HIERDIE KIL LANDSKAP
Nou haal ek my donkerbril af  hierdie lig moet
op n kaal oog val, hierdie winterlig se koue ritme
waarvan die patroon net deur die skimmel
van vlieswolke verstoor word; hierdie hees winterlug
wat hortende woorde oor n bleek landskap hoes, maar jou naam nie ken nie.
Vuiste klem in sakke waar naels die koue uit handpalms lem, skilpadnek trek terug in kraag en serp,
ore wat die lug nie hoor nie, maar voel, skuil onder mus.
En jy is nie hier nie  net die Hoveld
se skurwe gras; n skor, ho veld,
n leksel water wat soos n slak se slym die modder in verdwyn om n verskoning
vir n naambordjie te los:
Hier loop n rivier.
Nee, hier loop die afwesigheid van n rivier 
en jou afwesigheid so seker soos
n dro bloekomboom, so skerp soos doringdraad wat iemand se baasskap
oor n lap braak grond afkamp.
Wie wil dan hierdie landskap toe-eien? Wie sou hierdie dorre koue wou kaart en transport?
Snuif die kil lug in, al voel dit of jou hart nou skroei, suig
jou longe vol, poog
tog om die geur van n veldbrand te bespeur, of die vrank reuk
van kole in die hoogoond van n kragsentrale.
Jy kry net die spore, net die herinnering van hoe vlamme hierdie
koue miskien kan verdryf.
