OSOON
In November gooi die jakarandas hulle pers las af. Dit gebeur gewoonlik van bo af
sodat dit lyk of die bome bles word.
(Lila wolle langs hansworse se koppe; maar bome lag nie as dit hael nie, net as dit ren.)
Dalk word die gat in die osoonlaag ook groter soos n bles, of soos n meswond wat oopgaap.
In November ren dit al hoe meer in Pretoria, kom die donderstorms uit die ooste en slaan donderblitse agter Yskor se hoogoondgloed.
Die ren kom elke jaar al hoe later. Vir hierdie kontinent voorspel bekommerde Britse wetenskaplikes droogte vir honderd jaar.
Ons voel dit al.
Maar in November is daar weer hoop.
