DIE SWEEP KLAP  BOSVELD TOE
Toe die waens omtrent n halfmyl ver is, gaan sit tant Lenie voor by haar ou man op die wakis. Die doel is eintlik om by hom aan te dring dat hy die seuns moet roep.
Aag ou hart, tree hy vir die seuns in die bres, laat hulle maar begaan. So gou as wat hulle moeg en honger is, sal hulle rustig op die wa kom sit. Seuns is nou maar so vol lewe, en n mens moet hulle nie te kort vat nie. Ek was maar net so.
Die drie seuns is los voor die voorste wa in die veld met die honde. Soos generaal Japie dit uitgedruk het: Krels, ons moet goed van sening en wind wees teen die tyd dat ons in die Bosveld kom. Ons moet so jag-jag naderkom. Elke aand moet die swartes n paar hase h om te braai.
Die drie is dan links en dan regs van die pad. Die honde soek en is elke keer agter n meerkat of n haas aan. Hulle is nog nie twee uur op die pad nie of Japie en Piet begin terugdink aan die lekker vleis en pap met sous daaroor wat hulle n rukkie gelede aan die honde gegee het.
Japie,  begin  Piet  effens  kortasem,  want  hulle  gaan  op  n moorddadige pas, weet jy miskien of Ma droperskes op die wa het? Jy weet, as n mens n klompie droperskes geet het en jy drink jou maag verder vol water, dan hou jy lekker n hele dag. Ons moet by die uitspanplek vir ou Lea vra, antwoord Jaap,
en hy haal maar so al wat hy werd is vorentoe.
Oom Fanie ken sy seuns al n bietjie en hy weet hulle sal nie sommer wa toe kom en sodoende beken dat hulle pootuit is nie. Hy besluit toe so in sy eentjie om ten minste n uur vroer as wat hy eers van plan was, te laat uitspan. Vyf myl vorentoe is daar n taamlike diep spruit met goeie water en weiding; dit sal hy dan
maar die eerste uitspanplek maak. Omtrent drie myl van die plek af stuur hy n swart seun agter sy seuns aan om hulle te s hulle moet maar solank houtjies optel.
Kom ons stap n bietjie vinniger, sodat ons nog daar kan gaan swem, stel Fanie voor, en hy moor sy twee jonger broertjies vreeslik. As hy nie so iets voorgestel het nie, sou Piet of Japie mis-kien nog daarop aangedring het dat hulle effens stadiger moes stap. Maar nou  moeg word, nooit! Wat sal Fanie hom dan ver-beel. En hulle l sommer so vooroor soos hulle stap. Die honde se tonge hang ook al ver uit; veral ou Kits, wat gewoonlik die meeste kos kry, draf al entjies agter sy baas aan in plaas van te soek soos Piet en Faan se honde.
Toe Piet en Jaap Faan al in hul hart begin te verwens, gaan laasgenoemde skielik op n miershoop sit en begin skoene uittrek: Wag n bietjie, outjies, hiers n paar steekgrasse in my skoen en hulle steek my al die laaste myl.
Ek hoop nie in die Bosveld is ook so baie steekgras nie, s Japie, en hy en Piet gaan sit ook om kamma steekgras uit hul kouse te haal  drie regte ou skelms.
Tien minute daarna stap die drie weer voort, skielik nie meer so haastig nie. Hulle haal die spruit egter nog n goeie halfuur voor die waens. Die heerlike koel water is verfrissend, en toe die waens afkom spruit toe, het hulle al klaar geswem en is reeds besig om houtjies uit die ou opdrifsels van die spruit te versamel.
Fanie het intussen n gelyk plek op die oorkantse wal uitge-soek waar die waens kan staan, en daarheen beduie hy hulle. Al twee waens kom veilig deur die spruit, en in n ommesientjie is dit uitgespan, en op twee plekke krul daar wit rokies die lug in.
Laat die osse eers goed suip en jaag hulle dan n entjie langs die spruit op, waar die gras korter en groener is, beveel oom Fanie vir Doppies en Gedja. Jantjie, kom help jy vir Lea om vuur te maak en water te dra. Singida, smeer gou die wa se regtervoor-wiel; julle het nou die dag halwe werk gedoen.
Piet hou daarvan om sy ma te help, en in die veld bring dit voordele mee wat hy by die huis nie besef het nie. Hy kry kans om te peusel aan stukkies drowors en beskuit lank voordat Jaap en Faan iets kry, want hulle moet maar wag totdat dit klaar vir ete is.
Ou hart, hoe lyk dit dan met die koffietjies, pleit oom Fanie, en oom Gert klop sy pyp teen sy hak uit  sy manier van te s dat koffie darem nou lekker sal smaak. Die klompie staan ook som-mer nader  iets wat tant Lenie altyd baie kriewelrig laat voel. Sy s altyd aan haar seuntjies: Julle moet tog nooit eendag jul vrou-tjies so aanjaag nie.
Die mans pak goed weg, veral Fanie en Jaap. So in die stilte wonder die tweetjies waarom Piet dan so stadig en min eet, maar laasgenoemde bewaar sy geheim.
Kyk, spreek oom Fanie die seuns toe, stap julle so stadig osse se kant toe en laat hulle so wei-wei naderkom. Ons span net n uur uit voormiddags, sodat ons altyd n uur of wat voor son-onder by ons slaapplek kan kom.
Die seuns bring die osse vinniger nader as wat hy bedoel het, maar hy laat hulle maar begaan, omdat die osse nog uitgerus is. Skaars twintig minute daarna is dit al weer klaar ingespan en al die goedjies op die waens. Die seuns staan weer eenkant toe om te begin stap, maar oom Fanie het klaar n plan: Seuns, ek wil h julle moet hier by Ma en my op die wa kom sit. Julle weet dis tien dae ry Bosveld toe, en hoe sal jul skoene lyk as julle daar kom? En die honde se pote sal deur wees as julle nou al so baie stap. As julle nou op die wa sit, draf die honde onder die wa in die koelte en hulle is sommer nog perdfris as ons in die Bosveld kom.
Ja, Pa, s al drie tegelyk, en elkeen is maar te bly oor die be-vel. Hulle het die pas die oggend te vinnig ingesit, en so n rukkie na die swem het hul bene maar danig moeg gevoel  solank as Pa en oom Gert maar nie weet wat is wat nie!
Elkeen soek vir hom n lekker plekkie uit voor, waar die wa se relings nie so toegepak is nie. Hul bene moet juis so oor die re-lings afhang, dan is dit lekker. Tant Lenie is nou ook in haar skik en die klompie ry plesierig. Elke keer is daar iets wat die aandag trek  n meerkat, n sekretarisvol of korhaan, n aasvol bo in die lug.
Ek het hom die eerste gesien, stry hulle dan eers, en gaan dan maar aan die gesels of luister na hul pa se stories. Tant Lenie begin later n bietjie lomerig te voel en gaan l agter in die wa se tentjie. Die drie seuns gee ook af en toe n lang gaap, maar hulle sal dit
nooit waag om te slaap nie. Pa het nou die dag nog ges dat n seun nie oordag moet l en slaap nie.
Oom Fanie laat Singida maar elke keer sweep inl, en op sko-tige afdraande draf die osse met die wa, en as die wa so dril oor die gruispad, sing Faan luidkeels:
Oom Paul het n vark gery Afgeval en seergekry, Opgeklim en weer gery  Oom Paul het n vark gery.
Daar is nog n hele twee uur son toe hulle by die slaapplek kom. Die seuns draf n entjie vooruit om eers n gelyk plek vir die wa te soek. Water en hout is volop.
Ha-nou! Uitspan, krels, beveel oom Fanie, en hy spring af. Fanie, my seun, kyk jy dat die osse eers suip en dan goeie wei-ding kry.
Hy stap om die wa om tant Lenie uit te help. Toe sy grondvat, stuur sy Piet en Jantjie en Jaap om vuurmaakhout bymekaar te maak. Sommer genoeg vir die kampvuur ook, roep sy agterna toe hulle wegspring. N, Pa? wil sy van oom Fanie weet.
Ja, antwoord hy, al halfpad na die ander wa toe, en hy draai weer om. Singida, haal af die stroppe, draai die sweep op en sit alles in die wakis. Hang die rieme oor die disselboom, vat dan die sekel en sny baie gras vir die seuns om op te slaap. Maak gou daar met die koffiewater, ou Lea  Oom Fanie ken die kuns om al-mal gou aan die werk te sit. Hy self hou hom ook nie ledig nie. Met die hulp van oom Gert slaan hy n ysterpaal by die vooros se juk in en maak die juk daaraan vas. Die osse word vir die nag aan die ketting vasgebind.
Teen die tyd dat die sonnetjie dikant aan die weste wegsak, is die kos al klaar, en die klompie kom sit aan rondom n lekker groot vuur. Vir die werkers word daar by die ander wa gekook.
Die drie seuns mag nie veel s solank daar geet word nie, en tant Lenie voel maar n bietjie moeg; dus word daar nie veel ge-praat nie. Oom Fanie s af en toe iets, dan s oom Gert net Ja of Ja-nee, en dan s hy weer iets en oom Fanie maak n opmerkin-kie.
Oom Gert is egter n vreeslike ou terggees en het daarby nog die slegte gewoonte om die seuns bang te maak so teen die aand se kant. Hy is juis net weer besig met n grieselige verhaal toe daar n nare, langgerekte geluid bo langs die spruit gehoor word.
Pa, wat is dit? vra Fanie met n benoude stem.
Dis twee spookwyfies, fluister oom Gert haastig in Piet se oor. Maar oom Fanie red dadelik die situasie: Dit is sommer ou jakkalsies wat honger het, my seuntjies. En voordat oom Gert nog weer iets kan s, skreeu oom Fanie vir die Zoeloes: Singida! Komaan, die osse het nou lank genoeg gevreet. Keer hulle aan en kom bind hulle vas vir die nag.
Die volgende halfuur is dit n gedoente en n gewerskaf daar om die wa. Die seuns help ook fluks en gaan daar bo by die swar-tes se vuur sit. Hulle wil nie weer na oom Gert se nare stories luis-ter nie. Die swartes vertel sprokies, en dit is so in Jaap en Piet se kraal. En dan nog, swartes het die gewoonte om tot laat in die nag nog by die vuur te sit, en die seuns het juis nie lus om vroeg te gaan slaap nie. Hulle moet dan buite onder die wa slaap  en daar-die jakkalse  oom Gert s dis spookwyfies met harige wange.
Nadat die seuns weg is na die werkers se vuur toe, lees tant Lenie en oom Faan oom Gert lelik die Leviete voor: Dit is nie billik om seuns buite in die veld saans bang te maak nie, hou tant Lenie maar vol, hoe oom Gert nou ook al skerm met: Dit sal van hulle manne maak, nig Lenie.
Manne  maak!  Watwou!  gee  oom  Fanie  naderhand  vererg antwoord. Wil jy n seun n man maak deur nare goed in sy ge-dagtes te bring net voordat hy gaan slaap? Wag maar totdat ons in die Bosveld is, dan sal jy sien hoe maak ek van my seuns manne. Toe tant Lenie merk haar ou man word warm, bied sy gou kof-fie aan, en die twee mans begin toe ook sommer oor ander dinge
gesels.
n Rukkie later roep oom Faan die seuns om te kom slaap. Jaap en Piet het elkeen n sak in die hande gekry en dit langs hul slaap-plek onder die wa oopgegooi vir die honde.
Ons honde moet darem ook iets h om op te slaap, s Japie kamma. En al die tyd is dit maar net n plan om die honde naby te h ingeval oom Gert se spookwyfies dalk opdaag.
Na so n woelige dag slaap die outjies vas. Oom Fanie hoor Piet net een keer osse dryf: Loop, julle groen paddas! En toe is dit weer stil.
Volgens oom Gert het die jakkalse die hele nag deur te kere ge-gaan, maar die seuns weet daar niks van nie. Teen dagbreek die volgende oggend moet hul pa hulle maar wakker maak, en nog voor sonop is die waens al weer op pad.
Die eerste vyf dae is die reis maar bra eentonig, en die seuns begin aanhoudend vra: Maar, Pa, wanneer kry ons dan die eerste wild?
En sy troos is dan gewoonlik: Die agtste dag van die huis af is ons tussen die grootwild. Dan ry ons nog twee dae voort en in n draai van die Swart-Mfolozi slaan ons kamp.
Fanie sien die eerste grootwild  n klompie blouwildebeeste. Dit is in die namiddag van die negende dag.
Pa, watse goed is daardie? vra Fanie opgewonde onderwyl hy na n klompie swart goed tussen die yl bome omtrent vierhon-derd tree van die pad af wys.
Waar  waar? En al vier sit vooroor en kyk in die rigting wat Fanie aandui.
Allamastag! Dis blouwildebeeste! Singida  ha-nou! s oom Fanie op half gedempte toon en hy spring af. Fanie, gee die geweer en patrone. Maak gou en hou vas die honde. Toe, toe, gou 
Fanie, wat al heeldag sy pa se geweer reghou, gee een sprong van die wa se reling af en voel n pyn deur sy bene skiet toe hy die grond raak  hy het te lank stilgesit met hangende bene.
D, Pa, hiers hy. Hys gelaai en op slot.
Oom Fanie gryp die geweer en sluip gebukkend vorentoe van die een boom na die ander en Fanie hink-hink so n paar tree ag-terna.
Hou Oortjies vas, Faan, kom dit van Japie, en al drietjies het hul honde aan die nekbande. Die drie sit gehurk en die honde, wat bewe van opgewondenheid, l plat langs hulle. Al die o is op die bekruipende gestalte gerig. Tant Lenie loer by die tentjie uit en volg haar ou man. Singida, Doppies en Jantjie staan al drie gebuk-
kend by die voorosse en hou die tou vas. Hulle haal skaars asem. Piet en Jaap het naderhand hul arms om die honde en hou hulle vas. Fanie voel n singende geluid in sy oor, en hy weet die skoot gaan nou haas slaan.
Dikant, n goeie tweehonderd tree van die wa af, staan oom Fanie gekoes agter n boom. Die wildebeeste het hom gewaar en begin rond te staan. Daar moet nou vinnig gespeel word, want as die leier van die trop net een snuif gee, is dit sterte in die lug en daar trek hulle. Oom Fanie kyk gou n slag om waar die seuns is en toe l hy aan teen die boomstam. n Mooi bul staan omtrent twaalf tree van die ander en kyk reguit na sy vyand. As oom Fanie nou roer dan trek die spul.
n Wildebees moet jy voor die bors in die kuiltjie skiet, fluis-ter hy aan homself, gooi die korrel voor die bul op die grond en trek op  op tot mooi voor die bors, trek die korrel amper dood daar en knyp stukkend. Toe die dop klap, slaan die bul in sy vier spore neer, en daar slaan die ander met sekelrugge en sterte in die lug op n galopgang. Oom Fanie kan lekker nog n paar omkap, maar hy wil nie. In sy oog sal dit mors wees. Hulle is nog nie by die staanplek nie, en een is oorgenoeg vleis vir albei waens.
Toe die bul neerslaan, los die seuns die honde en nael so al wat hulle kan.
Aatsjoe-l pa-han-si! skreeu die drie, en die arme swartes moet net hou aan die voorosse se tou, want toe die skoot val, skrik die osse geweldig.
Haspaai en Oortjies is los voor en eerste by die wildebees, wat nog l en skop. Hulle pak hom ook sommer aan die been en in die lies.
Voertsek, sie julle! raas oom Fanie, en die seuns kom ook by, uitasem: Is dit n bul, Pa? Waar het hy die skoot in?
En die drie is vreeslik in hul skik. Hulle bevoel en beskou die ou van alle kante en Fanie kan nie genoeg nadruk daarop l dat hy hulle eerste gesien het nie.
Pa, maar waarom noem hulle hom nou eintlik n wildebees  sy stert, maanhare en neusgate lyk dan amper net soos n perd sn? wil Fanie na n rukkie weet.
Nee, ek het al self gewonder, my seun. Hulle kon nog eerder vir n buffel ges het n wildebees, want n buffel lyk absoluut net soos n bees, veral die jonges.
Pa, gaan ons nog buffels ook skiet? wil Piet weet.
Ja, ek hoop so, my seun. Hier is nog heel party van hulle langs die Swart-Mfolozi.
Tant Lenie kom intussen ook daar aan.
Ma, nou het ons baie vleis. En dis n jongerige bul. Kyk, sy horings skilfer nog nie op nie, roep Jaap haar tegemoet.
Ja, dit is baie gaaf. Dis net jammer dat ons nog nie by die kamp is om biltong te maak nie. Julle sal darem moet eet om hom op te kry! antwoord sy.
Pa, en wat van die voorste wa? wil Fanie weet.
O, so gou as hulle na die skoot merk dat ons nie kom nie, sal hulle stilhou en kom kyk, verseker oom Fanie die drie.
Piet het sy knipmes gereed: Pa, moet ons solank begin slag? Nee, wag n bietjie. Gaan haal solank die byle en laat Singida en Jantjie die voorosse afhaak en hulle hierheen bring. Bring n
paar rieme ook.
En Piet sit af wa toe. Die swartes staan nog steeds daar voor die osse, onseker wat om te doen.
Nou ja, seuns, s oom Faan aan die twee by hom, ons moet nou gou n paar takke afkap en n soort slee maak, die wildebees daarop vasbind en agter aan die wa vasmaak. Dit is nie meer ver van ons staanplek vir vannag nie en dan slag ons hom daar af.
n Halfuur lank is dit n gekap en gewerskaf en eindelik het hulle die wildebees op die takke, haak die osse voor en sleep hom aan wa toe. Onderwyl hulle besig is om die slee agter die wa vas te bind, kom oom Gert ook daar aangestap.
Wildebees, jou bul se kalf! En julle het hom, h?
Hoog in hul skik begin die seuns te beduie hoe alles nou eint-lik gebeur het.
Toe alles agtermekaar is, klim oom Gert voor by oom Fanie op. Oom Fanie roep tant Lenie om ook daar te kom sit. Die sweep klap en daar gaan hulle weer. Fanie sit weer op die reling, maar Piet en Jaap stap agter die wa. Hulle is bang die wildebees kan dalk afglip.
Omtrent n uur daarna kom hulle by n spruitjie en oom Fanie besluit om maar uit te span. Die ander wa het juis daar gewag om te hoor waar hulle moet oornag.
Onderwyl die werkers uitspan, is die seuns besig om die wilde-bees los te maak. Hulle wil hom self afslag. Die werkers kan maar die ander werk doen  hout en water dra, gras sny en osse oppas.
Haai, ou Japie, en wat vir n ding is hierdie met sy perde-stert? vra ou Lea verbaas.
Japie is nou voorperd. Lea, dit is nou wat ons platweg n wil-debees noem. As ouerige Zoeloes hom eet, kry hulle plat neus-gate.
Haai, ja, Japie, dit moet waar wees, en kyk net hoe lyk die ding se neusgate. En sy gee pad daar naby, en later in die aand weier sy tot groot vermaak van die seuns botweg om van die vleis te eet.
Oom Fanie laat die seuns so n rukkie hul gang gaan. Hy weet hulle sal nie veel uitvoer met die knipmesse nie. n Wildebees en veral n buffel moet jy met n groterige mes slag, want hul vel is dik en sit vas aan die vleis. Nadat hy koffie gedrink het, roep hy Singida en een van oom Gert se werkers om te kom help slag.
Seuns, gaan drink nou gou eers jul koffie en dan kom help julle. As ons hom saam pak, is dit gouer klaar; die son is netnou onder.
Solank hulle maar net kan help en nie ander werk moet doen nie, is hulle tevrede. Die slagtery vorder ook en skaars n halfuur daarna het die seuns elkeen n stuk vleis en verdwyn tussen die bome om dit lekker te gaan braai. En hulle gesels!
Oom Fanie hou die twee boude, rugstringbiltonge en die tong uit en gee al die orige aan die Zoeloes. Tant Lenie wil eers protes-teer, maar: Aag, ou hart, mre skiet ons weer. Laat die werkers maar eet; hulle is uitgehonger vir vleis, paai oom Fanie. Dit is vir hom baie lekker om te sit en kyk hoedat die swartes vleis braai en sit en eet.
Toe die skemerte val, staan die seuns wa se kant toe. Dit is reeds in die Bosveld  ruie bome en ho gras  en n mens weet nooit. Met die slagtery het oom Gert ewe hard aan tant Lenie ges dat hy in die spruitjie vars tier- en wolfspore gesien het.
Die volgende oggend net toe dit lig is, is die waens weer in die pad. Oom Fanie wil graag so teen twee-uur se kant op die uitein-delike staanplek wees. Oom Gert ken die wreld daar rond goed en hy beduie elke keer aan die touleier hoe hy moet loop. Die seuns sien weer baie wild  kwaggas, waterbokke en wildebeeste  van die wa af, maar oom Fanie wil op die end kom en skiet dus liewer nie.
Ou hart, jy moet darem nou n bietjie uitspan of stilhou dat die werkers gou eers vir hulle kan pap kook; jy weet dis al nege-uur, pleit tant Lenie, toe sy bemerk dat haar ou man wil deurdruk staanplek toe.
Oom Fanie lag. Toe maar, ou vrou, na gisteraand en verlede nag se fees kan hulle maar gerus vanmre n bietjie uithou, anders sal ons nog voor vanaand moet kasterolie gee. Tant Lenie kry maar net n glimlaggie.
Die wreld word naderhand so woes en klipperig dat die waens maar stadig vorder.
Lyk die Bosveld so? n Mens sal mos verdwaal, s Japie later aan Piet.
Ons moet maar altyd een van hierdie koppe as baken ge-bruik, kalmeer Piet hom. En Pa s ons gaan op die wal van die Swart-Mfolozi kamp. As ons dan verdwaal, moet ons net probeer om weer by die rivier te kom, en dan loop ons met hom op of af totdat ons weer by die staanplek kom.
Maar Pa s die vlakvarke is vreeslik lief om langs die rivier in die modder of in die rivierkweek te vroetel en ek is bang hulle sal Kits doodmaak, s Japie, en hy kyk rond waar Kits is.
Waarom het ons dan gewere? vra Fanie, voordat Jaap nog meer kan s.
Dit val oom Gert later by dat daar n korter paadjie na die staanplek is, en sodoende haal hulle die plek nog voordat dit heel-temal eenuur is.
Au, maar dis pragtig hier, is sowel Japie as Piet se uitroep toe oom Fanie s: Ons is hier, krels! Uitspan!
En voordat jy baie kan tel, is dit uitgespan, en oom Fanie deel links en regs bevele uit: Singida, laat twee van die ander man se
werkers gou die osse laat suip en daar waar dit n bietjie oop is, oppas. Doppies sal vir hulle kos bring. Seuns, vat die emmers en gaan skep gou water; ek wil die swartes hier h om n bietjie skoon te kap en te sny. Lea, roer die pap! Ou vrou, koffie 
Die seuns het elkeen n emmer, roep die honde en is voort wa-ter toe omtrent seshonderd tree van die kamp af.
Die rivier het daar effens ho walle, en hulle moet eers n af-gaanplek soek om by die water te kom. Net toe hulle die wal af-gaan, gryp Japie Piet aan die arm: Piet, watse goed is daardie? Faan en Piet kyk al twee in die rigting wat Japie wys en sien
daar n paar vaal goed beweeg langs die water.
Ek sweer dis vlakvarke, s Japie, en hy kyk om hoe ver die kamp is.
Kom ons gaan die gewere haal, stel Piet voor.
Nee, jong, weier Fanie, kom ons skep gou water, dan gaan s ons vir Pa daarvan.
En die drie is gly-gly die wal af. Japie skep sommer half troe-bel water, roep Kits en l so vooroor met die emmer water kamp toe. Hy stort omtrent die helfte van die water uit voordat hy by die kamp kom.
Pa, Pa, hier onder langs die rivier loop n klomp vlakvarke, en hulle is kwaai!
Toe maar, my seun, gee sy pa antwoord, kom help julle drie-tjies dat ons gou die tent opslaan en dinge hier so n bietjie agter-mekaar kry, dan gaan ons vier gou n bok skiet. Ons sal nog baie kans kry om die vlakvarke te peper.
Die drietjies spring dan ook fluks aan die werk, want daar is sommer baie te doen om n jagkamp agtermekaar te kry. Daar moet allereers n sterk takkraal geslaan word vir die osse om in te slaap, en net by die kraal se hek moet daar n stewige skerm gebou word vir die Zoeloes om in te slaap en snags vuur in te maak, in-geval die leeus lastig word. Die osse en die werkers se plek moet die eerste in orde kom, want die jagters self kan voorlopig nog in die wa slaap. Die tweede aan die beurt is die tent vir oom Fanie en tant Lenie om in te slaap. Dit moet op n plek staan waar die son en die wind nie te sterk kan bykom nie  dus liefs onder n
ruierige boom. Om die tent moet daar ook n soort takkraal ge-slaan word om sluipende ongedierte en soms selfs n moedswil-lige renoster opsy te hou. Daar word gewoonlik n paar osse ge-bruik om die takke aan te sleep. Soetdoring- en ander bome met gevaarlike dorings, soos katnael en mambatand, word gekap.
Oom Gert spring met die werkers aan die oskraal, terwyl oom Fanie en die seuns die tent opslaan en toekamp. Tant Lenie en ou Lea maak kos. Die mans eet maar sommer so staan-staan. Almal is egter opgeruimd, die werk vorder, en die seuns stel baie vrae.
Pa, ons moet vir die honde ook n sterk hok maak om in te slaap, stel Japie voor.
Nee a, my seun, die honde moet snags kamp oppas. Hulle moet die jakkalse en die wolwe wat snags die afvalvleisies kom aas, weghou. As ons eers begin biltong maak, ruik die ongedierte die vleis van ver en sluip saans sommer vroeg al nader.
Pa, vra Piet, kom die leeus en tiere ook kamp toe?
As daar n groot vuur in die kamp is, my seun, bly die leeus maar ver. En die leeus sal ook maar altyd aan die osse se kant wees. Hy vertel nie aan die seuns dat n tier voorkeur gee aan honde nie.
Pa, en moet ons drie ook hier by Pa en Ma in die tent slaap? wil Fanie weet.
Nee, my seuns, julle slaap in die wa se tent, lekker hoog van die grond af. Oom Gert slaap ook in sy wa se tent.
Pa, maar ons wil graag die honde by ons h, en hulle kan mos nie in die wa slaap nie, s Japie op n klaagtoon.
Ai, maar julle knapies kan darem soms baie lastig wees, weet julle dit? s oom Faan, nou half ongeduldig.
Wag, ek het n plan, s Faan, en sy gesig verhelder sommer. Ons slaap vannag in die wa, en mre in die loop van die dag bou ons en die swart seuns vir ons n skerm langs die wa se agterwiel. Dan kan die honde by ons in die poortjie van die skerm slaap. En as dit dalk ren, dan klouter ons in die wa se tent.
Wil jy glo, s Piet opgeruimd, pak sommer n ekstra groot tak en sleep hom nader.
En  so  geselsend,  met  vraag  op  vraag  aan  hul  pa,  vorder  dit
fluks, en die tent is opgeslaan en toegekamp nog voordat oom Gert met sy taak klaar is.
Pa, kan ons nou maar gaan skiet? vra Faan besorgd.
Nee, ons moet nou eers hout en stompe aandra. Hou maar oom Gert dop, nes julle merk hy is haas klaar, dan laat vat ons. Dit sal nie mooi lyk as ons wegstap en hom alleen laat werk nie.
Maar, Pa, ons het mos ons werk klaar, protesteer Piet en Faan tegelyk.
Nee, my seuntjies, ons is een geselskap. Ons praat nie van dit is di een se werk of daardie een se werk nie. Ons werk saam en ons help mekaar met alles. Pieter, help Ma en Lea nou die goed-jies in die tent dra, dan bring Jaap, Fanie en ek solank stompe by-een. Julle hoef nie onrustig te voel nie; ek het die horlosie en ek sal sorg dat ons n uur voor sononder gaan skiet. Die wild is som-mer hier om ons.
Faan en Jaap het elkeen n riem en sleep af en toe n groot stomp saam aan. Toe hulle juis weer n ou groot stomp omrol  van pure nuuskierigheid om te sien wat onder hom is  sien hulle heuningbye daar uitborrel.
Pa, hiers n heuningnes, skreeu Japie, en Piet los ook som-mer sy ma se werk en sit af daarheen.
Ma, ek gaan net kyk, skreeu hy terug so in die hardloop. Pasop, hulle sal steek, jong, waarsku Japie, en al drie staan
effens opsy om oom Fanie die stomp van naby te laat sien. Hy be-merk dadelik dat dit n baie harde soort hout is en gee toe aan die hand dat hulle die stomp daar laat l.
Anderdag as ons meer tyd het, sal ons die stomp oopkap. En toe spoor hy hulle aan: Toe nou, krels, woel! Woel! Woel! Dit word laat.
Piet spring weg en gee sulke bokspringe terug na sy ma toe. Fanie kyk oor sy skouer terwyl hy ook wegspring en skreeu Ramkaat! van pure uitgelatenheid. n Rukkie daarna stap oom Fanie na oom Gert toe om te sien hoe hy vorder.
Oor n halfuur is dit klaar, neef Fanie. Neem jy maar die seuns en stap so n draai. Die drietjies kan dit seker nie meer hou nie. Ek sal die orige werkies hier in die kamp verrig.
Oom Fanie voel dadelik jammer dat hy daardie aand vir oom Gert kwaad geword het; dit lyk tog of hy n seun se siel verstaan.
Nou goed, neef Gert, mreoggend kan jy weer eerste uit-gaan, s oom Fanie, en hy stap haastig waens toe om die gewere in orde te kry. Hy kyk hulle eers altyd goed deur voordat hy hulle aan die seuns oorhandig. As daar n ongeluk kom, wil hy weet dat dit werklik n ongeluk was en nie nalatigheid nie.
Komaan, seuns, roep hy hulle, en hy gee aan elkeen sy ge-weer.
Is hulle gelaai, Pa?
Ja, daar is ses patrone in elkeen se magasyn. Wanneer ons die wild eers sien, stoot julle n patroon in die loop  nie voor die tyd nie, hoor!
Ja, Pa.
Nou ja, kom! En hy vat koers rivieraf, juis in die rigting waar die seuns die vlakvarke gesien het. Gelukkig is die drie honde goed geoefen. Wanneer hulle by hul base is, sit hulle nooit n bok of ondier agterna voordat die bevel daartoe gekom het nie.
Nouliks vierhonderd tree van die kamp af bespied Fanie met sy valko al weer iets, draf so n paar tree vorentoe en vat sy pa aan die arm.
Pa, wat is dit daardie? En hy wys na n paar bewegende goed in die yl gras laer af op die oorkantse wal. Oom Fanie koes dade-lik en kyk in die rigting wat Faan beduie.
Kinders, dis vlakvarke.
Moet ons skiet, Pa? vra al drie byna tegelyk, en hulle ruk die geweerslotte oop.
Nee, wag, ons sal die wild op loop sit. Ons moet eers n bok skiet. En hy swaai regs weg van die rivier af.
n Hele ruk later sien hy sewe waterbokke wat wei-wei op pad water toe is. Hy wil egter die genot daarvan om hulle eerste te sien aan die seuns gee.
Seuns, julle moet nou mooi kyk; hiers vol vars spore.
Pa, daars hulle! s Faan en Piet byna tegelyk en die twee gaan sit half.
Waar? Wat is dit? wil Japie weet, en hy en oom Faan gaan sit ook gekoes. Piet wys hom die bokke.
Dis waterbokke. Dis die ou ram wat voor loop.
Pa moet skiet, s Jaap eintlik kortasem van opgewondenheid. Die honde l plat en maak sulke fyn geluidjies van opgewon-
denheid.
Pa, hoe ver is dit daarheen? vra Faan, en hy vat aan sy ge-weer se visier om dit op te skuif indien dit nodig sou blyk.
Nou, ek sou s driehonderd tree, s oom Faan. Maar wag, moenie visier opsit nie; ons moet n bietjie nader kruip. Ek wil h julle drie moet skiet. Net as hulle agter daardie klompie bome is, gaan ons gou tot agter daardie blinkblaarbos. En hy dui die bome aan. Ek sal weer tel, dan skiet julle drie tegelyk.
Maar, Pa, s nou hulle gewaar ons en sit op loop? Pa moet lie-wer hiervandaan skiet, fluister Piet.
Toe maar, my seun, die bokke is hier nie so wild as by ons op die plaas nie.
Die bokke gaan wei-wei vorentoe, net die ou leier  of verbeel die seuns hulle dit  begin tekens van onrus te toon. Hy pluk n paar bekke vol gras en staan dan weer en luister met sy neus effens in die lug. Die vyf ooie en die jong ram wei egter rustig voort en is al naby die bos.
Kom nou, krels, agter my aan, fluister oom Faan, toe die bokke agter die bos verdwyn, en hy pyl na die blinkblaarbos toe. Hulle beweeg egter n bietjie te vinnig en lomp.
Ssviiu  fluit die ou leier deur sy neus, en daar trek die spul dat die stof so staan tussen die bome deur. Die seuns se harte voel sommer so koud, maar oom Fanie laat hom nie daardeur van stryk bring nie. In n oogwink is sy geweer aan sy skouer, en toe die bokke effens op die dwarste by n opening in die bome verbykom, slaan die seuns se ore pot toe. Die eerste skoot is mis. Die tweede koel klap, en die bokke is weg.
Hy het die skoot, s oom Fanie, en hy sit af op n draf, ge-volg deur die seuns, na waar die bokke verdwyn het.
Hulle is hier deur. Kyk na die bloedspoor en moedig die hon-de maar aan, s hul pa.
Soek hom! Soek hom, Haspaai! Vat hom! spoor hulle die honde aan. Die laaste aansporing is nog nie koud nie of die honde het die spoor en daar trek hulle.
Pa, hiers bloed, skreeu Jaap, en die ander storm nader. Hulle sien toe ook n hele streep bloed op n kaal plekkie. Daar blaf die honde; hulle het hom. En die vier sit af.
Stadig, stadig, krels, probeer oom Fanie hulle beteuel, dalk is die bok so swaar gekwes dat die honde hom teen n bos vaskeer. Hulle is soms gevaarlik.
Die honde hou meteens op met blaf.
Hy vlug seker, s Japie kortasem, en hulle draf n bietjie sta-diger.
As hy vlug, sal die honde tjank, stel oom Faan hulle gerus. Hulle het hom, hulle het hom, hoor daar! skreeu Fanie, wat effens voor is, en hulle hardloop. n Bietjie na vore in die klofie kan hulle nou duidelik hoor hoe die honde worstel met iets. Toe hulle  daar  kom,  het  die  honde  n  yslike  waterbokooi  teen  die grond. Oortjies het haar aan die neus, Haspaai aan een oor en Kits sit soos n bulhond aan haar lies. Hy trek en skud asof daar nie n flenter van die arme ding moet oorbly nie. Sy moes die skoot deur die longe gekry het, want die skuimerige bloed l sommer so n
plas.
Belet die honde, dat ons haar kan keelaf sny, beveel oom Fanie.
Die honde het egter bloed geproe en is opgewonde, en Fanie-hulle is verplig om hulle weg te slaan.
Ag, Pa, skiet haar liewer dood, soebat Fanie, toe hy in die groot, smekende o van die bok kyk. Piet draai sy kop weg, en tog weet hy dat hy die gewonde bok se o dae lank voor hom sal sien. n Oomblik staan oom Fanie onseker of hy haar moet skiet of keelaf sny. Voordat hy nog kan besluit, skop sy krampagtig met haar agterpote teen die bossies, bring haar kop n paar keer teen die blad en laat val hom met n dowwe plof. n Laaste diep asem-trek, die bloed roggel deur haar keel en  alles is stil.
n Paar oomblikke staan die vier jagters sonder om te praat en toe breek Japie die stilte met n ongewone sagte stemmetjie: Pap-pa, dis darem maar wreed om die arme ou bokkie so te sien wors-tel met die dood.
Ja, my seun, wanneer ek swartes by my het, gaan ek nooit na
n swaargekweste bok nie. Daar is iets in hul o wat my hart laat seer voel.
Oom Fanie se bevel aan Singida was dat as hy hoor skiet, hy en twee Zoeloeseuns dadelik moet kom. Terwyl die jagters daar by die dooie bok staan en die honde die bloed lek, hoor hulle die swartes roep.
Hiernatoe! antwoord oom Faan terug. Sy harde stem ver-breek die ongewone spanning wat daar heers en die seuns tree nader om die bok te beskou.
Pa, het waterbokooie dan nie horings nie? vra Piet.
Nee, my seun, hulle is maar net soos die duikertjies en die ander bokkies. Dis net die ramme wat horings het.
Nee, Pa, ek het altyd gedink by die grootwild is dit anders. Nie by die bokke nie, maar by die buffels en wildebeeste het
die koeie horings.
Pa, maar hoe moet die arme bokmoeders dan hul lammertjies beskerm teen die ongedierte as hulle nie horings het nie? Waarom het die Here dit dan vir hulle so swaar gemaak? vra Japie.
Oom Fanie kry so n effense glimlaggie. Hy is so n bietjie in die middel van die wreld, maar hy het gou n antwoord aan Japie.
My kind, die meeste bokke soos die waterbokke byvoorbeeld, boer in klompies. Behalwe die ou leier en wagter van die trop is daar nog altyd n paar jonger ramme. Die trop as geheel beskerm die lammertjies teen kleiner roofdiere soos jakkalse, rooikatte en wolwe. Maar teen die groter en gevaarliker roofdiere, soos wilde-honde, tiere en leeus is hulle magteloos. Voortdurende waaksaam-heid en vlug is hul behoud.
En dan skiet ons hulle ook nog, laat Fanie hoor.
Nou toe, toe, hier kom die Zoeloes. Help gou afslag, dan sny ons haar stukkend sodat hulle haar stuksgewys kan wegdra kamp toe.
n Waterbok slag maklik af en dit duur dus nie lank nie of hulle keer kampwaarts met die vleis. Di wat die werkers nie kan dra nie, hang hulle hoog in die bome om dit later weer te kom haal. Toe hulle in die kamp kom, gaan die son net onder.
