FREE AT LAST
( Desember )
Op awol gaan plak ons
by Hendri se ouers se ottersnes wat wegkruip langs n stofpad, tussen die bosse by Sandbaai.
Wanneer die son sak, volg ons ons eie roetine  volg ons die pad na die see,
stap met los litte en uit pas.
By die rotse draai ons regs
en kronkel tot op Onrus se strand: seewind in ons stoppels, kort hare en truie.
Skaduwees speel op onskuldige gesigte. Ons maak vuur tot vroeg in die oggend,
meng bier en Tassies in omgekeerde Coke-bottels,
val disnis rond, salig onbewus
van groot skrywers wie se kuiwe of nekhare profaan bo die toetse van tikmasjiene hang.
(Ek is gekamoefleer as een van Hendri se pelle. My tydelike Suidwes-aksent
verraai nie dat ek n Valie is nie.)
Nuwejaar brand die strand se vure hoog: gloeiende kraters op n maanlandskap  die polisie skop jaloers die vure dood
maar ons het genoeg vlamgoed en brandhout vir tot volgende jaar, speel ons kitare,
Andr Letoit en Leonard Cohen.
As die kurke die koms van die Negentigs ontpop soen ons vreemdelinge hartstogtelik 
meisies wat wegvlug van Habonim,
gelukkig, soos n jeugverhaal, want dis hoe ons vryheid verstaan: Seeboek van die weermagdrosters.
