BRIXTON, JOHANNESBURG
Radiogolwe, mikrogolwe spiraal oorhoofs, dra die polse van die inligtingseeu.
Maar hier onder loop kerkgangers met historiese hoede, staan mense maandeliks tou vir staatspensioene,
gaap die teer waar die tremspoor se skelet nou l, sluimer huise uit die s.
Die winter stryk bleek vingers oor Brixton se werwels; hier het Smuts jare gelede met die stakers skermutsel. Nou vergader kaal sypaadjies die oorskietson,
beur kakie en polle tussen gruis en sement. Kolle begraafplaasgras l doodgeryp,
die water in die toring ys.
Ons huis leun swaar teen die tweelingskakel, die wind laat die loodglasvensters rinkel.
As verweer teen die koue probeer jy die antrasietstoof stook met dennebolle, tamatiekasplanke en ou nuus.
Ek mik met die waaier om die dampe te verdryf, maar soos kalk in water roer ek dit net om.
Ons skrik as n rukwind plathand
teen n dakplaat en die agterdeur klap. Ag, nou ja, s jy,
ons het nou wel nie n uitsig nie, maar ons het reception.
