Windroos
Aanvaar ons, klein ruimtereisigers, dat ons hier loop langs skemer skagte, dat n dooie ster ons mettertyd
saam met sy eie lig
sal insuig in n dieper skade waarvandaan daar niks ontsnap nie,
dan sal my anemone nog antennes draai
in elke rigting, soekend na n skeppingsknal, n nuwe krag om blom te vat, n bloei
wat roes en dopluiskorse agterlaat,
en weer verlep, in vraagtekens bly hang  wil julle, ver planete met jul sterre,
nie maar kennis neem van hierdie drang na meer as beelde deur teleskope?
Laat uit jul oorvloedige hemellande deur kristalwier, verby meteorietkanale  laat verby alles wat doods skuur en kras hier kom neerstryk op n vergeelde blaar:
n liewenheersbesie, vreemd en tog bekend wanneer hy sy werklas in onskou neem en sy vlerke vou in sy polkakoljas.
