Hoofstuk 17
Naas, Stefaans, Windvol en die beeswagter rapporteer Maandag met dagbreek op Mooifontein; besorg saam met Mischa en sy span Kotie Davel se beeste sonder insident op Driedorings en is die middag weer op die plaas terug met hulle vee.
Die Dinsdag is Stefaans en Windvol al met hoenderkraai aan die melk en dis nog donker wanneer hulle die krale begin leegmaak. Al die los diere word op n hoop gekeer. Oom Dolf is self ook daar, gee raad, beland in die pad. Ook hy het steeds nie raad met Oemfaan nie. Barkus Hoon, wat hand en mond beloof het hy sal byderhand wees, het nog nie opgedaag nie.
Ons los die bul. Ons maak n ander plan met hom, bereik oom Dolf n slotsom. Wat s jy, Naas? Ons kan dit nie waag om hom uit te bring nie. Naas! Maar Naas is hier, daar en oral op die voorpunt met n trop verwarde beeste doenig, gee daar bevele en keer oral.
Ja nee, hy bly. Ek sal vir Ensburg s. Die bul kan nie  Hoi! Weg daar! Wie lol daar by die kraal? Cornelia! Ag, Here! Naas, kom help! kreet oom Dolf plotseling ontredderd.
Naas is voor besig om Mischa en die ander op te stel om te verhoed dat die balhorige beeste die bosse kies. Hy hoor oom Dolf roep, stuur Kordaat in daardie rigting en skrik toe hy Cornelia op Bordeaux sien  Cornelia wat ongenooid by die bedrywighede kom inmeng.
Dan merk hy met skok dat Oemfaan se hek losgemaak is. Sy hart spring in sy keel en hy skree angstig: Oemfaan!
Naas skree die waarskuwing, skree op oom Dolf om daar weg te kom. Ook hy is vir die oomblik bevange.
Naas skop sy hakke in Kordaat se sye. Hy sien Cornelia en haar perd naby die hek en skree n waarskuwing. Te laat. Hy is nie by magte om haar te keer nie, want sy het Bordeaux verby almal gekry en ry reg op die wit bul af. Sy lig sowaar die knip van die hek, laat die hek oopswaai.
Cornelia, kom weg daar! bulder oom Dolf en Naas tegelyk. Oemfaan bulk, laat sak sy kop en storm op die perd en sy ruiter af. Hy steek vir n kort oomblik vas, sien Cornelia in haar wit rok op die swart perd. Toe keer niks hom nie. Naas stuur Kordaat op die oop hek en op Cornelia af. Hy moet by die groot kraal se hek kom en hom toe kry voor Oemfaan ook daar deurkom! Maar die wit bul is vinniger as Kordaat. Hy het die oop hek gesien en storm kop omlaag, stert in die lug, uitdagend op die oop hek af. Hy huiwer tog vir n kort oomblik in die hek, onseker, bang vir die vryheid wat so plotseling gekom het; sien nog n keer die eerste bewegende voorwerp in sy gesigsveld.
En op daardie oomblik gewaar Naas vir Barkus.
Iemand gil: Pas op, Cornelia!
Maar dis te laat.
Oemfaan is op die meisiekind en haar verskrikte, steierende perd. Bordeaux runnik sy angs, steier so hoog op sy agterpote dat Cornelia uit die saal tuimel.
Die wit bul is op haar. Cornelia kom momenteel op die been, maar word gegaffel voor sy kan roer en toe sy val, is Oemfaan weer by, di keer met een skerp horing wat rakelings in haar liggaam boor.
Alles gebeur blitsvinnig. Naas kan nog nie uit sy koma van skok kom nie. Hy sit vasgenael op Kordaat. Hy hoor Stefaans skree. Di het iewers n gaffel bekom, kom daarmee behoedsaam nader.
Maar iemand anders kom uit die niet, spring voor die verwoede bul in en kry hom aan die horings beet, trek so die bul se aandag van die beseerde Cornelia af.
Eers toe kry Naas lewe. Hy spring van Kordaat af. Hy en Stefaans dra Cornelia na veiligheid. Barkus  want dis hy wat Oemfaan nou aan die horings het  klou met mag en mening. Die wit bul bulk. Hulle stoei. Barkus Hoon meet kragte met die bul  en dit lyk waarlik of hy die oorhand kry!
Dit is n titaniese geveg van bul teen man. Oemfaan bulk sy woede. Hy doen sy bes om ontslae te raak van die ding aan sy horings. Maar Barkus Hoon kry dit reg om hom tydelik vas te hou. Hy beur selfs Oemfaan se kop skeef, probeer die wit bul se nek te breek. Vir n oomblik lyk dit of hy gaan slaag, maar selfs Barkus se buitengewone krag is nie opgewasse teen Oemfaan nie. En n oomblik later weergalm die uitgerekte noodlotskreet die oggend aan skerwe. Barkus word soos n ou vel die lug in geslinger en Oemfaan sak op sy knie om sy nuwe slagoffer met sy horings te vermorsel.
Naas en Stefaans het Cornelia na veiligheid gebring. Teen die tyd dat Stefaans en Windvol die wit bul van sy slagoffer verdryf het, is Barkus Hoon n bebloede massa  genadiglik dood.
Naas dra Cornelia huis toe. Hy gaan l haar op tant Maria se hemelbed neer. Tant Maria is dadelik by. Sy vee Cornelia se gesig af, trek haar klere effens reg. Toe skeur sy n laken in repe om haar kind se wonde te verbind.
Cornelia is so bleek soos n lyk; toon skaars n beduidenis van asemhaling.
Ag, wat help dit tog! My kjind is klaar dood! weeklaag tant Maria.
Dan hoor hulle n enkele geweerskoot uit die beeskraal opklink.
Naas storm dadelik terug  en vind n toneel van chaos. Koeie en kalwers bulk, hardloop rond. Beeste het die bloedreuk gekry; maal bloeddorstig. Mense skree, klap swepe en jaag rond om die paniekbevange beeste uit die ruigtes en op pad Driedorings toe te kry.
Barkus? Stefaans, waar is hy? vra Naas toe hy by Stefaans uitkom.
Ons het hom by die nonnie se kamer loop neersit, die ounooi het so ges. Maar hys weg  Ek het sy oge toegemaak, s Stefaans.
Stefaans, kry al die beeste bymekaar en kry hulle Driedorings toe. Ek sal nie saamgaan nie. Ek  ek het nou ander werk, beveel Naas. Die nonnie  Cornelia  lyk my, is ook dood.
Naas kies die korste pad deur die bos na oom Staag Lemier toe. Daar vertel hy aan oom Staag van Barkus se dood en van Cornelia.
Naasman, ek weet al. Maar Cornelia is nie dood nie. Gaan huis toe. S vir Marja-hulle ek tref voorbereidings. Ek is op pad. Ry jy en kom by die huis. Hulle het jou daar baie nodig.
Op Doornrug kry Naas tant Maria in die kombuis. Cornelia het bygekom.
Maar, Naas, sy bly roep na Kotie. En dan  dan  Dit is of sy dan weer glad n ander mens word. O, my kjind ! Tant Maria bars in onbeheerbare snikke uit.
Tante, ek gaan vir Kotie haal en vir tant Lenie. Hulle moet kom help, s Naas en Kordaat moet weer die myle kleinkry Mooifontein toe.
Santie kom ook saam; ook Hannie, want sy kan nie alleen by die huis bly nie. Toe Naas terug is op Doornrug, het oom Staag nog nie sy opwagting gemaak nie. En Cornelia se lewe hang aan n baie dun draadjie. Kotie, maar veral Santie, is onafgebroke by haar. Soms lyk dit of sy hulle herken. Maar dan is haar lewe net maar n wasempie en kom dit soms steeds voor of twee verskillende persoonlikhede veg oor haar tot die dood toe uitgemergelde gestel.
Oom Staag kom eers n dag later op Doornrug aan. Hy kom nie alleen nie. Saam met hom is n lang, swygsame man met indringende o en n klein skraal vroutjie wat inkennig na die vloer bly kyk en skaars prewel toe sy aan hulle voorgestel word.
Dorie en Gert van Nieuwenhuizen, twee sonderlinge mense, blyk dit gou, word meteen deel van Doornrug se huishouding; is daar, maar tog op hulle eie. Want Dorie van Nieuwenhuizen beweeg soos n skaduwee deur die huis, verskonend, maar tog met n eienaardige, voelbare teenwoordigheid om haar.
Mens kry glad en geheel en al geen vat aan haar nie, kla tant Lenie. Tog is sy gedurig naby Cornelia, lastig, altyd aanwesig.
Dorie se man Gert, daarenteen, dwaal wyd op die werf, op die plaas rond. Dis of hy iets soek  niemand weet wat nie. Mens kry niks in sy o gelees nie, kla tant Maria. En oom Staag wat hulle na Doornrug gebring het, het hulle onskynlik op die huismense afgelaai. Want hy is dadelik daar weg en niemand weet waarheen nie.
Oom Staag keer byna n week later eers terug. En nou is hy die ene bedrywigheid, die ene haas. Hy versamel hulle almal in die ruim voorkamer. Tant Maria wil Cornelia nie alleen laat nie, maar oom Staag dring aan sy moet by wees. Santie en Hannie kan Cornelia geselskap hou, s hy. Ja, oom Danie moet ook kom. En julle moet al die deure sluit. Net die deur na Cornelia toe moet oop bly.
Oom Staag is dadelik aan die woord. Mense, dit is nie so n gele tyd nie, maar ek moes Gert en Dorie van Nieuwenhuizen ver loop haal om iets te doen wat in die hele land net hulle kan doen. En nou is hulle hier. Ja, wat ek gaan s, gaan nie so mooi wees nie. Maar ek moet dit s, want die lug moet eers skoon kom. Maar eers wil ek h oom Danie moet vir ons n gebed doen, en ons ammal hier en ammal van die huis opdra aan die Meester. En dan wil ek die deure toe, elke deur gesluit h, Naas en Dolf.
Vir Naas is oom Staag se optrede vreemd. Hy sien Kotie en tant Lenie is net so uit die veld geslaan. Hy sien die onrus, byna die angs op oom Dolf en tant Maria se gesigte. Oom Danie doen n ernstige gebed. Sy eerbiedige, krakerige ou stem vibreer deur die vertrek.
Toe praat oom Staag weer.
Maria en Dolf, dis n oordeel. Ja, vanaand word julle geweeg soos op n skaal. Wat ek nou moet s, is nie vir my lekker om te s nie. Maar ek moet dit s omdat julle in julle sondigheid volhard het en omdat julle baie lank n wrok gekoester het teen die mense wat die naaste aan julle staan en toe bose magte ingeroep het om namens julle wraak te neem.
Tant Maria skuif rond op haar stoel. Dit kom voor sy wil protesteer. Maar dan sluit haar lippe.
Ja, die onverstaanbare dinge wat so lank al daar by Kotie en Lenie op Mooifontein aangegaan het, het julle mos gebeveel. Julle het die hulp van die Duiwel se dienaars ingeroep om die rus daar te verstoor omdat julle geglo het julle is veronreg ten voordeel van Lenie en oorle Bertus Davel. Is dit nie so nie?
Ek  ons weet nie van so iets nie. Dis praatjies, s tant Maria gou.
En ek glo jou, want ek mag nie oordeel nie. Maar die strenge Regter wat alles sien en alles weet, kan Hy jou ook glo, of maak jy nou van n alledaagse misdaad n ewige misdaad? Oom Staag kyk priemend na die twee oumense voor hom.
Ek was van die begin af daarteen, erken oom Dolf. Ek het vir Maria ges dis duiwelse dinge en dit betaam ons nie as Christelinge 
Nee, Dolf, j het na Mtwetwe toe gegaan, beskuldig tant Maria nou.
Dus, julle erken julle aandadigheid? besluit oom Staag. Ons oortree almal. Dit is goed om ons skulde te bely, dan kan ons ons skuldenaars vergewe.
Ek is bitter jammer, Lena en Kotie. Ek  ek sterf van skaamte dat ek my so deur die ou Satang laat verlei het. Maar ons het lankal bitter berou. Ons  ons wil graag dubbel en dwars vergoed  Maar die dinge van die afgelope tyd  Tant Maria stamel tot swye.
Ja, dit is so, Lenie, jy kan ons maar haat hieroor. Ek verdien dit. Oom Dolf gee tant Maria skaars kans om klaar te praat. Ek vra om vergiffenis, ek en Maria.
Tant Lenie lag en staan op. Dolf en Maria, al wat ek van julle verwag, is dat ek toegelaat moet word om julle lief te h en dat julle my lief sal h, my en my kinders.
Mense, ek wens dit was so maklik. Die Here vergewe. Maar vir sekere misdade moet ons duur betaal, ons en ook ons kinders. Die Bybel waarsku ons uitdruklik teen di dinge, want dit is omdat die Vader weet hoe seer sy kinders kan kry, gaan oom Staag voort.
En dis wat nou met julle gebeur, Dolf en Maria. Julle moet nou die duur prys betaal van julle ongehoorsaamheid, deur vir die Duiwel woonplek in julle huis te gee.
Oom Staag swyg n oomblik en vra dan: Het julle dan nie geweet Cornelia het voortgegaan waar julle opgehou het nie? Sy het haar verpand aan magte van wraak en haat wat veral haar moes vernietig. Ja, Dolf, julle kind het julle voorbeeld gevolg. Wat sy alles gedoen het, wat alles gedoen is deur die Duiwel en sy dissipels, wil ek nie nou hier opnoem nie. Maar julle weet. As julle nie geweet het nie, weet julle nou. Want die vaders se misdade moet die kinders besoek.
Oom Staag sug. Daarom is ek vandag hier en ons almal hier. Want ons moet kyk wat ons vir Cornelia kan doen om haar, met die hulp van die Here, uit die kloue van die Duiwel self te verlos.
Maar ek verstaan nie  begin tant Maria.
Ek het Dorie van Nieuwenhuizen gebring om te kom help. Die Here het haar gesen met n wonderlike gawe en haar ook, met Sy bystand, mag oor die Duiwel gegee. Sonder haar sou ons niks vir julle kind kon doen nie. Daarom vra ek julle om van nou af doodstil te sit. Niemand moet enigiets doen as Gert hom nie vra om dit te doen nie. Hou die deure gesluit en laat niemand van buite af inkom nie. Ek gaan nou na Cornelia toe. Sy gaan my nou baie nodig kry, s oom Staag en staan op.
Gert van Nieuwenhuizen het ook opgestaan. Mense ek gaan nou vir ons uit die Bybel voorlees sodat julle sal verstaan. Want wat ons nou doen, glo ons, doen ons in opdrag van die Meester. Kan iemand vir my n Bybel bring?
Tant Maria bring oom Dolf se Hollandse Bybel. Naas sit eenkant in die verste hoek. Hy is bang met die opgewondenheid van iemand wat iets groot van aangesig tot aangesig verwag, al weet hy nie wat om te verwag nie. Dorie van Nieuwenhuizen het in n diep leunstoel plaasgeneem. Naas merk nou sy sit met geslote o.
Gert van Nieuwenhuizen blaai deur die swaar Bybel. Dan vind hy waarna hy op soek is. Ons lees vanaf Lukas agt vers ses-en-twintig, s Gert en begin lees:
En hulle het geseil na die land van die Gadareners wat reg anderkant Galilea is. En toe Hy aan wal uitklim, kom n sekere man uit die stad Hom tegemoet wat vir n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere aangehad het nie. Hy het ook nie in n huis gewoon nie, maar tussen die grafte.
En toe hy Jesus sien, skreeu hy en val voor hom neer en s met n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die Allerhoogste God. Ek bid U, moet my nie pynig nie.
Want Hy het aan die onreine gees bevel gegee om uit die man uit te gaan. Want baie keer het hy hom saamgesleep, en hulle het hom gebind met kettings en voetboeie om oor hom wag te hou. Maar hy het die boeie uitmekaargeruk en die Duiwel het hom in die woestyne gedrywe.
Daarop vra Jesus hom en s: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio, want baie duiwels het in hom gevaar.
En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie nou beveel om in die onderwreld te vaar nie.
En daar het n groot trop varke op die berg gewei. Toe smeek hulle Hom dat Hy hulle sal toelaat om in die varke te vaar. En Hy het hulle toegelaat.
Daarop gaan die duiwels uit die man uit en vaar in die varke in, en die trop het van die krans af in die see gestorm en verdrink.
Gert van Nieuwenhuizen kyk op na die strak gesigte om hom, maak sy keel skoon en vervolg dan: Dan lees ons ook uit Markus nege vers sewentien en verder:
En toe Hy by die dissipels kom, sien Hy n groot menigte om hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redetwis.
En dadelik toe die hele skare Hom sien, was hulle baie verbaas en het na Hom gehardloop en Hom gegroet.
Daarop vra Hy die skrifgeleerdes: Waarom redetwis julle met hulle?
En een uit die skare antwoord en s: Meester, ek het my seun wat n stomme gees het, na U gebring;
En waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom; en hy skuim in die mond, en hy kners met sy tande en hy word styf; en ek het U dissipels gevra om hom uit te dryf en hulle kon nie.
Toe, antwoord Hy hulle en s: O, ongelowige geslag, hoe lank sal ek by julle wees, hoe lank sal ek julle verdra. Bring hom na My toe.
En hulle bring hom na Hom toe; en toe Hy hom sien, laat die gees hom dadelik stuiptrekkings kry, en hy val op die grond neer en rol rond met skuim om die mond.
Daarop vra Hy sy vader: Hoe lank is dit dat dit hom oorgekom het? en hy s: Van sy kindsdae af.
En dikwels het hy hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.
En Jesus s vir hom: Wat dit betref  as jy kan glo alle dinge is moontlik vir die een wat glo
En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en s: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! En toe Jesus sien dat n skare bymekaar stroom, het hy die onreine gees bestraf en vir hom ges: Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.
En nadat hy geskreeu het en hom baie stuiptrekkings laat kry het, het hy uitgegaan. En die seun het soos n dooie geword, sodat baie ges het: Hy is dood.
Maar Jesus het hom by die hand gegryp en opgerig; en hy het opgestaan.
En toe Hy in die huis kom, vra Sy dissipels afsonderlik: Waarom kon ons hom nie uitdrywe nie?
En hy s vir hulle Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie.
Naas wat aandagtig geluister het, het nou ook waargeneem dat Dorie van Nieuwenhuizen in n diep slaap geval het.
Gert van Nieuwenhuizen praat nou: Ons kan met mekaar gesels, mense, maar sag. Soos julle reeds kan sien, my vrou is reeds in n beswyming. Ek vra julle net om kalm te bly. Wat ook al gebeur, bly kalm; doen net wat ek s en moet asseblief nie aan haar raak nie. Wat nou gaan plaasvind, is eintlik gevaarlik vir almal hier teenwoordig, maar veral vir my vrou. Vir haar is dit doodsgevaarlik. Dit is erger, want sy moet toelaat dat die duiwel wat in di huis sy intrek geneem het en hier woon, van haar liggaam besit neem. Daarom vra ek julle almal se samewerking.
Iets anders gebeur nou met Dorie van Nieuwenhuizen. Naas, wat sy o onafgebroke op haar het, sien aanvanklik hoe haar hande effens begin ruk. Toe ruk haar arms buite beheer. Haar hele liggaam begin hewig bewe en sweetdruppels vorm op haar voorkop; begin voortjies langs haar slape te vorm.
Toe maak Dorie haar mond oop en praat. Naas kyk onwillekeurig oral in die vertrek, soek, want dit is nie Dorie se stem nie! n Diep, swaar manstem praat uit haar. Julle moet standvastig wees, s die stem. Hulle is nou hier en hulle is sterk, baie sterk.
Almal in die voorkamer sit gespanne. Al is dit helder oordag, het n skemerdonkerte nou oor die vertrek geval en heers n atmosfeer van intense afwagting. Dorie van Nieuwenhuizen se lyf begin weer ruk. Haar mond werk. Toe is dit of sy met iets, met iemand veg. Vir Naas lyk dit soos Barkus Hoon se aanvalle.
En toe, opeens, skeur n skerp gil uit tant Maria-hulle se slaapkamer. n ontstelde Hannie roep in die gang af: Kom help! Cornelia vermoor Santie! Kom help! Gou!
Kotie het reeds opgespring, maar Gert van Nieuwenhuizen vermaan: Sit net doodstil, mense. Toe word dit weer stil in tant Maria se kamer, behalwe vir die gebroke gesnik van n vrou en oom Staag se bedaarde, gerusstellende stem.
Nou is dit asof daar n teenwoordigheid in die voorkamer is, bose en hatige mag wat oorheers en beknel. Naas voel hoe die bedreiging om hulle toesak en word bang. Hy wil, moet hom verset 
Iets soos n sug gaan deur die vertrek. Toe kom Dorie van Nieuwenhuizen langsaam orent uit haar diep leunstoel. Sy staan soos uit n droom op, kyk van die een na die ander, ook na Naas.
Hy skrik. Hy wil waarsku. Dis nie Dorie wat daar opgestaan het nie. Dit is iemand anders wat na hom gekyk het en hy weet opeens al die nydigheid, al die boosheid in die vertrek kom uit die teenwoordigheid in Dorie se liggaam. Die stil, skugter vroutjie van weleer se o is vol haat. Daar is moord in die blik wat sy hom gewerp het.
Toe kies Dorie blitsvinnig, onverwags, die oop deur na tant Maria se slaapkamer. Gert van Nieuwenhuizen is vinnig by en probeer haar voorkeer. Die tenger vroutjie pluk die grote Gert uit haar pad uit. Hy steier, maar kry dit tog reg om haar pad te bly versper.
En toe val Dorie vir Gert soos n besetene aan. Sy kry hom aan die keel beet. Naas sien hoe Gert terugsteier; verbouereerd met albei hande trag om haar greep te breek. Sy verwurg hom. Die grote man word blou in die gesig; stry wild teen die hande wat die asem uit hom pers, maar hy is magteloos voor sy klein vroutjie se aanslag.
Naas besef iemand moet Gert help. Die man se o peul al uit. Hy is potblou. Hy gaan doodgemaak word, hier voor almal. Gert se vermaning om onbetrokke te bly heeltemal vergete, vlieg hy op en lig sy hande om Dorie aan die skouers beet te kry. Nog voordat hy aan haar kan raak, ruk sy om. Naas sien haar o, geel van woede. Hy sien die vreemde teenwoordigheid in haar, hatig, boos, vuil, angswekkend  en hy retireer, want hy is opeens bang.
Dorie kry hom tog beet. Sy lig hom van sy voete en hy beland met n hik op haar stoel. Daar kom staan sy oor hom en sy begluur hom, haar hande stewig op die stoel se leunings. Toe kry sy hom aan die skouers beet. Sy lig hom uit die stoel, stamp hom twee, drie keer op die stoel terug. En sy gluur hom aan, moordende haat in haar vlammende geel o.
Gaan weg. Jy weet mos jy is nie welkom hier nie. Gaan weg en kom nooit weer terug nie. Toe, in die naam van ons Here, loop, lp nou. Verlaat hierdie huis vir altyd en gaan na waar jy behoort. Jy weet mos waar jy hoort, beveel Gert van Nieuwenhuizen in n dringende, outoritre stem.
Dit voel of die bose, haatlike teenwoordigheid nog in die voorkamer vertoef; traag is om weg te gaan. Maar dan is dit of die vertrek langsaam leeg word, ruimer word. Dit voel of daar vars, gesonde lug in die voorkamer inkom. En die beknelling wat soos n staalband om Naas se hart gesluit was, verlaat hom nou.
Dorie staan nog in die middel van die vertrek. Sy staan daar, bedremmeld en verslae en dit lyk of sy nie weet waar sy is nie. Gert gaan na haar en sy laat haar gedwe na Naas se le stoel toe lei waar sy uitgeput plaasneem. Sy sit daar minute lank met geslote o. Toe ontsnap n lang sug haar. Haar ooglede fladder en gaan oop. Verwonderd kyk sy om haar, glimlag dan en vra: Het dit goed afgeloop?
Net-net. Dank aan die goeie Vader, dit het goed afgeloop, my hart, s Gert. Dan draai hy na Kotie: Ou seun, jy kan nou na haar toe gaan. Alles is verby en alles is nou weer reg. Hierdie huis, die mense van hierdie huis, is verlos. Die dogter is verlos. Julle kan nou na haar toe gaan. Sy wil julle daar by haar h.
In tant Maria se slaapkamer gaan sit Kotie op die bed langs Cornelia. Hy plaas n arm om haar skouers en Cornelia nestel haar teen hom aan. Dit is n Cornelia wat Naas haas nie vantevore geken het nie. Haar gesig is sag. Haar o vonkel n vreugde en n geluk wat n sterfling byna nie gegun word nie. En sy het net o en ore vir n grysgeworde Kotie Davel wat onafgebroke sag met haar praat.
Dit is asof Cornelia en ook Kotie nie bewus van die ander in die vertrek is nie. Naas sien Santie effens eenkant, effens afgeskeep staan en kry haar sommer baie jammer.
Maar toe kyk Cornelia om haar en soek met haar o tot haar blik op Santie val. Sy wink die meisie met n kopknik na haar en Kotie toe. Kotie moet vir Santie plek maak by hulle op die hemelbed. Cornelia bring Kotie en Santie se hande bymekaar en plaas dan haar regterhand oor hulle hande. Toe s sy sag, sodat Naas skaars kan hoor:
Kotie en Santie, julle sal gelukkig wees, want die Here sal julle liefde sen.
Na di woorde val Cornelia terug op haar kussing. Haar hand kleef nog n kort oomblik aan hulle saamgevoegde hande. Toe val haar hand weg, gly af tot op die bed. Hulle gewaar nie eens toe sy haar lewensasem uitblaas nie, want die glimlag is nog op haar gesig.
Sy is dood! Dolf, ons kind is dan dood! weeklaag tant Maria opeens.
Nee, Maria, sy rus, s oom Staag. Sy sal nou kan rus; salig rus tot die Opstandingsdag en dit is goed so. Hy staan op en sluit Cornelia se o.
Cornelia word langs Barkus Hoon in die familiekerkhof begrawe. Ook konstabel Dorland woon die begrafnis by. Hy is so groot, so oorheersend groot, maar lyk verlore daar tussen die klein groepie begrafnisgangers.
Dan was hy al die tyd hier, s Dorland by die huis na die begrafnis. Ai, dan was hy al die tyd hier. Ek het al die tyd n lasbrief by my gehad, ook vir die dinge wat die gereg toeka in Johannesburg teen hom gehad het. Hy was n groot misdadiger.
Ja, dis nou tot daarnatoe, s oom Dolf. Hy sal nie meer hier op aarde tot verantwoording geroep word nie en in die hemel sal die arme man n genadige Regter h.
En ons sal hom onthou vir wat hy vir ons dogtertjie probeer doen het. Ons sal hom mooi onthou, s tant Maria in n stem wat breek.
n Week later keer tant Maria Naas voor as hy laatmiddag by die agterdeur van die lande af inkom. Naas, jy moet kom. Oom Dolf en ek wil met jou praat.
Oom Dolf wag reeds in die voorkamer. Die lamp is aangesteek. Hy het sy baadjie aan en sy leesbril op. Hy kyk nou oor sy leesbril na Naas wat skoorvoetend die groot vertrek binnekom. Maar dit is tant Maria wat eerste praat.
Naas, oom Dolf en ek het diep gedink en lank gepraat. Nou het ons besluit om jou as ons kind aan te neem en jou ons erfgenaam te maak. Ja, om jou erfgenaam van Doornrug te maak. Tant Maria kyk hom met deernis in die o, wend dan haar blik af en word stil. Oom Dolf neem die gesprek oor:
Ja, Naas, ons is oud en daar is nou, met Cornelia se dood, nie meer n vooruitsig vir ons nie. Daarom het jou tant Maria en ek besluit om jou die baas van Doornrug te maak as ons die dag die kop neerl. Soos dit is, kan ek nie meer doen as raadgee en n plan hier en daar aan die hand doen nie. Jy is nou die boer en ook ons sorg. Is dit goed so vir jou?
Naas kan nie praat nie. Hy is te oorstelp. Toe hy eindelik sy stem terug het en woorde gekry het om iets te s, s hy: Voor ek ja kan s en dankie kan s, oom Dolf en tant Maria, moet ek aan Tante-hulle s ek gaan een van die dae met Hannie trou. Ek weet nog nie wanneer nie, maar Hannie en ek is lief vir mekaar en ons gaan eendag trou. As dit Oom-hulle goed geval, kan ek net s hoe  hoe  hoe oorstelp ek is. Ek  ek sal  Ek en Hannie sal goed na Tante-hulle kyk en goed sorg en 
Naas kom nie verder nie. Daar is nie meer woorde nie. Woorde het onnodig geword.
Sommer die volgende dag ry hulle oor Mooifontein toe om die nuus te gaan bring en die verlowing te gaan vier. Want skielik, baie skielik, was dit by tant Maria n behoefte van die hart dat die heugenis by die droefenis in hulle lewenskelk vermeng word.
Want jy is nou ons seun, Naas, en Hannie sal ons dogter wees. En as die liewe Heer dit wil, sal oom Dolf en ek tog nog ons kleinkinders sien voor ook ons amentyd kom.
VAKANSIEDAE IN DIE MIDDEL VAN DIE WEEK
Dit was in die dae, twintig, vyf-en-twintig jaar gelede, toe seun-tjies nog in naghempies geslaap en die oumense daar teen vieruur in die oggend die eerste koppie koffie geniet het. Ystervarke, jak-kalse, wildekatte en ander ongedierte was toe nog volop, en elke boer het met die oog hierop vyf tot tien honde aangehou.
Op n aand gaan Fanie, Japie, Piet en drie swart seuns jakkalse jag met die honde en omtrent twaalfuur in die nag kom hulle eers in die bed. Fanie en Japie kruip sommer so met hul klere in die bed, maar Piet het juis twee dae gelede n mooi nuwe ligrooi flen-nelet-naghemp gekry en wil vir geen geld sonder hom slaap nie.
Soos te begrype is, verslaap hulle die oggend, en wanneer oom Fanie, hul pa, met n kwaai stem na hulle roep, is daar nie nog tyd om aan te trek of te was nie. Halsoorkop spring die drie uit die bed en nael eetkamer toe, want die een wat laat kom vir godsdiens, kry pak. Piet druk sy broek onder sy arm vas met die plan om dit on-der die gebed aan te trek. (Die naghemp word sommer saans oor die gewone hemp aangetrek.)
Die eetkamer is groot, en die een kers wat brand, staan by oom Fanie; hy kan dus nie sien of die seuns al hul klere aan het nie. Eers n die slotgebed moet die seuns hom kom mre s met n soen op sy voorkop, en dan is sy gewone vraag: Mre, my seun. Het jy al gewas?
Gelukkig trek hy nooit hul antwoorde in twyfel nie! Nog min-der vermoed hy ooit dat hulle soms nog onder die gebed broek aantrek!
Hy is net besig om een van die lang hoofstukke uit Jeremia te lees  hy lees altyd n hoofstuk enduit  toe een van die swart seuns van die hoenderhok se kant af met n half hees stem skreeu: Fanie, Japie, Piet, die groot wildekat is by die slagyster.
Oom Fanie hoor dit ook en kyk net n slag so oor sy bril na die seuns se kant asof hy wil s: Knapies, roer net, dan kry julle.
Die drie haal naderhand skaars asem van ongeduldigheid dat hy moet klaarkry met lees, sodat hulle kan afsit slagyster toe. Toe die ou swaar familiebybel toeklap, kniel die drie by een stoel. Hulle kan dit nie meer hou nie, hulle moet vir mekaar fluister. Japie is sommer daar en dan klaar om vir ses albasters en twee beesdolosse te wed dat sy hond Kits die wildekat eerste sal pak. Fanie erg hom sommer en druk die twee eintlik so weg met sy kop toe hy s: Sies, ou Kits! Ek wed jou vir my nuwe slee (n perde-kakebeen) dat Oortjies die kat in die grond sal frommel voordat jul honde nog n blaf kan gee.
Piet pak die grootprater sommer met albei die hande aan die skouer en s byna hardop: Aag, Kits en Oortjies sal nog nie twee spore getrap het nie dan swaai Haspaai daardie kat met slagyster en al dat daar niks oorbly nie  nie eens n kolletjie nie.
Fanie word woedend en mik net om Piet te klap, toe laasge-noemde aanbied dat hy maar twee nagte in sy nuwe flennelet-nag-hemp kan slaap.
Gelukkig vir die seuns het oom Fanie n swaar stem, en hy bid daarby nog hard, anders sou hy hulle hoor.
Met al die gedoente vergeet Piet skoon om sy broek aan te trek, en eers as sy pa al naby die end van die gebed kom, by die gedeel-te waar hy vir die herder en leraar van die gemynte bid, val dit hom by. Van pure opgewondenheid trap die outjie meer as ge-woonlik rond, en stamp selfs teen die tafel, en wanneer sy pa op-kyk van sy stoel af sien hy hom regop staan. Piet moet dan by oom Fanie se stoel kom kniel  sy broekie is nog nie aan nie!
Onderwyl hy verder bid en Piet die warm asem teen sy kop voel, maak die outjie kliphard planne. Hy weet dat as sy pa amen s, Japie en Fanie sal storm om mre te s, ten einde so gou as moontlik by die deur uit te kom. In die gedrang sal hy dan wegkoes die donker gang in en gou sy broek aantrek.
Maar moenie glo nie! Voordat sy vader nog amen s, sluit sy sterk hand om die klein armpie. As straf wil hy hom agterhou as Fanie en Japie uithardloop slagyster toe; hy weet nog nie eens van die naghemp nie.
Daardie oggend kry Piet n paar baie seer houe met die vel-skoen  n nommer tien voet se skoen  op sy kaal boudjies. En die ergste van alles is dat oom Fanie daarna soggens fyner oplet.
Na die pak stuur hy Piet kraal toe om te gaan help kalwers uit-jaag. Op n drafstappie en huil-huil kom hy daar aan. Hy huil nie juis oor die pak nie, maar wel omdat hy nie met sy hond, Haspaai, aan die geveg met die kat kon deelneem nie.
Toe die Zoeloeseuns hom hoor huil, weet hulle sommer: Ubaba Fanie smeer die sambok vandag vet, en hulle melk asof hul lewe daarvan afhang. Destyds het n boer sy plaaswerkers met die sambok regeer  die dae toe die Zoeloes nog soos voorslae was.
Wanneer Piet so n rukkie later Fanie en Japie hoor aankom, word hy sommer baie verdrietig en snik eens so hard. Die outjies weet dat hy deurgeloop het en wil eers kom troos. Hulle rep dan ook niks van die petalje met die kat nie. Ten einde die ou broertjie te troos, bied Japie hom vier van sy beste dolosse aan.
Jy kan self vir jou vier uitsoek.
Fanie bied daarna aan om hom sy enigste sakmes vir n week te leen. Maar in plaas van getroos te voel, begin hy nou eers hard snik, want Japie en Fanie laat hom al meer en meer voel dat hy nou regtig n groot onreg gely het!
Die drietjies staan nog so met die koppe bymekaar toe oom Fanie oor die kraalmuur kyk en hulle daar sien. Hy kry innig jam-mer en voordat die drie nog kan wegkoes, s hy: Julle ou drietjies hoef nie vandag te help skoffel nie; julle kan maar gaan speel.
Die nuus is so onverwags, so reg in hul kraal dat hulle dit op die oomblik skaars kan glo. Dan spring Japie, altyd die voorbok, so op in die lug en skreeu: Sinkwaas, jou Jakkalaas! en loop n rooibont, jaaroud-verskalf wat daar naby staan storm en gryp haar aan die stert. Sy spring weg en ruk hom dat sy voete so hier en daar vore deur die los mis skop, maar hy hou. En toe sy die draai daar onder in die kraal maak en koersvat na Faan en Piet toe, gee hulle pad voor.
Ondertussen moet die werkers wat besig is met melk, al ver-skeie kere skree: Jaag uit! Maar met al die gedoente daar in die kalwerhok hoor die seuns hulle nie.
Een van die melkboere, ou Piesl, kom toe aangestap met sy dopemmertjie en spantou om met hulle te raas. Juis toe kom Japie met die verskalf in volle vaart na die hek toe. Toe hulle naby die hek kom, los hy haar stert, maar in die vaart slinger sy hom teen die klipmuur dat hy so hik. Die kalf is deur die hek en anderkant teen ou Piesl vas dat hy so skuif deur die mis. Jy hoor net emmer rol en die ou Zoeloe se benoude jou dwiebel, en toe pwoe-pwoe, soos die ou mis en grond uitspoeg.
Voordat hy egter by die hek kan kom, sit die drie al bo-op die anderkantse kraalmuur, net klaar om anderkant toe af te spring. Oom Fanie het die ou plaaswerkers die reg gegee om die seuns te piets  net so n bietjie skrik te maak  as hulle te astrant word. Daar bo van die muur af sien die drie hoe hul pa agter die ander muur koes en skud soos hy lag.
Hulle bring ou Piesl gou tot bedaring deur hom n stuk tabak te beloof. Fanie is sy pa se tabakkerwer en maak altyd van die ge-leentheid gebruik om vir die werkers n stukkie te steel. Daarmee koop die drie dan gewoonlik die plaaswerkers om om hulle nie te verklap by hul pa wanneer hulle een of ander stout streek in die beeskraal aangevang het nie.
Die drie besluit toe om die heeldag teen mekaar vols te skiet met hulle rekkers. Daar is trouens n gedurige kompetisie aan tus-sen hulle. Die volsoorte word in twee groot afdelings verdeel: die M.S. en die S.S.. Die M.S. is die maklike soort en die S.S. die swaar soort. Onder eersgenoemde soort val vols soos die volgende: mossies, vinke, pietpiejolle, kersogies en bontrok-kiesmuisvols, terwyl swaar soorte beskou word as kwartels, sporpors, speekhoute en boskoelies. Kwikstertjies en swaeltjies en bokmakieries is hul sogenoemde Royal game; niemand mog hulle skiet nie. Hulle doop baie vols waarvan hulle die name nie weet nie, self. Meestal is die naam n nabootsing van sy kleur, ge-luid of n ander buitengewone eienskap. Fluitnabootsende name is byvoorbeeld fieterjoel, e-we en we (Engelse klanke). Die koekoek noem hulle dermtrekkertjie, omdat hy dikwels die mossies jaag, sy koppie so by hul stertjies, en dan lyk dit vir hulle of hy die mossies se dermpies wil uittrek.
Elkeen hou vir hom n sakboekie aan waarin al die vols wat
hy skiet, opgeteken word. Agter elke vol se naam kom dan in hakies M.S. of S.S. al na die geval mag wees. Elke vol wat een van die drie skiet, word eers onder vier o gebring. Die twee-de persoon moet dan kamma eers lykskouing hou om uit te vind of die vol nie siek was of n phu-phu (jong vol) is nie. Van die vlerkvere word uitgetrek, en as die puntjies nog effens nat en bloe-derig is, is die uitspraak: Sies, dis dan n arme ou phu-phu; jy mag hom nie tel nie.
Net na die oggendete is hulle toe eers spruit toe om die jol-sakke (bladsakkies) vol mooi, ronde skietklippies te maak. Die een gee nou skaars die ander kans om n sin voluit te praat. Daar moet besluit word op watter soort vol elkeen hom die dag spe-siaal gaan toel. Hulle gaan in die berg skiet.
Japie se stem is maar weer die hardste: Ek wil vandag net met my eerste tien klippe twee boskoelies skiet  n mannetjie en n wyfie.
Haikna, gee Fanie antwoord, en hy draf so vooruit om eer-ste by die klippe te kom.
Ek skiet vandag boskoelies. Sommer ook met die eerste skoot moet sy kop waai, skoon van sy lyf af. Ek skiet net mannetjies  die wyfies moet mos eiertjies l.
Japie laat hom nie beledig oor n wyfievol nie.
Aag! Hoe kan die wyfietjies eiers l as al die mannetjies dood is?
Nou waarom nie? wil Fanie weet. Wat het die mannetjies daarmee te doen?
En hy het sommer nog n lang asem, toe peper Japie al weer terug: Aag! Solank as wat sy n eiertjie l, moet die mannetjie mos die miere oppas, sodat hulle haar nie kan byt nie. Sy sit mos met toe o. Jy weet dit nie eens nie!
Was jy miskien al n boskoelie dat jy weet? vra Fanie, nou half onseker.
Nee, wie wil dan n boskoelie wees? Maar Pa het nou die dag vir my ges toe ek hom vra waarom vols altyd twee-twee byme-kaar is.
So onder al die gestry het hulle eindelik die jolsakke vol klippe en stap hulle huis toe om gou skoene te gaan aantrek. Japie vind
in die kamer uit dat sy skoenrieme weg is en klim sommer op Piet af.
Dis weer jy wat my skoenrieme gejomp het, en hy loop hom ook sommer storm om syne af te neem. Daardie slag woerts Fanie by die deur uit met sy skoene in die hand, en Jaap weet sommer wie die skuldige persoon is. Hy en Piet sny dan gou-gou n stuk van Fanie se vislyn af vir rieme, en voordat jy nog baie kan tel, roep hulle die honde en kies die pad berg toe.
Dis darem te lekker om so op n Woensdag los te wees terwyl al die ander moet werk. Hulle besluit toe om om te draai en eers by die Zoeloes in die mielieland, waar hulle oes, verby te stap. Hulle moet n bietjie jaloers gemaak word. En dit is ook nie tever-geefs nie. Party vra vols, die ander hou aan die seuns moet help, sodat die stuk gou kan klaarkom, dan gaan hulle saam om die vols te help dra. En die drie seuns stap so ewe hanerig tussen hulle deur en deel links en regs bevele uit. Net toe die drie weg-stap, haak Japie af met die rek en skiet een van die ouer mans teen die boud. Maar waar was jy! Die kluite en mieliekoppe ren som-mer so op die drie. Piesl loop hulle sommer met die sekel storm. Die drie kyk net een maal om, druk die jolsakke teen die lyf vas en nael vir al wat hulle werd is, Japie los voor. Hy het natuurlik gesorg dat hy so n paar tree voor Faan en Piet was toe hy na die ou man geskiet het.
Langs die pad versuim hulle nie weer nie, maar pyl berg toe. Piet moet entjies-entjies draf om by te hou. Hulle is half skrikke-rig dat oom Fanie hulle sou terugroep, want hy moes die geraas van die swartes gehoor het, en die drie is nie juis gretig om sy ge-duld weer op die proef te stel nie.
Waar die bome ruig begin word en die vols volop, besluit die drie om n bietjie uitmekaar te loop. Dan sal die een nie die ander se vols skrik maak nie. Die afspraak is om teen vieruur, wanneer die son so n ent gesak het, by die kiepersolboom bymekaar te kom om die vols te tel en daarna te gaan swem. Elkeen roep sy hond en vat koers met so n lekker half benoude gevoel op die maag. Hulle sal mos mekaar frplie opkeil vandag. Fanie is al vir die afgelope drie weke voor, maar vandag sal hy skeef opkyk.
Hulle moet omtrent n uur van mekaar af weg wees, toe Piet op n swermpie muisvols in n paar rooibessiebome afkom. Per ge-luk skiet hy een van hulle katswink, en al spartelende val hy deur die ruie takke na onder toe. Piet kan nie nog wag dat hy grondvat nie, maar smyt sy hoed en die jolsak op die grond neer en is die boom in. Toe hy so n entjie op is, sien hy die vol aan n takkie hang, maar hy spring tog vir jou sommer so van n tak af en gryp hom. Hy vang raak, maar kry nie weer vashouplek nie en val onder in die struike dat hy so hik. Daar is n yslike winkelhaak in sy hemp en n rooi haal langs sy wang af waar n dro tak hom gekrap het. Hy gee egter nie om nie, want hy het die muisvol  n S.S.. Tussen duim en voorvinger druk hy die vol se strotjie toe, sodat daar geen asemtoggie kan deurkom nie. En die arme ding gee nog sulke laaste stuiptrekkings, toe trek Piet al van die vlerkvere uit om homself te oortuig dat dit n ou vol is. n Paar van die lang stertvere word uitgetrek en in die hoed gesteek  hy moet nog sommer dr aankom, dan moet Japie en Fanie al sien. Hy stap dan weer verder in die rigting waar Japie-hulle moet wees. Sommer so toevallig wil hy by een van hulle verbyloop!
Met die skietery merk hy egter nooit dat die weer begin op-steek nie; eers wanneer daar n taamlik harde donderslag val, merk hy dat daar orals groot swart wolke aan die hemel hang. Om Fanie-hulle nou op te soek, sal miskien te lank duur. Hy pyl dus maar kiepersolboom toe in die hoop dat hulle ook daarheen sal vlug. Dit is n vasstaande rel van oom Fanie dat as daar swaar-weer is, die kinders huis toe moet kom.
Fanie is reeds onder die kiepersolboom toe Piet daar aankom. Net toe hy Piet sien, skreeu hy: W-! Kom stap onder my arm deur. Julle kom nie naby my nie. Kyk net hier! en hy hou die vols so op in sy hand.
Aag, sies! Ek sien nie eens een swaar soort onder hulle nie. En Piet wens eintlik hy moet vra waar hy die vere kry wat in sy hoed is.
Waar tel jy daardie vere in jou hoed op? wil Fanie ook som-mer weet.
Het ek dan miskien agter jou aan geloop om dooie vols op te tel? En Piet trap sommer aspris op Fanie se hond se poot, so be-
ledig en kwaad voel hy. Net toe weergalm dit weer langs die kranse heen, di slag nog harder as voorheen. Die tweetjies begin nou benoud word omdat Japie so lank wegbly en begin so stadig-aan koersvat na n oorhangende krans effens hor op in die berg.
So elke twintig, dertig tree gaan staan hulle op n ho klip en skreeu na Japie. Die weer word al meer dreigend. Hier en daar begin groot druppels val. Bokant hulle vlieg swermpies bosduiwe en aasvols haastig verby na die kranse toe om skuiling te soek.
Nadat die twee weer so n entjie aangestap het, besluit hulle om tegelyk so al wat hulle kan na Japie te roep. Tot hul groot ver-ligting gee hy di keer antwoord, heeltemal bo in die berg.
Hulle stap toe aan krans toe, maar skreeu so elke nou en dan na Jaap, sodat hy hulle kan volg.
Het jy dan n muisvol geskiet? vra Fanie, nou weer op sy gemak.
Ja man, ek het hom byna dwarsdeur die bessieboom geskiet dat hy sommer so aan n takkie gehang het.
Watter ou vol hang dan aan n takkie as jy hom dwarsdeur n bessieboom skiet? vra Fanie gemaak ongelowig.
Aag, man! D, kyk! Hier is sy vlerkvere, hulle is so droog as ouklip.
Piet pluk sommer vier vlerkvere uit en gee dit aan hom. Gee die vol hier dat ek kyk of daar nie dalk bosluise onder
sy vlerke sit nie. Waarom het die vlerke dan so min vere? En hy vat die vol by Piet.
En laat my n bietjie jou vols sien, of  maar verder kom hy nie, want n oorverdowende donderslag slaan so n ent onder-kant in die ysterklippe dat die blou rook so staan. Daardie slag druk die twee jolsakke teen die lyf vas en buk weg kranse toe. Net voordat hulle by die oorhangklip ingaan, kyk Fanie om te sien of Japie nie al naby is nie. Daar waar die slag geslaan het, sien hulle n wit rokie optrek.
Kyk daar, s Fanie, die weer het die gras aan die brand ge-slaan. Pa sal s dis ons. Kom ons gaan takke afbreek en dood-slaan.
En s nou hy slaan weer daar? vra Piet ewe bang.
Fanie staan eintlik so agteroor van manhaftigheid toe hy ant-woord: Aag, man, daar is mos baie klippe. Die hele berg is vol. Waarom sal hy nou weer op dieselfde plek gaan slaan? En ons kan mos koes. Pa-hulle het dan plat geval as die Engelse te kwaai skiet.
Die outjie begin ook sommer rond te kyk na n mooi ruie tak om mee te gaan vuur slaan. Omdat daar geen wind is nie en die gras effens kort is, raak hulle die vuur gou baas. Japie kom onder-tussen ook daar aan, oorborrelend van nuuskierigheid. Wie het die gras gelont? Verbrand julle n slang? Wie se hond het hom ge-kry? Is dit n pofadder?
Hy gee die ander twee nie kans om te antwoord nie, maar speel sommer weer generaal: Vat n miskoekie, sodat ons kan gaan vols braai daar onder die krans totdat die ergste weer verby is. Vols braai, outjies? My jolsak is vol.
Al drie is ook al net dun, of soos Fanie s: Die beeste bulk al in my maag.
Onder die oorhangkrans skraap hulle n klompie dro blare en stokkies bymekaar, sit die rokende miskoekie daarop en blaas dit aan tot n vuurtjie. Ondertussen begin dit hard ren. Die drie het saam darem nege vols: Fanie vier, almal M.S.; Japie vier: n boskoelie en nog drie van die M.S.; Piet net een, maar n S.S..
Hulle braai toe al nege en eet dit saam. Toe die honde die vleis-reuk kry, kom l hulle ook daar by die vuurtjie. Hulle kry die koppe en die binnegoed.
Nadat die weer effens opgeklaar het, gaan die drie huis toe. Wanneer hulle naby die huis kom, swaai Fanie en Piet af om
die kalwers te gaan haal vir die aand se melkery. Japie word afge-vaardig om droperskes te gaan steel in die spens. Hy moet dan kraal toe kom daarmee.
Loop by die hoenderhok om en steek n paar eiers in jou sak, dan bak ons hulle in die as, roep Piet hom agterna.
Fanie en Piet loop en vleg vir hulle grastoue om elk n kalf mee vas te hou. Elkeen het n kalf wat hy ry. Piet sn is so n jaaroud-bulkalfie. Luiland het Fanie hom gedoop. Fanie sn is n vet verskalf met die naam Vaalpens. Sy is wys, maar Fanie is die
beste ruiter van die drie. Japie het twee: Bontrok, n verskalf, en Doppies, n bulkalfie.
Pa het mos ook altyd twee perde in die oorlog gehad, is sy rede daarvoor.
(Oom Fanie het by voorkeur oorlogstories aan die seuns vertel. Uitdrukkings soos krygsraad hou, posisie inneem, vrywilli-gers vra, het die seuns daarna sommer oral aangewend. Al wat Pa en die Boere gedoen het, dit wou en sou hulle ook doen  pure burgers van die land!)
Ten einde die ryperde in hande te kry, bring die seuns gewoon-lik die klomp kalwers op n stywe galop af drif toe. Die water is effens diep, so min of meer tot aan hul pensies. So mt dat hulle in is, spring die ruiters tussen hulle in en vang elkeen syne. Hulle is al so n bietjie ingebreek, sodat wanneer die seuns eers die gras-tou om die perd se nek het, gaan hy staan. Hulle word dan inge-hou totdat die res so omtrent n vyfhonderd tree voor is, en dan spring die ruiters op en los die toue. Dis dan net een stofdamp tot weer tussen die trop in. Gewoonlik sit die seuns n vreeslike keel op sodra hulle tussen die bondel kom, en dan trek die hele boel op n galop kraal toe.
Op een of ander manier smyt Fanie se perd hom af en sy sit op loop. Maar in plaas van om hom op die kalf te wreek, haal hy dit op Piet uit  sit die honde agter hom in. Sy hond Oortjies spring voor Luiland verby om hom aan die neus te gryp. Daardie slag gee die kalf net een brul, spring linksweg onder Piet uit dat die agterkant van ons maat se kop eerste grondvat. Toe die outjie daar opstaan, nog so half dronkerig, soek hy net klippe om Oor-tjies morsdood te gooi. Maar toe pleit Fanie darem self baie mooi. Aag, ou Pietman, hy wou maar sommer n bietjie speel.
Toe hulle by die kraal kom, is Japie al besig om n vuurtjie te maak, en jy sien net kakebene roer soos hy kou. Piet se woede kalmeer nou sommer.
Gee ook, skree die twee tegelyk en loop hom storm om die perskes af te neem, want hy het die gewoonte om sy maats vrees-lik te laat soebat voordat hy inwillig. Hy sit egter doodstil, sodat hulle sy sakke kan deursnuffel, en verseker hulle dat die kas ge-sluit was.
Nou, wat eet jy dan? wil Fanie weet, en voordat Japie nog kan wegspring, sit hulle hom onder en druk sy keel toe.
Spoeg uit dat ons sien, hou hulle aan met skree en maak vir hom die wreld so warm dat hy glad nie kans kry om uit te spoeg nie. Toe dinge darem vir hom te erg word, ruk hy Fanie se hand van sy keel af en belowe om te wys waar hy die perskes wegge-steek het. Fanie is nog nie tevrede nie: S eers, seblief, Baas! beveel hy, en gee hom sulke fyn knypies aan die bene.
Seblief, Baas! Seblie-hief, soebat hy. Toe hulle hom los, s hy nog half uitasem: Raai nou eers waar is die perskes.
Volgens seunsgewoonte spoeg elkeen toe in die holte van sy linkerhand en slaan met die regtervoorvinger daarin. In die rigting waarin die meeste spoeg spat, gaan elkeen dan soek. Gelukkig het Japie self ook honger, en hy wys hulle toe maar waar hy die per-skes onder die mis begrawe het. Dit is darem in n stukkie papier toegedraai!
Toe dit amper klaar gemelk is, stap Fanie stal toe om te kyk of die Zoeloeseun die perde goed versorg het.
Pasop, Fanie, hierdie perd hy skop, waarsku die seun hom net toe hy by die staldeur intrap, en hy wys na die twee vreemde perde.
Wie se perde is dit en wanneer het hulle gekom? begin Fanie baie nuuskierig uit te vra.
Die seun vertel toe dat daar ngamadine  etenstyd  n man met kar en perde gekom het, met twee gewere op sy kar.
En waar is die kar dat ons hom nie gesien het nie? vra Fanie, nog half ongelowig.
Hy staan in die waenhuis.
Soos jy s mes is Fanie die stal uit en vort kraal toe. Outjies, vertel hy aan Jaap en Piet, half kortasem van opge-
wondenheid, hier het n oom gekom met kar en perde en twee gewere.
Daar gaan seker weer oorlog wees, waag Japie dit.
Kom ons bekruip die kombuis, dan vra ons vir Ma, stel Piet voor, en daar trek die drie.
Tant Lenie is besig in die kombuis om die aandete klaar te maak wanneer die drie daar ingesluip kom.
Ma, watter oom is hier? vra Fanie.
Sy bly eers n rukkie stil, vee kamma die rook uit haar o om hulle goed te laat wag en begin toe. Dis n oom wat jul pa in die oorlog leer ken het. Hulle was groot vriende. Hy kom nou van die Bosveld af, waar hy gaan kyk het of die water goed is en of daar volop wild vanjaar is.
Ma, en wat s hy? vra Jaap en Faan tegelyk, so opgewonde dat hulle gerus kan ontplof.
Nee, hy s alles is baie goed. Hy gaan nou terug huis toe om sy wa op te pak. So oor veertien dae kom hy weer hier aan op pad Bosveld toe. Hy wil h Pa moet ook saamgaan.
Ma, en wat s Pa? vra Piet, en die drie hou asem op. Nee, Pa s hy sal daaroor dink.
n Goeie tien minute lank bestook hulle haar met vrae, totdat sy hulle eindelik kamer toe stuur om te gaan was.
Oom Fanie het die gewoonte om, wanneer daar besoekers is, die kinders in die spens te laat eet. Hulle mag glad nie voor kom nie. En as een soms so stilletjies insluip, dan is die bevel maar altyd dieselfde: Toe nou, my seun, kinders hoort nie in die groot-mense se geselskap nie.
Die drie sal dus nie hul vader kan uitvra voor die volgende dag, wanneer die oom eers weg is nie. Dis amper onnodig om te s dat dit bitter gaan om die nag om te kry. Vir hulle is daar twee groot ideale in die lewe: om saam met hul pa Bosveld toe te gaan en om eendag saam met hom oorlog toe te gaan.
Nou, die oom wil sy perde goed laat rus en bly gevolglik tot die volgende middag na die ete. Die seuns is al so moedeloos ge-wag dat hulle in die buitekamer gaan sit. Hulle wil hom nie eens sien ry nie. Die ou draaikous! Moenie praat hoe hulle hom ver-wens nie. Piet se laaste wens is: Ek wens die ou kry nou n jeuk-plek tussen sy skouers waar hy nie kan bykom om te krap nie. Dan sal hy moet opstaan en hom roer.
Maar aan alles kom daar n einde. Die drietjies sit nog so in die kamer en brom-brom, toe hul vader in die deur verskyn: Seuns, ek het besluit om twee van julle saam te neem Bosveld toe; die ander een moet by Ma bly om met die boerdery te help.
Die drietjies kyk so skielik en vraend na mekaar en dan na hom met die pynlike vraag in hul hartjies: Wie moet dan bly, Pa? dat hy n paar oomblikke swyg en hulle aankyk. Maar wanneer hy be-merk Japie en Piet word so asvaal en die lippies wil-wil net so begin bewe, gaan hy voort: Die een wat bly, kry n pragtige salon-geweertjie present. Julle drietjies moet nou maar onder mekaar besluit wie gaan saam en wie bly 
En voordat die drie seuns nog hul vader kan bydam met hon-derd en meer vrae, is hy al weer by die deur uit. n Oomblik staan Japie, Fanie en Piet mekaar met groot o sprakeloos en aankyk. Die tyding is amper te geweldig om waar te kan wees. Bosveld toe! Kampvure, waarom die leeus snags brul! Dit is al drie se hoogste ideaal. En tog wil elkeen baie graag n eie salongeweer-tjie h.
Wat nou?
Laat ons krygsraad hou, krels! kommandeer Japie met n sug van verligting.
Die drie gaan ook dadelik sit, nadat Piet die deur van hul buite-kamer sluit en Fanie twee kateltjies langs mekaar trek. Daar moet mos saggies gepraat word, want dis groot dinge waaroor in die krygsraad besluit moet word.
Krels, ek vra n vrywilliger om te bly, begin generaal Japie sommer weer, en hy staan so n bietjie eenkant toe, penorent met die hande styf in die baadjiesakke gedruk. En net dat hy keel skoonmaak om nog meer te s, spring Fanie hom voor met n an-der voorstel: Laat ons stem oor die saak, krels. Die een wat oor-stem word, moet bly.
Haikna, outjies, pleit Piet, laat ons liewer teen mekaar vols skiet. Die wenner moet bly.
Aag, wat help dit dan om te wen as jy moet bly, protesteer Japie.
Nou ja, laat die een wat die meeste en die een wat die minste skiet, bly  ag, ek bedoel gaan, gee Fanie aan die hand.
Hulle is nog hewig aan die argumenteer toe Sikspens, een van die skaapwagters, aan die deur stamp en opgewonde skreeu: Jul-le, die bobbejaan het weer gevang twee lammers.
Waar was jy, Kaboemielies? skreeu Japie, en die drie loop die deur storm. Japie kry eerste die knop en draai vir al wat hy werd is, maar watwou: oopgaan is min. Dis n gedoente. Dit val Piet eerste by, want hy het die deur gesluit, en hy peper Japie: Sies wat, as jy net van n bobbejaan hoor, bewe jy so dat jy nie eens n deur kan oopkry nie. Wag, laat ek jou wys. En net dat hy die knop vat, draai hy ook die sleutel, en oop is die deur. Voordat Piet nog w! kan s, is Jaap uit en vort na waar Sikspens op die stoep alles aan oom Fanie staan en vertel.
Seuns, skreeu die oubaas hulle toe, daardie bobbejaan moet dood. Dis die elfde lam wat hy nou gevang het. Wys nou vir Pa wat julle kan doen. Julle kan die twee koelgewere en die haelge-weer neem. Bekruip hom tot naby of l hom voor en skiet hom morsdood.
Ja, Pa, gee al drie tegelyk antwoord, en hulle sit sommer weer af na hul vader se kantoortjie waar die gewere altyd gebre word. Geeneen van hulle dink nog daaraan om Sikspens n bietjie uit te vra watter tyd van die dag en waar omtrent die bobbejaan gewoonlik vang nie. Hulle reken maar net hy is in die berg, hy moet dood, en hulle sal hom kry.
Dit is betrokke lug. Die berg en die bosse is meestentyds toe van die mis  ideale vangdae vir die bobbejaan, want hy kan onge-merk uit die bos kom en nader sluip tot aan die voet van die berg, waar die skape wei.
Toe die drie in die kantoortjie kom, wil-wil hulle net stry oor wie die haelgeweer en wie die koelgewere moet neem, toe Piet skielik met n grootse plan voor die dag kom: Krels, dis nou ons kans om Pa te wys dat ons groot genoeg is om saam met hom in die Bosveld te gaan leeus jag. Ons moet vannag in die berg onder die ou groot klip gaan slaap, en mre as die dag breek, moet ons drie ente van mekaar af posisie inneem tussen die skape en die krans waar die bobbejane slaap. Dan sal ons die ou n lelike streep trek sommer so vroeg op sy nugter maag.
Die voorstel vind byval by Japie en Fanie, en die drie gaan toe saam om die toestemming van oom Fanie te kry. Hy is egter glad nie so ingenome met die plan as wat hulle verwag het nie. In die
berg boer daar nog n paar luiperds, en hy wil liefs nie sy seuntjies in gevaar laat verkeer nie.
En wat van die tiere? vra hy hulle ook naderhand.
Pa, gee Fanie antwoord, ons sal n skerm onder die ou groot klip bou met ruie takke en daarbinne heelnag n groot vuur aan die brand hou. Daar l nog n klomp dro hout onder die klip wat ons laas, toe Pa saam was, daar laat staan het.
Nou ja, stem hul vader eindelik in, vra Ma om vir julle koffie, suiker, n keteltjie en kos in die seilsak te pak. Draai die komberse in n stuk bokseil toe en begin nou maar vroeg, sodat julle nog tyd kan h om baie hout op te tel voordat dit donker word daar in die berg. Ek sal luister of ek julle hoor skiet.
Hul moeder, nie baie tevrede met die plan nie, maar al ge-woond om omgepraat te word deur die drie seuns, moet maar die kos inpak en sit toe maar n soutribbetjie ook in. Hulle is maar net een maal kinders, dink sy in haar eentjie.
Skaars n uur nadat hulle die nuwe plan kry, is die drie jong jagters op pad berg toe. Die ren hou effens op, met net af en toe motbuitjies. Wat die drie jagters betref, kan dit egter maar harder ren, want dan voel hulle hul nog soveel groter helde. Pa het nou die dag nog ges dat as n boerseun nie bang is vir ren en wind nie, groei sy snor sommer baie gouer as die dorpseuns sn, en as n seun se snor eers groei, kry hy ryperd, saal en toom van sy pa present.
Met die wegspringslag slaan hulle n geweldige pas aan, en elkeen het so baie te s dat hulle die een die ander skaars kans gee om te praat. Hulle haal ook sommer gou hard asem, en die asem-stote vertoon soos klein miswolkies voor hulle. Japie begin stiller word. Elke keer kyk hy om of die honde, wat in die pakkamer toe-gemaak is sodat hulle nie met hul geblaf in die berg die bobbejane op loop sou jaag nie, nie miskien aan die kom is nie. So in sy een-tjie stuur hy af en toe n klein gebedjie op  doen n belofte dat hy nooit weer sy ma se perskes sou steel nie, as die liewe Heer tog net iemand stuur om per ongeluk die pakkamer se deur oop te maak, sodat die honde kan uitspring en spoor vat. Hy kan amper wed sy hond sal die eerste by hom wees. As n mens in lelike
plekke is en jy hoor n bont ding aankom en jy kan net saggies  sodat jou maats dit nie hoor nie  vir jou hond s: Sa  dan is dit darem orraait.
Jaap, jong, kry jou tong dan koud? vra Piet meteens, en hy knipoog teen Fanie.
Toe, kyk maar vir mekaar, werp Japie te. Ek bre my ge-sels vir vanaand en vannag as julle eers so bang is dat jul tonge stokstyf staan.
Bang! Wies dan bang as hy n geweer het en by n groot vuur sit, antwoord Faan en Piet.
Nou ja, gee Japie half verle antwoord, ons sal sien as dit eers donker is en daar kraak stokkies in die donker bos agter julle.
En waarom sal hulle nie agter jou ook kraak nie? vra Piet bit-sig.
Ek sal pluisies in my ore steek en  Verder kan Japie nie kom nie, want Piet en Fanie skater dit uit van die lag, en as van-self gaan die gesprek oor op n ander onderwerp.
So stryend en geselsend is hulle reeds naby die berg.
Hier en daar stap hulle by n groot boom of rotsblok verby. Die drietjies begin nou met fluisterstemme praat, die gewere gelaai, die o gespits na spore en ander tekens van bobbejane op die klip-pe. Hulle pyl egter maar reguit na die groot klip toe, ten einde nog voor sononder daar alles in orde te bring. Baie hout optel, l op elkeen se tong, maar om latere tergery te voorkom, s geeneen dit nie, en stilswyend stap hulle voort. Elkeen se o, ore en gedagtes is ten volle aktief.
Die groot klip waarheen hulle pyl, is een van die bekendste en mees geliefde plekkies in die berg daar rond. Dit bestaan uit n vreeslike groot, half plat oorhangkrans aan die kant van n digte houtbos. Tien tot twaalf mense kan gerieflik daar slaap, beskut teen die wind en weer. n Paar honderd tree verder na die weste-kant vloei n stroompie vrolik en haastig oor die gladgespoelde klippertjies. Snags, veral teen dagbreek, verskaf dit n soort sus-sende, sagstrelende musiek aan die voltjies daar naby, wat soms net wil-wil ongeduldig word omdat die dag so draal om te breek.
n Paar honderd tree van die klip af tel Piet en Japie elkeen n stuk hout op, en dra dit oor die skouer. Fanie stryk voort en is los voor. Hy dra die komberse en wil dit eers gaan neersit. Vlak by die klip kyk hy n slag om na sy maats, en net dat hy weer n tree vo-rentoe doen, vlieg daar n paar bospatryse met groot lawaai byna onder hom uit.
Hiert, julle bulkalwers! skree hy van skrik, en hy pootjie oor n klip dat hy op sy rug te lande kom binne n klomp braamranke.
Pasop, dis die tier se kuikens, skreeu Piet vir hom, en hy en Japie sit soos hulle lag.
Fanie is kruppel-kruppel onder die groot klip in. Toe die ander twee dit bemerk, voel hulle dadelik jammer vir hom en stap vin-nig daarheen om te hoor of hy baie seergekry het.
Ou Faan, jong, begin Jaap op dertig tree afstand, het jy baie seergekry?
Fanie antwoord nie, en toe hulle onder die klip inkom en hy bemerk hoe besorgd die twee lyk, skiet n heerlike plan hom te binne: Hy sal hulle al die werk laat doen, soos hout aandra, water skep en vuur maak. Hulle wil mos lag, die vabonde!
Toe die twee ook by hom kom waar hy daar op n klip sit, moet hy net byt op sy tande om hulle nie die ondeunde glimlag, wat dwing om sy mondhoeke te kielie, te laat merk nie. Tien en meer male vra hulle hom of hy baie seergekry het, en hy hou maar aan met s: Ek kan glad nie op my voet trap nie.
Sit maar doodstil, ou Faan, troos hulle hom. Ons sal gou ketel kook en vir jou koffie gee.
Die twee maak gou koffie en begin daarna hout aandra en gras sny om op te slaap. Toe dit al sterk skemer is, gaan maak hulle nog gou weer die keteltjie en bekers vol water. Die mis sak toe en dit begin sagweg ren  n stikdonker nag.
Fanie kom skuif-skuif nader na die vuur. Hy wil hom amper verbeel dat hy rens n takkie hoor kraak, maar hy sal nie die an-der daarvan s nie. Onderwyl hy nog dink waaroor hy kan gesels om die stilte te verbreek, begin n sawoluiltjie ver onder die groot krans mistroostig die ren te verwens. En toe, asof hy sommer hier op die groot klip sit, laat n groot ou houtbosuil die paar muise wat
miskien nog in die nat gras rond was, oorhaastig hul gate invlug met sy nare steun  so n egte kerkhofgeluid.
Die drie maats skuif nou so n bietjie nader aan mekaar, en sonder dat sy keel kriewel, kry Japie n taamlik harde hoes uit. Waarvoor wil die uile dan alleen raas!
Kom ons braai vleis, krels, gee Piet aan die hand, en hy be-gin onder die hoop hout rond te soek na n geskikte stok vir n spit.
Ook nie lank nie of die lekker geur van braaivleis prikkel die drie se speekselkliere, en jy sien net lang slukke gee. Die volgende uur gaan dan ook aangenaam verby. Net elke keer as dit lyk asof die een luister, bly al drie tegelyk stil en luister ook, maar dan val hulle maar weer weg en smul aan die ribbetjie en toebroodjies, en daarna sit hulle die lekker warm, swart koffie in klein mondjiesvol en opsuig, met die lippe rakelings aan die warm rand van die be-kers.
Ek wonder of die tiere rondloop wanneer dit so nat is. n Kat is mos vies vir nattigheid, verraai Japie sy gedagtes.
As hulle honger het, gee Fanie antwoord, soek hulle eers in die bos en onder die groot klippe waar dit nie so nat is nie.
Toe maar, Faan, verdedig Piet vir Japie, jy met die seer voet sal in die slag bly.
Watwou! Wie se voet is seer! Ek het julle maar gekul, sodat 
Verder kom hy nie, want voordat hy nog sydelings op hande en voete kan padgee, is Jaap en Piet op hom en dien hom vreeslike bobbejaanknype toe.
Ek sal gaan water skep en vir julle koffie maak, pleit Fanie, terwyl hy ook geniepsig knyp, en die drie rol daar in die los grond.
Fanie ruk hom eindelik los, gryp die ketel en sit af water toe. Wanneer dit op stuk van sake kom, is hy die dapperste van die drie. Fluit-fluit kom hy terug en sit die ketel op die vuur.
Die drie is net weer lekker aan gesels, elkeen met n beker kof-fie in die hand, toe hul vader geruisloos in die ligkring van die vuur verskyn en hulle n hele rukkie gadeslaan. By die huis het hy begin onrustig word dat sy seuntjies bang sou voel en n slapelose nag sou deurbring. Hy het toe besluit om na hulle te kom. Wan-
neer hy egter sien hoe grootmanagtig die drie daar sit en gesels en koffie drink, kom daar diep in sy vaderhart n warm gloed. Dit is sy een groot ideaal dat sy seuns sommer pure manne moet wees. Sy stem beef dan ook effens as hy goedig elkeen se naam noem: Fanie, Jaap, Piet, is daar vir my ook n bietjie koffie? Die drie ruk soos hulle skrik, maar die skrik is van korte duur. Toe hy hul name so die een na die ander noem, weet hulle dadelik dat dit hy is, en met n opgewonde: Hiers drie bekers koffie vir Pa, loop al drie hom storm, kry hom aan hande en arm beet en oorweldig hom met vrae.
Het Pa ons kom vertel van die Bosveldganery? vra Piet toe sy pa eindelik sit.
Ja, antwoord die oubaas, met sy hand op Piet se kop, en Pa het sommer so n bietjie na sy groot seuns verlang ook.
Dit is seker daar teen twaalfuur toe die vier onder die komberse inkruip. Die drie seuns slaap gerus in die salige bewussyn dat Pa by ons is.
Vroeg, nog voor dagbreek, is hulle weer op om koffie te maak. Dit is nog steeds toe van die mis, maar dit ren nie meer nie. Meer as n uur lank sit hulle om die lekker groot vuur en hou krygsraad. Baie voorstelle word gemaak en weer afgestem. Die drie seuns is naderhand al so opgewonde, so gretig om slaags te raak met die bobbejaan, dat hulle sommer staan en krygsraad hou. En toe die eerste voltjies, en later n bosfisant, die aanbreek van n nuwe dag aankondig, is vader en seuns geruisloos onder die klip uit en voort deur die donker bome na die voorlplek.
Oom Fanie het die aand van die wagters gehoor waar die skape die nag sou slaap en toe aan Sikspens bevel gegee hoe hy hulle die oggend moes laat wei en dat hy sy lyf maar n bietjie moes weg-steek. As ou ervare jagter en wildspioen weet hy net hoe om die drie seuns te laat posisie inneem. Hy self, gewapen met n Wes-ley-rewolwer, neem die ongunstigste posisie in, ten einde die seuns meer kans te gee en tog darem ook deel te h aan die sport. Elkeen van hulle sit gekoes tussen n paar klippe, omgroei deur struike, met die gesig bos se kant toe. Oom Fanie se laaste bevel is: Moenie na mekaar se kant toe skiet nie.
Piet, wat met die haelgeweer gewapen is, is die naaste aan die bos. Naby hom in die bos l daar n taamlike groot rotsblok, met n allenige ou aalwyn in een van die skeure. Soms wanneer hy skielik kyk, is dit asof die aalwyn beweeg. Dit lyk amper op n maer, uitgeteerde ou swarte wat sy lyf stadig links en regs buig. Toe dit eers so lig is dat hy die korrel mooi kan sien en die mis sulke oop kolle maak teen die berg, sien hy bo-op die kruin op n puntige rots n swart ding sit.
Ek kan sweer dis een daardie, s hy half hardop, en hy ver-wens die ou haelgeweer. As ek nou n koelgeweer gehad het, kon ek hom daar afblaker. Maar wag, dis dalk maar net die wagter van die trop daardie. Die groot klomp is seker al in die bos.
En dit is ook so. Toe hy hom weer kry, sit twee sulke opgeskote bobbejane omtrent tien, twaalf tree regs van hom af na Fanie se kant toe en uintjies uitgrawe. Onderwyl hy die wagter van die trop dopgehou het, het die spul genader. En in n ommesientjie lewe dit rondom hom. Sy hart klop so geweldig dat hy bang is dat die bob-bejane dit sal hoor. Hy bring ook sommer die geweer aan die skouer. Wat nou! Die goed kan n man mos verskeur. Hy voel sy voorkop word klam en agter sy rug op voel dit so klewerig. Waar-om skiet Japie en Fanie dan nie! S nou die goed kom soek bessies in die einste boompies waartussen hy skuil! En jou warempel, n knewel van n mannetjie kom op drie bene, met sekelstert en kop skuins gehou, reguit na hom toe. Deksels, die ou het n afhand.
Dis seker die lamvanger, flits dit deur Piet se brein.
Hy gee n paar sulke dro slukke en voordat hy nog reg weet wat hy doen, het hy die geweer weer aan die skouer en trek albei snellers tegelyk af. Bobbejaantientoon  koggelmanderpastei! Waar was jy! Dit donder langs die kranse, en Piet l dr op die naat van sy rug.
Pardoems! skiet Fanie twee tree agter een teen n ysterklip vas dat die blou rook so staan. En amper gelyk van die kant af trek Japie en oom Fanie los toe die laaste bobbejaan net die bos wil inspring. Maar dis alles mis. Al drie kom aangehardloop na waar Piet half verslae nog steeds sy skouer staan en vryf.
Wat het jy geskiet? Hoeveel se sterte het jy afgeskiet? skreeu
Japie en Fanie na mekaar. En toe vir die eerste keer sien hy n groot, swart ding daar l  sy bobbejaan.
Vol vreeslike manhaftigheid bly hy staan en s: Daar l hy! Waar is julle sn?
Faan en Jaap het nie nou tyd om vrae te beantwoord nie, maar storm bobbejaan toe en beskou hom half verle. Hulle is reg-reg uitgestof vandag.
Die vorige dag het Japie en Fanie, ten einde Piet te beweeg om die haelgeweer te neem, hom verseker dat dit n groter kuns is om met die hael iets te skiet as met die koel.
n Man met die koelgeweer kry baie meer kanse. Hy kan van ver al skiet. Die een met die hael moet altyd wag totdat die ding naby is. So het hulle geredeneer. Piet, wat maar altyd graag wou spog, het toe die haelgeweer geneem in die stille hoop dat hy die bobbejaan onder skoot sou kry.
Fanie en Japie kan dus nie spot nie en s: Aag wat, dis dan met n haelgeweer! En tog kry Fanie iets te s: Jy skiet dan n ou ding wat al een hand stomp geloop het van ouderdom.
Maar kyk n bietjie net sy slagtande, verdedig Piet. Hy sal dwarsdeur n nuwe ferweelbroek byt.
Oom Fanie kom egter tussenbei: Mooi so, my groot seun. Hierdie ou afhand is juis die lamvanger. Die Zoeloes ken hom aan sy spoor.
Die ou mannetjie, wat twee skote bokhael op nouliks tien tree afstand in hom gekry het, lyk omtrent soos n muis wat met n Lee-Metford-dum-dum geskiet is. Dit is nie eens die moeite werd om hom af te slag nie. Oom Fanie laat darem die ou se kop afsny deur Sikspens om dit aan tant Lenie te gaan wys.
Om Fanie en Japie nie so minderwaardig te laat voel nie, stel oom Fanie voor dat hulle vier eers weer moet gaan koffie maak onder die groot klip en dan daarvandaan al met die berg langs bokkies moet soek. Wanneer dit betrokke lug is en die mis nog elke keer toesak ook, wei die bokkies die hele dag deur.
Fanie en Jaap is sommer weer vol lawaai en loop een strook deur aan Piet en verduidelik hoe hulle met die koelgewere skoot vir skoot op twee-, driehonderd tree die bokkie voor hom sal weg-vee.
Jy moet darem weet, herinner Faan Piet so ewe uit die hoog-te, n duiker loop hom nie vas teen n geweer se loop soos n af-handbobbejaan nie.
Aag, toe maar, julle is maar net vonkies! antwoord Piet, heeltemal tevrede met homself.
Toe nou, seuns, laat staan nou maar, s oom Faan. Laat ons nou gou koffie drink en n stukkie eet sodat ons vir Ma twee bok-kies kan gaan skiet. Die komberse en bladsak kan hier bly; Sik-spens kan dit kom haal.
Binne n halfuur is die vier ook weer op pad: Fanie vol ver-troue en eie durf, maar Japie aan die stil kant. Hy hou nie baie daarvan om aan die verloorkant te wees nie. Piet stap naby sy pa, sy hart vol innige trots. Hoe gaan hy tog nie vanaand melktyd by die werkers spog nie! Iewers in sy hart voel hy darem jammer vir Fanie en Japie, veral vir Jaap. Dis darem maar die lekkerste as al drie iets skiet.
Hulle stap n goeie twee uur sonder om iets te gewaar. Selfs Fanie begin al moedeloos raak. Oom Fanie, as ou jagter, stap maar voort met hulle. Geen beweging ontglip sy wakker blik nie; elke vlugtende das sien hy raak. Teen die middag, toe almal al net dun voel, kom hulle by n pannetjie water aan die kant van n ruie bos. Rondom l daar groot, ronde rotsblokke, n ideale boerplek van die klipspringertjies. Net toe hulle daar kom, beduie oom Fanie met sy hand dat die drie moet sit. Hy sluip vorentoe al tussen die bossies en klippe deur om te spioen. Na n kwartier, of baie langer nog vir die seuns, kom hy weer teruggesluip en wink vir Fanie en Japie om te kom. Piet moet wag totdat die skote slaan. Plek-plek op hande en voete gaan die drie vorentoe tot by n ruie bakhout-boom. Fanie en Japie is kortasem van opgewondenheid en sopnat van die nat gras en bosse. Agter die bakhoutboom laat oom Fanie hulle eers n bietjie blaas, en toe staan hy versigtig op en loer deur die takkies. Sit neer jul gewere en kom loer hier deur, fluister hy aan hulle, en hy doen sy bes om kalm te bly.
Die twee staan so sag as muise op, haal eintlik deur hul mond asem om nie die asemstote te laat hoor nie en loer weerskante langs hul vader deur die takke na waar hy beduie. Al tweetjies trek hul asem diep weg en n rilling gaan deur hulle.
Pa moet skiet, fluister Japie opgewonde, en hy pak sy pa aan die arm.
Nee, julle tweetjies moet skiet. Ek sal tel, en dan trek julle ge-lyk af.
Sommer naby hulle, dwars op n groot plat klip langs n paar polle gras wat in n bars van die klip groei, l n klipbokooitjie en herkou. Die rammetjie staan langs haar, tussen haar en die paar lang grasse, met gespitste oortjies en waghou. Af en toe bring hy ook n herkoutjie op, gee drie, vier koue en staan dan weer en luis-ter, terwyl die spits oortjies heen en weer beweeg asof hy selfs elke geheime lugtrillinkie wil opvang. Sodra hy weer herkou, is dit n teken vir die jagters dat die outjie nog niks vermoed nie.
Kyk, begin oom Fanie, probeer nou om oor n tak aan te l. Kry die korrel mooi op die bok. Fanie, jy moet die ooitjie skiet, en jy die ram, Japie. S vir my as julle klaar is, dan sal ek stadig, hoorbaar, vyf tel. As ek s vyf, dan moet julle gelyk aftrek. Dit is naby; trek dus die korrel dood op hulle.
Die twee seuns laat nie op hulle wag nie. Tel maar, Pa, fluis-ter Fanie.
Oom Fanie kyk na Jaap, en toe hy knik dat hy ook reg is, begin die oubaas te tel: Een, twee, drie, vier, vyf!
Pardoems, dat die kranse so dreun!
Storm, krels, skreeu oom Fanie, en hy spring agter die boom uit klip toe, gevolg deur die twee seuns.
O aarde, daars niks op die klip nie.
Die twee steek vas en staan verslae die wreld om hulle heen en beskou terwyl oom Fanie sukkel om op die klip te kom.
Sies, Faan, jong, jy skiet n bok in die l mis, probeer Japie homself vrypleit.
En wat van jou? snou Fanie hom toe. n Bok wat staan is groter as een wat l.
Hier l hy, krels, skreeu oom Fanie, wat opgeklim het en agter die klip kan sien.
Dis myne; ek het die koel hoor klap, bevestig Japie, en hy probeer om voor Fanie op die klip te kom.
Dis die rammetjie; hy het twee skote, s oom Fanie, en hy lag hartlik onderwyl hy die bokkie ondersoek. En hy moet net le-
lik padgee daar of die twee seuns spring bo-op hom van haastig-heid om by die bok te kom.
Een koel deur die hart en een die voorbeen af, verduidelik hy aan hulle. Japie het hom deur die hart geskiet, en jy, Fanie, het oor die ooitjie geskiet en toe die rammetjie se been af.
Ek skiet ook nie graag ooie nie, Pa, verontskuldig Fanie hom so ewe droogweg, en voordat Japie nog weer iets kan s, kom Piet soos n dwarrelwind om die klip.
Wie het hom geskiet? Was dit in die hardloop? Is dit n ram? rammel hy af in een asem.
En n vreeslike beduiery en ondersoekery volg nou weer. Seker n halfuur daarna stap hulle eers weg huis toe. Japie wil self en alleen die bok dra. Toe hulle naby die huis kom, loop hy so n tien, vyftien tree voor die ander, pure haan! Toe Samboko, die staljong, so skrapsies om die hoek van die waenhuis loer en n ry wit tande laat sien, maak Jaap asof hy hom nie sien nie, vat net met sy be-bloede hand so n slag aan sy hoed en stryk maar voort.
Tant Lenie, wat al van elfuur die oggend die pad dophou, sien hulle toe hulle oor die laaste rantjie kom. Alles is reggesit, en toe die vier die huis intrap, ruik hulle net pannekoek. Japie stap met die hok tot in die kombuis waar sy ma nog besig is om pannekoek te bak.
Ma, hiers n bok vir Ma. Ek het hom geskiet.
Maar, my groot seun, het jy hom self geskiet? Sy soen hom hartlik.
Ma, ek het hom  Verder kan hy nie kom nie, want oom Fanie en die ander twee kom die kombuis in, en die twee seuns storm kamma om hul ma eerste te soen, maar moenie glo nie. Oom Fanie gee net twee lang tree, sit sy twee groot hande onder tant Lenie se arms  sy is skaars vyf voet lank  en tel haar op so-dat Piet en Fanie nie kan bykom nie.
W, ek het Ma tog eerste gesoen, skreeu Japie, en hys uit by die deur om die honde te roep. Al drie honde moet eers aan die bok kom ruik, maar net sy hond mag die bloedjies aflek.
Die aand na godsdiens het oom Fanie groot tyding vir die seuns.
Seuns, Ma wil h julle al drie moet saam met my Bosveld toe gaan. Ek sal n tweedehandse Lee-Metford bykoop, sodat daar n groot geweer vir ons elkeen is. Vanaand oor twee weke moet ons in die pad wees.
Oom Fanie verwag dat die drie byna uit hul vel sou spring en die huis op horings neem van blydskap by die aanhoor van die tyding, maar  hul moeder sit so n bietjie eenkant. Die drietjies kyk vinnig na haar kant toe en laat dan die koppe sak.
Wie moet dan by Ma bly? skryn dit deur die jong hartjies. Al drie storm haar, vat haar om die nek en soebat: Mams moet ook saamgaan; ons sal Ma help biltong maak.
Na n vreeslike gesoebat willig tant Lenie maar naderhand in, en toe dreun die eetkamer  tot die drie honde begin buite aan die deur te krap en te blaf van opgewondenheid oor die rumoer van hul base.
Dit is in die vroe ure van die mre voordat die drie jong jag-ters daar in die buitekamer tot rus kom. Voortaan sal daar maar kort nagte wees, want daar l vereers al veertien besige dae voor.
