WASDAG
Kyk, ek span n wasgoedlyn tussen Brixton en Hillbrow, die torings as pale
in die rif geplant.
Geen domkrag, hyskraan of helikopter word toegelaat by di projek nie, hierdie las neem ek
op my eie skouers  sonder die hulp
van ingenieurs of bouers.
Ek span die lyn met my eie lyf.
Ek staan op my tone, ek strek my spiere, rek my ruggraat
 hoor hoe kraak die werwels  soos my arms probeer
om die pyn te absorbeer.
En jy wat so staar
in jou motor by die robot, jy wat so wegkruip agter jou donkerder bril 
van jou, ja, jou, vra ek n bydrae,
dis by jou wat my plakkaat my lot bekla,
want daars smerige klere in hierdie geweste  bevuil met modder en pes, met snot en bloed.
Dus is hierdie torings die perfekte hoogte vir n lyn wat tog met n lus kan swaai
na waar die Hoveldwind vertroostend waai  skoon van fabrieksrook, mynstof en roet,
skoon van die oorlog wat daar onder woed.
Maar wag  eers moet ek hierdie lyn klaar span.
As n mens klere was
moet jy dit iewers kan hang; iewers, hoog en droog  waar die son dit kan vang.
