KITS EN DIE VLAKVARK
Die leeus brul n hele paar keer gedurende die nag, meestal n bietjie ver weg. Tussenin rumoer die wolwe en jakkalse ook, maar hulle bly ver van die kamp af, want die leeujag van die vorige dag het die honde n bietjie ontstel, en hulle blaf gevolglik baie deur die nag. Op die plaas het oom Fanie gewoonlik die honde dit ver-bied as hulle te veel blaf. In die Bosveld egter, gee niemand om nie, want solank die honde gewoonweg blaf, weet almal dis nog veilig in die kamp en sluimer hulle rustig voort.
n Rukkie na dagbreek slaag Fanie weer daarin om voor sy broers op te staan en by oom Gert te gaan verneem hoe laat dit is. Oom Gert het die een en ander te s en te vra, en toe Jaap hoor hoe Fanie daar staan en praat, is hy sommer so vroeg in die mre bit-sig.
Jy moet net sien, een van die dae is Fanie te groot vir sy skoene. Omdat hy gister alleen saam was en na n dooie leeu in die l geskiet het, dink hy hy is nie meer ons maat nie.
So vroeg in die mre hou Piet nie van lollery nie en hy vat Jaap sommer kort: Aag, man, jy het altyd hond se gedagtes. En son-der om nog na Jaap se antwoord te luister, spring hy weg en draf vuur toe om die koffiewater te laat kook.
Hoe lyk dit, ou neef, wat sal ons vandag doen? vra oom Fanie later vir oom Gert.
Fanie merk dat sy pa nou die dag se planne met oom Gert wil bespreek. Hy gee n plukkie aan Piet se baadjie, en daar trek die drie om ook te luister na wat daar besluit gaan word.
Nou hoe lyk dit met nog n paar buffels? vra oom Gert. Ja, sien jy, ons tydjie word kort. Volgende week klap die
sweep huis toe.
Die seuns se koppe sak.
Daar is egter nog n klompie goed wat ons moet skiet. Ek het minstens nog vier waterbokvelle nodig vir swepe en halterrieme, dan nog n paar bosbokvelle vir voorslae en nog een of twee buf-felvelle vir osrieme. En jy, Neef?
Ek het genoeg sebravelle, maar nog nie genoeg buffel-, water-bok- en wildebeesvelle nie. En ek sou baie graag n paar vlakvark-velle wou h. As hulle mooi gebrei is, is dit die beste leer vir ge-weersakke.
Nou ja, s oom Fanie, voordat die seuns iets kan vra, ons moet nog n paar sakke biltong ook h. As n mens van die Bos-veld af kom, kom al jou bure gewoonlik vir jou kuier!
Pa, ons het nog net een leeuvel. Is dit nou Pa sn of oom Gert sn? vra Fanie skielik. Oom Fanie kyk na oom Gert, en albei is n oomblik stil asof hulle nou vir die eerste keer daaraan dink wie nou eintlik die vel gaan kry.
Oom Gert wil seker nie n leeuvel h nie, bemoeilik Japie oom Gert se posisie.
Voordat oom Gert nog iets kan s, is Fanie al weer aan die woord: Ek dink Pa-hulle moet nog n paar dae gaan leeus jag, so-dat daar dan vir oom Gert ook n vel kan wees.
Nou ja, ons sal later, mre of oormre, daaroor besluit; van-dag gaan ons waterbokke soek, vat oom Fanie die seuns kort.
Gaan ons almal saam, Pa? wil Piet weet.
Nou, oom Gert en Fanie met twee Zoeloes kan een koers in-slaan en ons n ander koers.
Japie kry nou n kans: Pa, maar dis onnodig dat Fanie twee Zoeloes moet saamkry; hy sal tog niks kry nie en 
Ek wed jou vir my sebravel dat ek jou vandag gaan uitstof, val Fanie hom in die rede.
Dis net waarvan Piet hou: Top, ons skiet teen mekaar. Die verloorder moet sy sebravel afgee.
Jaap voel nou n bietjie onseker, maar sy pa kyk hom bemoedi-gend aan en die outjie willig in: Goed. En wat gaan oom Gert my vir n vlakvarkvel betaal?
Oom Gert is maar baie toegewend: Vyf sjielings vir n mooi grote.
Piet en Jaap dans sommer van blydskap toe oom Gert dit s. Jaap gooi sy hoed in die lug en roep die honde.
O, mapstieks! Nee wag, vandag gaan jy sien geld uitslaan! roep hy uitgelate.
Binne tien minute is dit stil in die kamp. Net tant Lenie en Lea werskaf daar by die biltongstellasies n bietjie rond. Ou Lea het so n voltjie hoor fluit dat die tyd om huis toe te gaan, nader, en sy kan nouliks haar opgewondenheid verberg.
Mesi Lenie, as ons teruggaan, sal dit seker gouer gaan, want die osse is uitgerus?
Is ou Lea dan al haastig?
Nou nie juis haastig nie. Maar ou Lea verlang na haar ronda-weltjie. Ek moet hier self hout optel, en die goed wat snags hier so rumoer  hulle maak my hart nie lekker nie.
Ou Memsi loop saam met oom Fanie, en op die aanhoudende gesoebat van Japie swaai hy effens rivier se kant toe, waar die varke maar altyd te kry is. Sommer gou-gou kom hulle op die vars spore van n klompie waterbokke af. Op oom Fanie se bevel volg Memsi dit. Die bokke moet juis van die water af kom, want die spore pyl in die teenoorgestelde rigting. Oor seker n myl volg hulle die spore deur klofies, oor rantjies en kom ewe skielik op omtrent vyftien wildebeeste af.
Skiet, krels! kommandeer oom Fanie, en hy hou sy twee seuns dop. Hy wil hulle die beste kanse laat. Japie skiet die eerste, en toe Piet  alles mis, en die ou leier spring weg, gevolg deur die trop. Die seuns skiet dat dit dreun, en toe haak oom Fanie af en skiet die voorste een plat. Die ander spring om en bondel n paar oomblikke. Jaap en Piet skiet nou sommer in die bondel in, nog senuweeagtiger omdat hul pa al n wildebees het. Toe Jaap sy vierde skoot aftrek, keer daar n jong koei om.
Dis myne! Ek kan sweer dis net myne! skreeu hy dat Piet se ore eintlik tuit. En toe die klomp so reg van hulle af galop, skiet Piet nog n laaste skoot, en n jongerige bul steier en sak uit.
Mooi so, Pietman, moedig sy pa hom aan, gee hom nou die doodskoot.
Hy skiet nog twee skote op die gekweste bul voordat hy neer-slaan.
Saa! sit Japie die honde aan en buk weg na sy wildebees toe. Oom Fanie en Piet volg op hul tyd. Piet steek verby na syne toe.
Waar het hy die skoot in, Jaap? vra oom Fanie.
Japie se stem is nie heeltemal so moedig toe hy antwoord nie. Pa, sy het twee skote: die een deur die pens en die ander op die blaaie deur. Maar ek is seker dis al twee my skote, want ek hou
daarvan om net na een te skiet totdat hy neerslaan.
Oom Fanie het moeite om nie te lag nie, want hy weet mos hoe woes Japie altyd skiet. Aangesien Piet nou egter ook een het, s hy maar liewers niks nie.
Ons het darem lekker geskiet, n, Pa? gaan Japie voort. Dit gaan darem n rapsie te maklik na my sin, gee oom Fanie
antwoord. Dis vir my die lekkerste wanneer die goed n bietjie wild is en skaars, soos die buffels.
Moet ek die osse gaan haal? wil ou Memsi by oom Fanie weet. Die ou raak nou al gewoond aan die mans se goed skiet en prys hulle dus nie meer nie.
Ja, loop maar gou, en bring Doppies, Singida en Gedja ook saam.
Oom Fanie gaan daarna onder een van die ou alleenstaande do-ringbome daar naby sit om n lekker pypie te rook. Die seuns is egter t opgenome en stap nou na die een se wildebees en dan na die ander sn toe. Dis n paar keer op Piet se tong om vir Japie te s: Watter sekerheid het jy dat al twee skote joue is? maar dan bly hy maar liewer stil. Hy gun Japie sy geluk.
Memsi draf en is gou by die kamp. Hy span agt osse in en haak sommer een van die ou sle aan, sodat dit nie weer nodig sal wees om n boom te gaan afkap daarvoor nie. Binne twee uur na-dat die eerste skoot geval het, is die drie wildebeeste op die slee gelaai, vasgebind, en daar gaan ou Memsi met hulle kamp toe. Om die twee seuns hul sin te gee, beveel oom Fanie Memsi om maar met die hulp van die twee swart seuns intussen te begin af-slag by die kamp. Hy, met die seuns en Singida, sal later kom. Hy wil nog eers n draai by die rivier langs met hulle loop. Japie wil alte graag n vlakvark skiet. Die outjie wil dubbel seker wees daar-van dat Fanie nie sal kan spot en spog nie.
Hulle loop toe, ver deur klofies, laagtes en bosse. Naderhand is hulle op die rivier se wal. Die wal is effens hoog en regaf. Toe die honde die water ruik, spring hulle weg al op die wal langs ri-vierop om afgaanplek te soek. Oom Fanie kies toe ook maar die koers rivierop. Onderwyl hulle nog so geselsend aanstap, hoor hulle meteens die honde blaf. Voordat die seuns nog iets kan s, neem hul pa die leiding.
Kom, krels! Hardloop net so hard as wat julle kan. As dit vlakvarke is, moet ons die honde se lewens red.
Singida, met asgaai in die hand, hardloop los voor.
Pa, skiet n skoot, dan vlug die varke dalk, hyg Japie dit uit. Nee, weier sy pa, dit sal die honde net meer aanspoor. Singida kom voor waar die wal omtrent ses tot sewe voet hoog
is en spring sommer af. n Paar honderd tree hor op langs die wa-ter gewaar hy die honde aan die veg met n yslike, briesende ou vlakvarkbeer.
Wozani  k-o-m! skreeu hy vir die mans, en hy draf nader, ook maar lelik op sy hoede. Toe die honde hom hoor skreeu en sien aankom, word hulle dubbel astrant, storm in en uit, hap links en regs. Die ou beer is so briesend dat hy nie n tree wil padgee nie. Net soos die honde instorm, swaai hy linksom of regsom en kap gevaarlik na hulle met sy uitstaande slagtande.
Oom Fanie, gevolg deur die seuns, spring die wal af waar dit al n bietjie laer is. Hulle is skaars twintig tree verder, net toe hy die geweer skouer toe bring om n skoot te probeer los, toe die ou briesende beer Kits stormloop, hom met die uitstaande slagtande in die pens vang en hom goed vyf tree deur die lug gooi dat sy bin-negoed so waai.
Pa  my hond! gil Japie, en gelyktydig skiet sy pa, en die ou beer stort vooroor in die sand. Japie se stem is skoon weg. Met wankelende bene kom hy tot by Kits, kniel langs hom, neem sy kop in sy hande en hou aan s: Kits, Kitsie  Kits 
Kits gee nog so n paar stuiptrekkings. Toe keer sy ogies om en sy lyfie word slap in Japie se arms. Japie hou egter maar aan met: Kits  Kitsie ! en streel oor Kits se nek en druk hom elke keer styf teen sy bors aan.
Oom Fanie en Piet is n paar oomblikke verstom. Toe stap oom Fanie nader en buk vooroor langs Japie.
Ons het Kits se dood gewreek. Kyk, daar l die bees mors-dood. En hy neem Japie aan die hand om hom te laat opstaan. Toe die outjie orent kom en weer n slag Kits se ingewande sien, is dit asof hy dit nou eers werklik besef dat sy hond dood is. Hy druk sy kop teen sy pa se bors en gaan bitterlik aan die snik. Oom Fanie streel hom met sy ou groot vaderlike hand op die rug en pro-beer troos.
Toe maar, my seuntjie, ek sal net soos ons by die huis kom die kar inspan en weer vir jou n hond gaan koop.
Ag, Pa, kerm die outjie, ek sal nooit weer  nooit weer  n hond soos Kits kry nie. En toe huil hy hardop.
Oom Fanie laat hom maar so n bietjie begaan. Pieter staan nou nader en met n bewo stemmetjie s hy: Japie  Japie, jy kan maar my hond  jy kan maar vir Haspaai vat.
Nee, snik Japie, maar toe hy besef wat Piet s, kan hy dit nie bra glo nie, maar draai tog om en kyk met sy groot betraande o na Piet.
En jy dan? vra hy.
Aag, ek sal weer een kry, antwoord Piet ewe manmoedig, en vat Jaap aan die hand om hom na die vark toe te lei.
Die vel is joue en die tande ook, gaan Piet voort, en hy en Japie buk vooroor om die ou beer beter te beskou.
Oom Fanie beduie vir Singida om die dooie hond gou opsy te sleep, en toe buk hy ook vooroor en vat aan die vark se slagtande.
Japie, voel n bietjie net aan hulle, s hy.
Au, Pa, hulle voel dan  hulle sit dan net soos ysterpale in sy bek.
Jong, gaan Piet voort, ons moet hulle mooi uithaal, dan spyker ons hulle teen die muur in ons kamer.
Ja, en die buffel- en waterbokhorings ook, voeg Japie daarby. Oom Fanie en Piet doen hul uiterste bes om die outjie se ge-dagtes van Kits af te hou, maar die verlies is te groot. Toe hy klaar die vark beskou het, kom hy weer orent en kyk na waar Kits gel
het, maar hy sien daar net n plas bloed.
Ek het Singida hom daar op die wal onder n boom laat sit,
verduidelik sy pa. Kom ons gaan nou eers gou n bietjie swem, dan slag Singida intussen die vark af. En hy stap weg water toe.
Japie bly egter daar staan, kyk wal se kant toe, waar Singida met Kits voortsukkel, en sien dan weer hier, n paar tree van hom af, die kol rooi, bloederige sand. Die outjie se o skiet opnuut vol trane, en hy gaan sit daar op die sand, sy kop tussen sy knie, en die een snik na die ander skud deur sy lyf. Piet tree nader, gevolg deur sy pa, om te probeer troos.
Ag, ou Jaap, ons almal se honde moet tog doodgaan.
Ja, maar waarom moet myne nou juis die eerste wees? ant-woord hy met n huilerige stem.
Oom Fanie weet ook al n bietjie op watter snare van sy seun se gevoel hy moet speel.
Japie, my seun, dis omdat Kits so dapper was. Hy was baie dapperder as Fanie en Piet se honde. So n dapper en kwaai hond lewe nooit lank nie.
Japie se gesig straal sommer. Ja, sien jy, Piet, julle wou my mos nie glo toe ek s Kits is die dapperste nie. Nou s Pa ook so. Ja, Fanie s my nou die dag dat Kits met die leeus ook altyd aan die voorpunt was, jok Piet so n bietjie om hom verder op te
beur.
Waarom het Fanie dit dan nie aan my ook ges nie? wil hy weet, en sy stem klink nors.
Piet dink vinnig: Fanie was bang jy sou dalk met my en sy hond spot.
Nou toe nou, my seun. En oom Fanie vat hom aan die hand. Kom ons gaan was nou n bietjie. Grootwildjagters soos ons huil nie sommer nie. Vir al wat ons weet, is Fanie se hond ook al dood as ons vanaand in die kamp kom. Fanie sal ook maar heeldag sy o oophou. En ek is seker Fanie sal nie huil as die varke sy hond doodmaak nie.
Japie stap saam en swem, maar laat al die praatwerk aan Piet en sy pa oor. In sy kinderhart is daar pyn, en dit dwing maar aldeur om sy stembande toe te trek.
Nadat hulle klaar geswem en aangetrek het, is oom Fanie met hulle voort kamp toe. Japie wil nog eers by sy hond omloop, maar sy pa weier beslis.
Nee, Japie, ek sal Singida met n graaf terugstuur om hom te begrawe.
Ag, Pa, snik die outjie, ek wil hom graag help begrawe. Nee, dit sal net weer jou hart opnuut seermaak. n Mens, veral
n man, moet party dinge in die lewe so gou moontlik vergeet. n Mens moet vorentoe kyk  vorentoe en nie agtertoe nie.
Toe hulle so wegstap, kyk Piet vinnig om om te sien waar Has-paai is. Die hond het, vandat die ongeluk plaasgevind het, sowat twintig tree opsy onder n bossie gaan l asof hy skuldig was. En toe sy baas wegstap, kom hy uit en sluip versigtig nader na die plek waar die ongeluk plaasgevind het, so n entjie agter Singida. Hy ruik-ruik so daar en toe gooi hy sy kop agteroor en uit die een na die ander weemoedige, gerekte huiltjank. Singida ruk soos hy skrik, gryp n hand vol sand en verwilder hom daar. Oom Fanie en Japie steek in hul spore vas en kyk ook om. Haspaai sluip ewe druipstert nader.
Kom ons loop, krels, s oom Faan met besliste stem, en al drie gee lang tre kamp toe. Daardie soort klaaggeluide van Has-paai oor sy maat bring n nare gevoel van dreigende onheil oor hulle. Selfs Japie voel nie meer seer in sy hart nie, maar n soort huiwerende vrees jaag hom voort kamp toe  weg van die doods-toneel af.
Toe hulle by die kamp kom, pyl Piet na waar die swartes die wildebeeste afslag, om daar met groot omslagtigheid te vertel wat by die rivier gebeur het en hoedat ek en Pa die vark bokveld toe gestuur het. Oom Fanie en Japie is reguit na tant Lenie toe. Oom Fanie deel die eerste die jobstyding aan haar mee. Japie se ou on-derlippie begin ook sommer weer beef, maar sy ma is al sestien jaar moeder en sy weet dus hoe om met n kind met n seer hart te werk.
n Halfuur later staan Japie en Piet elkeen met n beker koffie en n paar stukke sandsuiker-waatlemoenkonfyt. En hulle eet! Piet voel-voel so elke keer met die rugkant van sy stroopbemorste hand aan sy broeksak  dit staan sommer so doedelsak van die droperskes. Tant Lenie het hulle tent toe gestuur om maar net so-veel waatlemoenkonfyt te vat as wat hulle wil h. Piet wil later ook sommer ligsinnig word.
Jaap, jong, ek wens dis elke dag sulke tyd. n Hond se dood word darem lekker gevier, n.
Jaap wil iets s, maar daar gaan n bietjie van die stroperigheid in sy verkeerde keel en hy gaan vreeslik aan die hoes. Nadat dit klaar is, gaan help die twee met die biltongsnyery, en hulle is nog besig, toe kom oom Gert en Fanie die kamp in. Fanie is dood van die dors en steek dus eers verby water toe. Oom Gert bly egter n rukkie daar by die seuns staan. Een, twee, drie vertel Piet hom die hele storie. Hy voel innig jammer vir Jaap, want hy weet hoe ge-heg die seuns aan hul honde is.
Jaap, ou seun, ek het n baie mooi Airedale van agt maande oud by die huis. Ek was bang jul honde sou hom byt, want hy is partymaal vir sy ouderdom n bietjie parmantig. Toe het ek hom tuis gelaat. Julle weet mos van hom, nie waar nie? Ek het mos al vir julle van hom vertel, n?
Ja, oom Gert.
Nou ja, jy kan hom kry, Jaap.
O, vreeslik baie dankie, oom Gert! Japie is oorweldig van blydskap.
Maar waar sal oom Gert weer een kry?
Toe maar, my seun, my buurman het mooi klein hondjies ge-had toe ons daar weg is. Ek sal vir my daar twee gaan ruil vir n sak biltong.
Van toe af moet Piet weer net hoor hoe lewendig en slim sy nuwe hond sou wees en watter toere hy hom gaan leer. Die aand om die kampvuur moet oom Gert weer alles haarfyn vertel van wat hy en Fanie alles die dag ondervind en aangevang het.
Jongies, ons het ons byna dood geloop. Naderhand draai die son al middag se kant toe, maar ons kry niks nie! So ongelukkig was ek nog nooit in die Bosveld nie  ek kon dit self nie verstaan nie. Ons drink toe water by n stroompie en sit so n rukkie en ge-sels. Toe ons ons weer kom kry, is dit al sommer laat, en ons spring weg. Jong, dit was sowaar nie vyfhonderd tree nie of hier loop ons ons vas teen twee koedoes wat seker op pad water toe was.
En toe, oom Gert, het Fanie ook geskiet? wil Japie weet, kort-asem van opgewondenheid.
Oom Fanie loer na sy vrou se kant toe en glimlag so onder-langs. Oom Gert kan kwalik sy lag bedwing vir Japie se gesig. Hy gaan voort sonder om te antwoord.
Jongie, en dit was soos jy s mes, ruk twee geweerslotte oop en klap toe. Dis di slag dat die ou bul ons gewaar en regsom op sy agterpote swaai. Man, en ek trek sommer so saam, en toe die dop klap, slaan die ou neer dat die stof so staan. Fanie haak af na die koei, maar sy is die bome in.
En is die ou bul dood, oom Gert? vra Piet en Jaap tegelyk. Ja, dit was n pragtige skoot: Die koel is deur die hart. Aag, oom Gert terg ons sommer. Oom Gert sal hom mos nie
sommer so in die veld laat l nie, twyfel Piet.
Maar dit was al laat. Ons het toe maar soveel doringtakke as moontlik om hom gepak, met klippe daarteen sodat die wolwe en oom Leeu dit nie kan wegkry nie. Toe ons hier in die kamp kom, het ek maar liewer niks ges nie, want ek was bang neef Fanie sou s: Buig of bars, maar die koedoe moet gehaal word, en ek hou niks van donkerwerk nie.
Jou ou skelm, raas oom Fanie.
Ja nee, jong, ek het vir Fanie ges om stil te bly tot na die ete. Jy moet weet ons is darem ook moeg, en om weer terug te gaan om hom te gaan wys 
Meer as n uur sit die klompie toe nog om die vuur en gesels voordat hulle gaan slaap. Di aand in die bed en die nag wil-wil Japie so elke keer treurig word oor Kits se dood, maar as hy dan skielik weer aan daardie aaklige huilblaf van Haspaai dink, gaan daar n rilling deur sy lyf, en dan l hy sommer so teenaan Piet.
Die oggend net toe die sonnetjie mooi uit is, is oom Gert, die drie seuns, Singida en ou Memsi met ses osse weg om die koe-doe te gaan haal. Jaap en Piet kry amper die stuipe toe hulle die koedoe se mooi horings sien. En dit is n paar keer so op Japie se tong om te s: Oom Gert gaan seker die horings vir Pa gee, maar dan dink die outjie weer aan die leeuvel wat oom Gert reeds afge-staan het.
Dit is oor twaalf toe hulle met die koedoe by die kamp kom. Die slagtery en die biltongsnyery duur n hele paar uur, sodat daar
die middag nie meer tyd is om te gaan jag nie. Die seuns gaan swem weer, en oom Gert en die Zoeloes gaan saam. Toe hulle klaar geswem het, kom oom Gert met n splinternuwe plan voor die dag, hoofsaaklik om Japie te amuseer.
Seuns, ek merk dat die honde se pote deurgeloop raak. Kom ons maak vir hulle skoene. Almal gaan heerlik aan die lag. Die seuns het nog nooit aan so iets gedink nie en dit is so in hul kraal.
Ai, oom Gert, dis n alte goeie plan. En die drie dans rond van plesier. Selfs Fanie, wat altyd maar sedig is, is met hart en siel vir die plan. Japie is alte in sy element.
Vat aan my baadjie! Ou Oortjies met n paar skoene! Hy sal omtrent loop soos n hoenderhaan waarvan n mens net pas die twee middeltone afgesny het.
So laggende en pratende kom hulle die kamp in. Oom Fanie, wat besig is om saam met tant Lenie al die droogste biltonge uit te soek, is sommer dadelik vol agterdog.
Neef Gert het seker saam met die seuns die een of ander katte-kwaad aangerig.
Pa! skreeu Japie. Oom Gert en ons gaan vir die honde skoene maak.
Oom Fanie lag ook sommer. So oud as hy is, geniet hy dit nog met hart en siel om saam met die seuns sulke soort kaskenades aan te vang.
Wag, ek kom julle help. Agterpote en voorpote? Man, maar die honde sal die skoene net so vinnig uittrek as wat ons dit aan-trek.
Die een aan die voorpoot en die ander aan die agterpoot, ant-woord oom Gert laggende.
Dis n gedoente en n uiters moeilike taak. Die stukkies sagte leer moet eers om die pote gemeet word, en hulle spook en tjank dat dit n naarheid is, terwyl die seuns lag dat hulle so skreeu.
Hulle word toe viervoet vasgemaak met n stuk sak om die kop. Oortjies en Haspaai l rukkies stil en uit sulke fyn, benoude tjan-kies asof hulle wonder wat om die volgende oomblik te verwag  wonder of hul base nou stapelgek geword het. Dan spring hulle weer rond dat ou Memsi net moet hou. Daar word gaatjies in die
ronde stukkies leer gesny al om die kant en n riempie daardeur getrek om dit om die honde se pote vas te maak. Oortjies kry syne aan die voorpote met netjiese strikkies vasgemaak, en Haspaai sy-ne aan die agterpote.
Tant Lenie, ou Lea en al die swartes staan geamuseerd en kyk. Toe dit klaar is, aanvaar oom Fanie die bevel: Ek sal drie tel, dan los julle tegelyk. Trek eers die sakmusse van hul koppe af, Pieter. Een  twee  drie  los!
Saa! Vat hom! skreeu Japie om hulle vinnig op die bene te bring.
Albei honde spring op, met die ore gespits, tuimel weer half onderstebo en spring-spring sulke entjies. Haspaai, met die skoe-ne aan die agterpote, skop nou met albei agterpote tegelyk agter-op, dan met die een en dan weer met die ander.
Kyk so n bastermuil se hond, s oom Gert, en die seuns rol soos hulle lag.
Oortjies sukkel so steier-steier vorentoe asof hy in die lug trap, en dan spring hy weer op drie bene.
Kyk hoe trap hy die riel, skreeu oom Fanie soos hy lag, en Japie gryp daar n tak om hom te probeer dryf, maar hy lag so dat hy nie eintlik iets kan uitvoer nie.
Druipstert, asof hulle besef dat daar met hulle gespot word, gaan l eers die een en toe die ander om die skoene met hul tande te probeer aftrek, spring dan weer op, kyk verle na hul base, en as di so lekker lag, sien hulle eindelik die grap in, waai met die stert, met n glimlag op die gesiggies en kom nader.
Toe, julle moor die honde, Japie, protesteer tant Lenie, nadat die pret seker n halfuur voortgegaan het, en sy begin Haspaai se skoentjies losmaak onderwyl di aanhoudend haar hand lek.
Krygsraad, krels! dreun oom Fanie se stem.
Hulle gaan sowat honderd tree uit die kamp uit, en daar op n paar stompe neem hulle plaas.
Ons tydjie word kort, krels, begin oom Fanie, en daar moet minstens nog n paar bosbokke geskiet word. Neef Gert, het jy n voorstel?
Oom Gert stryk n paar keer sy vingers so deur sy yl hare en dink diep.
Ou Neef, maar ons het mos darem nog n paar dae tyd. Dis vandag Woensdag, n? Nou ja, en ons vertrek aanstaande week Woensdag, nie waar nie? Nou ja, Dinsdag pak ons op. Ons het dan nog vier dae om te skiet. Ek glo nie ons moet ons meer so inspan nie. Ons moet maar elke dag die veld instap en skiet wat voorkom. Jy weet, dis di slag dat n mens nie na n ding soek nie dat jy hom kry.
Ja, dis waar, stem oom Fanie in.
Daar is toe ooreengekom dat daar die volgende drie dae ge-woonweg geskiet sou word.
En, sluit oom Fanie die vergadering, Maandag gaan ons vir oulaas bosbokke, vlakvarke en leeus soek. Ek wil so n bietjie ver-jaar onder die varke, want ek hou nie daarvan om so n klomp pa-trone terug te neem huis toe nie.
Hoeveel patrone kry ons elkeen, Pa? wil Piet nog eers weet. Ek neem dertig en julle elkeen vyftien.
Au, dit sal lekker wees. Ons sal Kits se dood wreek! juig al drie die seuns, en hulle stap weg om te gaan koffie drink.
Haspaai, het Oubaas die honde gemoor? H, Oubaas se hond? Oubaas se honne  En Piet karnuffel en streel sy hond, wat al voor hom uitspeel.
