Hoofstuk 15
Kotie Davel se herstel is traag en langsaam. Hoewel hulle nie meer daagliks vir sy lewe vrees nie, is hy soos iemand wat van al sy lewenskrag gedreineer is. Hy bly maer en bleek, net vel en been. Oom Staag Lemier kom gedurig, kom met elke krui en raat waarvan hy weet.
Dis of Kootman tot die dood gebloedlaat is, s die ou man. Dis of al die murg in sy pype opgedroog het. Maar julle moenie ophou bid vir hom nie, Lena. Dit sal nog n tyd vat. Ek weet nie hoe hy ooit weer n mens gaan word nie.
In sy langsame herstel kom dit voor of Kotie vir goed n ou man geword het.
Sal Kotie ooit weer op Mooifontein kan behartig, Staag? vra tant Lenie bekommerd.
Nig Lena, Kotie sal miskien nie gou weer sy ding op die plaas kan doen nie. Daarmee moet julle verlief neem, want hy het sy knou weg.
Naas s dit aan tant Maria toe hy weer op Doornrug kom.
Dis wat ek ok hoor, kjind, s tant Maria. En hier gaat jou oom Dolf op n galop agteruit. Lyk my ons sal jou nie weer op Doornrug kry nie.
Maar toe Naas n paar weke later weer op Doornrug besoek afl, is dinge sowaar aan die opkyk.
Ons het toe uitkoms gekry, s tant Maria. Barkus  jy onthou mos vir Barkus?  het sommer netso hier uitgekom, verwaarloos en vergaan van die honger, moet jy weet. Maar nou is hy hier om ou Stefaans te help behartig. Nou loop dinge. Die koring word versorg en na die bees word gekyk. Jy moet net nie praat nie, Naas.
Barkus Hoon slaap in die solderkamertjie soos van ouds. Naas kry hom nie te sien nie, selfs nie toe hy na hom soek nie. Maar Barkus is op Doornrug en dinge loop reg.
Op pad terug Mooifontein toe dink Naas aan konstabel Dorland se opdrag Dorland het uitdruklik ges hy moet rapporteer as hy van Barkus hoor. Kotie se siekte, glo almal, is as gevolg van Barkus se aanval op hom. Dit is eintlik n man se plig om die konstabel in te lig. Maar Dorland sal nie Barkus se werk op Doornrug kom doen nie.
Naas ry met gemengde gevoelens terug. Mooifontein het vir hom huis geword. Hy is haastig om daar te kom, haastig omdat hy weet Hannie sal vir hom wag. Vanaand sal Hannie weer vir hulle op die serfyn speel; met haar soet stem sing van die goedertierenheid van God en van die lieflike wonings van die Heer.
Ja, Barkus Hoon is nou te nodig op Doornrug. As hy nie daar was nie, sou tant Maria dalk reguit gevra het dat hy wat Naas is, moet huis toe kom  En om n rede waarvoor hy nie n uitleg het nie, wil hy nie nou teruggaan nie.
Die koring word gesny en gedors. Naas wonder onwillekeurig hoe hulle op Doornrug vorder. Stefaans kom vir n ruk nie kuier nie. Hy hoor niks  en besluit op n Sondag om self te gaan kyk wat van sy oom-hulle se boerdery word.
Di dag wag n verrassing op hom. Die eerste mens wat hy tekom, nog op pad Doornrug toe, is Cornelia, wat fier op Bordeaux aangery kom. Sy ry weer perd! Maar dit is n Cornelia wat hy skaars kan eien. Naas kyk en kyk na haar en bly hom afvra: Is dit die mooie Cornelia wat ek so goed geken het?
Haar gelaatstrekke is nog mooi. Maar dis n afwesige skoonheid, mooiheid wat nie uitstraal nie. Haar o is sommer doodgewone o en glad nie Cornelia se lewendige, koggelrige, dartelende o nie. Sy herken hom ook nie dadelik nie: Wanneer hulle perde by mekaar verby kom, ry sy sommer dwars verby, sonder enige aanduiding dat sy van hom notisie neem of weet wie hy is. Eers na n rukkie draai sy om en ry terug na hom; vra dan met n verdwaalde uitdrukking op haar gesig: . S my, is jy Naas?
Ja, Cornelia, ek is Naas. Hoe gaan dit met jou? vra hy.
As die waters hier wyd oor die vlaktes spoel, sal hy op sy swart perd kom met rybroek en kamaste aan, jy moet sien, s sy. O, jy moet sien! Toe kap sy Bordeaux in die sy en daar trek sy, die ruiter van ouds, een met haar perd.
Naas weet nie of hy voort moet ry en of hy moet omdraai nie. Sy hart is opeens swaar soos lood in sy lyf. Hy ervaar n onwil om mense, veral oom Dolf en tant Maria, nou te sien. Hy weet te goed wat hy in tant Maria se o sal lees. Hy wil die verslaenheid tog nie sien nie! Naas ry nietemin voort, voel hoe hy die verantwoordelikheid van di plek ook begin dra, al doen hy hier geen steek nie.
Op Doornrug gaan dinge sy langsame gang. Ook hier het hulle die oes ingesamel en staan die gerwe in miedens om die dorsvloer gestapel.
Ja, die werk hou nie op nie, dis net ons wat opraak. Tant Maria sug, vandag neerslagtiger as ander dae. Naas moet weer verslag doen.
Kotie het tot op n punt herstel. Nou lyk dit of hy nie verder kan kom nie. Sy fris boerebene van vroer is nou grasdun. Hy loop n bietjie, meesal in die huis rond, met twee kieries. Hy is nog steeds net twee o in die geraamtemasker van n gesig. As hy maar net wil eet. Tant Lenie kla dat hy soos n siek voltjie aan sy kos pik en dat niks wat sy maak vir hom smaak het nie.
Naas sien Barkus vandag ook nie, selfs nie toe hy in die solderkamer na hom gaan soek nie. Maar hy loop die ou oom raak, oom Danie Losper, sy oupa.
Ek hoor jou naam is Naas? s die ou man. Is jy Neeltjie se kjind?
Naas kry so n knop in die keel dat hy nie kan praat nie.
S groete aan Lena en almal, s tant Maria en oom Dolf beaam. Snaaks dat daar nou, na al die jare, n verneem na mekaar se welstand, n oor en weer gegroetery oorgedra moet word, dink Naas.
Hys met Bessie op n drafstap op pad terug toe hy merk dat Cornelia, bo op die bult waar die bome yl word, seker anderhalfmyl van die opstal af, hom op Bordeaux inwag. Naas se hart klop sommer van vrees en van voorgevoel, want Cornelia lyk kompleet asof sy die noodlot in haar dra.
Sy wag soos die noodlotsengel op sy pad; haar blote teenwoordigheid opeens intimiderend en angswekkend.
S vir Kotie Davel as jy hom sien daar is iemand wat bid. S vir hom 
Toe kap haar hak in Bordeaux se sy en daar trek sy soos n weerligstraal oor die vlakte.
Naas kyk haar agterna, gee ou Blessie vrye teuels.
Hannie en Wagter wag weer vir hom, soos nou elke keer wanneer hy Doornrug toe was. Hy spring voor haar van Blessie af. Sy arms gaan spontaan oop en sy vlieg na hom, nestel teen hom aan, haar lyfie warm en genadig teen sy hart.
Hulle stap hand aan hand. Soos altyd, vra sy uit en hy vertel.
Het jy verlang? vra hy een keer.
Ja, baie, en jy?
Ja, hy het verlang na haar. Hy weet dit nou.
Jy is mooi vir my, ou Naasman, te mooi. En sy kriewel digter teen hom aan.
Kotie Davel waag dit die eerste keer na buite. Hy loop versigtig, voel-voel met sy kieries. Hy loop n heen-en-weertjie op die werf, kom dan terug, val neer op n stoel, doodmoeg. Daarna moet Santie en tant Lenie hom na sy bed toe help, waar hy hygend en kortasem neerval.
Ai, kan n man so sleg word? kla hy later. Dat s n entjie mens kan hartkloppings gee van moegheid!
Kotie vra Naas tog uit oor die gesaaides, oor die stand van die beeste. Onderwyl Naas verslag doen, merk hy Kotie gee nie meer aandag nie. Sy gedagte het weer uitgerafel.
Jy moet Mischa dophou; kortvat. Hy kan goed werk, maar hy moet weet daar is altyd n oog. Dan vra Kotie: Het Blommetjie al gekalf?
Blommetjie? Naas ken nie so n koei nie.
Ag, Kotie, onthou jy nie ons het Blommetjie pesede winter al geslag nie? skrobbeer tant Lenie en skud radeloos die kop.
Dit is nie net Kotie se lyf wat aangetas is nie. Hy het n ou man geword wat al klaar aan die kens word is, glo Naas.
Naas is kwaai op sy hoede toe konstabel Dorland op n dag opdaag. Hy is onder die groot witstinkhoutboom besig om n langwa uit n haakdoringpaal met n dissel in fatsoen te kap, diep betrokke by wat hy doen, toe hy die perdepote hoor. Toe Naas opkyk, is Dorland op sy swart polisieperd lewensgroot hier voor hom.
Dorland is egter vriendelik. Hy is bloot op n roetinebesoek. Maar in die huis wil hy Kotie uitvra omtrent die aanranding op Driedorings daardie dag.
Ek wil n verklaring van jou h, meneer Davel, n volle bedigde verklaring van die aanval op jou. Ek het geverneem Hoon is weer hier in die distrik rond. Ek gaan hom aankeer, kort voor lank. Vir sy dade gaan hy boet.
Watter aanval? Ek weet nie van n aanval nie. Kotie kan niks van die gebeure onthou nie.
Maar kyk hoe lyk jy! Jy moet weet. Dit was die dag voor Slomski se winkel daar op Driedorings. Jy moet tog weet! Dorland is uit die veld geslaan. Hoon het hom teen arres verset. Dis klaar n misdaad, verduidelik die konstabel, die frustrasie duidelik hoorbaar in sy stem. Meneer Davel, vra hy dan, besef jy jy pleeg dwarsboming van die gereg? Jy beskerm n misdadiger. Jy kan voor die hof beland. Jy kan tronkstraf kry.
Dorland se tirade ontstel Kotie so dat hy begin huil. Tant Lenie, wat angstig bygestaan het, oorgehaal om te help waar sy kan, roep na Santie en stap handewringend weg.
Naas dink aan Barkus Hoon op Doornrug. Sou iemand aan Dorland ges het hy is daar? Hy sal moet gaan waarsku.
Kan hy dan nie verstaan die stomme kind se verstand is aangetas nie? kla tant Lenie in die kombuis. Ai, hoe durf die vloek n siek mens dreig?
Dit dring tog tot Dorland deur Kotie Davel is nie in n toestand om enigiets aan hom te verklaar nie. Hy kom kla sy nood by tant Lenie in die kombuis. Sy gee hom n koppie koffie en wens hom weg. Maar konstabel Dorland is nie haastig nie.
Ek sal Hoon kry, al vat dit my twintig jaar. Ek kry op die duur altyd my man. Vir sy oortreding sal hy boet. Kyk hoe lyk die stomme Davel. Sy verstand skoon uit sy kop gemoker. En hy  Tante het julle al n kis vir hom?
n Kis?
Konstabel Dorland sit by die kombuistafel, groot en gesagvol in sy uniform, n man wat sy outoriteit op almal afdwing en gevrees word omdat hy geen steen onaangeroer sal laat om reg en geregtigheid te laat sevier nie. Hy stop sy pyp, rook en oorpeins die situasie. In haar radeloosheid skink tant Lenie vir Dorland n tweede koppie koffie. Naas is na buite. Hy oorweeg om Blessie te gryp en die mense op Doornrug te gaan waarsku  maar nie om Barkus Hoon se vel te red nie. Hy dink aan die moeite wat tant Maria-hulle om die hals gaan val sonder Barkus daar.
In die stal kan hy nie verhelp om Dorland se swart polisieperd te bewonder nie. Dit is n perd van seker sewentien hande hoog, lewendig van oog, blink van lyf met n diep borskas en bre, soepel heupe. Ou Blessie sal n goeie voorsprong moet kry as Dorland besluit om haastig Doornrug toe te gaan.
Naas staan nog en hink toe hy n perderuiter hoor aankom. Toe hy by die staldeur uitkyk, skrik hy. Cornelia kom op Bordeaux aangegalop. Voor die deur spring sy af en toe sy Naas sien, skree sy: Waar is Kotie? Ek kom hom oppas.
Naas gewaar die verwildering in haar o. Cornelia is weer van haar wysie af en het nou di gekke idee gekry. Tant Lenie kom by die agterdeur uit. Sy hyg haar ontsteltenis. Cornelia, wat kom soek jy hier? kreet sy verslae.
Ek kom na Kotie toe. Ek kom Kotie oppas. Julle hoef hom nie meer op te pas nie. Ek sal mooi na Kotie kyk, s sy pleitend.
Kotie is gesond, my kind. En Kotie wil jou  Tant Lenie bedink haar.
Ag, kom maar in. Ek sal Kotie s jy is hier. Ek sal hom vra of jy na hom toe kan gaan. Kom  kom drink eers n koppie koffie.
Konstabel Dorland het sy pyp leeggerook. Hy sit dit versigtig op die tafel neer. Di Hoon-krel wat daar by julle gebly het, juffrou Bodemer  begin hy uitvra.
Ek het na Kotie toe gekom. Ek kom hom oppas, s Cornelia gul.
Ek vra jou omtrent jou pa se kneg, Hoon. Dorland het opgestaan.
Ek weet wat makeer Kotie. Ek sal mooi na hom kyk. O, ek wil hom oppas. Los my. Ek wil na Kotie toe gaan. Cornelia wil by Dorland verby, maar sy groot postuur versper haar pad.
Tant Lenie, wat na Kotie se kamer verdwyn het, kom staan in die deur. Dis goed, Cornelia. Kotie s hy is bly jy het gekom. Kom. Naas, gaan saam met haar, beveel tant Lenie, haar stem nou sag en moederlik
Wag n bietjie, ek wil haar nog uitvra. Konstabel Dorland l n groot hand op Cornelia se skouer en sy begin huil.
Ag, jy sien dit gaan nie help nie. Laat haar maar loop, Dorland. Toe, Naas, gaan saam met Cornelia. Cornelia, Kotie wag vir jou.
Maar ek het mos ges ek 
Naas probeer Cornelia uit Dorland se geselskap wegkry. En konstabel Dorland wil agterna.
Sit, Dorland. Sie jy loop sit, beveel tant Lenie skerp. Ek s jou mos dit sal nie help nie.
Tant Lenie gooi vir hom nog n koppie koffie in.
Is sy ook  Is julle almal geskommel in die kop? grom Dorland. Ek het al gehoor die mense s 
Tant Lenie sug. Ek weet nie. Ons is almal deur diep waters. Ja, die Here weet ons is almal deur diep, diep waters en ons moenie met klippe gooi nie. Arme kjind! Jy en ek weet nie wat sy moes deurmaak nie. Jy sien mos hoe lyk my Kotie, Konstabel? En die stomme Hoon! Moet jy hom nie ook maar vergewe en van alles vergeet nie?
Die wet  Die gereg moet sy loop neem, volstaan Dorland. Nee, persoonlik het ek niks teen gn niemand nie. Maar as n man die wet oortree, moet hy gestraf word. Dis hoe die lem in die hef steek.
Die laaste paar tre na Kotie se siekekamer is Cornelia opeens huiwerig. Sy steek vas en toe wil sy nie n voet verroer nie. Die reuk wat so lank allesoorheersend in die vertrek was, huiwer nog subtiel in die lug. Naas, wat haar hulpvaardig aan n arm steun, kom agter hoe sy bewe. Sy slaan opeens haar arms om sy lyf en klou krampagtig aan hom vas. Toe gaan sy aan die huil; hees, rou, aardig.
Naas praat mooi met Cornelia. Maar sy is nou n bang, verskrikte mens. Haar o fladder soos di van n wilde vol wat in n wip vasgekeer word en Naas se mooipraat laat haar nie bedaar nie. Toe begin sy wegbeur. Sy wil losbreek van hom, uit die huis kom, wegkom.
Naas verstaan nie dadelik nie. Hy bly mooipraat, hou haar vas, probeer haar oortuig sy het niks om te vrees nie. Hy lag selfs haar vrese weg, want haar vrese is so kinderagtig en so ongegrond. En hy vat die brose meisiekind  want dit is sy tog en niks meer nie  stewig aan die skouers en wil haar die laaste paar tree na Kotie se kamer dwing.
Kom nou, Cornelia. Kotie byt 
Cornelia skree opeens, gil wild, onbeheerbaar rou. En toe, soos n wilde dier in paniek, val sy aan. Sy val Naas aan. Haar hande word kloue, grawe na sy gesig, na sy o. Sy du hom weg met tien maal meer krag as wat hy van haar kon verwag. Hy moet haar arms los om sy gesig te beskerm. Toe sy los is, vlug sy gillend uit die huis uit.
Tant Lenie en konstabel Dorland kom uit die kombuis gestorm. Dorland probeer Cornelia op die trappies keer. Maar sy beur hom uit haar pad en sy poging om haar te gryp, kom te laat. En die volgende oomblik hoor hulle net hoefslae soos sy op Bordeaux die werf uit jaag.
Naas, vat jou perd, ry agterna. Kyk tog dat sy veilig by die huis kom, beveel tant Lenie. Ai tog, die stomme kind! Ai tog, die arme Maria en Dolf!
Naas saal Blessie nie eens op nie. Hy ry hard tot op Doornrug, maar sien die hele ent pad net Cornelia se perd se spore. Bordeaux moes soos n vaal josie die aarde Doornrug toe geskeur het.
Toe hy by die opstal opdaag is Cornelia reeds daar. Bordeaux staan voor die agterdeur, opgesaal en natgesweet, nog hygend van uitputting. Naas skree op Kandassie om iemand te ontbied om albei perde koud te lei. Hy meld nie van Cornelia se besoek nie, maar s Dorland was op Mooifontein en dit lyk of hy vermoed waar Barkus Hoon is.
Oom Dolf luister skynbaar sonder kommentaar na hierdie onwelkome nuus. Toe s hy tog: Ons kan die gereg nie dwarsboom nie. Hulle moet hom dan maar kom haal. Hy het n lelike ding gedoen en moet seker daarvoor gestraf word. Nee, ek sal hom nie uitlewer nie, maar ek kan hom ook nie beskerm nie.
Naas rep geen woord van Cornelia nie. Maar aan oom Dolf en tant Maria se stormswaar gesigte weet hy hulle is bewus van haar toestand; dra hulle kruis woordeloos.
Ai, oom Dolf, tant Maria, ek is nie so ver weg nie. Oom-hulle moet laat weet wanneer ek nodig is, dag of nag, bied Naas aan.
Nee, Naas, Stefaans en Barkus behartig nog skaflik. As Dorland Barkus kom vat, dan  dan sal ons jou vra om weer hier te kom handgee.
n Vrou lag opeens, skel en uitdagend elders in die huis: Ek sal julle wys. Ek sal julle wys. O, moenie dink ek is klaar met julle nie. Ek het nog nie eers begin nie! skree Cornelia en sy lag weer daardie lag wat nie van n mens kan kom nie.
Naas sien die skrik op tant Maria se gesig. Oom Dolf sit hulpeloos en verslae.
Dit  Dit maak ons klaar, bely tant Maria.
Ek wil so graag help waar ek kan, Tante, bied Naas weer aan.
Ons is jou onuitspreeklik dankbaar, my kjind. Maar nou  Nou  Tant Maria oorweeg. Oom Dolf en ek het so ons bes geprobeer om n huis vol kinders te h. Maar die Here het dit anders gewil en nou  nou  Naas, di broer van jou? Dink jy hy is altemitters jou stoffasie? En waar is hy? Waar kan n mens hom loop haal? Ai, as ons net kan voorsorg maak vir goeie hande vir Doornrug eendag as ons nie meer daar is nie!
Naas kan hulle geen inligting oor Kerneels gee nie. Oom Giel Ferreira het Kerneels kom kry. Hy sou na sy ander oupa gaan, dalk di se erfgenaam word eendag. Hy weet nie waarheen Kerneels is nie. Ek sal gereeld oorry. Dis net n hanetreetjie, beloof hy weer.
Nou sit ons so te s kaal op die ou plaas. Ou Doornrug is n wonderplaas. En was dit nie vir n mens se hebsug nie  praat tant Maria of sy Naas glad nie gehoor het nie.
Toe Naas weer een Sondag Doornrug toe ry, vra Hannie of sy kan saamgaan.
Laat Hannie saam met jou gaan, Naas. Vat die treppie. Dit kan haar net goed doen, beaam tant Lenie.
Dan gaan ons met die treppie, besluit Naas ook.
Nee, ek wil perdry, Naas, s Hannie. Sit die ramsaal op Libanon. Ek het hom al n paar keer gery. Hy sal mooi met my loop.
Hulle vertrek op n stappie. Hannie slaan self oor na n trippelpas. Vandag duur dit heelwat langer as ander dae om op Doornrug te kom.
Maar dit is n interessante, insiggewende rit. Hannie onthou die wreld soos hy hierlangs was voordat sy heeltemal blind geword het. Sy vra telkens uit oor bekende plekke. Dan moet Naas vertel. Baie bome blom nou en Hannie kan die bome aan die geur van hul blomme uitken. Al geselsend ry hulle voort. Naas verlustig hom in haar geselskap.
N die aanvanklike skok om Hannie te perd op Doornrug te sien aankom, is tant Maria-hulle tog bly dat sy gekom het. Hulle vra uit, wil alles omtrent Kotie en tant Lenie se welstand weet. Hannie wil die huis verken wat sy as kind glo goed geken het. Tant Maria moet haar van vertrek tot vertrek neem; bevestig dat elke stukkie meubel nog die huisraad is wat Hannie geken het. En oom Dolf gaan opgeto saam. By die huisorreltjie gekom, gaan Hannie op die stoeltjie sit. Tant Maria moet die orrel oopsluit. Oom Dolf moet pomp. Hannie begin speel, begelei haarself met sang. Die twee oumense se stemme sluit aan. Hulle sing die een bekende Kinderharplied na die ander.
En waar is my oupa en ouma? vra Hannie.
Tant Maria moet haar na hulle toe neem.
Hannie? Kleine Hannie! Oom Danie hou haar vas en wil net huil. Sy moet hom vertel van Kotie en tant Lenie. Hy vra kort-kort na haar oorlede pa. Hy bly vergeet sy stiefseun is dood.
En ouma Hartjie? Oom Danie probeer tevergeefs om ouma Hartjie se kleindogter aan haar voor te stel. Dis nou Hannie, Ma, Hannie van Albert en Lenie, verduidelik hy geduldig.
Ja, ek weet mos. Maar wies sy? Tant Hartjie is te ver heen om werklik van haar notisie te neem, moet Hannie aanvaar.
Naas glip na buite, kuier vir die plaas. Oemfaan, nou n ou bul, is nog altyd in die ho kraal. Hy gaan verby die kraal die digte bos in. Die bome en struike is vol in lower, te mooi. Dit het onlangs gereent en die veld juig. Alles boei Naas. Hy verken sommer net. Hy het so lanklaas werklik vir alles hier s gekuier, dat alles vir hom soos n herontdekking voel.
Skielik stuit Naas in sy spore, duik hy instinkmatig agter die dik stam van n wag-n-bietjie in. Hy het iets sien beweeg: iets wit en skigtig wat hy herken het as Cornelia net voordat sy agter n digte rosyntjiebos weggeraak het.
Cornelia kom nou weer in sig. Sy loop versigtig, planmatig soos n roofdier wat bekruip, van boom tot bos, van bos tot boom. Sy weet waarheen sy gaan, stuur af op n doelgerigte baken, maar maak ook seker niemand anders weet waarheen sy op pad is nie. Naas volg haar, hou haar in die oog onderwyl sy voortskarrel en nie weet wat om te verwag nie.
Toe glo hy hy weet en hy besef hy moet so naby as moontlik aan haar kom. Naas beweeg soos n onsigbare skaduwee agter Cornelia aan. Hy vernou die afstand tussen hulle en toe sy by die graf in die bos kom, is hy skaars dertig tree agter haar. Daar skuil hy, want sy het tot stilstand gekom, kyk oral om haar en wag dan verskuil naby die graf.
Naas bly skuil agter n digte boskasie. Hy roep onwillekeurig die laaste keer toe hy hier was in herinnering. Toe was dit nag. Toe was Cornelia ook hier, ook Barkus Hoon. Hy ril onwillekeurig toe die makabere toneel van daardie nag in sy geestesoog afspeel; maan homself dan om roerloos stil te sit en nie sy teenwoordigheid te verklap nie. Cornelia wag ook. Dit is duidelik dat sy op iemand wag en doelbewus hierheen gekom het 
n Ruising in die bossies links van Naas s vir hom daar is iemand op pad. Sommer hier by hom gewaar hy die voetval en sy hart klop nog heftiger. Dan val n skaduwee oor die bossies waarin hy wegkruip. Die volgende oomblik is die geheimsinnige figuur verby hom; gewaar Naas hom in sy gesigsveld; ruik hy hom.
Naas het die besoeker half en half verwag. Tog is dit vir hom n skok om weer di figuur in lewende lywe te sien. Mtwetwe, die maer ou inyanga met die hanglip en die slangogies, stuur sy krom gestalte na Cornelia daar naby die graf. Die ou man is so versigtig soos n slang; sy bewegings verkennend, tydsaam en slu. Naas sien Cornelia beweeg ook nou reguit na die graf toe. Daar plaas sy iets op die verste punt van die gebarste leiklipblad. Wat dit is, kan Naas nie uitmaak nie, maar hy bars om te weet met watter onheiligheid hy hier te make het. Naas merk die ou inyanga kom halforent, sluip gebukkend. Naas volg hom, sy lyf laag op die grond, geruisloos. Die ou inyanga, selfs Cornelia, is glad nie van sy teenwoordigheid bewus nie. Mtwetwe bereik die duskantse punt van die graf. Dit is soos n seremonie, want Cornelia wat die ou toordokter gehipnotiseerd dopgehou het, beweeg nou langsaam om na die sakkie wat Mtwetwe aan sy kant neergesit het, onderwyl die ou man net so gemete om die graf sloef-slaf na die pakkie wat Cornelia neergesit het.
En op di oomblik, juis toe Naas slegs n paar tre weg is en Mtwetwe sy klouhand al uitsteek om die sakkie op te raap, gewaar Cornelia hom. Sy gil n waarskuwing, gryp die geruilde velsakkie en skarrel soos n wildsbok tussen die geboomte deur en met n wye draai huis toe.
Mtwetwe het op sy beurt verskrik omgeruk, verloor half sy balans, en net daardie sekonde aarseling voordat hy sy pakkie gryp, gee Naas sy gaping om die ou inyanga te loop. Maar Mtwetwe kry tog in sy momentum die pakkie beet, smyt dit roekeloos die veld in, kom tog weer op sy voete te lande, laat spaander buitengewoon flink vir sy ouderdom en verdwyn in n ommesien in die ruigtes  sonder sy pakkie.
Naas soek rond. Die pakkie het spoorloos verdwyn. Hy soek al wyer en wyer in die onmiddellike omgewing. Dit moet tog hier l! Dis noodsaaklik dat hy dit kry!
Aan die ou toordokter, of hy nog daar is en of hy landuit gevlug het, steur Naas hom nie. Vir hom is hy nie meer bang nie. Hy is net n aaklige, vuil ou man wat sy bed donssag hou deur gemeenhede teen onskuldiges te pleeg, glo Naas. Maar sy mag oor hom, Naas Ferreira, is vir goed gebreek. Hy vrees hom nie, weet hy is nou die gevreesde.
Naas soek goed twintig minute lank en wil al opgee toe hy tg die pakkie kry waar dit in n boskasie verdoesel l, so asof n hand dit sorgvuldig daar versteek het.
Met die pakkie in sy hand oorweeg Naas nie eens nie. Hy sit kortpad deur die bos af na oom Staag Lemier se plekkie. Hy hoop maar hy vind die ou man tuis. Hy durf nie lank wegbly nie. Hannie is nog op Doornrug, veilig by die oumense, glo hy. Tog voel hy onrustig, want hier het so baie onheile al gedreig  en Cornelia het weereens getoon dat sy gevaarlik is.
Oom Staag is gelukkig tuis. Die ou man luister sonder kommentaar na Naas se relaas, hou dan sy hand uit vir die pakkie. Dit blyk n snuifblik te wees wat in n stukkie lap toegedraai is. Naas herken Barkus Hoon se pruimpieblik. Toe oom Staag die blikkie oopmaak, grom hy: Sukke duiwels! Kyk net wat het ons hier!
Naas kyk nou na die paar goedjies in oom Staag se hande, op die oog af onbeduidende goed. Daar is n klossie hare. Dan n paar stukkies vinger- en waarskynlik toonnaels. Die belangrikste is n tand, n liederlik verrotte kies- of verstandtand, waarvan net die wortel en n stukkie van die kroon oorgebly het.
Tsk, tsk, tsk, Naas, lyk my jy het ng n liederlike ding net betyds gekeer. Die man aan wie di goed behoort, kan van geluk praat. Jy kan seg hy is net betyds van n goddelooslike ding gered. Met di goed  In alle geval, dit maak nou nie meer saak nie, want nou kan hy nie bygekom word nie. Weet jy wie sinne is dit?
Dis Barkus se pruimpieblik, Oom, s Naas.
Dan is die hare, die tand en die naels ok syne. In alle geval, nou maak dit ok nie meer saak nie, want nou kan hy nie bygekom word nie. Maar wat sou Cornelia di keer besiel het om die arme ellendeling nog verder in die ongeluk te wil dompel? D, vat. Gooi die goed in die vuur. Tsk, tsk, tsk!
Oom Staag peins lank, skud sy kop en mompel met homself.
Toe vra oom Staag weer: Wat sou Cornelia nog van Barkus wou gehad het? Ai, met daai goed in Mtwetwe se kloue sou hulle die stomme man ng n keer hande en voete gebind in hulle mag gehad het.
Oom Staag sug. Cornelia word nou n gevaar vir ons almal. En sy is nie klaar met Koot Davel nie. Ja, sy, of die duiwel in haar, is nog nie tevrede nie. Ek sal moet doen wat ek baie opsien om te doen  Toe jong, met Cornelia los, kan Hannie in groot gevaar wees. Haas jou huis toe!
Ek verstaan nie mooi nie, Oom?
Oom Staag tuur net in die verte en s nie n woord nie. Die kommer op sy verweerde gesig verklap genoeg van die erns van die situasie  onverstaanbaar of te nie.
Naas vertrek dadelik. Op pad val dit hom by: Hy het mos nie aan oom Staag ges Hannie is op Doornrug nie! Hoe sou die ou man geweet het?
Naas werp die gedagtes gou van hom af. Oom Staag, het hy al agtergekom, weet dinge wat ander mense nie die vermo het om te weet nie.
Hy vind Hannie baie opgewek en baie veilig, nog steeds in oom Dolf en tant Maria se geselskap. Hulle vra nie eens waar hy was nie. En hy vertel hulle nie wat hy ervaar het nie. Cornelia het f nog nie haar opwagting gemaak nie, f so stil die huis binnegesluip dat niemand haar opgemerk het nie.
