DIE DANSENDE CHRISTUS
Na n ikoon in die klooster Rots van versoeking in die Jordaanvallei
Klippe wou brood word
en jou pad wat strompelend
val en opstaan deur die erosiegeule van die landskap, waar wind van veertig dae
in ander stemme praat,
het jou op n oggend tempelhoog gelei en daarvandaan Jerusalem gewys,
maar jy het woorde soos krummels brood gestrooi oor lig en water en elke ander deurlugtigheid
en toe rooigejurk, jou hemelblou mantel argeloos oor jou bruin skouers oop geplooi en soos n woestynbesie
hoog beginne raas en dans,
knie gebuig, gelig gehuppel
en met elke sprong versoeking triomfantelik stof toe getrap.
