ERFGOUD
Ons erf hierdie stad van naamlose smede van yster, onbewus van goud
wat onder hulle voete rus.
Ons erf hierdie stad van die Bezuidenhouts van Doornfontein, wat mielielande,
n laning okkerneutbome en n huis niksvermoedend reg bo-op die riwwe aangel het.
Ons erf hierdie stad by vuilgoed fortuinsoekers wat die lande platgetrap het,
by Boere-amptenare met vanne soos Wolmarans, Eloff en Smit.
Ons erf hierdie stad by die mynwerkers  deur belasting op hulle koppe en hutte gejaag tot in die kontant- en drankekonomie.
Marks, Nellmapius en die boere is almal gelukkig met n konsessie uit Pretoria.
Ons erf hierdie stad van die Rand Lords en hul lord Milner wat Engelse ontbyte eet en lemoensap drink in huise
met name soos Sunnyside en Brenthurst.
Ons erf hierdie stad soos n eens kosbare baadjie  voos gedra en blink gestryk 
wat ons graag diep agter in die kas sou wou hang, maar elke dag moet dra.
