DIE VEERTIEN DAE VOOR DIE VERTREK
Die eerste kort nag het sy gevolge. Die drie jagters verslaap hulle hopeloos en kry piets, want as daar nou een ding is wat oom Fanie se humeur vreeslik omkrap, dan is dit as sy seuns laat slaap.
Seuns, s hy so dikwels aan hulle, as n boerseun vorentoe wil boer, moet hy sorg dat dit soggens klaar gemelk is as die son uitkom.
Soms steek hy net n tweetandprekie af, maar af en toe piets hy hulle goed met die lat. Baie keer kom waarsku hul moeder hulle betyds. Wanneer sy n vermoede het dat die seuns laat aan die slaap geraak het, trek sy saans, wanneer oom Fanie al l, so onge-merk die donker gordyn van die slaapkamer voor die venster. Sog-gens bly die kamer dan langer as gewoonlik donker en kry die seuns meer kans.
Oom Fanie klop hulle die oggend nie juis in erns nie, maar laat hulle net voel dat hulle nog nie in die Bosveld is nie en dus nog pligte het om na te kom. Die drie huil nie eens nie, soebat net  die oubaas keer hulle in die kamer vas  en wanneer hy pad gee by die deur, spring hulle by hom verby en hardloop skreeuend en laggend van uitgelatenheid resies tot by die kraal.
n Rukkie daarna is Piet net druk in die weer om met onnodige lawaai en handgeswaai aan die werkers te beduie hoedat hy Adoons met die afhand sy rieme laat styfloop het, toe oom Fanie daarop afkom en een van sy langasembevele gee: Toe nou seuns, julle moet nie die plaaswerkers ophou nie; laat hulle klaar melk, sodat die beeste veld toe kan gaan. Japie, loop kyk jy of die wer-kers se kos gaar is en bring dit waenhuis toe. Fanie, gaan kerf jy vir my tabak. Piet, gaan haal jy honderd sakke van die solder af  daar moet vandag mielies afgemaak word. Piesl, roer jou; roer jou; julle moet die wa gaan uittrek en die mielie-afmaker regsit.
Toe nou, toe nou, kyk waar sit die son  En die oubaas voel-voel so oor die kraalmuur met albei hande asof hy klippe soek om iemand mee te gooi.
Die seuns en die plaaswerkers draf die oggend, laasgenoemde met n benoude gevoel op die maag, maar in die seuns se harte sing dit. Hulle weet hoekom die oubaas haastig is en met hart en siel, al fluitende en singende, doen hulle wat hy hulle beveel het. So iets is op die duur aansteeklik, en dit is ook nie te lank nie of die klomp Zoeloes begin self te bromsing daar in die waenhuis. En as die Zoeloes eers begin sing by die werk  n vinnige lied  dan spoed die werk, want van moegword is daar geen sprake nie.
Ou Piesl, met ontblote bolyf, gryp eerste die slinger en draai dit dat die afmaker elke keer so wip-wip van die grond af. Die drie seuns wat die stronke voor moet wegkrap en die paar pitte aan die kante, wat altyd by klam mielies oorbly, moet afvryf, kry dit net opdraand om by te bly. Hulle voel sommer dadelik ergerlik teen-oor ou Piesl, en die voorneme om hom nog voor sononder n lelike streep te trek, is daar en dan klaar aan mekaar gefluister.
Na elfuur se koffie laat oom Fanie sy ou blou perd opsaal en ry n bietjie oor na sy bywoner om hom n klompie tentpenne te laat maak. Dit is net die kans waarop die seuns gewag het. Nou is hulle mos baas in die waenhuis. Elke werker wat ook maar effens traag is om gehoor te gee aan hul bevele, word gedreig met: Ons sal ons pa vertel as hy terugkom.
En die Zoeloes weet al dat die seuns n ding altyd erger maak wanneer hulle dit aan hul pa oorvertel en gee dus maar gehoor.
Oom Fanie is nog nie oor die bult nie, toe beveel Japie twee van die swart seuns om te kom stronke wegkrap.
My ma het ges ons moet van die vuil mielies vir die varke gaan ingooi, skerm hy.
Alles is afgespreek: Fanie sal orde hou in die waenhuis; Piet sal die varke gaan kos gee en Japie sal n skoot buskruit by die damwal in ou Piesl se daggapyp gaan laai.
Japie gaan versigtig te werk, skep die assies met n teelepeltjie uit die kleipyp, gooi dit in n dekseltjie, druk die kruit onderin vas en plaas dan n klompie halfgerookte dagga bo-op.
Wanneer hy en Piet weer terugkom in die waenhuis, kyk hulle veelseggend na mekaar en gaan dan kamma vreeslik hard aan die werk. So n kwartier daarna gee Fanie grootmeneeragtig die plaas-werkers kans om te gaan rook.
My pa het ges ek moet n bietjie keer dat sy werkers hulle nie doodwerk nie, vlei hy hulle, en kyk hoe natgesweet is ou Piesl al.
Piesl gee so n kekkellaggie van pure trots, spoeg so n flets oor die swart seuns se koppe en gee drie, vier bokspringe na die deur se kant toe. Wie is dan moeg! In die deur maak hy weer n paar manewales soos n volstruismannetjie: Hiert, hiert. Koggel-manner, beenpens  trapsoetjie, skurwe hakskeen  volstruis met jou gebuigde knieg! En die ou is voort damwal toe: in die gees rook hy al klaar dagga.
Die seuns haal dadelik hul rekke uit om die swartes nie onraad te laat merk nie, en op n vinnige drafstappie gaan dit voort popu-lierbos toe. n Vyfhonderd tree hor op langs die bos is die eende-dam, op die wal waarvan ou Piesl sy daggapyp het. Daarheen gaan die drie toe, al in die bos langs, so vinnig as wat hulle kan, ten einde so na as moontlik aan ou Piesl te wees wanneer die skoot afgaan. Hulle nader dan ook ongemerk tot op sowat twintig tree. Die ou is nog besig om daar rond te dans en rympies op te s:
Hee, hee, hee, hee  dankie, my hartjie; my liewe kalkoentjie, gee my n soentjie. Gooi hom in die sloot.
My hart gaan op tietieshoogte dood!
Die drie moet net hou om nie te giggel nie. Fanie druk byna sy hoed in sy mond. Eindelik begin die ou rond te soek in die dub-bele voerings van sy stukkende baadjiesakke na los vuurhoutjies. Hy het skoon vergeet om by die kombuis aan te gaan en daar n kooltjie vuur te vra. Na heelwat soek en verwensings teen die karnallies wat altyd my vuurhoutjies steel, kry die ou n paar vuurhoutjies en n stukkie swaelpapier van n vuurhoutjiedosie. By die pyp kniel hy en trek die vuurhoutjie. Hy mpa-mpa n
paar keer sy kieste sommer so hol, maar die luggaatjie van die pyp is toe.
Wat makeer jy nou weer vanmre? maak hy rusie met die pyp. Weet jy dan nie die werk wag net vir ou Piesl daar in die waenhuis nie!
Met n stokkie karring hy in die pyp, mompel n paar woorde, krap weer n vuurhoutjie en mpa-mpa-mpa Ffoeps! ont-plof die kruit en skiet rook, as en grond in n swart wolkie in die ou se gesig dat hy daar op die naat van sy rug l. Mamo! Hy spring daar op, hardloop so n draai, steek vas en staan die wreld so n oomblik en beskou, terwyl hy pwoe-pwoe grond uitspoeg. Wat se geding is dit dan, s hy, loop die wal storm en gee hom n hou met die vuis. A nee a, wats dit dan met jou?
Die drie seuns druk hoede in die mond en laat vat in die voor langs af, totdat hulle n goeie ent weg is en toe rol hulle soos hulle lag. Hulle haal die waenhuis egter heeltemal uit n ander koers nog voordat die ou daar is en begin ook sommer vreeslik te werk  doodsedig! Fanie gryp die slinger van die afmaker en gee n paar vinnige draaie dat die los mieliepitte so sif-sif oor die plaat as teken vir die werkers om te kom inval. Toe ou Piesl in die deur verskyn met die atmosfeer van n donderwolk op sy gesig, is die laaste een al aan die werk.
Japie wil liewer nie opkyk nie, maar Piet en Faan waag dit daar langs die hoop stronke en toe steek hulle koppe weg. Die paar Zoeloeseuns dink ou Piesl maak weer grappe en gaan aan die lag. Maar hy gryp n takbesem en loop hulle storm. Hulle dink dat dit n grap is en eers toe hy die naaste een onderstebo slaan met die besem, skreeu hulle soos maer varkies en laat spaander. Die vlug-tende seuns is olie op die vuur: die ou wil nou net al wat voorkom slaan. Een van die ouer Zoeloes, Singida, kom met n sak mielie-koppe op die skouer skuins voor hom verby masjien toe, maar ou Piesl stamp hom tog dat hy met die sak en al so skuif oor die vloer: Julle dink ek is julle uil 
Japie bars uit van die lag, en Faan en Piet moet net hou om nie ook te lag nie. Maar toe is die bobbejaan in die mielieland! Jy hoor net skreeu en raas. Al die ouer werkers skreeu vir Singida: Mbu-
lale uyakwedelela  maak hom dood; hy het jou in die sak. En party van hulle tree selfs dreigend nader.
Singida spring op, sy gesig vol pyn, en pak sy aanvaller. Die stormloop is so woes en skielik dat ou Piesl nie heeltemal klaar is daarvoor nie. Toe Singida hom pak en die ou so n tree agteruit trap, trap hy op n los mieliekop, verloor sy ewewig en val teen die grond met Singida bo-op hom.
Daardie slag skreeu Piet en Japie, wat tot by die deur gevlug het, uit volle bors vir hul ma dat die Zoeloes baklei. Toe die ander dit hoor, gryp een die slinger van die masjien en begin kamma vreeslik te draai, terwyl Fanie instop, en almal skreeu op gedemp-te toon aan die twee om op te hou: umesi Lenie kom. As sy vir ubaba Fanie vertel, sal hy die hele klomp deurloop.
Die twee wat nog steeds daar oor die vloer rol in n gestoei om lewe en dood, los dan ook mekaar. Singida, hygend na asem, wag-gel so n paar tree vorentoe, buk vooroor by sy sak en begin die mielies wat uitgeval het, brom-brom in te gooi. Ou Piesl is egter te woedend en te gekrenk om dadelik weer aan die werk te spring. Toe tant Lenie in die deur verskyn, staan die ou met gebalde vuiste nog daar waar Singida hom gelos het, en sy o vlam sommer op sy aanvaller. Sy merk dadelik dat ou Piesl aan die kortste ent trek en kry hom jammer: Hy is die oudste van die klomp.
Ou  Piesl,  beveel  sy  hom,  gaan  kap  gou  vir  my  n  paar stukkies hout. Die brood moet netnou in die oond kom. Maak nou gou, ou Lea sal vir jou n beker koffie gee daar by die kombuis. Piesl  is  n  wewenaar  en  daarby  verskriklik  lief  vir  koffie. Daar  is  dus  twee  towerwoorde  vir  hom:  Lea  en  koffie,  en wanneer hulle in een asem genoem word, voel dit asof hy so oor die grassate kan beweeg en nooit oor n klip of mieliekop trap nie. Toe party werkers nog amper te bang is om op te kyk of ou Piesl
na haar luister, is hy reeds halfpad kombuis toe.
Nee, ek wou net s, dreun sy stem by die kombuisdeur, ek sal net een lang tree gee dan is ek hier met die doringhout. En umesi Lenie s dis padlangs met die swart watertjies.
Ou Lea werskaf daar by die stoof asof sy hom nie eens hoor nie, maar in haar ou hart doef-doef dit soos knopkierieslae.
Die oom Piesl is darem fluks! En sy spiel haar gou in een van die blinkgeskuurde potte. Dis ook di dat umesi Lenie nou die dag ges het: Maar my ou Lea word weer jonk!
Tant Lenie haal die drie seuns daar in die waenhuis net lelik oor die kole: Ou Piesl is nie meer jul maat nie. Al is hy n wer-ker, sy hare het grys geword hier op die plaas in ons diens.
As moeder van n paar groot seuns weet sy al dat as die Zoe-loes daar op die werf deurmekaar raak, haar seuntjies altyd iets daarmee te doen het.
Nou ja, dis etenstyd. Julle moet nou n bietjie ophou, kondig sy die blye tyding aan.
Die drie seuns druk hoede op die kop vas en hol kamer toe vir al wat hulle werd is. Die een haal om voor die ander by die was-skottel te wees. Oom Fanie kom toe ook net daar aan, maar nie-mand vertel hom iets van die gebeurde nie. Na die ete sit hy op sy kassie in die waenhuis en rook. Toe is daar vrede en almal werk. Ou Piesl probeer elke keer n grappie vertel en loer dan so skuins of oom Fanie nie glimlag nie, want die ander is nog te vies vir hom en trek nie n bek nie.
En so gaan die dae verby. In die begin gaan hulle n bietjie sta-dig om vir die seuns omdat oom Fanie, reeds moeg vir al die vrae oor die Bosveld, hulle dreig met: As julle my nou lastig val met so baie vrae, laat ek julle hier bly. n Mens moet nooit n ding te ver vooruitloop nie.
Saans in die kamer en bedags as hulle so n bietjie alleen is, leef die drie egter in die Bosveld. Oor en oor word al die soorte wild wat in Zoeloeland te kry is, genoem en getel: buffels, see-koeie, koedoes, njalas, rooibokke, blouwildebeeste, waterbokke, bosbokke  en die kleinwild: duikers, steenbokkies, rietbokke, rooi- en vaalribbokke, klipspringertjies  en die ongediertes: leeus, tiere, wolwe, krokodille, boas, mambas.
Nou, watse goed is sebras en vlakvarke? wil Piet weet. n Mens kan hulle mos nie wild noem nie, en hulle is ook nie onge-diertes nie.
Jong, val Japie hom in die rede, Pa s vlakvarke is die lelik-ste en moedswilligste diere in die Bosveld. Hulle het vreeslike
slagtande: n Zoeloe en n hond is pelile  klaarpraat  as hulle in sy pad kom.
Nou ja, dan noem ons hom n ongedierte, beslis Fanie. En wat van die sebra? Pa s hy is een van die mooiste diere
in die Bosveld, vra Piet.
Kan hy n mens doodmaak? wil Japie eers weet.
Pa s hy kan byt en kap met sy voorpote net soos n kwaai donkiehings, verduidelik Piet verder.
Maar wat ek wil weet, gaan Japie voort, is of hy n mens sommer storm as jy dalk alleen loop in die Bosveld.
Wanneer daar klein vulletjies in n trop is, vertel Fanie, en n mens het honde by jou, storm die hingste die honde. Die honde vlug na hul base toe, en dan is die base aan die pen.
Maar dan moet ons die honde liewer soggens in die kamp vasbind, stel Japie bangerig voor.
Nou, waarom neem ons hulle dan saam as ons hulle net daar wil gaan vasbind? vra Fanie half bitsig.
Aag, ou Faan, pleit Japie, ek is so bang die goed sal Kits doodmaak.
Maar ons honde is mos ook daar om te help, probeer Piet hom gerusstel, en Pa s as n mens al lank voor die tyd bang is vir n ding, dan kom dit jou juis oor.
Maar Kits is al hond wat ek het en 
Aag, man, val Fanie hom in die rede, ons het almal net een hond, en hulle kan ook nie vir altyd leef nie.
Baie keer loop die redeneerdery op n rusie uit, en een keer op n bakleiery. Die drie is weer in die kamer aan die stry; Fanie het die beste van die saak, en toe Japie sien hy is vas, s hy aan Fanie: Aag, jys ook net so kwaai as vlakvark! Ou vlakvark!
Wies n vlakvark! En die twee pak mekaar. Fanie is maar twee jaar ouer as Japie en kom nie altyd met wapperende vaandels uit n geveg nie. Piet, die jongste, staan meestal aan Japie se kant.
Dit is ook net dat al drie in n hewige gestoei oor die vloer rol dat oom Fanie die ding gewaar daar van die stoep af. Die oubaas peper al drie goed warm met die kweperlat en laat hulle dan hout kap: Dit is omdat julle al weer te min werk, daarom twis julle so, raas hy met hulle.
Hy is nooit juis kwaad nie, want hy weet uit eie ondervinding dat seuns wat n bietjie lewe in hulle het, altyd bots. Om orde te handhaaf, maak hy asof hy baie kwaad is, en die seuns waag dit nie om by hom te kom kla wanneer die een of ander die slegste daarvan afkom nie.
Al is die seuns en oom Fanie party dae nog n bietjie ledig, tant Lenie moet dwarsdeur hard spook om alles agtermekaar te kry. Daar moet twee mudsakke dro beskuit gebak word, koffie ge-brand en gemaal word, vark geslag en wors gemaak word. Ou Lea is soos n voorslag. Piet fluister n paar dae daarna aan haar dat sy en ou Piesl gaan agterbly om werf op te pas. Ek en ou Piesl  ou Lea en ou Piesl  die name klink mooi as hulle saam genoem word  So droom sy by wyle voort, en sy moet net haar bes doen om tant Lenie niks te laat merk nie.
Tant Lenie gee nie om om saans tot laat te werk nie, want sy dink hoe lekker sy sal uitrus in die tentwa die nege of tien dae tot in die Bosveld.
Op n middag so kort voor die vasgestelde dag van vertrek, roep oom Fanie die drie seuns in sy kantoortjie. Die drie weet nie eintlik wat daar nou gaan gebeur nie en voel n bietjie benoud. Seuns voel altyd benoud as hul pa hulle in sy kantoortjie roep en die deur toemaak.
Seuns, begin die oubaas nadat hy die deur toegemaak het, ons moet nou besluit watter Zoeloes saamgaan. Daar moet vier hiervandaan saamgaan en daar voor huur ons nog vyf of ses.
Pa, maar waarom moet daar dan so baie Zoeloes wees? spring Fanie sy maats voor.
Kyk, verduidelik oom Fanie, ja, ek is bly dat jy daardie vraag stel, want dit toon aan dat jy vir jouself dink. Die saak is van di aard: die Bosveld is maar vol rante en klowe, die slee kan nie oral kom nie, en partymaal skiet n mens n buffel of ander groot wildsoorte in n diep kloof. Die vleis en die vel moet dan kamp toe gedra word. Daarvoor het n mens baie werkers nodig, want dis soms ver van die kamp af.
Maar, Pa, n mens moet liewer nie te ver van die kamp af gaan nie, stel Japie voor, om ook te probeer toon dat hy dink.
Ja, maar n mens moet die kamp opslaan waar daar goeie water en hout is en waar die waens kan kom. En die wild boer oor-dag meestal in die ruie plekke en dan moet jy maar ver gaan om iets te kry, verduidelik oom Fanie goedig.
Pa, ek stel voor dat ons Singida saamneem as wadrywer, een van die seuns as touleier en dan nog twee grotes, gaan Piet voort.
Pa, ek stel voor dat ons Singida en drie seuns saamneem. As Pa vir ons elkeen n maat gee in die Bosveld, sal ons Pa nooit las-tig val nie, pleit Faan.
Japie kry nou n kans om te wys dat hy nog altyd dink: Pa, maar s nou die wa val vas op die pad en daar is net een groot swarte, dan is dit mos n vreeslike gesukkel.
Mooi so, Japie, prys sy pa hom, maar die ander oom ry saam met ons. As een wa dus vasval, haak ons die ander span ook voor. O  ja!  Pa,  het  die  ander  oom  ook  seuns?  wil  Fanie  verder
weet.
Nee, daardie oom het nooit getrou nie.
Daar word toe afgespreek dat Singida en drie swart seuns moet saamgaan. Oom Fanie dink self dat dit n goeie ding sou wees as elke seun sy eie maat het in die Bosveld en laat dit aan hulle drie oor watter maats daar moet gaan.
Krels, begin Japie, net toe hulle in hul buitekamer kom, laat ons nou eers besluit watter drie seuns ons gaan saamneem. Ek stel voor ons neem Jantjie, Doppies en Gedja saam, en dan trek ons lootjies vir hulle.
Dis nie nodig om lootjies te trek vir hulle nie, s Fanie. Jantjie kry tog altyd my ou broeke en my vols, Doppies joue en Gedja Piet sn. Laat elkeen dan maar sy eie maatjie neem.
Jaap en Piet is toe ook heeltemal tevrede, en die drie sit af stal toe om die groot tyding aan die seuntjies mee te deel. Die vierde outjie, Samboko, wat moet bly, aanskou ewe verle en sprakeloos die opgewondenheid van sy maats. Piet merk dit en kry hom dade-lik jammer.
Samboko, probeer hy die outjie tevrede stel, ek sal my ou rek vir jou gee en my pa gaan vir jou n nuwe kakiejas koop. Jy en jou oompie Piesl moet werf oppas en julle hoef niks te werk nie.
Samboko is toe ook danig in sy skik, veral toe sy drie maats maak asof hulle kamma vreeslik jaloers is op die nuwe jas wat hy gaan kry.
Die aand in die kamer nadat oom Fanie en tant Lenie lank oor die saak gesels het, stem oom Fanie toe dat Lea kan saamgaan om met die biltongmakery te help. Uit vroere ondervinding weet tant Lenie al hoe dit gaan in n Bosveldkamp: As die mans terugkom uit die veld is hulle moeg en honger en die vrou moet kos gee en dan nog al die biltong sny ook. Die oggend s tant Lenie dit ewe niksvermoedend aan Lea: Ou Lea, ek wou jou eers hier laat staan om huis op te pas, maar toe dink ek my ou Lea sal te alleen wees, en ek sien ook nie kans om sonder jou klaar te kom in die kamp nie.
Anders as gewoonlik kry Lea nie dadelik haar taal nie. Daar kom n dynserigheid voor die o, en sy sluk-sluk asof sy haar woorde iewers dieper moet vind. En vir die eerste keer maak die woord Piesl seer as sy dit saggies in haar hart s. Wat is dit dan 
Hoe lyk dit dan of ou Lea bang is vir die Bosveld? help tant Lenie haar aan n antwoord toe sy so stilbly.
Nee, mesi Lenie, ek  ou Lea het sommer gedink  Ja nee, dis goed, Mesi. En sy roer die pap vreeslik asof dit wil aanbrand. As sy tog net n paar oomblikke met haar rug na tant Lenie kan staan. Toe tant Lenie net teruggaan spens toe om daar iets te gaan haal en so in haar eentjie wonder wat dit dan is met die ou siel, is Lea uit met n emmer om kamma te gaan water skep by die spruit. Op n halwe wiggeldraffie, met die le sinkemmer swaaiend in die een hand, is sy voort spruit toe. By die spruit is sy die rietbos in. Sy wil alleen wees.
Elke aand vir jare al het sy by die eetkamerdeur gaan sit wan-neer oom Fanie saans godsdiens hou. Op n aand toe klein Piet baie siek was, het sy gehoor hoe mooi oom Fanie die Here daar bo vra  En ou Lea kniel daar in die rietbos en begin hardop te bid: Ag, uNkulunkulu  Skepper  wat vir kleine Piet gesond gemaak het, ou Lea wil net vra uNkulunkulu moet tog vir ou Piesl oppas. Ja, baie dankie.
Toe sy n kwartier daarna met die emmer water by die kom-buisdeur inkom, kan tant Lenie niks ongewoons meer aan haar be-merk nie. Die ou vrou het verligting gekry in haar eenvoudige ge-bed.
Di middag net na vieruur hoor die seuns tot hul groot vreugde n sweep dof klap in die rigting wat die ander oom moet kom. Vinnig en rats soos bobbejane is hulle tot in die top van n ho boom en vandaar kan hulle die ander oom  oom Gert  se wa sien.
Ma, hou reg die koffie! Daar kom oom Gert se wa al by die wit spruit! skreeu hulle aan tant Lenie. Die vyandige gevoel wat hulle teenoor hom gekoester het omdat hy daardie middag so ge-sloer het om te vertrek, maak nou plek vir n vreeslike, uitbundi-ge blydskap en selfs toegeneentheid. Dis hy wat Pa omgepraat het om te gaan, redeneer die drietjies nou.
Oom Gert is ook nie lank daar nie of die seuns is klaar maats met hom. En die aand laat oom Fanie die drie toe om ook aan tafel te kom.
Tant Lenie moet elke keer s: Toe nou, eet jul kos; dit word koud, so oopmond sit die drie en luister na alles wat oom Gert  grotendeels ter wille van hulle  aan hul vader sit en vertel. Auk, dis darem maar lekker om n seun te wees, dink Piet so in sy een-tjie toe hy sy ma so stil half afgetrokke sien sit; n vroumens moet altyd in die huis of in die kamp bly. En toe hy die aand gaan slaap, s hy sy ma nag met n dubbele druksoen.
Seuns, is oom Fanie se laaste bevel toe hulle nags, staan nou mre vroeg op. As dit klaar gemelk is, moet julle Singida en twee seuns stuur om die osse in die kamp te gaan haal. Net na die ontbyt moet ons inspan en ry.
Ja, Pa, s al drie tegelyk en hulle stap kamer toe met klop-pende harte.
Omtrent tweehonderd tree van die kombuis af, tussen die bome, l Lea wakker in haar rondaweltjie. En sy wonder waarom Piesl dan nog niks aan haar ges het waarom hy die afgelope twee dae nie meer grappe maak nie en of hy haar mre gaan groet  En wie sal dan soggens vir hom n bietjie koffie in sy bekertjie gooi as sy weg is?
Douvoordag is Piet op, voel-voel in die donker totdat hy by Japie se bed kom en het hom aan die skouer: Japie  Japie  die hoenders het al twee maal gekraai. Kom ons gaan maak die werkers wakker dat hulle kan melk.
Man, dis dan nog pikdonker, gee Japie half deur die slaap antwoord. Aan die beweging op die bed lyk dit darem asof Japie aan die opstaan is, en Piet voel-voel weer sy pad terug deur toe. Toe hy die deur oopmaak, is dit effens ligter in die kamer. Fanie skrik ook wakker en is sommer dadelik klaar met n voorstel: Piet, gaan maak jy vuur vir die koffiewater, dan gaan maak Jaap en ek die werkers wakker.
Goed, ek sal vir julle koffie kraal toe bring, willig Piet in, ge-reed om enigiets vir sy twee broers te doen as hulle net wil op-staan en beweeg.
Toe hy so n entjie van die kamer af is op pad kombuis toe, ge-waar die honde hom van die woonhuis se stoep af, gee n paar on-seker knorblawwe en storm hom.
Haspaai, Kits, Oortjies! roep hy hulle tegemoet, en toe is dit vir jou n gedoente. Die drie spring hom amper onderstebo van blydskap, blaf en rol al spelende met mekaar voor hom. Hy self moet hom ook net bedwing om nie saam met die honde te stoei en te rol daar op die sagte kweek nie, want, ons gaan Bosveld toe, pols dit gedurig deur sy siel.
Oom Fanie, vir wie die nag ook al gans te lank is, kan nog nie uitmaak wat daar aan die gang is nie. Hy spring op en loer by die venster uit, en daar sien hy in die bleek maanlig vir Piet met die spelende honde om hom.
Pieter, my seun, wat maak jy? Dis nog nag! roep hy deur die venster.
Pa, ek het kom vuur maak vir die koffiewater. Fanie en Japie het die swartes gaan wakker maak om te gaan melk.
Maar, my seun, dis nog nag; die horlosie het net n rukkie ge-lede twee-uur geslaan.
Pa, maar die hoenders het dan al twee keer gekraai.
Nou toe, kom dan maar; ons kan vanoggend twee keer koffie drink.
Oom Fanie, wat nie wil laat merk hoe opgewonde hy self ook al is oor die Bosveldganery nie, sluip toe maar saggies uit die slaapkamer deur die donker huis en gaan sluit vir Piet die kom-buisdeur oop.
Mre, Pa. Mre, my seun!
Piet begin in die houtkas werskaf.
Kyk, gaan roep Fanie en Japie eers. As ons klaar koffie ge-drink het, kan die swartes begin melk. Dit is darem nou nog te vroeg; die koeie sal nie sak nie.
Ja, Pa, ek sal hardloop. En die outjie sit af kraal toe met die honde al voor hom en om hom. Hy haal Fanie en Jaap in voordat hulle nog die werkers wakker gemaak het en roep hulle terug. Toe die honde die ander twee base ook gewaar, is hulle skoon mal. Hulle besef nou ook dat daar regtig iets gaande is en blaf en gaan te kere dat dit n aardigheid is.
Toe die ou huisklok drie-uur slaan, sit vader en seuns lekker en koffie drink in die kombuis. Die honde geniet vanmre besondere voorregte, want al drie l in die kombuis, besig om hul voor-pootjies af te lek.
Seuns, begin oom Fanie, ons moet nou maar hier by die vuurtjie sit en weer so teen vieruur koffie maak; dan hou ek eers godsdiens en dan kan julle maar agter die werkers gaan vuur maak.
Pa kan nou maar solank vir ons jagstories vertel, pleit Piet, en die drie skuif nader.
Goed, willig oom Fanie in, maak eers die binnedeur toe so-dat ons Ma nie wakker maak nie.
Toe die horlosie vieruur slaan, is al vier verwonderd dat die tyd so gou omgegaan het. n Halfuur daarna is oom Fanie klaar met die huisgodsdiens en die seuns sit af buitehuis toe om die swart seuns wakker te skreeu. Op pad voor die waenhuis bly Fanie n oomblik staan.
Die ver gekraai van n haan by n Zoeloestroois en die ska-merige rooi aan die vlieswolkies dikant bo die somber swart ou berg, roer iets teers en dieps in sy siel.
In  die  buitehuis  woel  en  skreeu  Jaap  en  Piet  die  seuns  met
groot lawaai wakker. Fanie kyk so n slag daarheen en stap verby kraal toe. By die kraal leun hy oor die houthek. Voor hom l die klomp koeie. Hy ken hulle almal. Party l en herkou, ander l sommer. Toe hy daar verskyn, draai die meeste hul koppe hek se kant toe en kyk hom aan met groot, slap o, waarin die eindeloos-heid van die vlaktes sluimer. Fanie kry hulle opnuut lief en voel asof hy met hulle wil praat, asof hy hulle iets wil vra, asof hy moet ingaan en n paar van hulle streel. Ou Angelier, wat hy baie keer met koolblare voer, kry skielik n inval, lig haar half verstyfde lig-gaam op die agterbene op en kom orent met n diep sugsteun. Sy kyk weer n slag vraend na hom en kom aangestap, agterna ge-staar deur drie, vier ander wat nog te traag voel om self op te staan.
Op die werf raas n paar melkemmers wat nie alte versigtig ge-hanteer word nie, en Japie en Piet spring dikant uitdagend oor die kraalmuur tussen die klomp koeie in en begin hulle met groot la-waai op te jaag. Die mrestemming is gebreek en alles is in rep en roer. Fanie vergeet sy drome, druk die ou groot houthek krakend oop en stap die kraal in om te help melk. Sonop is die koeie al ver-gete in die veld, en twee spanne osse wei op die werf.
Pa, kan ons nie maar inspan nie, dan kan die osse mos maar n bietjie staan en wag, pleit die seuns by hul pa, waar hy en oom Gert sit en rook op die stoep, elkeen met n le koppie langs hom. Oom Gert kan nie help om te lag nie, maar oom Fanie probeer be-slis wees: Nee, my seuntjies, ons kan nie die diere so moor nie; daar l n lang skof voor. Help maar vir Ma die kleinigheidjies op die wa sit en kyk dat die Zoeloes hul komberse in n sak stop en eenkant op die wa vasbind.
En voordat jy baie kan tel, gee oom Fanie hulle elkeen n wer-kie en die drie draf net.
Ou hart, pleit tant Lenie vir die tweede keer uit die eetkamer, kom eet julle nou maar eers, dan kan ou Lea die goed nog was. Ja, ou vrou, ons kom nou-nou. En oom Fanie stap eers haas-tig waenhuis toe om nog die een en ander af te handel met die
werkers.
Uit die riemkas in die waenhuis haal hy Samboko se nuwe ka-kiejas en n goeie vyftienduimstuk roltabak vir ou Piesl.
Piesl; Sambok! Kom hierso!
Die swartes storm om te kom deel in die twee se geluk.
n Paar van hulle gryp die jas uit Samboko se hande en bewon-der en bevoel dit van alle kante. Samboko voel hom die held van die oomblik.
Toe ou Piesl sy stuk tabak kry, draai hy om en stap weg  nie-mand mag aan sy goed voel en ruik nie. Hy sny omtrent die helfte van die stuk af, prop dit vinnig in sy broeksak en stap met die orige stuk kombuis se kant toe. Voor die kombuis staan ou Lea met die werkers se pot pap en wag dat hulle dit moet kom neem.
Ubaba Fanie se twak is darem sommer die boonste. En die ou ruik met diep asemtrekke daaraan. In sy siel smag hy daarna dat ou Lea n stukkie moet vra, maar sy hou haar bot.
En jy sal nie n stukkie vat vir snuif nie? pleit hy. Doppies, sal jy jou roer! raas sy, en dit voel sommer so hol
in ou Piesl se hart. Voordat sy in die kombuis verdwyn, sal hy haar dan maar self n stuk gee en  en  darem maar iets s: D! En die pad na my hart hys nog korter as die stukkie twak.
Auk! sug Doppies hier vlakby.
Doppies, ek moor jou tot in moerland! En ou Piesl gryp na hom. Maar watwou! Doppies het dit verwag en bre die rieme waenhuis toe.
Lea maak van die kans gebruik en is die spens in. Daar mag hy haar nie volg nie, en sy beef asof n groot skrik haar oorkom het. Voor die kombuisdeur staan ou Piesl verle en half beteuterd die twee stukkies tabak op sy oop handpalm en meet met sy o: Die een is bietjie korter as die  s hy teen homself, en hy sleep sy ou groot plat voete oor die werf die bome in. Wanneer die sweep klap, sal hy terugkom om oom Fanie se laaste bevel te ontvang. Hy voel nie vanmre lus vir kos nie.
Tant Lenie slaag eindelik daarin om die hele gesin aan tafel te kry. Geeneen skyn egter honger te h nie. Die seuns proe-proe so aan die vleis en pap; n benoude gevoel op die maag neem hul eet-lus weg en hulle bre die kos vir hul honde. Oom Gert is al wat af en toe nog iets s.
Toe nou maar, seuns, verlos oom Faan die knapies, laat die swartes inspan. Die drie is uit by die deur met die honde se kos.
Die volgende vyftien, twintig minute word daar net n ge-skreeu en gebulk van osse gehoor: Keer vir Nonnoberg en Wieg-man dat hulle nie met ubaba Gert se osse deurmekaar raak nie, dreun Singida se stem. Heei! Gedja, slaan vir Kettang dat hy vo-rentoe kom 
En die klomp osse bondel hier half op die jukke. Singida en Fanie het die rieme.
Tru! Tru, julle! Gee n bietjie pad agter; julle druk die goed op die skeie! Japie, kom hier, krel, kom help n bietjie vang. Piet, gaan help jy by die ander wa; die drywer weet hoe trek die osse  n Mens kan sommer hoor wie se seun Fanie is!
Japie wil darem net laat hoor dat hy ook weet hoe die osse trek: Breker en Domkrag trek agter; Voorslag en Kwaaiman voor; Naainpens en Witvoet naasagter 
Fanie word nou haastig  hys baas hier en hy weet self hoe trek die osse: Voorslag, uit! Slaan hom daar agter! Kwaaiman, uit  En so spook dit totdat al veertien osse paar en paar langs mekaar staan, en toe begin die inspannery.
Oom Fanie sit met genoe alles van die stoep af en aanskou. Hy hou daarvan om sake n bietjie in sy seuns se hande te laat. Die werkers raak te verbouereerd as hy eers op hulle begin te skreeu.
Ou Lea sluip die kombuis uit met n laaste emmer en die drie-beenpotjie, wat ook nog op die wa moet kom. Toe sy voor oom Fanie verbygaan wa toe, is sy nog banger, loer so skelm osse se kant toe of sy nie dalk iemand daar gewaar nie. Waar is hy dan? Sou ubaba Fanie hom gestuur het?
Toe die twee spanne ingespan is en die drywers laat styf trek om die osse onder die ketting uit te kry, stap oom Fanie nader. Hy neem nou weer sake onder beheer: Lea, klim jy op die ander man se wa; hy ry voor. Japie, kom sit die leertjie hier reg dat jou ma kan opklim. Fanie en Piet, gaan kyk julle nog n slag of al die deure en vensters goed toe is. Piesl  Piesl, waar is jy? Kom hierso! Jy moet baie mooi oppas hier. Maak die hekke saans goed toe. Kyk dat die hoenders, perde en varke goed kos kry. Jy en Samboko moet in die rondaweltjie slaap. En ou Piesl, met hoed in die twee hande, hou maar aan met s: Ja, baba Fanie. Ja, dis
goed, baba Fanie. En hy loer net so met n halwe oog na die voorste wa: Waarom help hulle dan nie vir ou Lea daar op nie?
Agter in die wa se tentjie op n lekker houtkatel sit tant Lenie gemaklik, doodstil. Oom Fanie is nou aan die woord. Hy sit voor op die wa se kis, gee nog n paar bevele en skreeu vir die seuns om te kom opklim.
Pa, ons wil n ent vooruit hardloop met die honde. Ons sal by die witspruit opklim, pleit hulle.
Nou ja, toe. Singida, praat met die osse. Singida draai sy sweep los.
Jantjie, draai los die briek! Doppies, staan kat daar met die tou 
Die sweep klap, die wa kraak en daar gaan hulle. Tant Lenie leun agter uit en gee n laaste bevel: Piesl, jy moet tog nie die broeihenne vergeet nie, en onthou wat ek alles vir jou ges het om te doen!
Voor die waenhuis staan ou Piesl en Samboko die waens ag-terna staar. Daar op die voorste wa skraap ou Lea haar laaste bietjie moed bymekaar en waai met haar kopdoek vir die twee.
Samboko, gaan jy in die stal; sy waai net vir my 
En die ou gee Samboko n gevoelige stoot met die voet. Nee, as sy darem nog vir my waai, dan is alles nog pure knipmes. En die ou voel rond in sy baadjiesakke na sy pyp. Daar skiet weer n sonstraaltjie deur sy hart. Met pyp in die mond sit hy teen die waenhuismuur en agternakyk totdat die voorste wa agter die bult verdwyn.
