Lang  reis  na  Ithaka
Ek ken die woede van die see, die stol van bloed by Ilios* en al die ander plekke
waar Aithon** geloop en dink het aan n plan om die skoon idee uit Ilios se skanse te bevry.
Ek weet hoe dood in tyd verander het, dat ek vir elke druppel bloed
en elke waagstuk in onbepaalde tyd sou moes vertoef,
sonder jou, maar omgewe, soos
deur die see, van vrouestemme wat verlok en sagte lywe langs die rotsige kus waar dood die drenkeling se voorland is.
Stemme, klankgolwe uit die see, stemme in renbo
wat onbereikbaar skuif na
nuwe horisonne; soet soos heuning
in my jeug. Al die organe juig en tintel  stemme met voelers wat streel,
stemme met mondjies wat vassuig aan die brein, die gedagte laat slaap, die wil verdof
dat net verlange na vergetelheid nog bly.
Om in haar stem te sterf, haar lied van alle tye oor dood en lewe heen
tot in die soetkol van die hart.
