HOK
Soms klop die ritme in ons Oosblok-styl woonstel saam met die klanke van jou hande in die wasgoedbak en die ren deur die geute van die dak
n paar verdiepings boontoe.
In die oggend word ek wakker as jou voete oor die los houtblokkies trap
(vorige huurders het die bad laat oorloop) en raas saam met n vullistrok wat blikke pars vir n asgat langs die township. (Ja, steeds die geografie van reuke en rommel
geskep deur ou mans met vlekke in hulle slap onderbroeke.)
Gisteraand het nog n lig geblaas, die bedrading het vonke gespat  nie dat dit ons landlord sal traak nie.
S degenereer ons goedkoop hok
tot druppende krane, stukkende proppe
en vensters en vere wat uit die matras spring: jacks-in-the-box.
Ek sit passief.
Nie eens motoralarms
of raserige restaurantklante kan my tot aksie oorhaal nie  wag vir beter dae 
Ek sit op my hande, jy kners op jou tande.
