NOTRE DAME
As jy doodstil gaan staan,
jou o toemaak, jou asem inhou  voel jy nog die swiepende mantels
van kardinale wat eens hier die stiltes versteur het, hoor jy die hakke van stewels se ritmiese kap
wat trotse dogma oor die klipvloere trap.
Kyk mooi  agter verbode deure se grendels en slotte van yster, in gange bewaak,
is heiliges eens gebreek of gemaak, het ketters in kettings verbygeskuifel,
is kanons in wording agter hande gefluister.
Luister fyn  onder hierdie koepels weergalm nog kantates, hang die reuk van eeue se bedompige wierook,
bieg n skare sondaars
tot in ewigheid die sondes van moeders en vaders voort.
Sien jy  net demone klou nog verbete aan die kloktorings vas,
bewaak die poorte en die heiliges en gewigtige sleutels
met n inferno wat reinig, wat suiwer, wat was.
Nou loer toeriste in honderde tale na n bedremmelde mis
onder elektriese lig.
