DIE EERSTE NAG IN DIE BOSVELD
Die kampvuur is n bietjie te na aan die wa na oom Fanie se sin, en hy wys toe n ander plek daarvoor aan.
Seuns, help gou die potte en goed en die hout hiernatoe bring. En hy skop n paar los klippe weg waar hy die vuur wil h. Die seuns is egter so druk aan die werk om al die gebeurde aan hul ma te vertel dat oom Fanie twee, drie keer moet praat.
Jongies, waarsku hy, hiers te min hout vir n lang nag en die wolwe sal hulle netnou laat hoor.
Haai, Pa! roep Japie uit, en hy spring so vinnig weg dat hy een van ou Lea se wateremmers onderstebo loop.
Maar, Japie! slaan ou Lea haar hande saam, dis mre-oggend se koffiewater daardie en nou die pad rivier toe hys baie lelik. J, J! En ou Lea is vandag alleen in die wreld.
Ag, ou hart, stuur Singida water toe, kom tant Lenie haar te hulp. En hoewel dit nog maar net sterk skemer is, neem Singida n stomp vuur in die een hand toe hy die emmer vat. Die drie swart seuns bemerk dit en praat nie n woord nie, maar loop al agter die broers aan en tel sommer klein stukkies hout op. Die twee mans sit ook hand by, en sommer een, twee, drie is daar n goeie klomp hout meer.
Pa, hoe skreeu n wolf? wil Japie weet toe hy so n slag ver-bykom met n drag hout.
Jy sal hulle netnou hoor, my seun. Met en kort na sononder begin hulle. Dit gaan amper soos die gebulk van n bees.
Pa, wat maak so? En al drie die seuns staan en luister.
Dit is die gerunnik van n sebrahings wat sy trop bymekaar roep op pad water toe. Aan sy gerunnik gaan dit asof een van sy merries makeer. Hier is blykbaar meer jagters as ons.
Ons het dan nie gehoor skiet nie, Pa, s Piet, en hy kyk sy pa vraend aan.
Ja, die ou baasjagter skiet nie  hy vang. Kom ons stap maar staanplek toe; julle sal hom later in die aand hoor.
Die seuns kyk net na mekaar.
Oom Fanie stap weg om te kyk of die oskraal goed is. Waar kwaggas in die nabyheid is, kan jy maar altyd leeus te wagte wees, en hy wil nie die eerste nag al moeite h nie. Hy is egter heeltemal tevrede met oom Gert se werk en hy beskou die osse so n rukkie. Hulle staan rustig en herkou in die kraal en party l al. Onderwyl hy so na die rustig herkouende osse staan en kyk, herleef daar voor sy geestesoog n toneel van jare gelede, nog voor sy troue.
Dit was n donker, renerige aand aan die Limpoporivier. Die vure wou nie bra brand nie, en hy het die osse  twee rieme om elkeen se kop  aan die wa en die jukke vasgebind. En dit was sonderling stil daardie vooraand, so asof al die diere gerittel en ge-beef het van die koue en daarby die een of ander onheil gevrees het. Net die ren teen die watent was hoorbaar en af en toe snuit n Zoeloe sy neus uit. En toe skielik, aan twee kante van die osse dat die aarde so dreun, die geweldige gebrul van twee of meer hongerige leeus. n Paar van die osse het gebrulbulk, en toe hoor jy net kettings en jukke teen die horings en die wa kraak asof n reus hom beet het.
Pa, waar is Pa? skreeu Fanie van die kamp se kant af. Ma s Pa moet kom koffie drink.
Br-r-r  Dankie, Vader, dit ren nie vannag nie en die vure is goed, s oom Fanie hardop in sy eentjie en hy stap terug om te gaan koffie drink. Hy voel publiek nog die koue rillings van daar-die aand agter sy rug af.
A nee a, my ou man, hoe moet ons dan altyd na jou soek as dit koffietyd is? raas tant Lenie kamma met hom.
Altyd? En hy sit sy arm om haar lyf en soen haar daar voor oom Gert.
Ag, Pa, moenie  En sy stort omtrent die helfte van die koffie uit, so spartel sy om weg te kom, skaam dat oom Faan haar so in die openbaar soen. Die seuns lag lekker, want dis so in hul
kraal as hul pa die aand fratse uithaal. As hy in so n bui is, vertel hy pragtige stories.
Haai, Pa, wat maak so? Dit gaan dan kompleet soos n klein kindjie wat huil, s Jaap en hy s so saggies aan sy hond: Kits, kom hier! Dit kan dalk n spookwyfie wees.
Dis maar n ou nagapie, my seun. Die Engelse noem hom n bush-baby.
Sal n mens hulle ooit te skiet kry, Pa? wil Piet weet. Nee, hulle is net snags buite. Oordag boer hulle in hol boom-
stamme of in die ruigste boomtoppe. Dis onskuldige klein ou goedjies; hulle leef van gom, bessies en voleiertjies en hul ou handjies is op die warmste somerdag so koud as twee stukkies ys.
Ag sies tog! Ek wens ek 
Daars hy! Ek het julle mos ges. En oom Fanie wys so met sy vinger in die rigting van waar die eerste ou dikkopwolf sy lang-gerekte gebulk laat hoor.
Kuyini-ke lokho? vra die Zoeloeseuns verskrik aan mekaar en hulle bondel nader na die wit mense se vuur. (Hul vuurtjie is so n twaalf tree opsy.) Toe die seuns die swart seuns se angs bemerk, is hulle dadelik grootman, maar hulle sorg tog daarvoor dat hulle tussen hul pa en die vuur staan!
Ja, jong, spreek Fanie hulle toe, julle het mos party van die bok se vleis daar in die bos laat staan, en di wat julle gedra het, het langs die pad bloed laat val; dis n spoor vir daardie silwane  gogga. Vannag kom sleep hy julle aan jul voete weg.
Haai, jy moenie sulke lelike taal praat nie, raas Lea benoud, en sy staan ook nader.
Piet tel stilletjies n stukkie hout op en gooi dit tussen Jantjie se bene in. Waar was jy! Hy gee net een spring, val plat en pluk sy kombers oor sy kop. Die klomp skater dit uit van die lag en almal praat deurmekaar.
Ubakithi! Vannag ek gaan by die boom slaap, s Doppies met n bewerige, rietskraal stemmetjie, en hy kyk rond na n ge-skikte ho boom.
Ja, jy sal brastag bars by hierdie breld, terg Singida hom, en hy gaan saam met Fanie-hulle aan die lag.
Doppies, begin oom Gert, as jy daar bo in die boom slaap, sien die silwane jou van ver, en dan is dit klaarpraat met jou!
Jy sal maar by ou Lea moet slaap, raai Japie hom spottend aan, en toe skater selfs Jantjie dit daar onder die kombers uit van die lag.
Hau, nee wag, baba Gert hy moenie so praat nie! Vannag die kleingoed sal my pla, protesteer Singida nou.
En so al tergende en spottende gaan die eerste uur van die aand aangenaam verby. Die oumense sit op kampstoeltjies daar by die vuur, en die seuns rol elkeen vir hom n stomp hout nader. Die werkers sit plat op die grond aan die rookkant van die vuur.
Vanuit vier, vyf rigtings bulk die wolwe, en die nagapies huil herhaalde male. Laasgenoemde se geluid verwek n sonderlinge roering in Lea se hart. Sy kan dit self nie peil nie 
Pa, wanneer hoor ons dan die ou leeu? vra Fanie eindelik. Die ou grootkop wil ons eers kans gee om klaar te eet. Hys
nooit haastig nie, gee oom Gert antwoord.
Toe tant Lenie van eet hoor, skrik sy half: My vaderland! En sy kyk na Lea. Dis seker lankal agtuur en die vleis is nog nie op die kole nie.
Tant Lenie en Lea is die volgende uur dan ook druk aan die gang. Die Zoeloes moet eers gou hul vleis en meel kry  saans kook hulle self  en daarna begin tant Lenie met die groot aandete. Die seuns het elkeen n stok en skroei hul honde se vleis so n bietjie oor die kole. Oom Fanie en oom Gert sit maar rustig en rook. Een maal word oom Gert amper digterlik: Gee my n pyp, gee my n kampvuur, gee my my gedagtes en 
En n mooi weduweetjie, las tant Lenie van dikant af by, en oom Fanie en die seuns lag lekker.
Haikna, watwou! probeer oom Gert hom verdedig, maar oom Fanie hou aan s: Kopskoot, neef Gert! En hy klop sy pyp teen sy hak uit.
Toe oom Fanie die lekker reuk van braaivleis in sy neus kry, word hy eetlustig en begin met die hande in die broeksakke heen en weer stap langs die vuur. Dit is n tipiese gewoonte van hom wanneer hy n bietjie haastig of opgewonde raak om so te stap.
Die afstand tussen die twee draaiplekke is dikwels nie meer as tien, twaalf voet nie.
Ou hart, begin hy, toe hy omtrent die elfde draai maak, ou hart, saans moet jy ons nie by die tafeltjie laat eet nie; dit is te be-skaafd. Skep elkeen se kos in sy bord, dan sit ons so om die vuur en eet met die bord op die skoot. Solank ons eet, kan ou Lea koffie skink, dan rus jy tog ook.
Ja, Ma, dis lekker, skreeu die drie seuns, vat hande en wals so n paar keer om hul ma.
Goed, dis vir my baie makliker  Haai, julle sal brand! raas sy met die seuns, maar in haar hart jubel dit. Sy is op haar geluk-kigste as haar seuns met haar speel. En  dit is mos lewe hierdie!
Nou toe, Fanie, sny jy gou vir my brood. Pieter, Jaap, kry julle vir elkeen n stuk papier om op sy skoot te sit, anders is jul broeke die ene vetkolle, beveel sy hulle na n paar oomblikke.
Ja, Ma! En die drie hardloop resies tent toe.
Oom Fanie en oom Gert sit al klaar reg, hul bene teen mekaar vir die bord om op te kom, en langs hulle het elkeen so n hand-breed kolletjie skoon en gelyk gemaak waar die koppie koffie moet staan.
Effens opsy by die Zoeloes se vuur hoor jy net n ssss soos die vleis op die rooi kole braai, en n binnensmondse gebrom-praat. So na aan oom Fanie-hulle mag hulle nie lawaai nie.
Ma, hoeveel snye vir elkeen? vra Fanie van dikant af. Sny maar twee vir elkeen om mee te begin; daar is nog pap
ook om saam met die vleis te eet.
Ou Lea, jy moet darem sorg daarvoor dat daar genoeg oorbly vir die honde ook, beveel Japie in die verbyloop toe hy bemerk hoedat sy lepel na lepel wasemende pap in die ry borde skep.
Toe maar, Japie, kom sy ma tussenbei, hou jy Pa en oom Gert se borde hier dat ek die vleis kan insit.
In oom Fanie se bord word n lekker vet, bruingebraaide stuk gesit. In elkeen se bord kom daar nog n stuk botter op die pap, n stuk vars gesmeerde brood langsaan en toe Japie met die borde kos aankom, gee oom Fanie so n klein hoesie en skuif-skuif so op sy sitplek. Die feesmaal begin. Met die wegvalslag is die klompie betreklik stil.
Dis waar dat as n boer lekker eet, hy tjoepstil is, laat oom Gert hom hoor.
Ja, neef Gert, gee oom Fanie antwoord en hy vee sy mond met die agterkant van sy hand af, ek wil vanaand nie met die ko-ning ruil nie. Hy het nog nooit in sy lewe n stuk braaivleis so vol assies en n bord mieliepap voor hom gehad nie. Wat weet die ou grotes nou eintlik van lekker eet af?
Neef Fanie, en wat is nou die planne vir mre? vra oom Gert, terwyl hy sy bord langs hom neersit en die koppie koffie opneem. Nig Lenie, ek het jare laas so lekker geet, laat hy daarop volg.
Ja, gee oom Fanie antwoord, die kos was lekker. En hy suig sy koffie so in om sy vrou te terg. En nou moet ons die plan-ne agtermekaar sit vir more.
Lea, vat die borde en koppies hier weg, beveel tant Lenie, en sy bly self sit. Dit is vir haar altyd baie interessant om na die mans se jagplanne te sit en luister. Die seuns skuif ook nader.
Ons sal die honde netnou kos gee, fluister hulle aan mekaar. Die honde l reeds so hard bene en kou dat n mens hulle waar kan hoor. Oom Gert is eerste aan die woord.
Aangesien hier nog so baie te doen is in die kamp  skoon-maak, hout aansleep, die biltongstellasie regmaak  stel ek voor dat ons mre die Zoeloes hier agterlaat om die werkies te doen. My ou wadrywer weet al hoe alles gedoen moet word. Sien jy, neef Fanie, my oortuiging is dat n mens die eerste dag in die Bos-veld moet gebruik om die wild af te loer en die ligging van die skietveld te betrag. Buffels het byvoorbeeld hul geaardheidwreld waar hulle graag boer, waterbokke hulle sn, koedoes hulle sn, ens. Dit sal raadsaam wees vir die seuns om eers die wreld hier om die kamp goed te beskou voordat hulle op eie houtjie uitgaan. Ons gaan op een van hierdie ho koppe sit en beskou sake n bietjie met die verkykers. Indien hier egter al mreoggend voor-dat ons loop n paar van hierdie wreld se Zoeloes is wat hulle kom verhuur, verval my voorstel. Die swartes ken die streek so goed dat dit dan onnodig vir ons sal wees om nog te spioen.
Maar hoe sal die swartes weet ons is hier? vra Japie.
O, hulle het ons hoor skiet en hulle weet al wat dit beteken.
Nou, neef Gert, begin oom Fanie, ek dink jou planne is eer-steklas, en ons maak dan maar so.
Nou ja, dis dan afgespreek, s oom Gert, en hulle begin so oor allerhande dinge te gesels. Fanie stel minder en minder belang in die geselsery en gee meer aandag aan al die naggeluide. n Wolf laat sy bulkgeluid hoor, naastenby waar hulle die middag die waterbok afgeslag het, en dof in die verte gee n ander ou ant-woord. In sy verbeelding sien Fanie wat daar omtrent plaasvind by die slagplek: Al op die dro bloedspoor van die waterbok kom n jakkalsie ruik-ruik aangedraf. Elke keer steek hy vas, neusie teen die wind, oortjies gespits, met kloppende hartjie. n Rukkie staan hy en luister, gewaar niks, ruik-ruik weer voor hom aan n paar opgeskilferde bloeddruppels en draf voort. Sy lyfie is effens windskeef, en so met die draf vee die wolhaarstertjie so rakelings oor die kortgevrete grassies.
Effens na vore sit twee streepmuise aan n sappige katbosloot en peusel. Hulle hoor dro blaartjies kraak, kyk rond en  o, Griet! Albei duik gelyk na die gat. Die voorste een duik mis en slaan bolmakiesie dwarsoor die gat. Daar kom n bre glimlag op Fanie se gesig. En die ou jakkalsie draf voort, verder en verder, en hy kom naby die slagplek en hy kry die reuk van honde. Au, sy nekhaartjies staan sommer soos jong ystervarkpennetjies. Hy ruik rond, luister, kyk n slag om, kyk weer na alkante toe. Hoe het hy dit dan hier? Hy sien niks nie, hoor niks nie, en tog kriewel die reuk van vyande hier in sy neusvliesies. Wag n bietjie! Hy gaan sit. Gooi sy koppie half agteroor en stuur sy klaagtoon die stil aandlug in om sy wyfietjie te roep.
Fanie voel-voel of Oortjies nog hier langs hom l en hoor asof dit n gedreun van bye is, die geselsery hier langs hom. Ja, en die outjie sit n rukkie en luister of sy wyfietjie nie antwoord gee nie. Haai, wat hoor hy daar? Dis sy ou vraat van n vyand, oom Wolf. Ons maatjie spring daar weg asof n doring hom in die boudjie ge-steek het, al met die spoor, reg op die slagplek af. A, hier l die eetgoed mos  lekker binnegoed. Hy draf so n slaggie om die slagplek. Nee, dis maar net dieselfde reuk  honde en mense. Hier was nog nie ander vyande nie. Maar hy moet gou maak, Wolf is
netnou hier; en die outjie gryp n stuk derm en kou dat die groen soppies so weerskante by sy bek afdrup. Au, dis darem lekker! Wolf kan nog nooit al hierdie goed kom afneem nie, en Jakkalsie pak n groot derm beet met die doel om dit die bos in te sleep. Hy trek en trek, maar dit sit vas aan die pens. Hy vervat weer, plant sy voorpootjies vas, gooi sy gewig agtertoe en trek, trek, en daar breek die derm.
Ons maatjie steier-steier so agtertoe en  o, aarde! Jy hoor net tande klap, blare en stokkies waai, en die twee wolwe loop Jak-kalsie onderstebo. Fanie lig so half op van sy stomp af: Vuilgoed se vrate! ontval dit hom.
Oom Fanie kyk skielik op, en toe skater hulle dit uit van die lag: Ag nee a, droom jy dan sommer so met oop o by die vuur? spot hulle hom. En om die ding erger te maak, stry hy en begin te vertel wat hy gesien het. Toe lag hulle eers lekker.
Nee, my seun, jy het maar n bietjie ingesluimer, s oom Gert met n goedige glimlag.
Nou ja, kyk, begin oom Fanie, en hy gee n lang gaap, ek skat ons moet nou maar inkruip. Daar l vir ons n woelige dag voor.
Die seuns spring op om vir hul honde kossies bymekaar te kry, en oom Faan en oom Gert stap so n laaste draai by die kraal om, waar die werkers reeds n groot vuur aan die gang het.
Kyk hierso, julle moet nie vannag met die kop onder die kom-bers slaap nie. Die leeu sal julle die eerste vang en dan die osse. Hou maar die vuur aan die gang, en as julle die silwane hoor, moet julle praat met die osse, en gooi baie hout op die vuur.
Auk! Nee, maar dis goed, baba Fanie! gee n paar van die oueres antwoord, en die jongetjies haal skaars asem en beny hul maatjie, Samboko, daar in die veiligheid.
Nou ja, neef Gert, begin oom Fanie, en hy stap aan tent toe, hou maar jou geweer byderhand ingeval die ou grootkop hom laat hoor, en as jy mre eerste wakker skrik, druk dan maar n bietjie op die seuns se nommer.
Goed, neef Fanie! Slaap lekker. Ook so, neef Gert.
Die drie seuns gee hul honde kos en staan toe nog so n rukkie daar by die vuur. Jaap en Piet rol twee ekstra groot hardekool-stompe skuins oor die vuur sodat hulle nie so gou kan uitbrand nie. En toe gaan maak die drie bed vir hul honde onder die wa se agterstel. Ou Lea begin haar kombersies en sakke onder die voor-stel oopgooi om tog maar so na as moontlik aan die drie honde te wees. Later in die nag skuif sy nader en l heeltemal teen Kits lepel. Die seuns is toe in die watentjie en soek hangplek vir hul baadjies.
Vannag slaap ons in ons hemp en broek, is die ooreenkoms. Ek deps om in die middel te slaap, s Jaap, en hy kniel-kniel
oor die bed om die tentklappe agter toe te knoop.
Nee, jong, s Fanie, en hy pak hom agter aan die voet, laat staan die klappe. Ek slaap hier agter en ek wil l en uitkyk.
Daar word toe ooreengekom dat Japie in die middel slaap, Piet voor en Fanie agter by die briek se kant. Fanie is al amper te lank om reguit dwars in die wa te l, en daarom l die drie maar effens lepel. Nadat hulle haastig hul gebedjies opges het, blaas hulle die kers dood, en elkeen werskaf om hom goed toe te kry. Hulle l nog so n rukkie en gesels, en toe is Piet weg voor. Japie wurm nog so n rukkie rond in die bed, beskuldig Faan daarvan dat hy die wind laat inkom by sy voete, en is ook eindelik weg in droom-land.
Toe Fanie aan die relmatige asemhaal van sy twee broertjies gewaar dat hulle vas aan die slaap is, draai hy hom op sy sy en kyk eers bo na die skitterende sterretjies en toe die donker bome in. Nou kan hy tog weer, soos sy pa s, met oop o droom. Die feit dat die leeus hulle tot nog toe nie laat hoor het nie, laat die seuns heeltemal gerus voel. Hulle raak ook sommer klaar tot die gevolg-trekking: Ag wat, dit is glad nie so gevaarlik hier in die Bosveld as wat hulle dit maak nie.
En so, met geen gedagte aan leeus nie, l Fanie daar op die houtkatel in die watentjie en uitstaar. Onder die wa hoor hy die honde; die een krap hom en steun-steun van genot; die ander een l en lek. Dit gee hom nog meer n gevoel van veiligheid. Hy skrik effens toe n nagapie sommer hier naby hom in een van die ou
groot donker maroelabome begin te huil. Die honde is ook n paar oomblikke stil en luister seker. Ver met die rivier af laat n wolf sy droewige gebulk hoor, en dit voer Fanie se gedagtes dadelik weer terug na die slagplek waar die twee wolwe die ou jakkalsie onder-stebo geloop het.
Ja, en een van die vraatsige wolwe gee die jakkalsie n seer hap in sy linkerboudjie, maar die outjie kom darem met sy lewe daar-van af. Met die brandende pyn in sy boudjie hardloop hy dat sy wolhaarstertjie so hier en daar teen n boom of tak slaan. Hy hard-loop goed n halfmyl ver, meer uit skrik as iets anders, en kom eindelik stokflou tot bedaring. Hy gaan half lsit op sy regtersy en begin die wond te lek. Au, watter snaakse smaak het sy eie bloed dan in sy mond! Dit trek sy keel half toe, en sy longetjies voel dan reeds asof hulle wil bars. Gelukkig het Wolf nie n sening of been-tjie geraak nie, en die outjie sal dus nie kruppel hoef te loop nie. Sy lyfie dwing net om half bogerig te trek, asof die boudjie van-self mond se kant toe wil kom om gelek te word.
Die outjie loop die eerste rukkie dan ook al linksom, linksom in n halfmaan. Haai, wat sien hy daar? Hy trek hom sommer so plat op die grond. Vyftien, twintig tree skuins voor hom is n nag-apie besig om langs die swart skurwe stam van n mimosaboom af te klim. Dwarsweg, half soos n krap, seil hy grond toe. So elke keer sit die outjie stil, luister, krap-krap so met sy klein ou vingertjie agter n los bassie hier en daar en dan seil hy weer verder af. Hy is omtrent vier voet van die grond, en Jakkalsie begin sy lippies af te lek, want hy weet klaar wat Apie se plan is: ses, sewe tree van die mimosaboom staan daar n klompie noem-noem-bessieboompies. Hulle is skaars twee voet hoog; Jakkalsie het self al daar bessies geet. Apie is op pad daarheen, maar hy is bra skrikkerig, want op die kaal grond is hy baie lomp, en n loerende vyand kan hom sommer maklik opskraap. Jakkalsie se hele lyfie bewe  n mens sou s hy kry koud, maar moenie glo nie. Sy ogies vlam sommer so, en sy seninkies trek saam soos n oorgehaalde stukkie staaldraad.
n Paar oomblikke is Fanie skielik onseker wie hy die jammer-ste het: die gewonde, honger jakkalsie of die apie met sy yskoue
handjies. Maar wag, dis nie nodig om kant te kies nie. Apie het skielik van plan verander en klouter die stam op asof n dosyn rooimiere hom van agter beet het. Jakkalsie kners sommer so op sy tande van boosheid en hy voel ook sommer dadelik weer pyn in sy boudjie. Hy knip langsaam die ogies, so half verle. Wag, hy sal maar liewer nie dadelik lek nie; dalk kry Apie weer n plan na die noem-noembessies toe. En Jakkalsie wag, en hy wag, en  hy  wag  en 
n Vae mistigheid val oor Fanie heen, hang swaar aan sy oog-lede  swaarder  Dit word dof. Die laaste ou sterretjie knipoog-knipoog en begin te swem, swem  vr die see in.
Alles is stil in die kamp.
