Straatgeveg
Toe die son feitlik reg bo hulle koppe sit, draai Grootraad statig na sy stafsekretaris en knik met sy kop. Stompie maak op sy beurt bak-hand in die rigting van die trop: Dis byna twaalfuur, dames en here. Ons beweeg dan nou in die rigting van die vergaderplek! Dankie, thank you! Waarom al die deftigheid nou nodig is weet net Stompie.
Die leierskap stap stadig maar doelgerig vooruit, en die trop volg gedwe. Nie so stil soos gewoonlik nie, want hierdie verkiesingding is n nuwe ding. n Paar ylkoppe raak in die loop heel driftig, al stem hulle met mekaar saam: Ja-nee, vandag gaan daai snuiter op sy her-rie kry. Die ou wyfies beaam dit, effe uitasem: Maak julle reg vir n Grootraad op sy beste! Wat n man!
Karos en sy twee kamerade loop heel agter, elkeen besig met sy eie gedagtes. Waar slaap ons vanaand? is een daarvan.
n Paar fris soldate het intussen n lang, dikkerige klip verhoog toe gesleep en op sy kop staan gemaak.
Wassit daai, en hoekom weet ek nie hiervan nie? wil Grootraad dadelik weet.
Dis n kateder, s Stompie hoflik.
Kiesbeampte Stompie is nou in volle beheer, en hy luv dit. Heel regverdig laat hy die twee kandidate agter hom op die verhoog sit, elkeen in sy eie hoek.
Grootraad staan op, skud Karos se hand en gaan sit weer. Die skare sien die mooi gebaar en gee applous. Die gezoem van stemme hervat, want anders as met ander byeenkomste, behoort di geleent-heid eintlik aan die trop.
Dames en here  Dames en here  Stompie wag geduldig dat die opgewondenheid bedaar. Ek vra vir stilte asseblief  Baie dan-kie. Dames en here ons wag net vir n paar ampsdraers om in posi-sie te kom, en dan kan die verrigtinge begin.
Die gehoor raak stil, want Koevoet en die Ysters marsjeer flink nader en neem stelling in. Hulle kom nie met gebruiklike voetege-stamp voor die verhoog tot stilstand nie, maar Koevoet Lieksja! Lieksja! hulle in enkelgelid reg rondom die gehoor.
E-e-rewag, e-e-rewag halt! Twintig voete plof in die stof. Fannas se plek is al klaar gevul. E-e-e-erewag  re-e-egs om! Op die ple-ek rus! Elke keer klink die voete soos n enkele, dowwe kanonskoot.
Enkele lede van die gehoor gee sommer spontaan applous, maar Stompie kom tussenbeide: Dankie, dames en here, u sal merk dat die Ysters vandag in n nuwe formasie ontplooi word sodat ons in volkome veiligheid en vrede verkiesing kan hou. Ek dink u kan nou maar vir hierdie manne hande klap!
Di keer is die applous oorverdowend, maar dit bedaar toe Stom-pie keel skoonmaak. En nou, dames en here, n geskiedkundige dag in die bestaan van die Donkerbergtrop. n Volle, demokratiese ver-kiesing! Laat ek net eers myself aan u bekend stel. U ken my reeds jare in die hoedanigheid van stafsekretaris. Maar vandag staan ek voor u as kiesbeampte. Ek moet toesien dat die verkiesing vry en regverdig is.
Stompie wag n paar oomblikke dat sy woorde goed insink. Hier en daar keep n frons, maar daar is groot afwagting.
Elke kandidaat gaan geleentheid kry om n kort toespraak te lewer. Die volgorde sal analfabeties wees  Die fronse keep dieper. Dit beteken dat kandidaat Karos eerste sal praat en ons huidige leier Grootraad Makedaan tweede. Daarna sal daar geleentheid vir vrae wees. U, die kiesers, sal die onvervreembare reg h om vir elke kandidaat drie vrae te vra. Daar sal geen opvolgvrae toegelaat word nie, so stel u vraag die eerste keer helder en duidelik, sodat die be-trokke kandidaat u kan hoor en verstaan. Dan gaan ons tot stem-ming oor. Ek sal dan vir u verduidelik op watter wyse daar gestem sal word. Is daar op hierdie stadium enige vrae?
Ja, Meneer die Voorsitter, ek het n vraag. Een van die ou ylkop mannetjies kom stadig orent.
Ja, Oom?
Meneer die Voorsitter, rammel die sinkplaatstem, ek wil nou
nie die bojaan agter die bult gaan haal nie, maar  Die ylkop bly vir n paar oomblikke stil. U weet dis n b-o-o-se wreld waarin ons lewe. Hoe gaan ons seker maak dat party troplede nie dalk meer as een keer stem nie?
Juistemint! beaam n paar asof dit hulle ook al geruime tyd pla. Geldige vraag, my oom, maar ons het ons maatrels in plek om di tipe van bedrog vas te vat. U sal begryp dat ek nie hier oop en bloot kan s wat die maatrels is nie, maar wees verseker. Nog enige vrae? Stompie kyk vinnig rond, want hy kan Grootraad se onge-
duld hier vlak agter hom aanvoel.
Indien nie, stel ek die eerste kandidaat aan die woord. Ek vra dan nou vir Karos om na die kateder te kom. Maar voor ek dit doen, dames en here, wil ek n beroep doen dat ons elke kandidaat n bil-like geleentheid sal gee om sy saak te stel.
n Flouerige maar hoflike applous begroet Karos wat flink voren-toe stap, sy mond n dun lyn van beslistheid.
Geagte Meneer die Voorsitter, dames en here. Dankie vir die ge-leentheid. Karos se stem klink dunnerig, want hy is gespanne. Alles is vreemd: Die see van gesigte, hoe die vergaderplek van hierdie kant af lyk. Karos haal diep asem, en vat die kateder vas. Dis dan dit. Die oomblik wat al so lank in sy kop bestaan.
Dames en here, laat ek dadelik s, ek en my vriend Plato het nie botsing gesoek nie.
Raak jy nou bang? skree iemand uit die gehoor. Party lag, ander wil hoor wat die man s. Dis n nuwe, interessante ding di.
Nee, ek is nie bang nie. Ons het in alle ordentlikheid n lys op-gestel van sake wat pla, en dit aan die leierskap oorhandig. Hulle het ges dat hulle daaraan aandag sou gee. En wat is hulle antwoord? n Verkiesing!
Wat jy nie kan wen nie! skree nog n hekelaar. Sjuut, beduie iemand.
Waar hy agter op die verhoog sit wil-wil Stompie orent kom om die orde te herstel, maar Grootraad beduie onopsigtelik vir sy staf-sekretaris: Sit jou fool.
Karos wag dat die geraas bedaar. Die onsekerheid van n paar oomblikke gelede maak plek vir n kil vasberadenheid. Al staan hulle hier tot lapatyd vanaand, sy s gaan hy s!
Elke regdenkende lid van die Donkerbergtrop verwelkom die verkiesing. Ek ook. Maar, Voorsitter, as die verkiesing volgens die
rels gehou is, moet die verloorder die uitslag aanvaar en volgende keer weer probeer. Hy hoef nie sy goed te vat en te loop nie.
Jy s bang! Dis weer die lawaaibek van netnou.
Nee, ek is nie bang nie. As ek bang was, het ek nie hier gestaan nie! Het ek en Plato nie in die eerste plek die lys aan die leierskap oorhandig nie! My toekoms is in julle hande. Verloor ek, sal ek en my volgelinge Donkerberg moet verlaat. Dit is die voorwaarde wat deur die leierskap gestel is. En as ons dit moet doen, sal dit kop om-hoog wees.
Hoor, hoor! skree Plato, en kyk selfbewus rond. Daar is nie-mand wat meedoen nie.
Maar ek is nie van plan om te verloor nie, vervolg Karos. Ek staan hier om te wen. Wat gaan gebeur as ek wen. Julle moet dit weet, want die keuse is julle sn. Die antwoord, dames en here, is heel eenvoudig. Dit staan in die versoekskrif. Die versoekskrif wat aan die leierskap oorhandig is. Wat u nog nie gesien het nie! Hoe-kom nie? Omdat die leierskap nie die moed of die begeerte het om iets daaromtrent te doen nie! Laat ek vir u s wat in daardie geskrif staan!
Bobbejane is van nature nuuskierig, en Karos se gehoor is geen uitsondering nie. Daar kan gn ander leier as Grootraad wees nie, maar ja, wat staan op die papier?
Waaroor kla ons, dames en here?
Ja, vertel ons! skree iemand, en dit is nie sleg bedoel nie. Ons maak beswaar teen die daaglikse gekrap in die munisipale
asgate en die partytjies by die lapa. Ons, wat deur n gevierde skry-wer Burgers van die berge genoem is, het lieplappers van die laag-tes geword. Moeder Natuur het ons toegerus om in die veld en tus-sen bome en kranse te oorleef, maar nou? Ons is afhanklik van die dorpenaars se oorskiet! Ons eet nie meer wat vir ons bedoel is nie, maar wat ander nie meer wil h nie! Ons, die trotse nasate van Don-kerberg, het verslaafdes geword!
Karos kan die afkeer op party gesigte sien. Al s hy ook vandag dat die hemel blou is, sal hulle hom nogtans tot leuenaar maak. Hier en daar luister tog iemand. Verslawing is n sterk woord, maar n waar woord.
Nog n ding. Hier om ons staan ons bewakers, die erewag, die Ysters. Dames en here, ons is baie dankbaar dat hulle vandag die
vergaderplek beveilig teen Sluipstap en ander gevare. Maar as die ge-vaar van buite is, waarom kyk hulle na binne, in ons rigting? L die gevaar dan hier binne?
Daar is n skielike roering in die skare. Party soldate loer onder-langs na hulle bevelvoerder, wat op sy beurt vir Karos aangluur.
As ek verkies sou word 
Wat nooit sal gebeur nie! skree iemand.
As ek verkies sou word, sal ons na die brandwagstelsel terugkeer. Die grotes en die sterkes en die dapperes wat ons glo die erewag wel is, sal oor die trop waak terwyl die grotes kos soek en die kleineres speel soos hulle behoort te doen, maar nie meer doen nie!
Verbeel hy hom of wil n paar mas hande klap? Ons het vyande. Daar is natuurlik Sluipstap 
Jy behoort te weet, laat hoor Grootraad van agter af. Hard en duidelik, en dit het die bedoelde effek  in die voorste gestoeltes l die gehoor soos hulle lag. Ai, die Grootraad darem.
Karos voel hoe die bloed na sy kop skiet, maar hy bly kalm. Die dnner probeer hom van stryk bring.
Daar sou ges kon word dat mense ook vyande is. Maar, dames en here, ek wil dit hard en duidelik s sodat die sogenaamde leier-skap dit kan hoor: As ons uit die lapa se stoorkamer en sommer ook uit die dorpsmuseum bly, is daar niks te vrees nie.
Hy hoor hoe iemand agter hom na sy asem snak soos n bokser wat n hou in die midderif gekry het. Dit maak seer, dink hy. Al maak dit nie n verskil nie, maak dit darem seer.
Ons hoor die heeltyd van Sluipstap, die groot bedreiging. Tier is hier! TIER is die een wat ons pret beloer, amper soos Skoppensboer! Maar, Meneer die Voorsitter, dis tog snaaks, dat wanneer daar snags tot wie weet watter tyd gelapa word en die trop moet terug slaap-plek toe, dan verdwyn die tier-besorgdheid in die naglug! Juis op di tyd wanneer Sluipstap op sy gevaarlikste is! Juis wanneer hy ons kan voorl om onder ons kinders te maai! Nou vra ek, is dit drank wat so maak of is dit swak leierskap of is dit beide?
Bog! kom dit van agter af.
Verskoon my, jou bosbobbejaan, Karos draai effens na sy oppo-nent, maar was dit nou bog of boggem?
Hy moes dit nie ges het nie, en hy besef dit. Grootraad wil nog iets doen, maar hy hoef nie. As die gehoor hulle hande op stoele, eiers of vrot tamaties kon l, het hulle Karos daarmee gegooi. Dit jil
en jou en skree s dat niemand n woord kan inkry nie. Die hele affre het nou n straatgeveg geword.
Gee die man n kans! skree n wyfie met n grootoog kleintjie op die skoot. Dis asof sy vir haar eie stem skrik, want daar is skielik stilte.
Dankie, dame. U doen wat die voorsitter nie in staat is om te doen nie.
Karos kan sien hoe sy argumente enkele ligte in die gehoor laat aangaan, maar toe skop die ou, beproefde resep weer in: Eers n paar stemme,  ritmies,  doelbewus.  Die  stemme  word  n  golf  wat  al  hoe groter word soos meer en meer stemme bykom: Lapa! Lapa! Lapa! Die sameswering is so duidelik, dat Karos niks anders kan doen
as om sy arms te vou en op die kateder te leun nie.
Gaandeweg bedaar die dreunsang, en Karos besef dat hy moet klaar maak. Sy s het hy ges, en hy voel dat hy dit goed gedoen het, kwaadgeit ten spyt. Tantrum en Plato se gesigsuitdrukkings bevestig dit.
Stem vir my en ek sal die Donkerbergtrop weer trots maak. Ek dank u.
Stafsekretaris Stompie is dadelik weer terug in die middel van die kryt. Onder luide toejuiging stel hy Grootraad Makedaan aan die woord.
Voordat Grootraad n woord kan inkry, word die toejuiging al hoe harder totdat dit soos n reusebrander oor die vergaderplek breek. Dis so hittete of die kiesbeampte word deel van die golf. Selfs Koe-voet en die soldate moet keer of hulle cheer saam.
Grootraad vat die kateder met sy lang vingers vas en glimlag. Eers op die een been en dan op die ander, maar die toejuiging wil nie be-daar nie. En die heeltyd die bobbejaangrinnik. Hulle hou van my  O, hulle hou van my  Dan volg die dreunsang. Nie die gebruiklike Lapa! Lapa! Lapa! nie, maar Grootraad! Grootraad! Grootraad! Vriende! Grootraad lig sy hande, en die skare raak gaandeweg stil. Ek bedank u vir hierdie oorweldigende verwelkoming, vir die klinkklare bewys dat wat ook al ges word, die hart van die Donker-
bergtrop nog op die regte plek sit!
Die toejuiging is di keer harder as oomblikke tevore, maar be-daar net so vinnig, want die toehoorders wil hoor wat hulle leier s. En hulle leier stel nie teleur nie. Sy woorde is soos lang, kwistige kwashale vol dik, goue stroop. Doelbewus so, want hoe taaier die
hare hoe makliker gaan sy woorde daaraan vassit. Wat n wonderlike trop is hulle nie. Hoe gelukkig is hulle nie, kyk na al die geriewe, veral di wat deur spielblinktafel-diplomasie bemiddel is. Kyk na die entrepreneurskap by die stortingsterrein, die warm gemeensaam-heid tydens lapagesellighede.
Ek wil tog s, Meneer die Voorsitter, dat my opponent hom heel goed van sy taak gekwyt het. Dames en here, u sal met my saam-stem dat dit heelwat moed verg van n jong, onervare man om hier by die ka-ka ...
Kateder, help stafsekretaris Stompie saggies.
Kateder te kom staan en n toespraak af te steek. Ek dink hy ver-dien n goeie handeklap. Komaan, dames en here, u kan tog seker beter doen as netnou!
Grootraad klap saam hande en draai in die rigting van sy oppo-nent. Karos glimlag formeel, maar binne kook dit. Sowat van klewe-righeid! Moet hy nou opstaan en curtsy?
Meneer die Voorsitter, ek en u het gehoor wat my jong opponent s. Hy wil h dat u die inisiatief laat vaar wat u by die munisipale stortingsterrein aan die dag l. So ook die ontspanningsgerief van die lapa. Hy wil u terugjaag bome toe, kwansuis om wilde vrugte te loop soek.
Grootraad bly n oomblik stil, want die punchline is op pad en die harspanne kan net x-hoeveelheid op n slag absorbeer.
Snaaks, vriende, dat ek, lid van n ouer geslag, vir my jong oppo-nent moet s: Kom by! Tye het verander, moenie vassteek by dit wat was en nooit weer sal wees nie! En as jy nie kan bybly nie, moenie van die trop  van die kiesers verwag om saam met jou agter te bly nie!
Grootraad se voorvinger is kort-kort in die lug. Die gehoor kyk gefassineer daarna, want die voorvinger draai die wol om en om en om, al voor die o verby. Boonop bly die Impromptu-mannekoor nie uit nie, veral die basse se hoor-hoor!
Interessant, Meneer die Voorsitter, vervolg Grootraad Make-daan, volgens statistiek wat ek van my amptenare bekom het, is daar tydens die boomklim-en-brandwag-fase tot soveel as vier keer meer troplede in roofdierverwante voorvalle dood as tydens die hui-dige, gendustrialiseerde fase van voorspoed en vrede. Merkwaardig, n?
Van statistiek weet die voorste ry ylkoppe gn moepel of maroela nie, maar hulle beaam kopknikkend: Nee kyk, dis nou vir jou merk-waardig, gehoor!
En so stu Grootraad voort, en met elke opmerking, elke spyker in die doodskis is die koor van instemming groter en harder. Ja-nee, Grootraad is op n roll, en die selftevrede grinnik, die hele windgat-hand-in-die-sy-ander-arm-op-die-kateder-houding beaam dit: Hier staan die onbetwiste leier van die Donkerbergtrop, en hy deel slae uit asof dit lekkergoed is.
Net toe n geesdriftige toehoorder uit die agterste gestoeltes skree: Ons wil nou stem! betoon Grootraad Makedaan nog een laaste stukkie genade: Ek het gehoor wat die jongeheer Karos s. Dat dit nie regverdig is, nie demokraties is dat die een wat vandag hier verloor sy goedjies moet pak en loop nie. Wel, ek wil net s, Karos, trek alles wat jy vandag hier ges het terug, beloof jou on-voorwaardelike steun aan my as leier en  jy bly!
Daar heers n geskokte stilte in die gehoor. So iets het hulle nie verwag nie. Selfs Stompie en Karos lyk verbaas. Alle o draai van Grootraad na Karos.
Gedagtes hardloop soos n klomp resiesperde deur Karos se kop. Dis tog duidelik dat Grootraad hierdie een gaan wen. Waarom teen die prikkels skop? As hy nou opstaan en verskoning maak, kan hy in die trop bly en, wie weet, mre, oormre kom daar nog n kans. Dalk in n gedaante wat hy nie nou kan voorspel nie. Hy is maar te goed bewus van die o wat op hom gerig is. Die ylkoppe. Die ou wyfies. Die drinkebroers. Die spotters. Die hekelaars. Die lapaspul. Maar hy sien ook ander o: Plato sn. Tantrum sn. Die moe o van jong wyfies met kleintjies op die skoot. n Nuwe geslag wat nie wil lewe soos wat daar nou gelewe word nie, Grootraad se statistiek ten spyt.
Lyk my ons jong vriend het n rukkie nodig om te besluit  s Grootraad, en hy kyk beurtelings na die gehoor en na Karos. Sy glimlag en sy woorde is nie in pas met mekaar nie. Dis nie vir die ge-hoor bedoel nie, maar vir Karos. Die glimlag van n spinnekop wat sy prooi betrag.
Juffrou Tantrum is n tawwe koekie, maar vir die eerste keer lyk dit asof sy wil huil. Tog skud sy haar kop stadig maar beslis. Plato ook, en uiteindelik ook Karos.
Wel  Vir n oomblik lyk Grootraad of hy opreg spyt kan wees. Met n diep sug draai hy na die gehoor: Meneer die Voorsitter, vriende, dit lyk my n stemming is dan onafwendbaar. Laat my toe om in alle nederigheid te s as u my vandag verkies sal ek die lig wees wat u lei. n Lig wat vir die Donkerbergtrop die pad aandui, langs skuinstes, oor hoogtes, deur donker dieptes na n nuwe toe-koms!
Grootraad bly n paar oomblikke stil, self karsiek weens die wieke van sy woorde.Ten slotte, vriende, laat u wil dan sevier! En, vriende, laat die kragtige golf van u stem soos n salami oor die op-posisie spoel!
Tsoenami, probeer Stompie nog help, maar die toejuiging wat Grootraad na sy sitplek vergesel, doof alles uit.
Dames en here  dames en here  Stompie is weer by die ka-teder. Net toe dit lyk asof die applous wil bedaar, neem die dreun-sang oor: Grootraad! Grootraad!
Die skare raak skielik stil, want Karos staan nou ook by die kate-der. Dis nou te laat, ou maat! skree iemand agter uit die gehoor.
Repliek.  Ek  wil  my  reg op  repliek  uitoefen.  Grootraad  het  die voordeel gehad om n my te praat, en nou wil ek hom antwoord. Stompie weet nie mooi wat om te doen nie. Die leierskap weet heelwat van taktiek en so klein bietjie van lipstiek, maar repliek? Hy kyk so onopsigtelik as moontlik in Grootraad se rigting, maar di kyk doer anderkant toe asof hy Donkerberg vir die eerste keer sien. Laat  hom  praat,  dis  sy  reg!  Almal  kyk  verbaas  op,  want  nie-
mand ken vir Plato as hy kwaad is met n bolvuis bo sy kop nie. Wel  e  maar hou dit kort, n?
Dankie, Meneer die Voorsitter, ek sal. Karos moet keer of hy klink sarkasties. My opponent wil h ek moet oorgee, maar ek sal nie! As ek dan vandag moet verloor dan doen ek dit op my voete, en nie op my knie nie! En as ek en diegene wat glo waarin ek glo dan moet, dan SAL ons die onbekende in, en n armer Donkerbergtrop agterlaat!
Daar is toehoorders wat hande klap, en dis nie net Plato en juf-frou Tantrum nie.
My opponent kom hier met kastige syfers oor destydse roofdier-verwante sterftes teenoor vandag se vreedsaamheid en vrede. Maar, Meneer die Voorsitter, ons weet mos hoe syfers kan lieg! Nog erger
as die man wat daardie syfers probeer inspan! Vandag se vrede is vals! Dit is nie net Sluipstap wat doodmaak nie! Wat van oorskiet mensekos en -drank? En wat van die stadige dood hier binne, omdat daar geen trots meer is nie, net asvaal roetine?
Karos is skaars by sy sitplek of Stompie vat weer oor: Dames en here, daar is nou geleentheid vir vrae. Soos reeds ges, laat ek drie vrae aan elke kandidaat toe.
Plato se hand is eerste op, maar binne oomblikke lyk die gehoor soos n mielieland, en dis nie vir Stompie moeilik om hom mis te kyk nie. Ja, wat is Oom se vraag en aan wie?
Die ylkopmannetjie kom moeisaam orent. Dis nie aldag dat hy praatkans kry nie, want die ou se eggenote is maar kwaai. Nee, Meneer die Voorsitter, ek wil maar net n mosie van vertroue voor-stel in ons hooggeagte tropleier van Donkerberg, Grootraad Make-daan 
Hoor, hoor! weergalm dit in die gehoor.
Ek hoor wat Oom s, maar ek moet billik wees. Dis nou tyd vir vrae. Aan die kandidate. Wil Oom n vraag stel?
Die ou ylkop frons en kyk half verwilderd in die rigting van sy vrou, n paar rye agtertoe. Nee, beduie sy met die kop, en hy gaan sit.
Daar is nou n hele paar hande minder, en Stompie knik in die rigting van n ou wyfie. Ja, Tante?
Ek wil ons leier gelukwens met sy mooi toespraak, maar ek wil graag hoor  is daar nie dalk n moontlikheid van ouderdomspen-sioen vir ons wat nou nie meer so mooi  wat nou nie meer so heel jonk is nie? Ek bedoel nou iets te ete of so dan en wan iets blinke-rigs?
Wel  Grootraad ken die een goue rel van die politiek: Moet nooit  verbaas  lyk  nie.  Bly  net  aan  met  praat  totdat  die  ingewing kom. Ja, hm. (kug) Ja, ek waardeer dit besonder baie dat die ouer lede van die trop so betrokke is by vandag se vergadering. Maar na-tuurlik behoort daar aandag gegee te word aan die versorging van ons oudstetjies. Julle het hierdie trop gemaak wat hy vandag is, en ek wil dan nou sommer ook aankondig dat ek n spesiale komitee sal aanstel om die hele kwessie van ouderdomspensioen te ondersoek. Hoor, hoor! skree iemand uit die gehoor, en die ou wyfie lyk te-vrede, al weet sy nie mooi wat n spesiale komitee is nie, behalwe dat
dit iets spesiaals is. Wat n man, s sy met die gaansitslag, en haar vriendinne beaam kopknikkend.
Stafsekretaris Stompie kan nie langer Plato se hand ignoreer nie. Ja?
My vraag gaan oor die swaard, ook bekend gestel as Die Teken. Ek wil weet of Grootraad daarvan bewus is dat die swaard enkele dae voor die skielike verskyning daarvan by die asgate, uit die dorps-museum gesteel is?
Daar is n skielike stilte in die vergaderplek, en Karos kan sweer hy het Stompie pas n wind hoor sluk. Selfs Koevoet se kop ruk.
En, Meneer die Voorsitter, ek wil vir Grootraad waarsku dat hy nie te vinnig moet antwoord nie. Ek het hier by my n koerantberig wat dit beaam! Plato waai die flenterbladsy uit Die Spiel heen en weer vir almal om te sien.
Grootraad is selde onskuldig, maar di keer is hy. En al ken hy die politiek, en al weet hy wat min of meer alles wat in die skadu van Donkerberg aangaan, is hy di keer in die duister. Hy weet nie dat sy twee agterryers die swaard gaan steel het nie, ook nie dat hulle dit by die asgate gaan versteek het waar hy dit kan kry nie. Alles s gedoen dat n liggelowige trop die storie moet glo, en Grootraad se leierskap nuwe wind kan kry.
Meneer die Voorsitter, u is sekerlik net so verbaas soos ek en die res van die trop. Net n mak bobbejaan sal die vraesteller se gevaar-like aantyging glo. Van wanneer af kan n man dan nou glo wat in die koerante staan? Maar laat my nietemin toe om soos volg te rea-geer: Dis nou tipies van die opposisie  gn een van die trop se sim-bale 
Simbole, s Stompie onderlangs.
 simbole is vir hulle heilig nie. Wil u nou werklik glo, Meneer die Voorsitter, dat ek soos n dief in die nag dorp toe sal sluip om onder die neus van my kollega die burgemeester, sy museum te be-steel?
Nooit! gil die skare.
Nou het die slim meneer van n vraesteller dan nou heeltemal gek geword of wat? wil Grootraad weet.
Plato probeer weer n keer, maar die oormag is te groot. Feitlik almal in die gehoor jou hom uit, en beduie dat hy moet gaan sit. Plato hou die koerantberig omhoog, druk met sy voorvinger daar-
teen, maar tevergeefs. Hulle glo hom nie. Die rye en rye lettertjies kan net sowel s dat die burgemeester die ding by koek en tee plegtig aan sy eweknie van Donkerberg oorhandig het. Nie steel nie? Plato snork van verontwaardiging. Dmmit, waar is troefkaart Fannas as n man hom nodig het?
Dis duidelik dat die skare nou wil stem.
Nou goed dan, dames en here, ons gaan nou dadelik tot stem-ming oor. Stilte asseblief, stilte! Dankie!
Die spanning en afwagting is meteens voelbaar. Hier is die oom-blik waarvoor hulle gewag het. Die nuwe ding. Die stemding. Die skop-Karos-onder-sy-alie-ding.
Karos se o dwaal deur die bosse rondom die vergaderplek. Ook hy verlang skielik na Fannas.
Stompie is verlig dat dinge so ver gevorder het. Magtig, om ver-kiesing te hou is nie maklik nie, selfs moeiliker as die ho amp van stafsekretaris! Dames en here, ons gaan dan nou oor tot stemming. U sal nou stem deur die opsteek van hande 
Ek maak beswaar! Juffrou Tantrum se stem dra helder oor die koppe in die voorste rye. Ek maak beswaar. Hoe kan die stemming regverdig wees as dit nie in die geheim plaasvind nie?
Stompie soek nog na n antwoord, toe staan Grootraad vier voet hoog langs die kateder. Meneer die Voorsitter, ek is seker my onder-steuners is nie skaam om hulle kleure in die openbaar te wys nie! As my opponent sn nou skaam is om dit te doen, wel  dan is dit hulle saak!
Ek dring aan op n geheime stemming! Juffrou Tantrum weier om die knie voor Grootraad en sy sarkasme te buig.
Wel, Meneer die Voorsitter, s Grootraad saaklik, dan moet u maar n reling maak, en almal moet hulle daarby neerl, die dame daar inkluis!
Ja, e  Ons stem met die opsteek van hande, s Stompie. Ek weier! skree Juffrou Tantrum, haar stem nou n paar oktawe
hor.
Ek ook! Berta staan skielik langs haar.
Ons ook! n Paar wyfies, elk met n grootoog kleintjie op die heup, skaar hulle by hul susters.
Daar heers geskokte stilte. Veral die mannetjies kan hulle o nie glo nie.
Verwyder hulle! bulder Grootraad, en Stompie se kop ruk van die skrik. Is hy dan nie die kiesbeampte hier rond nie?
Koevoet knik vir n paar van sy soldate en in n oogwink het elk-een iemand aan die arm. Juffrou Tantrum en haar medestryders stoei en spook vir n vale. Toe span sy haar sangstem tot volle kapa-siteit in terwyl sy op Grootraad aanl: Jy en jou gekookte verkie-sing! Ek waarsku jou, daar sal geen  daar sal geen musiek meer wees nie!
Tantrum bedoel dit as doodsdreigement, maar Grootraad staar haar grinnikend agterna.
Kan daarsonder doen, spot hy terwyl die opstandiges taamlik hardhandig uit die vergaderplek verwyder word. Terwyl die skare jou, raak die skril stemme van protes sagter en sagter soos die ge-dwonge prosessie in die rigting van Slaapkrans verdwyn.
Grootraad beduie vir Stompie met die kop: Toe-toe, vir wat wag jy, laat hulle stem!
Waars Fannas? s Karos n laaste keer vir homself.
Sal diegene wat vir Karos stem hulle hande opsteek! vra Stom-pie dramaties. Daar is presies twee stemme. Karos en Plato. Die ska-re lag. Grootraad glimlag meewarig in sy opponent se rigting.
Sal diegene wat vir Grootraad Makedaan as tropleier van die Donkerbergtrop stem, hulle hande opsteek! Stompie praat nog, toe joel en juig dit al te midde van n see van hande.
Dan, dames en here, dan verklaar ek as kiesbeampte hiermee plegtig dat Grootraad Makedaan wettiglik, vry en regverdig verkies is as leier van die Donkerbergtrop!
Stompie weet nie of hy sy baas moet high five, omhels of sy hand soos di van n bokser omhoog moet hou nie. Maar te midde van die oorverdowende geskree en gefluit maak dit nie veel saak nie. Groot-raad is met n oorweldigende meerderheid verkies, en Karos is aan-stons op sy agterent hier uit.
Landslide, is al wat Plato uitkry terwyl hy sy vriend se hand vat. Hulle het gehoop op n wonderwerk, maar dit het nie gebeur nie. Die koerantberig het nie eens n beduidenis van n rooi gesig opge-lewer nie, en Fannas skitter in sy afwesigheid.
Nee, foefieslide. Vir ons! Ons het ons bes probeer, ou maat. Dan is dit maar tyd vir n nuwe begin  elders, s Karos en klop hom op die skouer.
