Dorpie onder krygswet
Die Valsrivier wat vir my as kind die hele beskaafde wreld was, ontspring in die Witteberge naby Bethlehem in die Noordoos-Vrystaat, vloei noordwes deur die Bo-Vrystaat en mond kort anderkant Bothaville in die Vaalrivier uit. Dit loop deur n vlak laagland, gesoom met plat beboste kliprantjies. Met sy myle lange seekoegate en klipkeerbanke is dit een van die standhoudendste riviere in die Vrystaat. Langs sy walle is goeie grond, goeie weiding  die beste in die hele land, het my pa geglo. Ongeveer veertig myl van waar dit uitmond, swenk die rivier n paar keer suidwaarts en in een van hierdie elmbo aan n klipdrif het in die negentiende eeu die dorpie Kroonstad ontwikkel.
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was dit reeds n vooruitstrewende distrik en n dorpie met hardebaard. Die drif, die Kroondrif, was van oudsher reeds die belangrikste transportdeurgang na Transvaal, en drie strate, Oranje, Cross en Murray, het stewig bebou en netjies met systrate geblok, opgestreep na die stasie, waar treine sedert 1892 na Johannes-burg verbystoom.
Kort by die drif het twee hotelle gestaan. Hoewel een van hulle aan my groottante behoort het, moet ek bely dat die plek-ke nie fatsoenlik was nie. Daar was ook n poskantoor, n land-drosgebou en n mark. Straatop het die hart van die dorp gel rondom die groot plein van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, destyds n lomp, toringlose gebou wat in die middel van
die dorp soos n hoenderhen gehurk het, met die huisies soos kuikens om haar heen. Daar was tien winkels, vyf algemene agente, n prokureur, vier dokters, n horlosiemaker, vier skrynwerkers, een tuiemaker, twee slaghuise, twee bakhuise, een kleremaker, twee hoefsmede, een blikslaer, vier messelaars en n sieletal van ongeveer seshonderd. Daar was n winsge-wende wolwassery aan die rivier, een dubbelverdiepingwoon-huis en n watertoring.
Afgesien van die Hollandse predikant en die klein groepie regeringsamptenare en enkele uitsonderings was die mense wat die bogenoemde beroepe beman het, deur die bank Engel-se, Skotte en n paar Litause Jode. Waar sou hulle almal van-daan gekom het? Waarom het hulle hier in die doringlaagte vasgehaak? Die storie van elkeen se mislukking, teleurstelling en geheime verlange sou n lang en somber boekdeel uitmaak, maar daar was dinge wat hulle gemeen gehad het met die hele land se verlore uitlandergeslag van die vorige eeu.
Hulle het hulself nooit deel van die jammerlike, primitiewe republieke of die ewe jammerlike Kaapkolonie gevoel nie. Hul-le was afstammelinge van Britte wat die grote Napoleon oor-win het en hulle land op die voorposte van sy beskawing ge-dien het, en hulle was net aan Brittanje verantwoordelikheid verskuldig. Daarom het hulle in elke dorpie waar hulle saamge-trek het, n harde klont verset teen die klimaat, die inwoners en die staat geword.
Hulle het deur blakende somers en ysige winters heen die Britse leefwyse probeer volhou. Hulle het op ons dorp tennis-bane gebou en toernooie gespeel, maar dit het stadigaan dood-geloop, en die bane het vol onkruid geword: Daar was makliker maniere vir n vrou om haarself te verwoes as om, n eeu voor daar kreukeltrae stowwe en reukweerders was, in gestyfde lang kabaai in die bloedige son agter tennisballe aan te wip!
Hulle het hul bes gedoen om krieket en voetbal aan die gang te hou, hulle het nogal sukses met n roeiklub gehad, maar it seems impossible te keep anything going in this miserable place, het mnr. Hill, die prokureur, eenkeer in n openbare skrywe wanhopig uitgeroep. Tuinpartye is selfs vandag nog in
die ongestadige Vrystaatse klimaat n gewaagde onderneming, en bankette  stel jou die sotheid voor dat n geselskap Skotte die heildronk op n Vrystaatse president moet instel! Dans-partye, fatsoenlikes, was buite die kwessie, want die enigste behoorlike danslokaal was die hofsaal, en die Vrystaatse rege-ring het bepaal dat dit nieamptelik net vir kerklike funksies gebruik mag word.
Hulle huise het vol pampasgras en vol portrette van Victo-ria en Albert gehang, daar was katalogusse van die wonderlike dinge wat jy regstreeks vanuit Londense beskawingswinkels kon bestel  as jy die geduld en die geld gehad het. Hulle het verveeld in hul onderbaadjies en gestreepte boordjiehemde teen die deurkosyne van hulle winkeltjies geleun en futloos die transportpad met sy poskoetse van Bloemfontein of Johannes-burg dopgehou. Namiddae het hulle ure lank in die sleg geven-tileerde kroe deurgebring en mekaar probeer opbeur met ver-hale van die Britse oorwinnings in die Ooste. Hulle het nie van Piet Joubert en De la Rey geweet nie, maar hulle kon jou alles omtrent Kitchener van Khartoum, Redvers Buller en Chinese Gordon vertel. Hulle het die tyd met dobbel verdryf en die winste gebruik om hulle kinders Engeland toe te stuur om daar skool te gaan. Min van hierdie kinders het teruggekom na Suid-Afrika toe.
Die grootste frustrasie vir meeste was miskien dat die enig-ste opwinding, die enigste besigheid gekom het as die ongelet-terde Boere elke drie maande met hulle tentwaens inkom dorp toe en op die kerkplein en in die tuishuisies vir Nagmaal afpak. Dan was daar nuus, geld, lewe op die dorp. Dan vou die meer-derwaardige Engelse handelaars hulle dubbel om die gerad-braakte Engels van die Boere te verstaan, laat hulle hul blink-gevryfde winkelvloere vol twaksop spoeg, staal hulle hul teen die oliekolonie- en snuifasems van aggressiewe Boerevroue wat die duurste en beste fluweel, die fynste koppies en die in-gevoerde skoene wil koop.
Oor die algemeen het hulle die Afrikaners geminag oor die goedkoop pepermente wat hulle suig, oor hulle bot eiegereg-tigheid oor die besit van die land, hulle fanatieke bidure en te-
merige gesange, hulle duikervelsakke vol goue ponde en mis-kien nog die meeste oor hulle fisieke geilheid wat hulle deur droogte en verveling heen met stringe aanteel laat triomfeer het.
Daar was uitsonderings: Kroonstad was gelukkig genoeg om een hiervan te h. Ek het hom nog self in my kinderjare ge-sien, die arrogante ou kolonel met sy blitsige blou o en woe-dende Ierse snorbaard. Alfred Lester Thring, houer van die Na-tallers se dapperheidsmedalje in die Zoeloe-opstande, houer van die Boere se medalje vir getroue diens in die Anglo-Boere-oorlog en houer van die Engelse se DSO in die Eerste Wreld-oorlog.
Hy het in Ladysmith grootgeword en in 1883 as jong man na Kroonstad uitgewyk. Hy was n dodelike skut en het vrees nie geken nie, en hierdie twee dinge was die enigste maatstaf waarmee hy ander gemeet het. Kroonstad het hom hulle veld-kornet, vrederegter en later heemraadslid gemaak.
Kroonstad het n skyfskietspan opgebou wat tot in Trans-vaal bekend geword het en die kommando het selfs n liedjie vir hulle kaptein gemaak.
Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, is hy saam met die kommando Natal toe om daar te veg, onder andere teen sy broer wat by die Britse magte aangesluit het. Daar bestaan n portret waarop genl. De Wet tussen die twee sit: links kom-mandant Du Bois, die Fransman met groot arbeidershande en regop kuifie, en regs Lester Thring, regop en met stywe krawat en wegstaansnor, gereed om in te storm. In die Tweede W-reldoorlog het hy sy eie brigade, Thrings Light Horse, aange-voer 
Maar sulke gevalle was uitsonderings.
Die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die laat negentiende eeu was moeilik vir die uitlanders om te verteer. Die veragte Afrikaner het Brittanje met kolonisasie en binnelandse beska-wing na die kroon begin steek, en Engeland het al hoe onmag-tiger geblyk om die toestand te keer, soos die eerste Transvaal-se Vryheidsoorlog bewys het.
Hulle moes begin voel het soos mense wat op n eiland ver-geet is. Hulle het die patroon van Rhodes probeer volg wat sy diamantmyne heeltemal los van die Kaapse regering beheer en dit so suksesvol gedoen het dat die Engelse opperbevel in Lon-den n die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog weke lank nie seker was waar hy sy troepemagte moet konsentreer nie: by Kimberley om Rhodes se belange te beskerm of by die militre doelwitte wat die Kaapse opperbevel aanbeveel het.
In sentrums soos Johannesburg is hulle rol in die aanhitsing tot oorlog oorbekend, en deur die hele land heen was hulle hoogs verlig toe dit eindelik uitbreek en Redvers Buller van Engeland af gestuur word: The Boers will cop it now. Farfers gone to South Africa an tooken is strap, het Punch selfge-noegsaam ges.
Wel moes hulle in die eerste paar maande die Boereoorwin-nings by Ladismith, Mafeking en Magersfontein sluk, maar die oorgawe van Cronj by Paardeberg en die triomfantlike inmars van die Engelse in Bloemfontein het gou daarna gevolg.
Die uitlanders van ons dorp moes daarna wel nog die irrita-sie beleef om die hele Vrystaatse regering met Steyn, De Wet en Botha op Kroonstad te h en die reusesaamtrek op die Kroonstadse markplein toe Kruger en Steyn die Boeremagte toegespreek het. Maar nadat lord Roberts op 11 Mei 1900 met marsmusiek en adresse buite die dorp verwelkom is, was die borde verhang. Genl.maj. W.G. Knox het met twee Engelse laers permanent weerskante van die rivier ingetrek, en die uit-landers van ons dorp was soos mense wat die groot verdruk-king ontkom het. Daar was meteens weer die ou geliefde tong-val oor lippe geverf met goeie, bele Skotse whisky, daar was die geknipte Britse steekbaardsnor, die fleur van ordelinte en gesnyde medaljes, die nonchalante handgebaar om n sabelhef. Weer eens was daar die sekerheid van n militre stelsel, n protokol, n korrekte manier van dinge s en doen. Inderdaad het die magtige Britse Ryk hulle hier op die voorposte ingehaal met sy tradisie en (hoe gerieflik!) ook met sy geldmag.
Die winkels kon nie voorbly nie, en nuwes het ineens oop-gemaak. Die offisiere is getrakteer op jagpartye en bankette
wat eindelik op standaard kon aangebied word. Die twee ho-telle moes hulle werknemers aanvul en kafeetjies, kleremakers, skoenmakers, tuiemakers het oral opgeduik om die soldate van diens te wees. Saans laat as die offisiere n ure lange brassery in die hotel by die kafees kom eet, het hulle nooit die moeite gedoen om kleingeld wat val, op te tel nie. Middernag, wan-neer kafeebediendes wat later aan dikwels boeremeisies was, die kafees uitvee, tel hulle die geld op, soos Rut haar koringare.
Tussen Hill- en Murraystraat op n perseel waar later jare n begrafnisonderneming sou verrys, het majoor Knox vir sy ho offisiere ses Franse prostitute gehuisves. Ou inwoners onthou hulle nog as ses logge monsters met geverfde hare en uitspat-tige sytabberds wat onverstaanbaar gebabbel het, dit selde in die onsimpatieke klimaat buite gewaag het en saans heftige ru-sies onder mekaar en met hulle minnaars met borde en koppies besleg het.
Die mindere offisiere is dikwels na die huise van Engelse en jingos uitgenooi; van die gewone ou Tommies het die lewe in die saaie gehuggie vir hulself ten beste probeer opfleur met die inheemse bevolking. Die algemeen aanvaarde vergoeding vir plesier was n blikkie konfyt. Vroue in die Kroonstadse swart woonbuurt het geweet waarop dit neerkom as n soldaat met haar onderhandel oor jig-jig for jam.
Wat die Kroonstadse uitlanders betref, kon die toestand vir jare so voortduur, en tot hulle verligting het dit ook. Ten spyte daarvan dat die Engelse die spoorlyne van Kaapstad tot by Delagoabaai en Durban beheer en die hoofstede van die repu-blieke beset het, het die oorlog toe eers vaart gekry en die Engelse regering eenmiljoen vyfhonderdduisend pond en vier-duisend dooies per week gekos.
Toe begin die guerrillafase van die oorlog met die verwoes-ting van Boereplase en die vernietiging van kosvoorrade. Kroonstad moes sy pas hierna rel. In n ongesonde turflaagte naby die rivier verrys n konsentrasiekamp met n ekstra vier-duisend siele: vroue wat net met die klere aan die lyf en dit wat hulle in die hardloop uit die brandende huise kon red daar aan-gekom het, kinders, oues van dae.
S het my groottante Grietjie ook ternouernood daar uitge-kom. Tant Grietjie was in ons familie bekend as n vreeslose Vrystater, n vrou wat n jong perd kon inbreek, haar eie man sy pak slae op sy tyd gee en nog boonop voorbodes kon sien.
Toe die Engelse op n dag op die plaas toesak, het sy haar tawwerd kieskeurig bymekaar getrek en in haar leunstoel in die voorhuis gaan sit. Sy het geweier om die huis te verlaat. Kinders en aangetroudes het koorsagtig meubels uitgedra, hensoppers het geplunder, soldate het kussings en veerbed-dens met bajonette deurgesteek op soek na wegkruipende Boere, voerbale is nadergesleep om die vuur mee aan te steek, maar tant Grietjie het bly sit.
Hulle het die vuur aangesteek, maar sy het bly sit. Toe die platdak van die kombuis in vlamme inmekaarstort, het vier Engelse soldate swetend en swetsend met die groot leunstoel met tant Grietjie nog daarin, by die deur uitgestorm gekom en haar bo-op die skamele hopie meubels neergesmyt. Sy is kamp toe geneem.
Ten spyte daarvan dat Kroonstad oor gesuiwerde drinkwa-ter beskik het, is water uit die rivier met waterkarre aangery en aan die vroue verkoop. Daar was nie beddens nie, en vleis van hulle eie skape kon hulle van die joiners teen buitensporige pryse koop. Daar was vir die vierduisend n dokter. Dit het n kermende helkamp geword waar ondervoeding, kindersiektes, intrige en ontbinding floreer. Dit het n rekord opgestel vir die meeste sterftes in een maand in die hele Vrystaat en Transvaal; die vier timmermans kon nie voorbly om doodkiste te maak nie.
Woensdagmiddae, so onthou my ou oom Bouwer wat dit as seuntjie meegemaak het, moes alle kinders in rye inval. Dan kom die militre orkes van die kamp af en moes die kinders ure lank op die maat van Britse marsliedere marsjeer. Hy onthou nog die menigte rottinghoue wat hy oor die bene gekry het wanneer hulle sing: We march to the red, white and blue en hy dan saggies byvoeg, and the yellow too 
Boere wat krygsgevange geneem is en nie parool wou teken nie, is gedwing om die grafte in die konsentrasiekamp te gra-we.
Op die dorp was elke tuishuis stampvol gepak, want eie-naars van huise kon verlof kry om dit te bewoon, maar ook by hulle was daar dieselfde probleme. Hulle het nie geld of klere gehad nie en moes handwerkies verrig om aan die lewe te bly. Maar nou swerm ook die hensoppers en verraaiers na die dorp. Hulle plase en veekuddes bly wel ongeskonde deur die Engel-se, hulle ontvang besoek van en rel jagpartye vir hoofprovoos De Bertodano en sy offisiere, maar hulle word uit vrees vir die Boerekommandos se wraak na die dorp gedryf.
Dit is hulle wat vir die Engelse, wat maar nooit vat aan die Suid-Afrikaanse veldtoestande kon kry nie, as gidse en raadge-wers optree, plundertogte na Boereplase onderneem en hulself met die buit verryk, wat wagstaan by die konsentrasiekamp en die vroue van Boereoffisiere vir spesiale vernederings aan die Engelse uitwys.
n Ent buite Kroonstad het n sekere ou dr. Bratt n groep joiners om hom vergader en n sooifort onder dekking van n blokhuis naby Heuningspruitstasie gebou. Hiervandaan het hulle vir die Engelse spioenasiewerk gedoen en in hulle sooi-fort geskuil wanneer daar Boerekommandos in die omtrek was.
Die dorp het soos baie ander plattelandse dorpe in daardie dae n nes van intrige geword waarin Afrikaners met die Engel-se gemene saak gemaak en hulle landgenote uitgelewer het. Hiervan spreek n hofsaak wat daardie tyd in Kroonstad ver-hoor is. Die aanklag wat voor magistraat Robertson gedien het  wat terloops die Boere baie goedgesind was  was een van strafbare manslag. Die beskuldigde was n sewentienjarige Boeremeisie, Johanna Geldenhuys. Vir die Kroon het C.L. Botha opgetree, vir die beskuldigde W.D.E. Watkeys.
Volgens die getuie, haar jonger suster, het hulle met drie kleiner kinders in n perdekar in die veld gery. Hulle is deur die Engelse tot stilstand gedwing. Hulle swaer, Pieter Ajvers, het met n perd daarop afgekom, sers.maj. McGillwray van die Suid-Australiese Boslansers doodgeskiet en sersant Ewans verwond. Hy het die geweer by hulle in die kar gegooi en weg-
gejaag. Twee dae daarna is Johanna op Olifantsvlei in hegtenis geneem. Volgens sersant Ewans was dit die oudste van die twee dogters, Johanna, wat die sersant-majoor doodgeskiet het, hoewel niemand enige van die twee meisies met n geweer gesien het nie.
Die hofverrigtinge het in Engels plaasgevind; daar moes vir die beskuldigde getolk word. Chris Botha, skitterende advo-kaat wat later regter sou word, het die beskuldigde se stame-lende, beangste verklaring geskeur met spitsvondige Engelse tersydes wat die aanwesiges laat skaterlag het, maar heeltemal verlore op die twee baar boeredogters was. Die verbatim ver-slag van hierdie hofsaak in The Friend is iets aanstootliks om te lees. Johanna is gevonnis tot n jaar tronkstraf met hardepad.
Kroonstad se oorlogspoging het egter nog verder gestrek. Hier is n komitee in die lewe geroep wat homself die Sentrale Vredeskomitee genoem het en wat met pamflette en pers-verklarings landswyd propaganda teen die Boere versprei het. Die gedagte was om die Boeremagte hierdeur tot oorgawe te dwing. Die sleutelfiguur in die komitee was n NG-predikant, Du Plessis. Hy was voor die oorlog predikant op Lindley en het in Junie 1900 daar die eed van getrouheid aan Engeland afgel. Daar het hy onder meer in aanraking gekom met kmdt. Vilonel wat vroeg in die oorlog, nadat hy vr die Slag van Sannaspos deur genl. De Wet van sy pos onthef is, gaan oorgee het. Saam met hulle was n bekende Kroonstadter, Louw Botha, wat voor die oorlog reeds bekendheid verwerf het deur n pamflet te skryf waarin hy die Boer se agterlikheid en gebrek aan beska-wing opweeg teen die verfyndheid en edelmoedigheid van die Engelsman. Gewese Vrystaatse Volksraadslede, Minnaar, Naud, Bornman, Botha en Cloete met sekretaris Chris Botha onderteken hulle ope briewe in koerante.
In een so n brief van die dominee aan die South African News in Kaapstad noem hy genl. De Wet n leuenaar wat met leuens oor denkbeeldige oorwinnings sy magte onder valse voor-wendsels in die oorlog hou. Hy beskryf Boere se gruweldade wat onder meer gepleeg is teenoor ene Gert Muller, wat deur
die dominee een van sy godvresendste diakens genoem word, maar in die dorpsoorlewering onthou word as die skrik van die konsentrasiekampvroue. Muller is in die veld met sy vredes-pamflette deur die Boere betrap en byna doodgeslaan: vyf-en-dertig houe met n stiegriem, kan die dominee presies konsta-teer.
Hy skryf ook uitvoerig oor die Morgenthal-geval. Andries Wessels en Jan Morgenthal, twee hensoppers uit vooraan-staande Kroonstadse families, het, onbevrees soos die dominee hulle ken, op eie versoek uitgery na De Wet se kommando en hom in naam van die Vredeskomitee beveel om sy huigelagtig-heid te laat staan en hom oor te gee. Morgenthal en Wessels is sonder verdere seremonie deur kmdt. Froneman daar doodge-skiet  wat jou wys tot watter skrikwekkende wreedheid die Boere gedaal het, s die dominee.
Die komitee was een van die liggame wat hom ten doel ge-stel het om die goeie naam van die Britse ler te herstel. Daar het naamlik allerhande stories die rondte gedoen dat Britse troepe hulle aan oneervolle gedrag skuldig maak. Die komitee het oral in die Vrystaat vergaderings gehou om hierdie bewe-rings die nek in te slaan. So n vergadering is ook in Bloemfon-tein gehou. Toesprake is deur dr. Kelner, J.G. Fraser en andere gehou, maar dit was adv. Botha wat openlik kon getuig van die Britse ridderlikheid teenoor sy huisgesin toe die Britse ler Kroonstad binnegetrek het. Not for one moment, s hy, het hy ongerus gevoel oor sy vrou en dogters nie, en hy het voor-gestel dat n verslag van die vergadering se verrigtinge gestuur word aan die Britse regering asook die burgemeesters van Parys, New York en Berlyn! Onnodig om te s dat die betrokke vergadering afgesluit is met three rousing cheers for the British army and a deep-chested rendering of God save the Queen.
Die komitee het n afvaardiging Kaap toe gestuur met die doel om lord Milner opmerksaam te maak op die werk wat hulle vir die Empire doen, die Afrikanerbond se samewerking te verkry en kontak met gevangenes in die Groenpuntse kamp
te maak om daar n opstand teen die oorlog te bewerkstellig en nog beter paroolvoorwaardes te verkry. Die Afrikanerbond wou nie saamspeel nie, en by Groenpunt het die komitee hom vasgeloop teen n onopvallende man met die naam van Hennie Otto. Hy was tot met die inname van Kroonstad telegrafis op die dorp, is gevang en na Groenpunt geneem, en sy suster Gertie het getrou die uitknipsels van die Vredeskomitee se be-drywighede aan hom gestuur. Hennie Otto het gesorg dat die Vredeskomitee van sy dorp nie vastrapplek op Groenpunt kry nie. Toe hy later hoofbestuurder van die magtige Nasionale Pers word, sou hulle dalk vermoed het ?
Onder hierdie omstandighede het Emily Hobhouse tot die oorlog toegetree. As mens n gesaghebbende werk (soos di van Rykie van Reenen) oor Emily Hobhouse lees, val dit jou op hoe baie van die persone wat Emily in haar taak bygestaan het, juis die groot hensoppers onder die Boere was. Waarskynlik was daar in daardie stadium al n kentering, n gevoel van skuld wat tot heil en voordeel deur di dapper vrou aangewend kon word.
In ons dorp se oorlewering is daar n sprekende voorbeeld. Elke jaar vir sover terug as wat ek kon onthou, was my pa een van die organiseerders van die Heldedagbyeenkoms, en jaar n jaar het hy in die een of ander stadium in die finale relings op n besondere manier in sy eie herinneringe verstrik geraak. Daar was een gesin wat selfs vir n klein seuntjie soos my pa ge-durende die oorlog afstootlik was vanwe hulle Britsgesind-heid. Maar met die rehabilitasie van die konsentrasiekamp was hulle dermate daarmee gemoeid dat die eerste kampmonument deur hulle daar opgerig is. Dit het gemaak dat hulle name by elke Heldedagviering in dankbare nagedagtenis genoem moes word. Elke jaar het my pa hoog en laag vir ons gesweer dat hy die geskiedenis nie langer gaan verkrag nie, en elke jaar het ek hom met stywe lippe en afgewende gesig tog die bedanking hoor doen.
En n die vrede? Wat dit alles aan die plattelandse Afrika-ner gedoen het, is bekend. Maar ook die uitlander op die klein
plattelandse dorpie het nie ongeskonde daarvan afgekom nie. Die oorlog het die Afrikaner sy onafhanklikheid gekos, maar dit het hom ontsaglike aansien gebring. Dit het aan die Engels-man n oorwinning besorg, maar sy prestige weggeneem, en hieraan moes hy net so hard as die Afrikaner wurg.
Heelwat Engelse soldate wat by die twee kampe gestasio-neer was, het n die oorlog op ons dorp agtergebly; bouers, algemene handelaars en die spoorwe en polisie het soveel Tommies gelok dat Afrikaners vir jare n die oorlog dikwels nie polisiemanne in hulle huise wou innooi nie.
Toepassing van die verengelsingsbeleid in daardie dae en hoe die Afrikaner hom daaraan ontworstel het, is bekend. My ouers was produkte van daardie gewraakte skoolstelsel en was aktief in die strewe om daarvan los te kom. En tog roer dit my nog altyd wanneer ek terugdink hoeveel daarvan hulle onbe-wus bly aankleef het. Ek dink aan my ma aan wie se knie ek my liefde vir die groot Afrikaanse vaderlandsdigters geleer het. Maar liefdesgedigte het sy net in Engels gelees. Sy het geweier om by Engelse besighede te koop of in Engels bedien te word, maar sy het net Engelse Spode-porselein, Sheffield-messe en Horricks-linne gekoop. Sy het my met Engelse waarheidspreu-ke soos If thou cannot to thine own self be true  geleer om n Afrikaner te wees  en sy het tot aan die einde van haar lewe met die grootste respek gepraat van daardie ou Ierse en Skotse onderwyseresse wat gestuur is om die Engelse taal en kultuur in haar keel te kom afdruk. Bewys dit weer eens die onvoor-spelbaarheid van die Suid-Afrikaanse geskiedenis?
Die onvoorsiene het dig by ons gebeur toe die Ierse Milner-onderwyseres van ons buurdorp, mej. Bell-Robinson, een van die grootste kampvegters van die Afrikaner en sy taal geword het. Uit jammerte vir die Afrikaner seker, maar net sowel uit Ierse haat vir alles wat die Engelsman doen.
Die Milner-skoolraad wou van Kroonstad af nie biblioteek-boeke vir haar skool stuur nie en op n dag het sy met n pieka-nien in n bokkiekar ingejaag Kroonstad toe en die biblioteek ingemarsjeer. Sy het boeke afgepak en die karretjie volgelaai en
toe, gekonfronteer deur die hele school board, haar benerige vinger omhoog gehou en met vlammende blou o gesis: I dare you to take one book from me. Hulle het natuurlik nie, want sy was toe reeds een van die invloedrykste persoonlikhede in die Vrystaat, persoonlike vriendin van Emily Hobhouse, genl. De Wet en genl. Hertzog.
Die gemeenskapslewe van ons dorp, die sport en stadsraad is daardie tyd deur Engelse oorheers en die Eerste Wreldoor-log het hulle met n nuwe patriotisme besiel, maar tog ook nie volkome nie.
Hulle het nog God save the King gesing, nog in die somer hulle stomende Kerspoeding swetend verorber en na home verlang, maar dit was n nostalgiese verlange, n wete dat die glorie verby is. Hulle het vir die eerste keer soveel notisie van die Afrikaner begin neem dat hulle probeer het om hom te ver-engels; hulle het die miserable place begin opbou en ontwik-kel, omdat die geloof geleidelik in hulle begin groei het dat hulle nageslag tog wel die wrede eise sal kan nakom wat die land, sy klimaat en sy mense opl. Hulle het, sonder dat hulle dit besef het, van die land geword.
