PROBEER MEESTAL VERGEET
Bedags hoor sy nie meer die spreeus se gekwetter, of die gedempte stemme van personeel in die kombuis nie 
klanke sonder betekenis draal met die gang langs: melodieuse buigings in monde, die geklap
van tonge teen tande en verhemeltes  kaal voete voel oor vloere om die skinkbord na binne te bring.
Dankie, sit dit op die sideboard neer.
Sunlight.
Sy ruik nie meer die aroma van gemaalde koffiebone, vars botter, konfyt en room nie. Sy probeer onthou hoe stoeppolitoer onder kaal voete voel
wanneer Augustus se koelte die jasmynrank se stuif stoep toe asem.
Cobra.
Soms kan sy haar verbeel
sy ken nog die aardse reuk van n grasdak wat op teerpale rus. Weg is die sproeiers wat spuite ritmies oor grasperke nies,
die gietysterbankie en die varkore in die koelte van die boekenhout, die paaiende neurie van grassnyers en swembadpompe.
Wanneer dit donker word,
kan sy nie meer na krieke luister nie  daardie skril nokturne.
Nou soek sy na woorde.
Onseker sereen? Botsende frekwensies
van vrede en onrus, ontstemmende harmonie? Rus, onheil 
alles vloei saam met die Suiderkruis op die duister palet.
Sy onthou soms die stampe, die alarm, maar probeer meestal vergeet.
Hier in Vancouver dreun net die verkeer.
