EK RY MET N KNOP IN MY KEEL
Ek wou n vers skryf 
een wat vir altyd vas sal staan met paarrym wat paar
soos net paarrym kan, met woorde soos palmiet en soel inmekaargevleg
sonder om soetsappig te wees.
Ek wou dit dan toonset
met melodie, harmonie en ritme in perfekte balans,
maar hier en daar n subtiele dissonant
en n draai wat die metrum net effens versteur.
Ek wou n orkes vergaar met viole en fagotte
en sangeresse met massiewe tiete
wat tril om gesag aan die aria te verleen, n koor gerangskik teen die agterdoek en n basviool
om die uitvoering te begrond.
Maar my woorde is krom, my note is vals en ek is nie n koormeester se gat nie.
