DIE BUITESTANDER
Vir Albert Camus
God beheer wyse mense en hulle dade, asook hulle gevoelens van liefde en haat. Niemand weet wat mre of oormre gaan gebeur nie. Dieselfde lot tref almal. Dit maak die lewe sinloos.
Prediker 9: 12
The unreal is produced outside of the world by a consciousness which stays in the world, and it is because he is transcendentally free that man can imagine.
Jean-Paul Sartre
Ek loseer in die vrug van drif,
in die skandelike uithoek van liefde,
in die paradoks van die biologiese sintese
met die etiese, wat die beeld van God
na-aap agter die maskers van sondes
wat ek nie ken nie, maar glo altyd dra.
En uit my bot die boom van kennis yl
van goed en lowervol van kwaad
wat ek nie daar geplant het nie
en self nie eers kan sien nie.
En alles wat my voluit mens moes maak,
sal skynbaar getuienis word teen my.
Dus staan ek buite my eie lot,
in elk geval veroordeel tot n dood
of nuwe lewe wat ek nie wou gehad het nie.
Maar ek verlang tog na n ander Lewe, soms,
wat my altyd sal herinner
aan die ruimtes en die lig
wat in hierdie een
rakelings by my verby is.
Ek wat deur eeue aan jou dink,
voel altyd jou nabyheid in die skare,
op die note wat jou passie simuleer 
terwyl ek dirigeer, hoor ek jou
huil oor my dood op Mont St. Jean.
Waar het ek jou die eerste keer gesien?
Dalk met n verfkwas in Florence,
dalk met blomme op die plein
in Istanbul, of deur n draad
in bloed, n hoer onder klippe,
n ketter tussen vlamme
onder n kruis op pad na my toe?
Hoeveel lewens moet ons lewe
om deur elke spasie, elke pes
wat afstand skep te breek?
Kom ons klouter oor die mure van vleis,
ontglip die maaiers in die mond,
raak weg uit die komieklike stoom van parings,
uit die onherbergsaamheid van die mensheid.
Onder sy doringkrone uit
kan ons plante word: ek lewend
op jou gent,
n wingerd wat geslagte lank om jou slinger,
met jou rank
in n onbegonne helderheid.
