Oorlog vir Jannie
Hy was twee-en-twintig jaar oud en vier maande getroud toe die oorlog van 1899 op Jannie Geldenhuys van Bothaville toe-sak, en hy, sy skoonvader Abraham Preller, sy broer Pieter en sy vriende Ernst en Martiens van Biljon na die wesfront by Kimberley vertrek. Hulle het beslis nie beteuterd en versuk-keld daarheen opgetrek nie: Hulle het hul perde en pakperde gehad, n halftentwa en agt osse. In die dagboek wat hy later as krygsgevangene in Indi gehou het, skryf hy:
Wy had een (cook) die de wagen dryf, een kaffir [sic] die naar ons paarden kyk. De Vc. sluit ook later by ons wagen aan. Koek, beskuit, blikken vleisch had wy als volop en slaap op veder beddens. Ons leven was gelyk aan (lords).
Hy veg so hier en daar by Armoedskoppie, Belmont en Magers-fontein en beskryf die eerste groot geveg waaraan hy deelneem heel onbewo:
Wy staan en vochten tot omtrent 7 uur pm toen werd Pieter zyn paard geschoten. Wy verzuimde nog een poosje. Ik zag die burgers retereerde. Ik zeide toen aan Pieter dat hy een plaan moet maak om vort te gaan, het welk hy deed. Ik wacht toen daar ik op myn paard reken om uit te jaag. Toen het op het uitterste was, dacht ik het voor myn tyd om te begint. Ik klom op het paard en jaagde voorts onder een hevig vuur van kleyngeweer en kanon.
Na ik omtrent 800 treden weg was werd myn paard licht gekwest aan de voorbeen. Ik ontmoet de comdt. en nog een paar man in een ander positie. Ik sluit by hen aan; daar vochten wy een wynig. Myn paard verloor de positie en kryg een kogel op de heup in en op de zadelklap uit. De paard viel. Ik werd toen in de nood en dacht by my zelven om liever een plaan te maak om voor my veiligheid te zoek. Ik sny de buikgord van my zadel los en ging met die pak te voet aan. Ik had een goede zadel en toom en wou het niet gaarne achterlaat 
Jare daarna het sy vrou Lizzie ook haar oorlogsherinneringe vir haar kleinkinders te boek gestel en wanneer sy by hierdie be-trokke insident kom, beskryf sy dit met n verering wat die jong burger van daardie tyd seker skaars waardig was: Nou weer so n klein insidentjie, s sy, om van ou Dad se manmoe-digheid te vertel: Terwyl ou Dad en nog meer ander burgers van Maersfontein ook op die terugpad ry, kry ou Dad se perd n dodelike skoot. Die perd sak inmekaar, maar ou Dad bly kalm, klim af, maak die buikgord los, haal die saal en sy ren-jas af, bekyk die jas, maak t oop en vind dat n koel selfs die jas getref het. Nou ja, maar die mooi nuwe saal, toom en stie-beuels wou hy tog nie in die slag laat bly nie. Hy vou die jas dubbel, sit dit op sy kop en die saal bo-op. En daar stap hy aan, so onder die salvo van Engelse skote. Liewe ou Dad, ewe bedaard, maar die nuwe saal en niekle silwer stiebeuels laat hy nie in die slag bly nie!
Daar de officieren niet vlink met schrijven was, was ik hun groot te pos geweest als secretaris, vertel Jannie ons toe hy as sekretaris van vk. Karel Coetzee aangestel word. N drie maande aan die front is hy ziek en vol vir alles en hoogs verlig toe sy vrou vir hom n substitute stuur, n man met die naam van Christiaan Grobbelaar wat gewillig was om teen betaling van een koei en n kalf per maand tot aan die einde van die oor-log in sy plek te veg.
Geen tyd word gemors om die reis ten einde te bring nie, s hy toe hy en sy broer Pieter in een groot geest terug huis toe
vertrek. In hulle haas gooi hul die kar n hele paar maal om. Wat Jannie Geldenhuys betref, was sy oorlogspoging daarmee afgedaan. Hy wy hom aan sy boerdery, sy jong vrou en sy pas-gebore dogtertjie. Toe die Engelse troepe n paar maande later Bothaville binnetrek, begrawe hy sy een geweer in n sloot en gaan l met die ander wapen af. Maar vyf maande later vind ons hom, sy skoonvader, sy broer en sy vriende weer saam by Schoemansdrif aan die Vaalrivier. Hulle het deel uitgemaak van n groep van tweehonderd hensoppers, soos hy hulle noem, wat besluit het om weer die wapens op te neem. Hulle het toe saam met die kommando op die koms van De Wet sit en wag.
Hulle klere, netjies en heel, hulle versorgde hare en baard en hulle uitgeruste perde het hulle van die res van die burgers on-derskei. Waaraan jy hulle egter die beste kon uitken, was hulle angstige, afwagtende houding tussen die ander wat lui, rustig, party vas aan die slaap, onder die bome rondgel het. Ek kan my voorstel hoe die ou vegters vir mekaar die baarde getop het, hoe party tydsaam die rou vleis wat aan hulle uitgedeel is in dun stringetjies vir toutjiesvleis opgesny en aan die doring-takke opgehang het, hoe party net in hulle onderbroeke gesit en met seninggare skaapvelsitvlakke op hulle buitgemaakte kakiebroeke vasgewerk het. Daar sou party gewees het wat hulle skoene sit en lap, ander wat by die eetplekke op die kole meelkoeke bak, hulle gesprekke bedaard, hulle bewegings on-gerg. Hoewel Engelse kolonnes enige oomblik op hulle kamp-plek kon afkom, heers daar n onwreldse kalmte, asof hulle honderde myle van die gevegsfront is.
Toe kom daar n paar perderuiters rustig aangery. Hulle klim tydsaam af en gaan by n ronde tentjie in. Die tweehon-derd man staan op en bevind hulle deur honderde ander bur-gers omring. In die laagte is daar meteens spanning. Selfs die perde hou op vreet. Die gebulk van die menigte osse is vir die eerste keer hoorbaar, en die agterryers en touleiers kom aan die buitewyke hurk. Die tentflap gaan oop, en twee mans kom na die uitgespande waens aangestap: Marthinus Theunis Steyn en Christiaan de Wet.
Dit was Jannie Geldenhuys se eerste ondervinding van iets waaraan hy later heeltemal gewoond sou raak: hoe jy saam met De Wet trek. Jy weet nie waarheen jy gaan nie; die een oomblik vlug jy, die volgende veg jy. Snags sak jy n paar uur lank in n grasplekkie neer met jou perd se toom om jou arm en jou gesig teen die stomende saal. Lank voor dagbreek het jy n paar stuk-ke koue pap gesluk en trek jy myle daarvandaan. S gaan dit dae lank aan totdat jy n een so n nag wakker word om te sien dat die son lankal op is. Die voltjies sing, die perde wei, die burgers braai vleis oor oop vure, en daar is geen teken van n Engelsman nie. Dan weet jy: De Wet het vannag vertrek; die oorlog is met hom saam  tot julle oor twee of drie dae weer by-mekaar uitkom.
Jannie Geldenhuys vertel dat genl. De Wet op n wa geklim en hulle toegespreek het. n Mens sien hom in die verbeelding met sy een hand agter die rug, die ander om die lapel van sy baadjie geslaan terwyl hy die tweehonderd hensoppers aan-spreek wat hulle eed van neutraliteit verbreek het om weer saam met die Boeremagte te kom veg. Breek n mens jou eed en bly jy nog eerbaar? Maar, vra hy dan, wie het eerste die eed ver-breek? Die hensoppers of die Engelse owerheid wat in ruil vir neutraliteit die beskerming van hulle persoon en eiendom be-loof het en daarna tog hulle vee met geweld van hul afgeneem en hulle gedwing het om inligting oor verkenners en Boere-magte te verskaf ? So n owerheid het klaar die eed van neu-traliteit aan sy kant verbreek. Hulle het in elk geval n eed ge-sweer waartoe hulle nie die reg had nie, aangesien hulle nog hulle vryheid en hulle eie regering het 
As iemand daarop bedag was om dit neer te skryf, kon hier-die aanspraak van genl. De Wet onder die grotes van die ge-skiedenis getel het, want pas n uur tevore het hy en die paar man by hom n halfuur te perd van die laer af die sekretaris van genl. Marthinus Prinsloo te woord gestaan. Hy het van hom die tyding ontvang dat die keur van die Vrystaatse komman-dos wat hy n paar weke tevore onder veggeneraal Paul Roux agter die Rooiberge van Bethlehem agtergelaat het, hulle on-voorwaardelik aan die Engelse gaan oorgee het.
As genl. De Wet dus toe van Vrystaatse Boeremagte gepraat het, dan het hy die tweeduisend vyfhonderd verslete, ver-hongerde mans met hulle maer perde en lendelam karretjies om hom bedoel. As hy van regering gepraat het, dan het hy die ronde tentjie en die man met die rooibruin baard langs hom bedoel. Sy land was die afgebrande, geplunderde Boereplase; sy volk, hulle wat hy by die duisende in konsentrasiekampe sien sit het. As hy van vryheid gepraat het, het hy veertigduisend Engelse troepe gesien wat om hom van noord na suid langs die rivier beweeg om hom hier by Schoemansdrif vas te keer.
Of sou hy soos n Moses n toekomsblik van n nuwe vryheid vir n latere geslag gekry het? Sou hy sy land in die oestyd van n nuwe bedeling sien dra het? Ek glo nie. Christiaan de Wet was nooit bekend as n dromer en siener soos Niklaas van Rensburg nie. Hy was maar net groot: groot van denke, moed, en groot van liefde. S het hy geleef en geveg tot hy sy rusplek gevind het in die kluite van die land waarin hy gebore is. Daar-om kon hy so onwrikbaar en kalm daar staan en kon hy die vuur en geloof weer aansteek by n jong man soos Jannie Gel-denhuys.
Daardie selfde aand het De Wet se kommando, verflenter en gerem deur honderde karre en waens, onder die neus van die Engelse kolonnes Transvaal toe na die Waterberge ontsnap.
Toe Jannie Geldenhuys maande later op Bothaville terug-kom, was hy net so verflenterd as die res van die kommando, en die oorlog was in sy bloed. Hy vind sy huis afgebrand en sy vrou weggeneem Kroonstad toe, maar hy dink nie aan oorgee nie.
Op n dag maak n burger hom wakker: Daar is iemand wat hom wil sien, en toe hy uitgaan, is dit sy vrou Lizzie. Sy en haar skoonma het by die hoofprovoos De Bertodano n pas gekry om uit te ry, kwansuis om hulle mans oor te haal om oor te gee. Hulle het n stel nuwe mansklere vir hulle mans onder hul rokke aangetrek, so dik dat hulle op die klein oop karretjie ge-tel moes word en met n muil en n ou afgeleefde perd uitgery het om nie weer terug te kom nie. Lizzie en Jannie se babadog-tertjie het gesterf aan die slepende koors. Lizzie werk toe reeds
maande in n kafee op Kroonstad om siel en liggaam aanmekaar te hou: Die oorlog was ook in haar bloed.
Sy bly daarna saam met n klomp ander vroue by die kom-mando, vlug in n perdekar solank die geveg duur en ontmoet die kommando later op afgespreekte plekke. Deur Engelse ko-lonnes, blokhuisdrade en spioene word hulle later in die loop van die Vaalrivier vasgedruk en maak hulle op n verlate plaas tuis. Die oorlogstryd raak ondergeskik aan die stryd om kos in die hande te kry.
Lizzie Geldenhuys vertel aan haar kleinkinders hiervan: Ons klompie het toe rustig, maar, soos die spreekwoord toe was, veilig en onrustig op Tweefontein vir n hele tydjie ver-toef, gedurig maar hard besig om mielies te laat maal, mielie-koffie te brand en ribbetjies vleis te probeer droogmaak vir dae wat ons op die vlug gaan.
Dit is al die begin van Desember 1901 en vrugte word nog oral op plase aangetref wat ook al n baie groot item is waar groente onverkrygbaar is. Dit word soms so halfgroen gestowe en n bietjie heuning bygevoeg wat die mans baie voor rondge-soek het, somtyds in die skeure van rotse in die rivier of in gate in die grond. Ons het ook seep gekook van skaapvet en loogas. Brediestoele is uitgetrek uit die grond, want dit en ander on-kruid groei toe ongestoord welig voort. Die bredie word dan drooggemaak en uitgebrand om die as te kry. Ook doringhout-as word dan in n emmer water gegooi en met di loogwater kook ons die seep  s byvoorbeeld op n groot emmer water word ten minste n halfemmer van die as ingegooi en as dit dan mooi afgesak het, word die loogwater gebruik, s so vir vyftien pond vet. Gelukkig was daar n ou groot seeppot nog onge-skonde tussen die doringboompies weggesteek op die ou plaas. So n proses neem dae eer die seep reg is.
Daar word natuurlik soms baie meer as tot loogwater berei eer die seep klaar is.
S was daar maar gedurig vir die vroumense baie werkies om te doen en ag, die omslagtigheid om dan elke middag laat die onklaar seep af te skep en in n groterige emmer te gooi, so-dat dit kan koud word en met n paar sakke toemaak en alles
so in gereedheid hou, dat as die vyand ons in die nag aanval, ons niks hoef agter te laat nie, ook nie eens ons halfgekookte seep nie.
Ja, dan was daar nog ons eie wasgoed wat ons moes was. Daar was ook mans na Brandfort se soutpan gestuur  des-
tyds weer veilig  om sout te haal. Dan word daar twee of drie karre en n klompie, ses of agt, perderuiters gestuur  Die sout was natuurlik nie bewerk en gesuiwer nie; dit moes maar alles ook haastig gaan  word opgeskraap en in sakke gegooi en daar trek die klein bende weer huiswaarts  Ag, ons is tog so bly om weer sout te kry, al is dit ook vuil en half vol grond, dan gooi ons dit in water en die vuil sak af en ons noem dit eersteklas. Lizzie se jongste broer was heliografis by Gideon Scheepers en op n dag verras hy en n groep Vredefortse verkenners die vlugtelinge daar in die dongas. Hulle bly n tien dae daar by hulle. En wat maak hulle so saam? Herstel en was van klere sou n  belangrike  deel  van  die  bedrywighede  uitmaak,  weet  n mens, maar s vertel Lizzie van hierdie tien dae: In my karkis had ek toe nog altyd die ou Globe-sangbundel, nooit daarson-der gery nie, en toe die Vredeforters daar is, stig ons n koor. Smiddae gaan elke groep die walle in en oefen sy deel en saans sing ons, sonder begeleiding, vierstemmig met diskant en die jong mans stel vir hulle debatspunte op en daar in die maanlig
op die stoep redeneer hulle tot laat saans.
Ongelooflik. Vasgedruk en fyngekam deur die doringdraad-heinings en soekpatrollies van die vyand, sing hulle die vyand se eie liedere vir hom vierstemmig en diskant, en terwyl die murasievure saans teen die horison gloei, debatteer hulle oor die wetspunte van n vrye gemenebes. Is dit n wonder dat die geskiedenis geloop het soos dit wel het?
Daardie Kersfees kan hulle nog veilig en onrustig saam deurbring, maar op 22 Februarie 1902 word hulle op n oggend deur die Engelse verras, en Lizzie beskryf dit s: N ons n bietjie meer as drie weke alleen was, kom ons klein bende ons weer besoek, naamlik Pa Preller, ou Dad, Ernst en Martiens van Biljon, Frank Brewis met hulle twee karre en hulle ryper-de, met die twee getroue swartes Aaron en Jonas nog steeds by.
Hulle koms was grootliks om vir ons weer n sak mielies met die skotskar te laat kom en ook om vir hulleself weer n bietjie sout en mieliekoffie te kry.
Nou ja, vroeg voordag het Pa Preller self te perd uitgery, ver uit op die bult om te spioen. Ag, ek sien Pa nog in my gees toe hy n twee uur terugkom en voor die huis die perd afsaal en kniehalter, n mooi appelblou perd. Ek was toevallig op die stoep, besig om ons oggendete, pap en vars melk, uit te skep.
Ek bied hom toe eers n koppie vars melk aan. Terwyl hy die melk sit en drink, kyk Martiens van Biljon op van sy werk, waar hy weer aan hulle kindertjies se skoene sit en werk, en Martiens s: Maar wie kom daar aan? (Die huis staan in n kom, met ho rante rondom, eenkant die Vaalrivier en aan die westekant op die wal van die rivier n ho krans waar n diep kloof is.)
Toe Martiens dit s, was t of n donderstorm op ons los-bars. Ons hoor net perdepote klap en hier is hulle geen vyftig tree van die voordeur af nie. Ag, die magteloosheid en verwar-ring het almal aangegryp. Arme Pa hardloop deur die huis by die agterdeur uit reguit na die kloof, met die doel om hom daar te versteek, maar ag, voor hy veertig tree gehardloop het, storm n paar soldate hom en roep hands up en toe Pa sy hande op-steek, trek een van die soldate los en die kruitrook brand Pa in sy linkerhand. Intussen het die ander soldate al van die perde afgespring en storm die huis in. Party is aan die roof  jy sien net hoe hulle vurke, messe en lepels in hulle putties langs hulle bene indruk, maar so vinnig as wat hulle insteek, trek Kitty dit uit, so staan elke vroumens naderhand weer met ons eetgereedskap in die hande. Ons mansmense word in die stoepkamer laat gaan, met wagte voor die deur.
In die deurmekaarspul slaag Lizzie nog daarin om haar pa se tas met sy dokumente van die perdekar af te smokkel en die papiere in n ou verematras te versteek sodat die Engelse nie agterkom dat Preller n offisier is nie.
Die soldate visenteer die huis, en Lizzie vertel: In die kamer waar Kitty en haar kinders slaap, was n plek in die grondvloer so los en sanderig en met haar vier kinders daarin het sy altyd
ges die kinders trap die vloer so los; dan smeer sy dit byna elke dag met grond en mis om t netjies te hou, want al die slaapgoed l maar op die vloer, geen katels nie. Die soldate begin met hulle bajonette rondsteek en nie lank daarna nie of hulle kom met hulle klein grafies wat aan hulle saals vasgeges-pe is en begin die grond weg te krap. Wat sal ons sien? n Groot lang kis  wakis  vol lakens en slope en handdoeke. En nog een, ja, albei toegewerk in sakke maar die tweede kis, julle sal nie raai nie, n doodkis. Daarin was die nodige swart materiaal in om die kis mee oor te trek, spykertjies, n lang wit linnenag-hemp, n paar jaarts wit linne en n pakkie spelde.
Natuurlik moes die kolonel besluit wat om met die linne, ensovoorts, te doen. Hy s toe ons kan van die goed koop. Ek onthou goed die kussingslope kon ons teen een-en-ses elk koop, die dubbelbedlakens teen vier sjielings en die handdoeke ook teen een-en-ses. Ons was toe ook maar baie bly oor die pryse en Pa Preller gee my toe twee pond en s: Kind, koop vir jou van die goed, jy sal t later baie nodig kry.
Ek het vir my van die lakens, slope en n hele paar hand-doeke gekoop en die ander geld gebre, wetende dat ek t ook seker sal nodig kry. Kitty het toe van die swart materiaal, nag-hemp en balans van die slope en lakens gekoop. Jy vra wat van die doodkis geword het? Wel, di en ook die kas het die troepe aan klein stukkies gekap, en agter op hulle saals vasgebind.
Toe die kolonne met hulle mans vertrek, het Kitty ges: Maar kom ons sing hulle in Engels toe: God be with you till we meet again!
Liewe kinders, dan is dit wanneer die Liewe Heer jou die krag en genade gee om uit volle bors so moedig te kan sing. Wat ook waar is dat ons s, en dit is dat die kolonel, Colleton, met alle eerbied sy manskappe laat stilhou het; algar eerbiedig hulle helmets afgehaal het en n ons klaar had, salueer hy en sy manskappe en daar trek hulle. Toe die laaste twee soldate by ons stadig verbygaan, s een: Thank you ladies, but such a pathetic scene Ive never experienced.
Die vroue bly verlate agter, maar so eindig Lizzie hierdie in-skrywing: Terwyl ons nog so droewig sit en peins en ons lot
betreur, gaan Kitty aan lag. Ag, s sy, julle het nie die grappige deel van die toneel vanoggend raakgesien nie. Terwyl die troe-pe so in die huis rondsnuffel en ons die messe en vurke uit hulle putties haal, is ek hard besig om n ander toneel dop te hou. Die arme ou Frankie Brewis het n swart broek wat hy as sy beste besitting beskou, en dit was agter op sy saal met n stukkie seiltjie vasgemaak. In die gewoel het hy gou die pakkie gaan kry en is hard besig in die voorhuis in n hoek en probeer om die broek bo-oor die ander een aan te trek om dit te probeer be-hou, en ag, hoe meer ou Frankie probeer om die broek aan te kry, hoe meer skop hy in die middel van die broek vas  van skone angs het hy bewerasie. Eindelik n n lang gesukkel het hy tog die swart broek aan, maar toe hy eindelik regop staan, toe staan daar n paar soldate rondom hom en skater uit van die lag.
Die mans is eers na Bothaville en daarna met molwaentjies na Kroonstad geneem. In die strate word hulle deur sogenaam-de vriende uitgejou, maar een ding wete ik, God slaap niet. Zoodanige stukken word ook in Zyn dagboek opgeteeken, daaraan troos Jannie Geldenhuys hom.
Het tronk welk wy in verkeer (te Kroonstad) waren aller ellendig. Wy waren 52 in een vertrek, er was luizen gelyk mie-ren in dat plaats. De tyd korting die wy daar had, was gedurig om luizen te zoeken het welk wy in groote getallen vonden.
Van Kroonstad af word hulle Bloemfontein toe gestuur, dan weer terug Kroonstad toe en dan na Durban, altyd in oop kool-trokke.
Op elk van hierdie oorstappunte word hulle die keuse ge-stel om parool te teken, in welke geval hulle na Groenpunt se kamp gestuur en daar vrygelaat sou word, mits hulle onder-neem om nie na die oorlogsfront terug te keer nie.
Jannie sien vir die eerste keer in sy lewe die see en n skip  Hulle teken nie parool nie en hulle word na Indi gestuur. Op see oorval n storm hulle en binne-in die ruim vasgedruk, sterf daar twee burgers. Hy beleef die afgryse van n seebegrafnis.
In Indi word hulle weer die keuse van n parool aangebied. Di wat dit teken, word na die koeler bergstreke by Bhimtal
gestuur, di wat weier, bly op die versengende vlakte van Um-balla, to sweat for your fatherland, s die wagte sarkasties.
Jannie, sy skoonvader en sy vriende bly saam met honderde ander op die vlakte as laaste loopgraaf teen die oorheerser agter. Tot sy diepste vernedering vind Jannie dat sy eie vader en sy broer Pieter hierdie uiterste beproewing nie kon deur-staan nie: Hulle teken vir die koel bergkamp by Bhimtal.
Jannie Geldenhuys het onderwyser geword op Umballa. Hy het van die oefeningboeke wat aan hom toeges is, geneem en met n stomp potloodjie begin skryf: Op 3de October 1899 in de avond kwam de commandeerman en commandeerd myzelf en myn vader A.M. Preller  Di deel van die oorlog wat binne sy beskeie gesigsveld geval het, het hy te boek gestel. Hy doen dit stiptelik en presies en sonder haat of sentimentaliteit. Hy kon op daardie oomblik nie weet watter plek dit in die geskie-denis van sy volk sou inneem nie, hy kon nie eens gis oor hoe dit sy eie lewe sou benvloed nie.
Een dag n die ander gaan verby, en wat kan daaroor berig word? Hy skryf oor die armoedigheid en agterlikheid van die inheemse bevolking, oor die Engelse wat die Sabbat ontheilig deur barakke te messel, oor die kos wat hulle moet voorberei, die siekbeddens, die enkele briewe wat hulle vanuit die vader-land bereik, die tekste en preke op bidure en kerkdienste, be-grafnisse, portrette wat afgeneem word, aandenkings wat ge-maak word en immer en altyd weer oor die versengende hitte, die sandstorms, die verlange na die dierbares tuis.
Hy skryf in die vereenvoudigde Nederlandse skryftaal van daardie tyd, n besonder skoon, versorgde styl en talle lank ver-gete uitdrukkings en maniere van stel, kom soos die reuk van die goeie aarde na die leser van vandag terug. n Mens beleef weer die besondere krag van die sterk vervoeging van die werkwoord in sinne soos: wy vroeg om water, wy ging van daar de ander dag se morgen.
Toe hy gevang is, het die Engelse offisier hom sy broek en skoene laat uittrek en s deur die hoofstraat van Bothaville laat marsjeer, het welk ik deed tot vlyd van de Africander! s hy.
Daar is mooi ou segswyses wat in die genadelose afskil na Afrikaans vergeet geraak het: half na negenuur vir halftien, n aanspraak vir n toespraak, bereid maak vir gereed maak, dit val my aan de beurt vir dit is my beurt, vortgaan.
As die skrywer oor dinge skryf wat binne sy ervaringsw-reld l, gebruik hy die k; as dit vir hom vreemd of deftig is, die c. Alles aangaande die spoorwe wat in daardie stadium n nuwe ontwikkeling vir die Afrikaner was, kry die c, soos compartement; aangaande die militre stelsel: comman-dant, escort, veldcornet. Hy praat van circus, cere-monies en courante, en dit is amusant dat hy met sy taai ge-stel ook van medicyne praat. Engelse woorde word tussen hakies geplaas, want hy voel hulle pas nie in sy taal nie.
Aanskoulik is die oefeningboeke waarin Jannie sy dagver-haal opteken. Daar is volbladgravures van Haar Majesteit ko-ningin Victoria, the Queen of England and Empress of India op die voorblaaie, kunstig met blom- en blaarpatrone omlys. Die feit dat die boeke ten spyte van die patriotiese opset tog in Oostenryk gedruk is, bewys dat die magtige Engelse handels-ryk selfs in daardie glorieryke tydperk sy beperkinge had.
Weke voor die sluiting van die vrede is die voorwaardes daarvoor in die krygsgevangenekampe bekend, en is hulle se-ker dat geen Boere-officier dit sal teken nie. Toe dit eindelik vrede is, besluit hulle in Umballa om dit nie te teken nie. Hulle bly halsstarrig wag, maar niemand vr hulle om dit te teken nie! Dae, weke gaan verby, en nog vra niemand hulle om te teken nie. Ontstoke en verbitterd moet hulle eindelik gaan soe-bat om dit te teken sodat hulle huis toe kan gaan. Boere wat geld het, gaan op eie koste terug, daarna di wat parool gete-ken het en daarna moet die res hulle beurt afwag. Die boere wat winkeltjies gehad het, verkoop dit uit, almal probeer be-sittings in geld omsit.
Jannie Geldenhuys se dagverhaal ondergaan n opflikkering: Hy skryf breedvoeriger, opgewekter, veral toe die brief hom bereik waarin hy verneem dat sy vrou in die Kroonstadse kon-sentrasiekamp geboorte gegee het aan hulle tweede kind, klein Oubasie.
Hulle kan nou vryelik in Umballa rondbeweeg en woon n Hindoestaniese begrafnis en n Oosterse sirkus by; hy maak vriende met die weduwee wat die hotel bestuur. Ik kryg een cab van de statie naar de kamp, het was nog donker, ik kwam voor de kamp hek en een van die wachten riep hard uit: Holt. Who is there? Een ogenblik wis ik niet te antwoord, maar het kom my te binnen en ik zei: Vriend, en hy zei: Pass friend, alls well.
Ongelooflik. Dit is reeds Oktober, en nog is hulle in Umbal-la. Tot vier keer toe het hulle met hulle bondeltjies tot by die kamphek gevorder en vier keer is die relings gekanselleer. Die rentyd breek aan, dit sous in die tropiese hitte, hulle word siek, sat, gevegte breek uit, die vrede word n bespotting, die vaderland n droomlandskap.
Daar is Jannie se skoonvader Abraham Preller, een van die stigters van Bothaville, vrederegter, kerkraadslid, dorpraads-lid. Op sy plaas is sy indrukwekkende woning afgebrand, hy besit nie n bees of n skaap of n wa of n kar nie. Sy jong vrou was van vroeg in die oorlog in die Kroonstadse konsentrasie-kamp. Hulle jongste dogtertjie is net soos Jannie se oudste daar dood. Nou is sy vrou lank reeds uit, daar is honderde jong mans wat van die slagveld af kom, sy skryf hoe hulle saam help om hawelose kinders te versorg, klere te prakseer.
Die klammigheid deurtrek elke vesel van sy liggaam, hy kry rumatiek, water op die knie, hy teer weg tot n skaduwee van die man wat hy was. Hy worstel in die gebed, hy hou bidure, hy peins 
Ernst van Biljon, Jannie se vriend, die groot sterk geboude man met die vos snor, moet weke lank in die hospitaal bly. Sy tand wat die Engelse dokter n vyf genadelose probeerslae nie getrek kon kry nie, versweer, en die kwaad versprei na sy oor. Snags l hy swetend van pyn in die lanternlig op sy ysterkatel-tjie. Hy is al van sy hele familie wat oorgebly het. Sy vrou en twee van sy kinders is in die Brandfortse kamp oorlede. Die brief wat die tyding vermeld, het sy enigste oorlewende seun-tjie, n kind van twaalf jaar, vir hom geskryf. Sy broer Martiens het in Umballakamp gesterf. Ernst moes hom van n Engelse
kanonwa af na n sandgraf dra. Martiens se vrou, die vrolike Kitty wat so argeloos van die lanfermateriaal uit die doodkis gekoop het, is n paar dae voor die vrede aan longontsteking dood toe sy beskuit vir haar kinders in die Klerksdorpse kon-sentrasiekamp wou bak. Haar vier kinders was iewers by men-se in Pretoria.
Jannie Geldenhuys skryf lang briewe aan sy dierbare Meidje en sy pasgebore seuntjie, maar hulle is duisende myle van hom af. Daar kom n hopeloosheid in sy dagverhaal. Hy gee nie meer noukeurig aan watter tekste gelees en psalms gesing word nie, hy raak nie meer welsprekend oor die Engelse se Sabbatontheiliging nie, hy raak nie meer sarkasties oor Afrika-ners wat hulle in die vreemde met drank misdraag nie. Hy dwaal deur die dorp se strate, hy loop, hy ry met perde, met treine, met olifante, hy verdwaal, hy gaan na Indiese basaars en krieketwedstryde, hy woon Engelse danspartye by, hy gaan Sondae by die hotel se weduwee eet. Hy ontvang geskenke van haar, sy taal raak deurspek met Engelse woorde en hy plaas hulle nie meer tussen hakies nie.
Ses maande n die vrede kom hy eindelik op Kroonstad aan om sy vrou en seuntjie by vriende op die dorp te gaan opeis. Hy het nie n skaap of n bees op sy naam nie, hy is vyf-en-twintig jaar oud, maar het dubbeld soveel jare geleef.
Saam met sy skoonpa begin hy n plaaswinkeltjie. Hy en sy vrou het nog drie kinders wat niks van die rampe en ellende weet nie en stadig maar seker boer hulle vooruit. Jannie Gel-denhuys word n gesiene boer, n steunpilaar van kerk en staat en verlaat nooit weer sy plaas nie. As kosbare besitting hou hy die dagboeke wat hy in Umballa geskryf het, n album met kie-kies en uitknipsels oor Indi wat nie in sy eie handskrif geno-teer is nie. Hier en daar is die onderskrifte gekleur met meer as blote feite. Miskien het hy dit as afskeidsgeskenk ontvang van iemand wat meer as n blote kennis was, want wie sal ooit weet hoe diep en wyd die oorlog in Jannie se gemoedslewe ge-slaan het.
