OP DIE SPOOR VAN DIE LEEUS
Slaap? Selfs die honde en die osse slaap nie veel nie. Daar is onrus in die naglug. Die leeus brul byna aanhoudend. Partykeer klink dit asof hulle sommer naby kan wees en dan weer ver, asof daar dalk twee seksies kan wees. Ng die osse ng die honde het enige vo-rige ondervinding van leeus, en tog trap die osse aldeur rond in die kraal. Af en toe uit n os n soort angstige kreungeluid soos n koei wat haar pasgebore kalfie nader roep wanneer sy honde gewaar. Die honde boer om die vuur en kyk elke keer met gespitste ore en angstige knorgeluidjies die donker bome in. Daar is onrus in die naglug vir hulle.
Singida, die drie swart seuns, asook oom Gert se twee werkers, sit van twee-uur af wakker by die vuur, met komberse oor hul skouers, en braai vleis om iets te doen. Die swart seuns is anders as gewoonlik skielik swak ter tale en wil gedurig net hout op die vuur stapel. Dan belet die groot Zoeloes hulle met n growwe, swaar, nors stem. Die hout moet immers hou tot daglig.
Die seuns bly op hul pa se bevel in die watent l.
Lea kry verlof om onder hul katel in te kruip. Daar voel sy baie veilig, trek die kombers oor haar kop en l doodstil. Oom Fanie en oom Gert gooi om die beurt stompe op die vuur. So teen dagbreek kan Japie dit nie meer hou nie.
Outjies, s hy, dit lyk vir my die leeus het besluit ons het nou genoeg van hul wild hier gesteel en verklaar nou oorlog. Ek wens Pa wil dat ons nou oppak en maar trap.
Fanie en Piet hou hul eie mening daarop na en swyg maar lie-wer. Piet wil ten minste nog n waterbok skiet, twee wildebeeste, n vlakvark en as dit moontlik is, n bosbok. En Fanie? Die outjie het op eg kinderlike manier ure deur die nag gel en bid dat hy n
kans moet kry om ook een of twee skote te los op n vlugtende leeu  liefs op een van so ses maande oud. Soms verkeer hy in n vreeslike stryd. Wanneer die leeus effens nader aan die kamp brul en hy dan daaraan dink dat hy die volgende dag saam met sy pa en oom Gert op hul spoor moet gaan, oormeester n soort doods-angs hom amper. En dan is dit meestentyds net hoogmoed wat hom met sy besluit laat volhard. Piet en Jaap sou nie n kans kry om dalk te spot nie, en oom Gert sou nie rede kry om sy mening oor hom te verander nie.
Die langste en donkerste nag moet ook naderhand wyk voor die rooidag aan die ooste, en dis met opgeruimde harte dat die seuns eindelik om die vuur staan met hul bekers koffie. Dis helder lig en die Zoeloes is besig om die osse te laat uitkom. n Bietjie later word daar krygsraad gehou en onder andere besluit dat hulle so twee uur na sonop eers sou loop, sodat die leeus intussen kans kan kry om by hul lplekke te kom.
Toe die son nou eers skyn en alles weer rustig en veilig voor-kom, wens Piet darem maar diep uit sy hart dat hy ook kan saam-gaan. Hy bly egter by sy gegewe woord en gedra hom maar stil. Ou Memsi kom ook intussen daar aan met sy twee honde. En toe Fanie die klomp honde bymekaar roep en dit haas tyd word om te vertrek, verdwyn Piet so ongemerk in die oskraal. Hy wil hulle liewer nie sien vertrek nie. Dis net Japie wat in n ligte luim ver-keer.
Faan, jong, terg hy toe die klomp wegstap, jy begaan n groot fout om nie twee ferweelbroeke aan te trek nie  en jy moet n band en kruisbande aansit! Jy weet, n man se broek 
Pas jy maar die jakkalse op dat hulle nie die biltong wegdra nie, antwoord Fanie, en hy hardloop vooruit met die klomp spe-lende honde. En toe hulle so in die bome verdwyn, kom daar n vae onrus in Japie se hart. S nou die leeus maak Kits dood  En die outjie draai daar en dan om om Piet te gaan soek. Hy wil iemand h om in sy onrus te deel.
Oom Fanie-hulle, met ou Memsi en sy honde vooraan, pyl in die rigting waar die leeus gedurende die nag die meeste gebrul het, ten einde van daar af spoor te vat. Hulle is nog nie n myl van
die kamp af nie of Memsi wys hulle die eerste groot spore in n sanderige kol. Almal bly staan en kyk. Dis die eerste keer in Fanie se lewe dat hy leeuspore sien.
Auk! Het n leeu dan sulke vreeslike spore? En hy buk voor-oor om hulle beter te beskou. Kyk die honde, kyk die honde! s oom Gert laggend, en al drie kyk regs, waar Kits en Oortjies vir die eerste keer die leeureuk kry. Albei se nekhare staan soos bor-sels en die sterte trek stadig tussen die bene in.
Jong, s oom Fanie, en hy kyk rond hier langs hom, as jy nou net n stokkie of iets daar agter hulle gooi, sal die twee net s bauff! en gate deur die lug hardloop.
Nee wag, ou Neef, keer oom Gert, moet hulle nie skrik-maak nie; ons het hulle nodig. En dis sommer pure honde daardie. In die rel sit honde wat vir die eerste keer die leeureuk kry, som-mer op loop.
Ou Memsi bring sy honde op die spoor, en nadat hulle self ook maar n bietjie rondgetrap het, vat die een spoor, en daar gaan hulle. Memsi voel alte trots op sy honde en kyk so skuins na oom Fanie-hulle asof hy wil s: En wat dink julle nou van my honde? Die ou is egter n man van die daad: Julle kan maar agterna kom, ek sal agter die honde aan hardloop en skreeu as die spoor warm word, sodat julle kan vinniger kom.
Met n soort uitdagende blik na die ander Zoeloes  volg my as julle manne is  spring die ou weg agter die honde aan.
Faans, jong, s oom Gert so uit klein Fanie se hart, dit is darem n pure Zoeloe daardie met Shaka se bloed in sy are.
Oom Fanie weet meer van leeus en hul gewoontes af as wat oom Gert in die begin vermoed het.
Ja, neef Gert, s hy onderwyl hulle so aanstap, hys pure man. Maar kyk, ek dink in plaas van hom te volg, moet ons maar sommer pyl na daardie koppie toe. Ek voel so aan my lyf dat die leeus daar gaan wees.
Dit is moontlik, neef Fanie, antwoord oom Gert effens twy-felagtig, maar laat ons nou maar liewer die honde volg, dan is ons ten minste seker dat ons op die regte pad is.
Goed, willig oom Fanie in, en hulle stap en stap al verder.
Fanie se ore en o is amper oorspan. Hoe wens hy nie dat hy die eerste moet kan s: Pa, daars hulle!
Sy pa en oom Gert loop voor, hy agter hulle en die ander swar-tes heel agter. Byna n uur lank stap hulle voort, al in die rigting waar hulle ou Memsi die honde hoor aanmoedig. Oom Fanie merk tot sy innige genot dat hulle al nader en nader aan die kop-pie kom.
Pa, watter goed is daardie? vra Fanie opgewonde, en hy gryp sy pa aan die arm om hom die rigting te beduie. Sy pa skrik amper.
Mintig! Ek wou net s dis leeus toe ek die geel streep daar tussen die bosse sien. Dis bosbokooie.
Almal haal weer diep asem, en die twee mans laat hul gewere sak. Fanie besef met n mate van kwalik bedwonge genot dat die twee ou baasjagters ook maar net lelik versigtig voel!
Pa, begin hy toe hulle weer voortstap, ek dag dan bosbokke is donkerbruin. Di wat Pa-hulle tot nog toe geskiet het, was dan almal donkerbruines?
Ja, maar dit was almal ramme, my seun. Die ooie is sulke geles met wit kolletjies op hul boude.
Neef Fanie, dit lyk my ons pyl koppie toe, h? erken oom Gert grootmoedig.
Ja nee, jong, ek ken die ou grootkoppe darem ook so n raps, laat oom Fanie daarop volg.
Daar blaf die honde!
Wozani  komaan! klink Memsi se stem bokant die honde se blaf uit.
Kom, krels! gee oom Fanie die bevel, en jy hoor net ge-weerslotte oopruk en toeklap. Elkeen stoot n patroon in die loop. Met oorgehaalde gewere, die vinger rakelings oor die sneller ge-hou, stap die drie skouer aan skouer nader, Fanie in die middel. Die honde tjank en blaf deurmekaar, en toe meteens laat die ou leeu hom hoor: Uuh-wah gr-rr 
Op ons tyd, krels. Daars nie haas nie, probeer oom Fanie kalmeer, hoewel sy stem ook maar tril van opgewondenheid.
Fanie, my seun, ons sal altyd so loop dat ons naby n boom is. As ek s klim, dan klim jy, hoor! Wees nou wakker, my seun.
Ja, Pa. En die outjie byt sy tande opmekaar. Soos hy nou voel, sal hy sowaar nie padgee nie. Elke keer raak sy pa of oom Gert se skouer teen syne, en dit stuur sulke vonke vastrapgees deur sy hart en bene. Dis my allergrootste kans, jaag dit deur sy brein.
Grr-aau!
Wozani bo  komaan, krels! skreeu Memsi effens benoud di slag.
Fanie? Pa!
Stadig, my seun. Moenie voor my loop nie. Wozani!
Siyeza  ons kom 
Tjau! Tjau! tjank een van die Zoeloes se honde meteens, en die paar Zoeloes agter staan bome se kant toe. Fanie, wat net toe omkyk, byt die woorde so af: Lae lakke! Maar voordat hy nog iets aan sy pa kan s, gil Memsi: Shisa  skiet! en hulle sien net n streep stof soos n verwoede leeu die blaffende honde stormloop.
Skiet, krels! val oom Fanie se bevel, en die drie donderende Lee-Metfordskote smoor n oomblik die geluide van honde, leeu en Zoeloes. Blitssnel word die geweerslotte weer oopgeruk, n pa-troon in die loop gesit, en hulle klap toe, maar geen tweede sarsie val nie. Die leeu is soos die wind weer die ruigtes in. Al drie jag-ters staan met geweer aan die skouer  as dit net roer daar voor, dan blits hulle. Die half verwilderde honde kyk nie weer om nie, maar is tussen hul base deur en stuit dat die stof so staan tien, vyf-tien tree agter oom Fanie-hulle. Hulle tjank en blaf deurmekaar.
Al was dit mis, glo my, sy ore tuit waar hy nou is, probeer oom Gert verskoning maak vir hul slegte skote.
Ja, jong, laat oom Fanie kortasem volg onderwyl hy die sweet van sy voorkop afvee, n man moet darem ook maar soos blits wees om n stormende leeu te raak. Dis net n skim hier, n glim daar, n wolkie stof bo die bossies, en weg is leeu!
Fanie kry nou moed en selfs n gevoel van veiligheid  leeujag is nie so gevaarlik as wat hy gedink het nie.
Dis maar n geluk dat hy nie op ons afgestorm het nie, lug hy ook sy gevoelens.
Saa! Vat hom! moedig oom Gert die honde aan.
Kwishi! Kwishi! moedig ou Memsi sy twee ook aan, en die spul spring weer blaffende weg in die rigting waar die leeu ver-dwyn het. Ou Memsi kom stap nou by oom Fanie en oom Gert, en saam beweeg hulle vorentoe deur die bome. Die ander swartes volg half onwillig.
Memsi, begin Fanie, en hy buk onder n tak deur, hoe lyk dit: Dink jy ons sal hom weer kry?
Ja, Fanie, wanneer daar honde is wat blaf en op sy spoor is, word n leeu te kwaad om ver te vlug. As ons die honde nou kon stilmaak en so n rukkie staan en luister, sal ons die leeu hoor so n entjie na vorentoe waar hy l en met sy stert so oor die dro blare heen en weer piets. Ek wil nie baie praat nie, maar as n leeu eers met sy stert piets soos n kat wat staan en dink, o brastag, dan sien hy bloed voor sy o!
Maar, Pa, kerm Fanie, dan is dit mos klaarpraat met ons arme honde as die leeu hulle l en inwag.
Grr-rr-aau! begroet die leeu skielik die klomp blaffende, tjankende honde vierhonderd tree na vorentoe. Daar kom n koue, sweterige gevoel oor Fanie. Hy wens hy is liewer by Piet en Jaap in die kamp.
Stadig, stadig! Hys nou gevaarlik, hou oom Fanie oom Gert terug. Ons moet so na aan mekaar loop as moontlik. Ons moet 
Pasop!
Tjankende honde kom aangehol asof die dood op hul hakke is. Oom Fanie gryp Fanie aan die arm en ruk hom agter n boompie in. n Paar sekondes is die outjie lam  bene, tong en al. En toe donder dit in sy ore soos die ander twee skiet. Dit jaag lewe deur hom. Hy het sy geweer aan die skouer en gee n tree sywaarts.
Staan stil, Fanie!
Sy pa het nog nooit so hard vir hom geskreeu nie. Hy spring terug agter die boompie in, maar hoor skielik tussen die skote deur n naderende geroggel. Deur die takkies heen sien hy meteens n geel streep  n geel boog deur die lug. Hy sien die leeu se vrees-
like tande, bloedskuim aan sy bek. Oom Gert se geweerloop gaan op. Twee skote dreun tegelyk. Die leeu krimp half ineen soos van n stuiptrekking en slaan neer hier langs die boompie dat die grond so dreun. Di slag is n klein Boerseun se geweer al klaar aan die skouer. Kruit en koel brand deur die leeu se liggaam. Toe sluk Fanie n dro sluk.
Hoera! Usuthu! Ons het hom! skreeu almal deurmekaar en hulle kom bondel om die leeu. Die ou l so stil as n klip  mors-dood.
Allamatta, Faans! En oom Gert vee die sweet so voor sy voorkop weg. Dit was vir jou naelskraap, h!
Ja, man, ek het al gevoel waar pak hy my aan die arm. Auk, maar Pa en oom Gert het soos meksims geskiet, laat
Fanie ook hoor.
Ja, man, toe die bees agter daardie boompie uitkom, toe s ek vir myself: Gert, skiet!
Die leeu word bevoel en beskou en almal praat. Die son bak egter n bietjie te warm op daardie plekkie, en hulle sleep die ou so n entjie verder tot waar daar n lekker skaduwee is. Oom Fanie en oom Gert gaan toe elkeen op n klip sit om die lekkerste pyp te rook in jare. Die wit miswolkies staan sommer so. As n Boer n leeu geskiet het, voel hy lekker tot in die vinger waarmee hy die sneller afgetrek het. Fanie en Memsi is maar deurentyd daar by die ou leeu besig. Hulle beskou hom, kyk in sy bek, rol hom om en om en tel die wonde.
Pa, hy het drie skote deur hom behalwe die een wat ek hom gegee het  een laag deur die bors, wat seker die longe geraak het. Die ander twee is natuurlik die twee laaste skote in die spring: die een  seker oom Gert sn  voor die bors in die kuiltjie; die ander een skuins onder die blad in  seker Pa sn, want hy was mos half dwars vir Pa.
So skelm-skelm en skaam kom die ander swartes nou ook die een na die ander daar aangestap. Ou Memsi het lankal sy lippe afgelek om hulle lelik sleg te s: Hambani! Gee pad hier! Die leeu kan dalk weer lewendig word en opspring as sulke lafaards soos julle se skaduwee oor hom val.
Fanie is ook maar net bitsig en wil glad nie h die lafaards moet naby kom nie. Oom Fanie en oom Gert sit die hele spulletjie geamuseerd en aanskou. Oom Gert begin al meer van die stil, dap-per, kwaai seun hou. Fanie wil h die honde moet aan die leeu kom ruik, en hy roep hulle. Maar moenie glo nie. Hulle staan maar daar rond in die koelte, met die tonge byna op die grond, en kyk net veelbetekenend na die leeu wanneer hul base so aanhoudend roep.
Pa, moet ons die ou nou maar kamp toe dra? Oom Fanie en oom Gert kyk na mekaar.
Wat s jy, neef Gert?
Ek wonder  En hy stoot sy hoed agteroor en vryf met sy hand oor sy gesig. Terwyl ons nou so ver van die kamp af is en dit nog vroeg is, dink ek ons moet maar nog n bietjie soek. Na ver-lede nag se brul geoordeel, skat ek dat hier meer leeus moet wees. Fanie het egter genoeg spanning op een dag deurstaan en wil nou liewer met die leeu by Piet en Jaap wees. Hy is dan ook gou
en oulik met sy voorstel.
Pa, hierdie ander Zoeloes is tog te bang om met die leeujag te help. Laat my saam met hulle die leeu kamp toe dra, dan soek Pa-hulle met ou Memsi die ander leeus.
Sal julle die pad terug kry? Ek wonder  Dis darem n bietjie gevaarlik. En oom Faan krap sy kop. Aan die een kant is hy maar te bly om Fanie uit die gevaar te kry, en hy stem toe maar in: Die Zoeloes ken darem die Bosveld.
Goed, dis n verstandige plan van jou, my seun. Sorg nou net dat julle nie deur ruie plekke gaan nie en wees versigtig.
Ja, Pa, ek sal dat die swartes die pad kies.
Ou Memsi help toe eers gou die swartes om n geskikte paal van tien voet lank te kap, die leeu met afgestroopte boombas kop en pote daaraan vas te bind en die drag oor hul skouers te kry. Twee loop voor en twee agter, met die leeu aan die paal oor hul skouers.
Nou ja, ek hoop Pa-hulle skiet nog twee leeus voor sononder. Oom Fanie lag. Goed, my seun; hou maar die koffie reg, ons
sal skreeu as ons aan die kom is.
Fanie en die swartes met die leeu is toe die bome in. So elke vyf-, seshonderd tree rus hulle, want so n leeumannetjie is bees-agtig swaar. Hoe nader hulle aan die kamp kom, hoe swaarder word die leeu. Almal se skouers is al seer, veral Fanie sn, want die man net voor hom is effens korter as hy, en die paal rus ge-volglik swaarder op sy skouers. Ente-ente loop hy krom en laat sodoende die paal swaarder op die man se kaal skouer rus. Die man kom nie sy slimstreek agter nie, maar begin kla dat so n leeu darem nou baie swaar word. Dis net wat Fanie wil h. Voordat een van die mans nie kla nie, sal hy nie skiet gee nie, al druk die paal sy skouer ook bloed uit. Watter Boerseun gee dan kop vir n wer-ker?
Die man is darem self ook oulik. Fanie, wag n bietjie, ek wil darem net n doring uit my voet haal.
Die swartes gaan almal sommer plat sit, maar Fanie staan so n bietjie rond. Hy begin bossies en blare pluk ten einde n soort kus-sinkie te maak om op sy skouer te sit. En onderwyl hy besig is om takkies te pluk, gewaar hy met sy valko skielik n entjie na vore, langs die stam van n ruie bessieboom, n beweging. Hy dink eers dis n voltjie of dalk miskien n muis en stap n paar tree nader om beter te kan sien.
Au, dis n bosbokram! Fanie ken ook al n paar geheime van die jagter. Hy het al gehoor en weet dat bosbokke baie skelm is en soms doodstil staan sodat n mens by hulle verby kan stap. Hy stap toe n paar tree regs, hou sy lyf dood onverskillig en kyk in geen bepaalde rigting nie. Die bok moet die indruk kry dat hy van niks weet nie. Hy beweeg egter al meer en meer weg van die bok af. Sy hart doef-doef bo in sy keel. Die nare swartes praat ook so hard. Hy het eindelik n paar ruie boompies tussen hom en die bok, en die outjie maak lang tre na die swartes toe om by sy ge-weer te kom.
Thulani  stilte, fluister hy.
Hy sluip vorentoe met die geweer van boom tot boom.
Die bessieboom se top steek bokant die ander uit. Hoe nader hy aan die boom kom, hoe versigtiger gaan hy. Hy sien die stam  af  af met die stam  Hy sien die ore roer. Hy gaan staan op
sy knie agter n bitterappelboompie en loer deur die takkies. Ja, daar l hy  dwars. Klieks! gaan die slot van die geweer oop. Hy druk n patroon in die loop en l aan. Hy korrel n hele rukkie. Auk, hy laat sak die geweer en haal eers weer n paar keer diep asem. Net soos hy die korrel op die bok het, smelt die donkerbruin ram en die swart boomstam saam, en dan is hy te bang hy gaan oorheen of te laag skiet. As hy nie korrel nie, kan hy die bok mooi sien. Wag, hy gaan darem probeer. Niemand weet eens waarna hy skiet nie. Hy korrel weer. Dit duur n hele paar oomblikke. Einde-lik piets hy los en loop storm. A, dis raak! Die bok l en skop en spartel dat die stof so staan. Die Zoeloes kom ook aangestorm, meer uit nuuskierigheid as iets anders. Hul vrag is reeds swaar.
Toe hulle nou eers sien wat dit is en die opgewondenheid af-koel, begin hulle hul besware lug: Fanie, hoe gaan ons nou al die goed dra?
Fanie staan so n rukkie en dink. Wag, hy het n plan: Mabu-za, hardloop jy gou kamp toe dan roep jy my broers daar dat hulle ons kom help dra. Maak gou! Onderwyl Mabuza weg is, dra Fanie en die paar swartes die bosbok en die leeu n entjie voren-toe tot in die lekker skaduwee van n groot wildevyeboom. Daar besluit Faan om vir Piet en Jaap te wag. Hy voel baie opgewonde. Dis asof hy al sien hoe verbaas Jaap-hulle gaan wees. En die vrae wat hulle sal stel.
Die Zoeloes gaan l almal op die naat van hul rug. Hulle is moeg en die skaduwee is lekker  n halfuurtjie slaap sal nie sleg wees nie. Fanie voel egter nie lus om te l nie. Opn lekker kolle-tjie groen gras gaan sit hy. Hy sit en luister na n soort wildepape-gaai wat n entjie laer af aan die rivier met n helder, pragtige fluit sy maat roep. Au, so n ding kan fluit!
Jou klein pes, s Fanie half hardop, en hy krap met n stywe dro blaartjie n bontpootbosluisie van sy been af. Met n stokkie druk hy hom diep in die grond in. Klaps! val iets uit die boom. Hy kyk op in die ruie blare en takke, maar gewaar niks nie. Daar val weer iets, nouliks n tree van hom af di slag. Hy buk vooroor en soek tussen die bossies en grassies. A, dis n geswelde vy. En kyk n bietjie net hoe n netjiese happie is daar uitgebyt. Apies! n
Glimlag kielie sy mondhoeke. Die vabondjies! Hy let al dae op om hulle te sien te kry, maar sien is min. Reg bo skuins voor hom roer n paar blare. Twee klein, swart, harige handjies trek n groot groen blaar weg en n swart gesiggie met twee blink ogies loer vir hom. Blitssnel ruk die outjie die blare weer toe. Dit is so onver-wags en so komiek dat Fanie dit sommer uitskater van die lag. Die swartes wip soos hulle skrik, sit orent en kyk verbaas na hom. Fanie wys met sy vinger bo in die boom.
Daars apies hierbo.
Fanie! Waar is julle? roep Jaap n paar honderd tree laer af langs die rivier.
Hierso, gee Fanie antwoord, en hy staan op sodat hulle hom kan sien.
Jaap en Piet kom aangedraf. Die tweetjies is stokflou toe hulle by Fanie kom. Jaap sien die leeu daar l en spring bo-oor hom van kamma pure hanerigheid.
Wies dan bang vir n leeu! Tot die Zoeloes kry lag vir hom.
Faan, het Pa die leeu en die bosbok geskiet? vra Jaap, en hy buk vooroor om die leeu te beskou. Hy gee Fanie glad nie kans om die vrae te beantwoord nie. Die swart man moes langs die pad dieselfde vrae beantwoord.
Vat aan my baadjie! Dan lyk n leeu so! Auk, Piet, kyk n bietjie sy tande. En kyk die naels! En sy poot is so dik as n os sn! Is alles reg met die honde?
Piet se tong raak ook nou los.
Faan, het die ou julle gestorm of wat? Wie het die eerste ge-skiet? Het jy ook geskiet? Wie het hom die doodskoot gegee? Was daar net een leeu? En het jy regtig die bosbok geskiet?
Na omtrent twintig minute is die twee eindelik tevrede, en hul-le help Faan om die bosbok ook aan n dwarshout vas te bind. Hulle tel hom n slag op: elkeen het weerskante aan die paal.
Nee wat, hy is darem nie te swaar nie. As julle net stadig loop met die leeu, sal ons maklik bybly, is Jaap se uitspraak.
Hulle is toe voort kamp toe. Vyf-, seshonderd tree van die kamp af skreeu Jaap al vir sy ma om te kom kyk. Tant Lenie is self
ook al baie nuuskierig en kom vinnig aan. Toe sy by hulle kom, laat sak Fanie die leeu en staan opsy. Tant Lenie sien skaars die leeu raak, maar het Fanie om die nek en soen hom. Sy is te bly om hom veilig terug te h en te hoor dat alles goed afgeloop het. As oom Fanie-hulle nou ook maar wil kom. Op Japie se aanhoudende verklarings en lawaai is sy egter verplig om die leeu goed te be-skou.
Nou ja, kom, my seuns, kom drink nou lekker koffie in die kamp.
Jaap en Piet het weer die bosbok en stap los voor. Die klompie voel moeg en warm toe hulle in die kamp kom en sit daar rond in die skaduwee terwyl hul ma en ou Lea rondstaan om vir hulle kos en koffie te gee. Later in die middag begin hulle met die slagtery. Af en toe hoor hulle dof in die verte skiet, en dan wonder die drie of dit leeus is wat deurloop of buffels.
Jy weet, Faan, laat Japie hoor, as Pa skiet, is dit raak! Ek wonder wat gaan hulle alles bring 
Teen sononder kom oom Fanie-hulle in die kamp aan. Ou Me-msi dra n jong bosbokram. Jaap is voorperd.
Hoeveel leeus nog, Pa? En sonder om nog op sy pa se ant-woord te wag, gryp hy Kits om die nek en streel hom.
Piet en Fanie is meer bedaard en vra alles haarfyn uit. Oom Fanie-hulle het nie weer leeus gekry nie, maar n hele paar bos-bokke, en verder bietjie vuurgemaak onder n klomp bobbejane. Hulle het n paar buffels en baie waterbokke gekry, maar wou lie-wer nie skiet nie.
Pa, Ma s die biltong is droog genoeg; ons kan maar weer groot goed soek, verkondig Japie luidkeels.
A, dis goeie nuus. Mre kan julle almal dan weer saamgaan. Ons moet waterbokke soek.
Tot laat in die aand sit die klompie om die vuur. Oom Fanie moet oor en oor vertel hoe hulle die leeu geskiet het. Net voordat hulle opstaan om te gaan slaap, s oom Fanie iets wat nie heelte-mal na die seuns se sin is nie: Ons gaan nog drie dae skiet, dan begin ons so stadigaan oppak. Ek begin al onrustig voel oor die boerdery by die huis.
Au, Pa, sug Piet en Jaap tegelyk, ons wil nog so graag elk-een n waterbok skiet, twee bosbokke, nog n paar wildebeeste, vlakvarke en miskien n jong buffel.
Goed, kom hul pa hulle tegemoet, ek en oom Gert sal julle van mre af die beste kanse gee.
En met tevrede harte is die drie toe bed toe.
