KUBUS
n Mens kan nie bekostig om jou kruis neer te sit nie, want dan spyker die lewe jou aan hom vas.
Op. 21:16
die loop van mense 
bly die dra van kruise
teen die heuwels op ad nauseam
totdat die kruise mense dra 
verwronge etse van die oorspronklike
wat in n kykweer dood bly hang
verloopte vleis en been en bloed
harteloos teen splinterhout onteer
laaste asems wat aan die taai mond
van lewe klou o wat aas word
soos seekatkop doodwit omgedop
rede wat koppig teen die skroefdraad kring
om uit die stengel van die nek te wring
vingers wat soos dendrobiumriete n die blom
wanhopig kaal deur spykers boontoe krom
na iewers 
vanwaar die kubus
eendag kruisloos uit moet kom
