Hoofstuk 14
Naas se pad terug huis toe is vir hom n ellendige tog. Sy grootste begeerte nou sou wees om nooit weer daarheen terug te gaan nie. Hy vrees opreg dat die ding wat hy gedoen het soos donderweer op sy kop gaan neerdaal en hom gaan vermorsel. Wat moet hy van Cornelia verwag? Sy gaan tog die pop soek  en wat dan? As sy hom konfronteer ?
Cornelia was nog altyd net goed vir hom, glo hy. Dit is wat hy onthou. Deel van die bietjie geluk, byna al die geluk wat hy op Doornrug gesmaak het, het uit haar hand gekom. Sy en sy alleen het die andersins dooie bestaan wat hy sou voer, lewe, sin, mooiheid gegee. En nou is hy bang om terug te gaan en bang om met sy skuldige o  Hy kan mos nie vir haar jok nie!
Naas probeer homself wysmaak dat dit nie hy nie, maar Cornelia is wat aan iets verskrikliks skuldig is. Wat hy gedoen het, was bloot om n dringende opdrag van oom Staag Lemier uit te voer; om te antwoord op n bevel wat spesifiek bedoel is om Kotie Davel te help. Arme Kotie Davel, wat dodelik siek is omdat hy getoor is.
Maar hoe hy ook al redeneer, hy, Naas Ferreira, bly die een in die beskuldigdebank. En die vierskaar voor wie hy moet verskyn om boete te doen en vergelding te ontvang, is Cornelia, wat in haar woede n furie kan wees.
Daarom is die paar myl Doornrug toe n entjie pad wat nou sy lydenspad geword het en wat hy met groot teensin aandurf. Want elke tree nader aan Doornrug is n tree nader aan daardie afrekening.
Die raaisel van die houtpop bly in Naas se gedagtes. Hy kan dit eenvoudig nie kleinkry nie. Die aftakeling wat die ding ondergaan het, gaan sy verstand te bowe. En die stank! Die pop wat splinternuut was toe Cornelia dit van ou Mtwetwe gekry het, het nie net verrinneweer geraak nie. Dit het afgeleef geword, geword soos n bekwaalde oumens wie se selle die een na die ander verbrokkel en tot niet gaan.
Naas kan nie begryp hoe dit, soos wat oom Staag verduidelik het, direk op Kotie Davel n effek kan h nie. En Cornelia se vreemde uitdrukking en haar veranderde gemoedstemming  dit alles bly vir hom n raaisel waarvoor hy die antwoord soek, maar, glo hy, nooit sal vind nie.
So, met sy gedagtes in n dwaal en oorheers deur vrees, kom hy teen sy sin al nader en nader aan Doornrug se opstal. Soos n dier wat hom willoos aan sy lot onderwerp, loop hy die laaste paar tree van die pad na sy oordeel.
Dit is nog doodstil by die huis. Naas dra tant Maria se opdrag oor aan Kandassie en gaan plant dan weer broodmielies. Voor sononder is oom Dolf-hulle weer terug.
Na ete die aand bly hulle lank om die kombuistafel sit. Cornelia is baie stiller as gewoonlik, maar oom Dolf is in n joviale en geselserige bui. Dorland, die groot konstawel, was daar by die winkel, vertel oom Dolf. Hy soek nog altyd na Barkus. Hy s Kotie Davel is baie siek; s glo hy is aan die doodgaan en die hoeveelste dokter het hom opgegee.
Aan die doodgaan? vra Cornelia skerp, angs in haar o.
Ja, dis wat Dorland ges het. Hy s Kotie sal dit nooit maak nie. Hy s Kotie vrot op. Daar is glo so n nare ruik om hom. n Mens kan glo nie asemhaal daar naby hom nie, so erg ruik dit.
Verskoon my. Cornelia het opgestaan. Tant Maria kyk haar dogter bekommerd agterna; snuif dan die lug of sy nie iets verdag ruik nie. Mens, ek het gehoor hy sukkel. Maar ek het nooit kon dink hy is in so n toestand nie, Dolf?
Ja, ek ry net mre oor en loop kyk. Dis tog n mens se Christelike plig, reageer oom Dolf op tant Maria se onuitgesproke voorstel.
Ek ry saam. Ou Lena  Sy sal maar net verlief moet neem.
Cornelia, wat aanvanklik kombuis toe gevlug het, bly weg. Ag ja, ou wreld, sug tant Maria.
Oom Dolf en tant Maria ry die volgende dag. Naas span weer die kapkar vir hulle in. Van die oomblik af dat hulle die werf uit trek, is hy soos iemand wat deur n ding gejaag word. Hy het nog nie geet nie, maar kom nie naby die huis nie. Stefaans en Windvol is vroeg die bos in; maak vuurmaakhout. Naas gaan lande toe. Daar inspekteer hy die jong groen koring. Brand en roes kom nie voor nie. Hy besluit sommer daar en dan om die dam oop te trek en n akker gars wat droog lyk, nat te lei. Later begin die wolke belowend in die weste saampak. Dit lyk na ren en hy wonder of hy nou nie onnodige werk doen nie. Hy gaan nietemin voort met sy natleiery, maar hou gedurig na die huis se kant toe dop.
Toe Cornelia agter hom praat, wip Naas soos hy skrik, want hy het haar nie van daardie kant af verwag nie. Sy staan op die akkerrand reg agter hom, n bord in n doek en n houer koffie in die hand.
Jys nogal besig vandag, Naas. Jong, ek het pannekoek gebak en vir jou gebring, want jy moet al halfdood van die honger wees, gesels sy.
N-n-nee wat, hakkel Naas, want hy is opeens glad bewerig.
Cornelia is besig om skoene uit te trek. Kom eet gou n ietsie, ou Nasie. Ek kan die leiery vir n rukkie behartig. En sy reik na die graaf in sy hand. Toe, lekker eet.
Onderwyl Naas eet, haastig sluk aan die pannekoek wat hy met koffie afspoel, want sy keel is dor en hy het opeens geen eetlus, selfs vir pannekoek nie, keer Cornelia die water behendig sodat elke kolletjie in die land goed benat word. Hy eet gou klaar en neem weer by haar oor. Cornelia vertoef nietemin. Sy het nie weer haar skoene aangetrek nie en bly hier by hom waar hy waterlei.
Weet jy, Naas, jy het ewe skielik n tamaai groot man geword vandat jy hier by ons kom bly het. Toe jy hier gekom het, was jy so n maer, verskrikte ou seuntjie. Nou is jy n groot, sterk man wat vir homself kan sorg.
Cornelia is geselserig en hou aan om hom lof toe te swaai. Sy vertel hom dat hy al water soos n ou hand lei en dat sy seker is hy is in staat om manalleen die hele boerdery te behartig.
Haar lof vir hom maak dit warm en weldadig in Naas se hart. Hyself het nie veel groei in hom agtergekom nie. Tog weet hy hy het in die afgelope maande n man geword. Hy voel dit in sy eie krag. Hy sien dit ook in die houding van Stefaans, Windvol en van die ander werkers.
Maar dat hy n tamaai groot man is wat die boerdery kan behartig? As hy dink hoe bang hy gister was en hoe hy flus geskrik het. Selfs nou!
Naas, het Pa-hulle nog iets van Kotie Davel ges? vra Cornelia uit die bloute en daar is n yl trek in haar stem.
Naas skrik sigbaar. Nee, dis maar net van wat die konstawel ges het dat hy baie siek is. Hy lei gou n gulsige stroompie in die regte rigting. Die konstawel meen glo hy is so aan die agteruitgaan van die slae wat hy die dag van Barkus gekry het. Hy meen Kotie het inwendig seergekry.
Is dit wat ou Dorland glo? En s hy hy soek nog na Barkus?
Ja. Hy het my ook al gevra ek moet hom s as ek iets van Barkus sien of verneem.
En wat het jy vir hom ges?
Nee, ek het aan hom ges Barkus is hoeka al hier weg.
Naas lei voort. Cornelia bly naby hom en vra nie dadelik nog vrae nie. Eindelik s sy: Aag, jy kan die dam gaan toesteek. Die weer steek op. Ons gaan tog reent kry.
Ook Naas sien nou die wolke stapel donker in die noordweste waarvandaan hulle reent kom. Hy gehoorsaam dus sonder meer. Cornelia kom sit op die wal hier by hom. Sit, ons gesels n bietjie, stel sy voor.
Naas is klaar weer heeltemal op sy gemak by Cornelia. Die ou bekoring wat hom klei in haar hande maak, wat hom al die dinge laat vergeet wat hinder, is besig om nog n keer die oorhand te kry.
Omtrent Kotie, Naas  Hoe siek is hy? vra Cornelia nou, haar stem weer of dit dun geslyp is.
Ek hoor ook maar. Hy moet baie siek wees. Stefaans het nou die anderdag gepraat sy suster op Mooifontein het ges Kotie het die doodmaakmaagsiekte, s Naas.
Maar hoe is hy siek? Weet jy nie?
Hy ruik sleg, s-s jou pa  H-hy ruik glo vreeslik sleg.
Hoekom vra sy hom so uit? Sou sy al agtergekom het die pop is weg? Sou die slegte reuk nog daar wees noudat die pop weg is? Naas onthou hoe die slegte reuk hom en die pop gevolg het al die pad gister na oom Staag Lemier toe. Sou ?
Naas kyk stip voor hom op die grond, dom oor dinge wat hy nie kan verstaan nie. Ook Cornelia vra nie meer vrae nie. Bokant hulle is die weer soos twee magtige lers in slagorde opgestel. Die gerammel van die donderweer word al hoe harder. Naas wil nog iets vir Cornelia s, haar vertel van die toordery waarvan Stefaans se suster gepraat het. Hy maak sy mond oop om te praat, maar kry nie ges wat hy wou s nie. Cornelia het in n ommesien heeltemal verander. Haar gesig is verknyp en sy sit geheel en al verskrompel hier langs hom. Sy is sommer skielik n verslae, bedremmelde mens wat klein en weerloos en bang lyk. Die o wat hom aankyk is ongelukkig en ontgogel en dis vir Naas so al asof sy sommer net hier langs hom tingerig en oud sit en word het. Vir die heel eerste keer voel hy soos haar meerdere, iemand wat hom oor haar moet ontferm. Cornelia! Hy kreet haar naam, want hy is verskrik.
Cornelia steek haar hande hulpsoekend uit na hom. Help my, Naas. Jy moet my help. Help my, ek wil huis toe gaan! herhaal sy en die gebaar van haar uitgestrekte, hulpsoekende hande is di van n jammerlike bang kind wat skielik haar weerloosheid ontdek het.
Naas help Cornelia op haar voete. Haar een hand bly angsvallig in syne. Hy moet haar ondersteun en lei. Halfpad huis toe is dit of sy nie meer krag het selfs om voetjie vir voetjie te loop nie. Hy moet haar stut en die laaste ent byna dra.
By die huis gekom vra sy hom om haar tot in haar ouers se kamer te help. Daar moet hy haar op oom Dolf en tant Maria se hemelbed help.
Gooi die bulsak oor my, Naas. En bly by my, asseblief. Bly by my, Naas. Dit lyk of sy bibber van n koue binne-in haar, of van n oorweldigende vrees, en sy wil nie h hy moet uit die kamer gaan nie; nie vir n oomblik onder haar bang o uitgaan nie.
Oom Dolf en tant Maria kom eers teen die middag en in die ren terug. Hulle is diep ontsteld toe hulle hoor Cornelia is siek. Daar op Mooifontein was dit vir hulle n onuitwisbare, verpletterende gesig om die eens so aantreklike en sterk Kotie Davel n uitgeteerde, bedlende wrak in sy kamer te vind. En die reuk wat hulle uit die kamer tegemoetgekom het, was n walm wat mens soos n muur versper het, soos n vuishou laat steier het  en hulle het aanvanklik nie die moed gehad om dit soos tant Lenie te trotseer nie.
Kotie het geelbleek en uitgewas met hol wange en groot o op die bed gel. Van die ou Kotie het net die o oorgebly: die groot, uitgeputte, pynverweerde o in die geraamtemasker van n gesig. Tog, toe tant Maria aan hom vra: Hoe gaan dit, Kotie? het hy met n skaduwee van n gebreekte glimlag ges: Goed dankie, dit gaan vandag n bietjie beter, Tante.
Maar gister het hy weer ontsettend pyn gehad. Die pyn vat hom so. Hy s dis soos n vuurwarm wurm wat in hom knaag en knaag, het tant Lenie verduidelik.
Hy sal nie daar opstaan nie. Hy kan nie, voorspel tant Maria.
Later maak sy gewag van die sere wat tant Lenie vir haar op Kotie se lyf ontbloot het, die etterende sere waarteen geen medikament wil help nie. Soos bedsere, net dieper, party kompleet of hulle daar met n helwarm yster ingebrand is en byna ammal op plekke waar mens gn bedsere kry nie.
Oom Dolf, soos sy manier is, s nie veel nie.
Dis n groot gemis daar op Mooifontein vir iemand om toesig te hou, s hy tog na oorpeinsing. Ja, Naas, hier by ons het ons jou nodig soos nodig. Maar ek, die tante en ek, het so gedink  met swarigheid, moet ek jou s  Ons sal jou ontbeer, want daar is jy die nodigste. Dis nou net tant Lenie en die blinde Hannie om binne en buite en oral n opsig te hou. Santie kom baie. Maar Kotie se siekte kluister haar aan sy bed.
Ja, jy moet sountoe gaan, my kjind. Jy het goed en deeglik geleer en jy is nou al ampers groot. Loop staan jou skoene vol daar in die werk waarvoor Kotie nie meer die vermons het nie, sommer hede vandag nog. Stefaans-hulle sal hier moet katstaan, besluit tant Maria.
Cornelia en haar onverwagse siekte is vir die oomblik op die agtergrond. Tant Maria tref vir Naas die nodige voorbereidsels om nog voor vanaand op Mooifontein te wees.
Vat vir ou Blessie en hou die ou perd vir tyd daar. Hy is nou joune, s oom Dolf.
Naas sien Cornelia nie weer nie. Hy gaan groet haar nie eens nie, want alles gaan nou halsoorkop. Op pad Mooifontein toe kom die dag se gebeure stuk-stuk terug na hom. Dit tref hom hoe onverwags Cornelia siek geword het. Dit was kompleet soos n oorval. Maar dis tog net oumense wat oorvalle kry. Het Cornelia nie juis vir hom skielik so oud en vermoeid gelyk nie? Die vrae in Naas se gedagtes maal.
Mooifontein is n uur se ry te perd en in oostelike rigting op die De Roode-grondpad. Ou Blessie draf die end pad in minder as n uur af  maar om n rede wat hy nie probeer ontleed nie is selfs Bessie se lewendigheid vandag vir hom traag. Daars n haas en n dringendheid in hom wat sy bewegings ongeduldig en sy gemoed angstig maak. Tant Lenie verwag hom. Sy kom hom uit die kombuisdeur tegemoet toe hy die werf binne ry. Naas, dankie tog jyt dadelik gekom, groet sy met onverbloemde blydskap. Hannie verskyn ook in die deur, haar gretige gesiggie die ene ore, haar gelaat n lag van verwelkoming.
Kom jy nou vir altyd by ons bly, Naas? vra sy. En dit voel sommer vir hom of hy eindelik vir altyd tuisgekom het. Maar toe l die gewig van die huis se onaangename reuk wat ook n deel van die huis op Doornrug ingeneem het, opeens swaar op hom. Dit du hom na buite. Hy moet dit met wilskrag teenstaan.
Ons gee weer die buitekamer vir jou, Naas. Dis beter so met die siekte in die huis. Tant Lenie bedoel die slegte reuk.
Gaan sit jou perd op stal. Jy sal hom nog baie nodig kry, want ons perde het almal al wild geword en loop die veld vol, s tant Lenie. Ja, jy sal jou oog maar gou op alles moet kry. Oom Dolf s jy is n flukse boer. Ou Toot  ou Toot sal jou touwys in dinge hier maak en Kotie  Kotie sal seker ook kan s wanneer hy beter voel.
Vir Naas is dit gou duidelik: Met die boerdery op Mooifontein is liederlik laat slapl. Goed die helfte van die mielielande l ongebraak. Die dele wat wel geploeg en gesaai is, is afgeskeep. Die jong mielies, al die somergewasse, staan toe onder onkruid. Hy gesels met tant Lenie.
Naas, doen wat jy kan. Ons weet dinge is in n toestand, s sy.
Naas moet n benul kry van dinge. Die afgeleefde ou Toot is sy leermeester. Dit gaan die eerste dae harmansdrup. Toot verduidelik net wat hom gevra word, die meeste kere met n hy wete nie. Ook wanneer Naas hom aan n versuim herinner, gaan haal hy dr n onsamehangende verduideliking.
Naas wil oral gelyk vat, want Mooifontein wat al die jare sulke spogoeste opgelewer het, het ver agtergeraak by Doornrug. Die laksheid, die laat-maar-loop planloosheid van die plaashulp kom nou na vore. Eers l die ploeg stukkend. Toe is daar van die osse soek. By die inspannery is daar te veel rieme en te min stroppe. Om ou Toot tot verantwoordelikheid te roep, help niks. Hy weet gn van al dit nie, is sy enigste reaksie. Raas help nie. Kwaad word nog minder. Haas bring geen spoed nie. Mischa, voorman op die lande, is ontwykend; hou Naas gedurig in die oog. Ook van tant Lenie voer hy geen opdrag uit nie. Die een keer dat Naas die arme Kotie, ellendig op sy siekbed, gaan raadpleeg het, het hy hygend en hortend ges: Verlaat jou op Mischa, Naas. Hy is my beste hand. Maar op Mooifontein broei iets wat Naas nie ken nie.
Toe Stefaans die Sondag kom o wys op Mooifontein, is Naas bly. Hy nooi hom buitekamer toe.
Stefaans, ek sukkel. Die mense hier werk nie soos mense moet werk nie. Mischa is die voorman, maar ek sien sommer hy wil die werk nie gedoen kry nie. Wat gaan hier aan?
Dis oor jy nog kind is, Naas. Hulle soek n man om hulle te s. Wys hulle jys n man. Ek sal bietjie omvra en my uitleen, beloof Stefaans nietemin.
Die middag voor hy vertrek, s Stefaans: Dis daai jong bul, Rabgai. Hy kry horings. Hy stook hulle. Ou Mischa bang hom.
Die werk ploeter voort. Naas kry dinge gedoen, maar niks kry sy loop nie. Dit is al of daar gedurig n getjommel, n oorvleueling en n hakskeentrappery is. En Naas kom agter hoe Rabgai met sy verwaande kyk en bultende spiere die ander intimideer en die werk moedswillig laat sloer. Die man stuur doelbewus op n konfrontasie af.
Naas kan die ding nie ontleed, of n naam gee nie, weet niks van iets soos n persoonlikheidsbotsing, van leierskap wat nie aanvaar kan word omdat die gesag nie aanvaar word nie. Maar hy begin besef en weet al duideliker dat n konfrontasie moet kom as hy hier nie geheel en al gaan misluk nie.
n Dag of wat van tevore het Naas een van die omgeploegde oulande gesaai en Rabgai en n touleier aanges om die saad toe te eg. Toe Naas gaan kyk, ontdek hy hoe slordig ongelyk die land geg is.
A nee, Rabgai. n Man werk mos nie so nie, skrobbeer hy die man. Die land moet egalig geg word met al die graan toe. Jy sal dit moet gaan oordoen. En di keer eg jy die land in die dwarste. Toe, gaan span in.
Rabgai kyk nie eens na Naas nie. Hy praat in sy taal met die ander en hulle lag. Naas verstaan genoeg van die taal om te weet Rabgai se woorde is verkleinerend. Rabgai het ook op sy misvorming gewys.
n Uur later het ng Rabgai, ng een van die ander aanstaltes gemaak om die land oor te eg. Dis al laatmiddag. Naas is woedend en ook magteloos. Rabgai is n volgroeide man en nou besig om n konfrontasie af te dwing. Naas kan na tant Lenie gaan en rapporteer dat die man nie na hom luister nie. Maar dan sal hy gedurig moet gaan kla.
Dit is n ontsaglike netelige situasie vir hom. Fouteer hy hier, verloor hy dalk die respek van al die werkers  en is sy kans om n sukses te maak op Mooifontein neusie verby. Hy oorweeg dit om die saak met Kotie te gaan bespreek. Maar moet hy die siek Kotie met sulke probleme belas? Die ding frustreer hom. Hy kan nie doelbewus optree nie. Hy gee sy bevele dubbelsinnig, is byna geneig om mooi te praat en weet algaande hy kan hom nie so handhaaf nie, want hy kom agter hy is selfs al sku om by die werksmense te kom.
Hoe is dit dan dat die ding nooit op Doornrug kop uitgesteek het nie? Oom Dolf het die gesag byna onopsigtelik aan hom oorgedra en Stefaans en al die ander het sonder meer daarby ingeval. Stefaans het met verloop van tyd Naas se goeie vriend geword. Maar hier! Die man in beheer moet sy baasskap bewys. Op stuk van sake is dit hy wat die finale verantwoording doen. Daar kan ook net een hand aan die roer wees. En op Mooifontein kan en moet dit net hy wees.
Met di gedagtes wat in sy kop maal, is Naas n rukkie later terug op die lande. Mischa en n paar man, waaronder Rabgai, strooi mis op n stuk ouland. Daar is glad te veel man op die wa. Hulle is in mekaar se pad. Daar wag nog n tamaai stuk land wat gebraak moet word en Rabgai het hom nog nie verwerdig om die halfgegte land te gaan eg nie.
Rabgai, kom jy hier, beveel Naas toe hy binne praatafstand is. Toe, gou, jong. Roer jou as ek jou roep.
Hy gebruik met opset nie versagtende woorde soos bietjie of seblief nie en draai sy rug op die spul misstrooiers.
Naas wag omtrent n minuut. Toe hy weer omkyk, het Rabgai nog nie aanstalte gemaak om na hom toe te kom nie.
Rabgai, ek het jou geroep, vermaan Naas en stap n koers in, min of meer in die rigting van die boonste leidam. Hy werskaf daar onderkant die dam om die trae Rabgai tyd te gee om na hom toe te kom.
Rabgai het van die wa afgespring en volg Naas op sy tyd. Intussen gesels hy luidrugtig met die manne op die wa, ontvang hy net sulke skertsende saldos terug. In alles wat hy doen, in sy traagheid, in sy moedswillige tydsaamheid, steek uittarting kop uit. Naas doen sy bes om nie onkeerbaar kwaad te word nie. Hy word warm van woede, maar hy sorg dat sy woede nie oorkook nie, nie nou al nie.
Toe Naas die derde keer omkyk, daar waar hy voorgee hy inspekteer die leivoor, is Rabgai eindelik by hom. Rabgai, kom saam, ek het n groot werk hier agter die dam vir jou, s Naas en stap voort. Hy moet tydsaam loop, want Rabgai hier agter hom is nie haastig nie. Rabgai skree nog eers iets vir die ander op die wa. Dit is n vernederende en smalende verwysing na wat die boggelrug nou van hom verwag. Naas verstaan elke woord en hy word woedend genoeg om die vermetele man net daar te loop. Hy breek sy opwellende woede met bomenslike selfbeheersing af en hou aan stap, verby die leidam, agter n kol riete verby tot by n plek waar die fontein se water jare al opdam, moerassig is en n skerp swaelstank afgee.
Waar loop jy met my saam? vra Rabgai nou.
Ek dink ons is nou by die plek, Rabgai. Ons is nou by die vark se plek en nou sal niemand die vark hoor as hy skreeu nie.
Naas gebruik juis die term vark  kulub in Rabgai se taal  omdat hy weet dit vir Rabgai van alle vergelykings die vernederendste is.
Jy s die vark? vra Rabgai. Waar is die vark?
Jy kan hom nie sien nie, want dit is j. n Man wat sy werk nie soos n man kan doen nie, is mos n vark.
Naas sien die wilde woede in Rabgai se o opvlam en terg verder: En hier sal hulle die vark nie hoor nie, al skreeu hy ook sy longe uit.
Boggelrug, ek is nie jou vark nie. Jy sal skreeu, skree Rabgai en storm vorentoe.
Dit is presies wat Naas wil h. Hy weet dit gaan n geveg tot die dood toe wees. Sy eerste hou moet die deurslaggewende hou wees. Hy staan ongerg.
Rabgai kom laag in, sy arms wyd oop om Naas in n plettervat te loop. Maar hy storm ook blind van woede. Naas het sy terrein met voorbedagte rade gekies: Reg agter hom staan n groot soetdoringboom.
Naas staan tot die laaste oomblik botstil. Toe systap hy na links. Met dieselfde beweging gebruik hy Rabgai se geweldige momentum om hom teen die groot boom se dik stam vas te gooi. Rabgai tref die boom, nie vol nie, maar genoeg om hom vir n kort rukkie katswink te h. Hy slinger dronkerig orent en Naas loop hom kop eerste reg van voor. Toe Rabgai val, staan Naas reg om hom keer op keer neer te vel voor hy goed op sy voete is. Naas slaan met al sy krag, met albei vuiste; skop met sy voete en stamp met sy knie. Hy val nou meedonloos aan, want hier moet hy deeglike werk doen.
Dit is te maklik. Rabgai kry geen hou of teengreep in nie, nie vandat hy aanvanklik gestorm het, totdat hy pootuit aan Naas se voete l nie. En so wou Naas dit h.
Toe hy pap geslaan, uitgeknikker bly l waar hy l en deur sy onwil om op te staan, erken dat hy verslaan is, skop Naas hom veragtelik in sy gekneusde sy.
Toe, kulub, staan op. Toe, nou loop jy waar ek s jy moet loop. Toe, jy moet vir almal loop wys hoe lyk n man wat sy rug krom maak vir die boggelrug.
Rabgai moet orent sukkel. Naas gee hom net kans om op sy voete te kom, toe dryf hy hom, vinnig, meedonloos reg in die stink vlei in. Rabgai sink weg. Hy gil van skok en verbasing. Naas los hom dat hy skree en spartel. Die man laat verdrink, sal hy nie  maar n les moet hy sowaar leer. Rabgai skop en spartel tot hy weer in die vlak modder vaste grond onder hom voel. Van hier dryf Naas hom val-val voor hom uit, deur die ruigte, verby die kol riete, verby die leidam na waar Mischa en sy maats op hul trae trant mis op die land strooi.
Naas jaag Rabgai soos n mens n voortvlugtende rower sal agternasit, reguit na die groep. Hulle sien met ontsteltenis hoe verniel en verneder hulle aanhitser is. Naas dryf Rabgai tot tussen hulle. Daar ruk hy hom so hard tot n halt dat Rabgai byna weer val.
Staan stil, kulub, beveel hy.
Toe, wys nou vir jou maters hoe lyk n man wat sy horings vir die boggelrug wys. Toe, laat hulle sien dis nog net genade dat n vark sy skreeu het. Want ook sy skreeu, al wat n vark het, kan uit hom gehaal word. En nou, kulub, nou loop jy. Nou loop jy vinnig. Ek jaag jou van die plaas af weg. Ek wil jou nooit weer hier sien nie. Toe, loop!
Met di woorde loop Naas vir Rabgai uit die aarde. Toe hy orent sukkel, loop hy hom weer plat, tot Rabgai, geheel en al oorwonne, struikelend die hasepad kies.
Julle het nou gesien. Naas praat hygend en kyk dreigend na die groep werkers wat in stomme verbasing na hom staar. Julle het nou gesien dis die boggelrug wat die inyangas koudgelei het. Hy breek n man wat dink hy kan nie buig nie. Hy is die baas hier. As hy slaat op sy hand, word daar gehardloop. Daar word gewerk, nie gepoer-poer nie, maar soos n man werk, gewerk. Toe, Mischa, Charlie, Enog, loop haal die mis. Kry die land klaar gestrooi. Simon, jy en Saul, kry die osse, loop eg die land. Eg hom dwars. Toe, toe, die werk moet vandag nog klaar.
Die aand s Naas aan Kotie dat hy Rabgai n afranseling gegee en weggejaag het. Kotie luister sonder kommentaar. Later kom s Tant Lenie dat Kotie meen hy het verkeerd gehoor. n Jong seun soos Naas kan onmoontlik n knewel soos Rabgai die hakke laat wys.
Wel, ek het, tant Lenie. Ek moes, om die gesag oor die ander manne te handhaaf. Ek glo nie ons sal hom ooit weer hier sien nie, of ooit weer probleme met Mischa en die ander h nie.
Naas is oornag die baas van Mooifontein. Dit is al klaar iets om brebors oor te loop. Maar nou leer hy Hannie ook beter ken. Saans sit hy en Hannie in die groot sitkamer. Dan speel Hannie op die serfyn en sing hulle. Hy kan nie begryp hoe Hannie op die serfyn kan speel nie. Maar tant Lenie s Santie het haar geleer en sommer in n kort rukkie ook.
Aag, dit was maklik, maak Hannie dit af. Ek kan nou wel nie sien nie, maar ek kan goed hoor en ek het my hande. My hande is my o.
Dit verbaas Naas ook dat Hannie byna alles in die huis doen soos iemand wat o het.
Dis maklik, s Hannie. Julle mense moet dinge net sit waar hulle hoort. Jy het gister water geskep en toe die skep nie opgehang waar hy moet wees nie, beskuldig sy Naas.
En Hannie is n opgewekte, vriendelike mens. Wanneer Naas haar maar sien, lag haar mond  en haar lag is musiek en aansteeklik. Mens s dinge net om haar te laat lag. Dit is ook of sy altyd doenig wil bly. Tant Lenie leer haar juis hekel en daarmee kom sy vinnig reg.
Een aand kom sit Hannie langs Naas.
Ek is al so nuuskierig om mooi te weet hoe lyk jy, Naas. Kan ek maar? Haar hande verken oor sy gesig, oor sy skouers en rug, oor sy bors. Haar vingers is lig, tog ferm. Toe haar vingers verkennend na sy boggel se kant toe begin tas, voel hy hy wil weghardloop. Maar toe haar hande klaar verken het, nestel sy haar kop teen sy skouer. Ek het geweet jy is mooi, Naas, s sy vrypostig.
Niemand het nog ooit vir hom ges hy is mooi nie. Sy ma en Ousus was lief vir hom. Hulle het hom toe hy klein was teen hulle aangedruk en hy het veilig in hulle liefde gevoel. Maar hulle het nooit ges hy is mooi nie.
Die koring slaan al kolle geel uit. Hoewel Mooifontein se oes nie naastenby die vorige jaar se peil sal haal nie, is die boerdery weer goed in toom en floreer die gesaaides onder Naas se sorg. Kotie het intussen ongemerk al so verbeter dat hy belangstel in wat op die plaas aangaan. Naas vertel hom van die lande wat gebraak is; mis gekry het. Alles dui op mooi oesjare vorentoe.
Stefaans kom soms op n Sondag oor om vir sy suster te kuier. Van hom verneem Naas dit gaan steeds goed op Doornrug. Maar die oubaas word oud en die nonnie is nie meer soos ons hom ken nie.
Naas is bekommerd en vra dadelik tant Lenie se toestemming om by sy oom en tante te gaan kuier. Onthou om terug te kom, Naas. Ons sal na jou verlang, s Hannie en haar speelse vermaning bring n warmte in sy hart
Sy besoek aan Doornrug bevestig egter die onrustigheid wat Stefaans se berig in hom wakker gemaak het. Oom Dolf het merkbaar agteruitgegaan en dit blyk tant Maria het met Stefaans se hulp die boerdery oorgeneem.
Ja, dit gaan maar broekskeur, kla tant Maria. Ek verneem rond na n ervare voorman,n man wat die leisels in sy hande kan vat. As jy hoor van iemand, al is dit n getroude man met vrou en kinders, stuur hom tog. Ek kan nie binne en buite behartig nie.
Tant Maria bly n rukkie stil; s dan half as nagedagte: Ek is al bitter spyt ek het jou sountoe laat gaan. Ek moes nooit. Ons skuld die spul daar niks. Niks!
Toe vra sy: Hoe gaat dit met Koot Davel?
Naas lewer verslag. Hy praat tant Lenie na. Daar het n wonderbaarlike verandering in Kotie Davel se toestand ingetree. Oom Staag Lemier se salwe het byna al die sere aan sy lyf gesond en dit ruik ook nie meer so sleg om hom nie. Maar dit sal nog n ruk duur voor hy op sy bene is. En of hy ooit weer die ou hardwerkende Kotie gaan word? Oom Staag meen tog hy gaan weer heeltemal gesond wees.
Ons hoop maar hy is gou gesond. Ai Naas, ons het jou hier so nodig soos nodig. Tant Maria sug.
Naas weet tant Maria is bekommerd oor Cornelia. Volgens wat Naas van praatjies aflei, is Cornelia siek en ook nie siek nie. Sy eet glo goed en slaap goed. Maar sy stel nie meer belang in die dinge van die plaas nie. Sy ry glad nie meer op Bordeaux rond nie. Maar sy kuier vir Oemfaan in sy afgehokte kraal; sit vir ure by hom op die kraalmuur. Oom Dolf en tant Maria laat haar maar begaan  maar in die stilligheid is hulle duidelik diep besorg oor hul dogter se eienaardige persoonlikheidsverandering. Tant Maria het vir Naas oornag grys geword en oom Dolf se agteruitgang is vir hom werklik n skok.
Eers laat die Sondagmiddag ry Naas terug en kom teen sonsondergang op Mooifontein aan. Hannie en haar hond Wagter wag hom byna n halfmyl van die huis af in. Sy moet geruime tyd al daar staan, skree toe hy nog ver aankom Dis jy, Naas. Ek weet dit is jy. Ek ken al Blessie se hoefslag. Sy lag haar blydskap, haar skraal figuurtjie soos uitgestrekte arms om hom tuis te ontvang.
Naas spring by haar van Blessie af. Dit is n doodnatuurlike, spontane ding dat sy arms vir haar oopgaan, sy in sy omhelsing stap. En voor hy weet wat hy doen, soen hy haar, word hy bly verras deur die innigheid van haar gretige soen, die eerste werklike soen van n vrou, behalwe sy ma en Ousus  en Cornelia een keer.
Hulle stap hand aan hand huis toe met Naas wat Bessie aan haar toom langs hulle lei en Hannie wat ononderbroke uitvra. Naas vertel gretig van alles wat hy op Doornrug gesien en gehoor het; hoor dan hoe Hannie sug en mismoedig vra: Dan gaan jy een van die dae terug Doornrug toe, Naas?
Ek sal moet gaan sodra Kotie weer goed op die been is en kan behartig. Tant Maria-hulle kry baie swaar sonder my. Hulle was goed vir my. Ek sal moet teruggaan, verduidelik Naas lamlendig.
Ja, hulle het jou immers uit goedhartigheid aan ons geleen en jy sal moet teruggaan, beaam Hannie. Ai, dit sal nie meer so lekker wees met jou nie hier nie.
O, ek sal baie kom kuier. Ek het nou my eie perd. Ek sal baie kom kuier, belowe Naas.
En sal jy vir my kom kuier? vra Hannie vroulik koketterig.
Ja, ek sal vir jou kom kuier, al sal net jy en ek dit weet. Hoe dink jy, vir wie anders sal ek spesiaal kom kuier? Naas is sommer so oornag vrypostig.
Ek sal gedurig uitkyk vir jou kuiers, Naas, beloof Hannie.
