekom. Hulle was mense wat dinge kon prakseer, paaie en tonnels en wette en inflammasieolie en mieliedorsmasjiene, maar vir my is die opvallendste eienskap van my skoonfamilie hulle imponerende uiterlike. Die Krogs het styl. As hy een pak klere het, sal n Krog dit dra asof dit met die hand gemaak is van Harris Tweed  en bes moontlik is dit dan presies wat dit ook is. As n Krog-vrou by n restaurant in-stap, kom die bestuurder haar self tegemoet, want hy glo dat haar mantel van Swakara en haar juwele verassureer is  en hy sal dalk gelyk h. Ek het al bottels koekemakrankabrandewyn, eerste uitgawes van digbundels, handgehekelde bedspreie en uitnodigings na Bosveldplase gekry alleen om die sjarmante, gedistingeerde uiterlike van my persoonlike Krog aan my sy.
Hulle is mense wat muntstukke en sels versamel en het al hulle familiegeskiedenis te boek gestel in die tyd toe ons by-laag met n ij geskryf het. Hulle voer dit onder andere terug na n groot ou vrouefiguur, Gina Krog, wat in Noorwe veel met die emansipasie van die vrou te make gehad het. Ek het al-tyd gemeen dat as my vyfde kind n dogter is, ek haar Gina sal doop, want ek het self n hele paar dingetjies vir die vrouege-slag in gedagte. (Dit was toe n seun wat as Jalie geindig het, die Sesotho vir die einde, die finale, en so nog n glorieryke moedersdroom geprik het.)
Baie Krogs het verengels, maar Bart Krog nie. Hy het met n koue besetenheid Afrikaans geword.
Gedurende die Anglo-Boereoorlog het hy baie onheile in Oos-Kaapland gestig, pro-Boertoesprake gehou en koningin Victoria in die openbaar beledig. Net voor hulle hom as Kaapse rebel kon vang, het hy sy goed gepak en Vrystaat toe getrek en daar om burgerskap aansoek gedoen  n hoogs individuele vorm van beskerming waaraan niemand anders op daardie tyd-stip gedink het nie. Hy het vir hom n plaas in Senekal gekoop, tot die dag van sy dood tussen die Senekallers beweeg soos iemand op langverlof en n onmisbare deel van die samelewing geword. Hy was n mooi en, alhoewel korterig, n imposante mens, altyd tot in die fynste versorg met goue mansjetknope en onderbaadjieknope van robyn. Op enige samekoms was hy in die oog lopend en volkome meester van die situasie. Sy huis-houding het hom bedien en verafgood, was trouens verplig om dit te doen. Hy het sy eie sout- en peperpotjies, sy eie suiker-potjie en melkbeker gehad. Hy het vir niemand kos gevra of aangegee aan tafel nie.
Selfs teen iemand soos ou mevrou Pagel, die eggenote van die bekende sirkusbaas, was hy opgewasse. Almal wat in hulle kinderdae gaan toustaan het om n sirkusvertoning by te woon, sal mevrou Pagel se skrikbewind onthou. Klein, met rooi ge-verfde hare, vir die arena gegrimeer en in satyn uitgevat, het sy die kaartjies verkoop. Mevrou, so het dit soms gelyk, was sor-geloos met die uitkeer van kleingeld. Haar stelsel was n bietjie
van alles: n paar pennies, een of twee sikspense, n sjieling en niks meer nie. As jy sirkus toe kom en meer kleingeld as dit wil h, is jy baie laat. As jy protesteer, is dit reg in haar kraal. In n mengeling van tale en idiome, aangeleer op die saagselringe van baie lande, het sy jou afgesnou en uitgejou en ten aanhore van die hele sirkustou na die duiwel gestuur. Sy het met arendso oor die vertonings gewaak en elkeen wat hom misdra, uitge-skel en aan die kraag laat uitsmyt. In later jare het daar altyd twee konstabels langs haar hokkie gestaan. Dit was om n hul-pelose vrou teen rowers te beskerm, maar dit het ook gehelp om die ergste kleingeldglipse te verminder.
Op Senekal het dit op n keer gebeur dat iemand mevrou Pagel n goue tiensjielingmuntstuk gee. Dit was n skaars en herkenbare muntstuk, en daarom het sy moeite gedoen om die regte hoeveelheid kleingeld uit te keer. Toe sy later die geld be-gin tel, vind sy dat die onbekende verneuker nooit n tiensjie-lingmuntstuk gegee het nie, maar n halfpennie. Sy het soos n briesende leeu in die tent ingestorm en die hele vertoning tot stilstand gebring. In albei landstale het sy gebulder dat daar oneerlikheid by die loket was. Sy eis dat die man wat haar die halfpennie as n tiensjielingstuk afgesmeer het, dadelik op-staan en die saak kom regstel. As hy self kom, sal sy dit as n abuis verskoon. Sy weet presies wie hy is, en as hy nie self kom nie, laat sy hom vang. Toe staan Bart Krog op en draai na die volle hanebalk: En ek s, bulder hy net so hard, bly sit, my vriend! Sy weet ni wie jy is nie. Die vertoning sal nou voort-gaan. En dit het ook.
In die dertigerjare kom daar n nuwe bankbestuurder op Senekal. Hy staan op n dag agter die toonbank en kyk hoe sy klerk geld uittel. n Hele paar mense wag voor die toonbank. n Man kom binne, druk die wagtendes opsy tot hy voor die toon-bank staan en haal sy tjekboek uit.
Sal u asseblief net wag tot ons met hierdie mense klaar is, Meneer? vra die bankbestuurder op die welbekende ferme toon van mense van sy status. Die man voor die toonbank kyk ongelowig op. Hy steek sy tjekboek in sy sak en raap sonder n
verdere woord twee sakkies geld van die toonbank op en stap daarmee uit die bank. Die bankbestuurder vat en vat mis na die gelaaide rewolwer onder die toonbank. Hy stamp die hekkie oop en storm na buite. Die man het pas in sy motor geklim en weggetrek. Die bankbestuurder skreeu na die omstanders, maar kry waarlik min reaksie. Hy storm terug en bel die poli-sie.
Die polisiesersant is dadelik die ene vuur en vlam. Hier val n bankroof helder oordag in sy skoot! Terwyl hy praat en be-sonderhede neerskryf, wink hy sy konstabels nader. Ten slotte skree die bankbestuurder nog dat hy die motor se registrasie-nommer afgeskryf het en hy noem dit.
Ontspan maar, Meneer, s die sersant, ek sal die geld binne n uur terug by jou h.
Hy het uitgereken hoe lank n mens ry om op Rooipoort, die Krogs se plaas, te kom. Toe die tyd om is, vra hy die sentrale om hom deur te skakel.
Oom Bart, was Oom vanmre by die bank? Ek was.
Nou, Oom, die bestuurder s Oom het daar twee sakkies geld ge Oom sien 
Ek het twee sakke geld daar gevat. Hoekom?
Die probleem was nou hoe om die hele saak op n beskaafde manier afgehandel te kry: Ag, Oom, die man is rasend! Hy ken Oom mos nou nie. Oom weet mos hoe di soort dinge werk. Hy sal dadelik sy hoofkantoor moet bel en dan sit ons met al Bloemfontein se polisiemanne hier. Dit is oor die vyfhonderd pond, Oom.
Vyfhonderd presies, ek het dit getel. Die stem word on-heilspellend.
Nou Oom, sal Oom nou self dadelik die geld terugbring of moet ek en my manne dit gou by Oom kom haal?
Toe bars die storm los. Sit jy jou pote hier, skiet ek jou soos n hond. Is dit miskien jou geld? Waar kom jy daaraan om my te s wat ek moet doen  Die sersant hou die gehoorbuis weg van sy oor tot die ergste steurings verby is. En s jy vir die be-
stuurder ek het na s bank gegaan om m geld daar te gaan haal, nie syne nie. As hy s geld by m wil h, kom haal hy dit hier by m op die plaas. En hy kom vra by die agterdeur daar-voor. As hy sy pote op my voorstoep sit, skiet ek hom. Bart Krog was n dodelike skut.
Oom, verstaan ek nou reg? Hy moet dit self kom haal, dan sal Oom dit gee?
Dit wat syne is. Die stem klink nou n bietjie kalmer. Oom sal nie skiet nie?
Nie as hy by die agterdeur kom vra nie. Kan ek maar saamkom?
Jy het soos gewoonlik weer niks te doen nie. Bring n sui-kersak saam.
Die sersant het diep gesug, sy kop gekrap, later in sy motor geklim en bank toe gery. n Lang gesprek het tussen hom en die bankbestuurder plaasgevind. Daarna het hy die bankbestuur-der soos n siek man by die deur uitgelei en met hom uitgery na Rooipoort. Bart Krog het hulle by sy agterdeur laat wag voor hy dit oopgemaak het. Hy het die bankbestuurder n tjek vir vyfhonderd pond gegee en die deur voor hom toegetrek. Toe hulle by die motor kom, was daar n suikersakkie groenmielies vir hulle daarin.
Die Depressie het gekom, en weer eens het oom Bart bankmoei-likhede gehad. Hierdie keer was sy rekening oortrokke. n Aan-maning is gestuur waaraan hy hom nie gesteur het nie; n twee-de het gevolg en toe die finale. Op n oggend het die polisieser-sant die bankbestuurder vroeg-vroeg gebel en hom gevra om dadelik bank toe te kom  die herrie is daar los. Blokke ver van die bank af was die eerste tekens van verwoesting reeds sig-baar: tuinhekkies omvergeloop, motors skeef gestamp, winkel-seile aan flarde geskeur. Voor die bank het n klomp beeste rondgemaal, kwalik in beheer gehou deur n paar baar veewag-tertjies. Die geloei het die hele lug vol gehang. Terwyl hy aan-kom, kon hy die splinters hoor val soos Oppenheim se winkel-vensters deur n wilde Afrikanerkoei flenters geloop word. Hy
het sy weg skrikkerig deur plasse beesmis na die naaste vee-wagter gebaan.
Wat die duiwel gaan hier aan? Wie se beeste is dit? Dit is die bank se beeste, baas.
Vat hulle onmiddellik hier weg! skree die bankbestuurder bo die gebulk uit.
Die baas moet hulle self vat, dit is nou die bank se beeste. Wie stuur hulle?
Oubaas Bart Krog stuur hulle. Hy s hulle betaal die ou-baas se skuld by die bank.
Vat hulle weg, vat hulle weg 
Nee, baas, die oubaas sal ons slaan. Die oubaas het ges ons bly net hier. Die baas se boys by die bank sal die beeste verder vat.
Bart Krog moes gesoebat word om die beeste te kom haal, en hy het dit eers gedoen n die bank belowe het om die skade te vergoed wat deur die beeste aangerig is. Niemand kon daar-na s hy was nie meer as gretig om sy oortrokke rekening te be-taal nie.
Die verlegging van die grootpad tussen Ficksburg en Senekal het ongeveer s plaasgevind: Daar is lank uitgesien na die be-sondere pad, en die boere het die bou daarvan bespreek soos die hedendaagse geslag die kies van n Springbokrugbyspan: Elkeen was n kenner en het presies geweet hoe en waar, en as Krog het Bart Krog rs presies geweet. Hulle was diep vererg toe die pad oor n sekere stuk rantwreld glad nie loop waar enige boer wis hy moes loop nie. Afvaardigings en petisies het op die Provinsiale Raadslid en op die Administrasie self ge-reent. Dit het niks gehelp nie. Die pad is gebou en voltooi. Waar Bart Krog se grond aan die pad grens, het juis die ergste vergrype voorgekom. Bart het n paar vriende bymekaar gekry. Hulle het stilletjies die pad uitgemeet soos dit behoort te loop en dit met ploe en spanne osse klaargemaak tot n entjie van die eindpunte af. Op n sekere nag het hulle die provinsiale pad afgespan en hulle eie pad oopgestel. As voorsorgmaatrel het hulle nog die provinsie se pad vol ploegvore getrek.
Daar is weke lank oor die nuwe pad gery voordat die ver-legging by die Administrasie aangemeld is. Daar is n groot bo-haai opgeskop, hoofsaaklik oor die beskadiging van provinsiale eiendom, maar daar het uiteindelik niks van gekom nie. Bart Krog se pad word tot vandag toe nog gery.
N sy eerste vrou se dood het hy besluit om na die weduwee Wohlitz van Harrismith te gaan vry. As chaperone het hy sy niggie Tickey Human, destyds self n jong weduwee, saamge-neem. Sy kon altyd met die grootste smaak die storie van sy triomfantelike riddertog vertel. Hulle het met sy motor gery en hy het ges sy hoef haar oor niks te bekommer nie, hy sorg vir alles. Hulle is die oggend weg en kom teen eenuur se kant by Suringkrans naby Paul Roux aan. Nou die ete, s hy. Hy kies n paadjie na n opstal naby die pad. Voor die tuinhekkie is daar n stuk kweekgras met wilgerbome. Ten aanskoue van die huisbaas en sy vrou, wat tot op die stoep gekom het, trek hy onder n wilgerboom in, begin kussings en kosmandjies afdra, slaan n tafeldoek oop en pak koue hoenders, toebroodjies, slaaie, jellie en wyn oop. Hy berei al geselsende n fantastiese piekniek voor, vlak voor die vreemde woning. Tant Tickey het altyd vertel hoe sy haar skouer opgetrek en haar kop wegge-druk het met die hoop dat niemand agterna sou weet dit was sy nie.
Die huisbaas en sy vrou het maar terug in die huis gegaan, maar aan die roering van die sitkamergordyne was dit duidelik dat hulle van alles nog ten volle op hoogte bly. Klaar met eet, het Bart Krog alles netjies opgepak, die krummels huis se kant toe van die tafeldoek afgeskud, tant Tickey opgehelp en swie-rig die werf uitgery.
Die week waarop die vryery sy beslag moes kry, was vol Victoriaanse toesprake, ontboesemings en liriese versugtings. Bart Krog moes van sy geliefde weggeskeur word. Eindelik kon hulle in die pad val, terug huis toe. Drie myl van Harrismith ruk Bart meteens die motor om, trap die lepel weg en jaag terug na Harrismith. Sou hy een of ander noodsaaklike ding vergeet
het? Daar gekom, hou hy stil en spring af. Die weduwee is van sy terugkoms vertel en staan hom bekommerd op die stoep en inwag. Hy vlieg die trap op, gryp haar in sy arms vas, soen haar, sit haar neer, vlieg weer die trap af, spring in die motor en jaag weer weg.
Kort by Senekal raak hy weer heeltemal opgewonde, jaag al vinniger sodat hulle die dorp onder n stofwolk binnekom. Hy ry tot voor die hotel, gryp tant Tickey se arm en trek haar saam met hom af. In die hotel hardloop hy die trap twee-twee op tot in die hotel se sitkamer, gryp n stuk skryfpapier, skryf in waansinnige haas enkele rels, adresseer die brief, plak die koevert toe en storm met haar saam die trap af. Hy ruk n tien-sjielingnoot uit sy sak, druk dit in die hotelbaas se hand en s gevoelvol: Pos dit asseblief vir my, ou vriend.
Oh, het tant Tickey altyd haar storie afgesluit: He was a wonderful lover!
Hy was al hierdie dinge, maar hy was dit met reserwes van groot stabiliteit en erns daarby. Hy het die Rebellie in Senekal begin  soos dit op min ander plekke begin is  en natuurlik is dit nrens so luidrugtig en met soveel dramatiese tierlantyne onderneem nie. Die skade waarvoor hy persoonlik n die Re-bellie verantwoordelik gehou is, het by die duisend pond be-loop.
Op n dag geluk dit die groep waarby hy was om n klompie Regeringsmense te vang. Die gewere word afgeneem, die perde weggelei en die manne deursoek. Toe alles afgehandel is, val daar n oomblikkie stilte. Juis toe spring Bart meteens met n kreet vorentoe en gryp n sekere gevangene vas. Jou lae, walg-like regeringsluis, vir jou maak ek vandag klaar!
Almal staan hom en aangaap, verbaas oor die skielike hef-tigheid.
Wil julle sien wat maak ek met n Witband? brul Bart en pluk sy knipmes uit. Di wat hom ken, staan geamuseerd en toekyk, maar die ander dring ontsteld nader om n tragedie te vermy. Met een vinnige beweging druk hy die gevangene se
kop agteroor onder sy arm deur en maak n beweging na sy linkeroog met die knipmes. Tot die ontsetting van vriend en vyand spring die man se linkeroog met n boog uit sy kas en rol in die sand. Bart Krog had nog tyd om sy knipmes aan sy broekspyp af te vee voor sy eie mense op hom toesak en hom vasgryp.
Die gevangene spring op, skop met sy voet in die sand en tel iets met sy sakdoek op. Die Vader hoor my, Bart Krog, n dag is n dag  Hy vryf sy glasoog af en sit dit met n handige draai-slag terug op sy plek. Hy was Bart se buurman.
Maar as hy net die hanswors van die kommando was, sou hy nie kommandant geword het nie en sou kmdt. Fanie Vilonel en kmdt. Koen wat daar aan die hoof van die Regeringsmagte was, nie besluit het dat as n mens Bart Krog uitgeskakel het, die vyandigheid in die Oos-Vrystaat op n end sou wees nie. Daar is besluit om hom te skiet.
Hulle het gehoor dat genl. Beyers en sy kommando op n be-paalde dag op Paddafontein sou wees om die burgers toe te spreek. Hulle het geweet die Senekallers sou daar wees en be-sluit om hulle voor te l. Omdat Bart Krog en sy seun Martin so baie na mekaar gelyk het, is die hulp ingeroep van ene Nel, wat n goeie vriend van jong Martin was en aan Regeringskant ge-veg het, om hom uit te wys sodat die verkeerde man nie geskiet word nie. Die ooreenkoms was, so is later beweer, om hom nie dood te skiet nie, maar om hom net n paar maande buite aksie te stel.
Die plan het op een klein besonderheid na geslaag: Nel het hom in die verwarring toe die lokval bemerk is, tog misgis. Nie Bart Krog nie, maar sy seun Martin se perd is onder hom dood-geskiet en hy self in die been gewond. Die vlugtende Rebelle kon hom nie oplaai nie, maar toe sy vader die volgende oggend met n ompad terugkom om hom te soek, het hy hom gekry na-by n stroois waarheen hy volgens die sleepmerke aangekruip het. Hy was dood, sy skedel verbrysel.
Hoe Martin Krog aan sy einde gekom het, is n saak waaroor
daar tot vandag toe deur nageslagte van die Krogs, die Koens, die Vilonels en die Fronemans geredeneer word. Daar is mense wat beweer dat swartes hom doodgeslaan het; daar is ander wat self gesien het hoe een van die Regeringsmense  sy naam word genoem  hom met sy geweerkolf doodgeslaan het. Want die Rebellie was n stryd waarin daar baie geskiet is, maar waarin daar deur skuts wat op honderd tree die hoed van jou kop afskiet, mis geskiet is, omdat die korrel op n mede-Afrika-ner gerig was. Die man wat in die Rebellie raakgeskiet het, was later nie n held nie, en di wat getref is, is nooit vergeet nie.
Bart Krog het soos sy leier, genl. Christiaan de Wet, wat ook sy seun in die rantjie by Allemanskraal moes begrawe, die Rebellie verder help veg. Hy is gevang en na die kampong in Kimberley en later die gevangenis in Bloemfontein gestuur. n Afrikanervrouevereniging van Bloemfontein stuur elke dag vir hulle kos; wanneer hulle op die oop eselwa na die hofgebou in die stad ry, is daar naas uitjouende swartes en Witbande ook mense wat klein vierkleurtjies op sydoek geborduur en om n klippie vasgebind vir hulle op die wa gooi; by hulle is genl. De Wet met wie dit onder die haglikste omstandighede n eer sou wees om saam te wees. Dit was alles waar, maar veel rede tot werklike optimisme was daar nie. Die gewapende protes was na die uiterlike n mislukking en hulle sou die spit daarvoor af-byt. Jopie Fourie was reeds gefusilleer, De la Rey doodgeskiet en Beyers het verdrink toe hy onder Regeringspervuur die Vaal-rivier wou oorswem.
Dit was dringend nodig om die Rebelle geestelik te onder-skraag en hiertoe het genls. De Wet, Rautenbach, Wessels en Conroy dadelik oorgegaan. Al oefening wat die gevangenes ge-gun was, was om soggens na die voorste yard te gaan om hulle te gaan afspoel in die koue reservoir. Hulle het persoon-lik elke oggend gaan toesien dat die manne dit benut. Eerste in, laaste uit, was genl. De Wet. Dienste en boekvoorlesings is ge-hou, speletjies georganiseer, en saans is debatte en lesings ge-hou: skaapboerdery, friesbeeste, militarisme, Darwinisme en
die Bybel, en taalontwikkeling is onderwerpe wat S.P.E. Bos-hoff noem. Dit is onder hierdie omstandighede wat kmdt. Bart sy eiesoortige bydrae tot heil van volk en vaderland aangewend het. In sy Rebellie-sketse beskryf S.P.E. Boshoff n sprekende epi-sode:
Nog sit n klompie manne na Denyssen se lees en luister, toe daar al weer n ander span in n ander hoek van die yard skreew soos hul lag. Oom Bart Krog het een van genl. De Wet se sigare gesteel, en nou bring hul hom voor n Krijgs-hof, waarvan genl. Conroy voorsitter is, en waarvan n paar vrederegters, soos oom Nicolaas Kruger, oom Danie van der Merwe en oom Maans Mare die andere lede uitmaak.
Hoeveel houe met die plathand moet ek hom gee, genl. De Wet? vra kmdt. Arthur Stead, wat oom Bart aan die een arm vashou.
Nee, gee elke man n kans vir n verhoor, antwoord genl. De Wet, wat die speletjie lag-lag staan en aankyk.
Kijk hier, genl. De Wet, pleit oom Bart ter verontskul-diging, dit is deur jou dat ek vandag hier sit en nou kan jij n man ten minste n ou slegte sigaartjie gun.
Wat vir n astrante taal is dit om teen die hoofkomman-dant te gebruik? Gee hom vijftien houe met die plathand op sij sitplek, beveel genl. Conroy.
Kijk hier, krels, s oom Bart kammakastig ernstig, julle moenie vanmre met mij lol nie; ek het slegte nuws van die huis af gekrij.
Laat die ou skelm maar loop, s genl. De Wet. Ons het hom gehoor en sal hom hierdie keer sy diefstal kwijtskeld. Ha! Ha! Ha! lag oom Bart, terwijl hy hom losruk van sy gevangenemers  en  vertrouwlik,  fluisterend  teen  genl.  De Wet s: Dit is lekker sigare daardie van jou. Ek moes maar
netnou maar s dat hulle sleg is om mij skuld te verklein. Van genl. De Wet af draai hij om en stap na ds. Boshoff
toe, waar di op sij rug in die koelte l langs die tronkmuur. Terwijl hij op die dominee se maag gaan sit, haal hij n leer-
band van sy lijf af met die woorde: As jij nie n predikant was nie, dan gee ek jou nou-nou streepsuiker: Jij is ook mos een van di wat vir mij gel en lag het, toe ek flussies in die knijp was oor n ou stinkende sigaartjie van die ou gene-raal.
In n paar sekondes is die dominee bo en oom Bart onder en dan soebat die ou gedwee: Dominee, ek hou tog so baie van jou, en dit betaam jou nie om aan n ou man te slaan nie, wat jou vader kon gewees het.
Sodra oom Bart weer los en op is, s hij uitdagend: Ek is darem nie bang vir jou nie; ek het net vanmre n bietjie te veel geet, anders sou jij mij nie so maklik onder gekrij het nie.
Aldus Boshoff in sy Rebellie-sketse.
Die tronkselle was koud en komberse skaars, maar kmdt. Bart Krog se selmaats was goed voorsien. Die kommandant het die manier gehad om hom voor die wag siek aan te stel en so n oortuigende rol kon hy speel as koorsige, bibberende pasint dat die wag dan teen sy eie beterwete n ekstra kombers bring. Dit doen die kommandant by elke omruiling van die wag tot hy n stapel komberse het om uit te deel.
Sy eie wasgoed het hy nooit gewas nie, word vertel, want by die wasplek is hy so waansinnig ywerig dat hy in almal se pad is en links en regs manne om hom natspat tot iemand aanbied om tog maar sy wasgoed vir hom te was. Om almal se saak te bespoedig, en ook omdat meeste van hulle sy bydrae na waarde kon skat. Op die portret van Rebelleoffisiere wat in die geheim in die tronk afgeneem is, sit hy langs generaal De Wet.
Hy het saam met ander Rebelle sy handtekening gevoeg op die petisie waarin dr. D.F. Malan gevra is om die redakteur-skap van Die Burger aan te neem. Sy naam staan onder in die linkerhoek van die bladsy. En as n mens verwag dat dit n ver-waande, windmakerige handtekening sou wees, misgis jy jou.
Dit staan daar klein en sober, asof die skrywer bewus was van die geskiedkundige betekenis van die dokument. Maar
daar is nogal meer ruimte om sy handtekening as om di van die ander, byna asof ons oom Bart met die elmbo vir sy naam n pad na vore oopgebeur het, soos die dag op Senekal in die bank.
