BUS NA TORONTO
(n liriek vir Annesu de Vos)
Jy luister Famous Blue Raincoat op n bus na Toronto
met n bom in jou hart, sneeu vir jou smart.
Berge, mere  nog vaag onbekend aan jou, skuif ritmies op n stadige driepas verby.
Vreemdelinge sit toegevou
in eie komberse, en ken jou nie; wonder nie of jy ooit verlang
na die skroeiende son van die Karoo nie, na God se uitkykpunt oor die Laeveld  die wasige heuwels en dale,
na die roes van die Boland se wingerde, die herfs, of selfs na Johannesburg wanneer verkeer
om n dooie robot knoop op n koue winteroggend,
die son agter Hoveldmis, rook en vlieswolke wanneer die treine trappe-trone
hortend in hul spore
verby kleure wasgoed wat wapper
in vensters en op ou art deco-balkonne  die lyne se vloei nou deur krake gebreek.
Jy sing maar jou ode aan Toronto, laat n koue vrede jou hart omvou.
Jy wikkel jou toe in
jou renjas met die skeur op die skouer as mense afsydig sit en tuur
na landskappe met berge en mere en vrede.
Vergeet vir n oomblik
van ons wat deur verse marsjeer in die digkuns van oorlewing met die rym van vrees,
en metafore van vrede maar in die wete dat min
ons kan help om die metrum van oorlewing te leer.
Ons krabbel elke dag onder die Afrikason.
Ons probeer, ons probeer, maar ons verse bly stom.
Dus, sing maar jou ode aan Toronto, laat n koue vrede jou hart omvou.
Laat die bus se enjin ritmies dreun,
die draaie in die pad jou na elders neem. Die generasie van Abraham
het geoffer wat gevra is:
hulle seuns op die altaar van Afrika  met dog tags tussen die tande
en in seilsakke geklee.
Skryf dus maar jou ode aan Toronto,
laat die koue vrede jou hart nie verhard nie. Dink nie meer aan die oorlog
en die jong man se lot nie  hy slaap nou,
rustig,
in Afrika se grond.
